Winnie – ’n storie om te vertel

  • 7

Winnie Mandela (Foto: Superikonoskop (Eie werk) [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Op haar 80ste verjaarsdag sweef sy statig tussen haar gaste deur, neem sy ’n foto met Patricia de Lille, hou sy Julius Malema en Cyril Ramaphosa ewe styf vas.

Sy was nog net so beeldskoon soos sy op 22-jarige ouderdom was toe sy byna te vroeg met Nelson Mandela in die huwelik getree het. ’n Kleine vissersbootjie losgelaat op die wye, onstuimige oseaan. Het sy haar kompas by haar gehad? Sou sy kon navigeer? Hoe mens hierdie vraag beantwoord, hang af vanuit watter oogpunt mens Nomzamo Winifred Zanyiwe Madikizela-Mandela, gebore 26 September 1936, gesterwe 1 April 2018, gesien het.

Vandag, op die vooraand van haar teraardebestelling, is mens weer akuut bewus van die mag van storievertel, wie die verteller is en wie die gehoor is.

Wêreldwyd word nou weer bespiegel oor wie Winnie was, waar sy gefaal het en waar sy sterk gestaan het.

Maar Winnie-stories was maar altyd op die voorgrond. Nadat die apartheidsregering besef het dat hierdie vrou se storie soos deur haarself vertel via haar aksies van weerstand teen onreg, haar empatie jeens die onderdruktes, haar ’n wêreldwye ikoon maak, moes hulle hulself wend tot storievertel van ’n ander kleur. Hulle het besef dat storievertellers mag kan uitoefen in verskeie opsigte, dat dié met hoë status in ’n sekere gegewe konteks meer stories kan vertel dan dié met ’n laer status. Storievertellers het ook die mag om sekere feite in te sluit en sekeres weg te laat.

Storievertel kan beide positiewe en negatiewe invloed hê. In die geval van Winnie Mandela en hoe storievertel teen haar gebruik is, word mens herinner aan die beroemde storieverteller van Duitsland, Adolf Hitler. Hy was ’n perfekte voorbeeld van die gebruik van kreatiewe denke om die mensdom op ’n erg negatiewe manier te affekteer. Die menslike verbeelding kan stories skep wat groot euwel kan aanwakker of enorme goedheid kan meebring. Hitler het met die skryf van sy boek Mein Kampf en honderde opruiende toesprake die Duitse volk oortuig om hom te volg. Sy stories het diepe emosies losgemaak wat groot haat en kwaad aangewakker het. En hy het seker gemaak dat sy storie die enigste storie was wat in Duitsland vertel was. Ironies genoeg het Hitler die beste storievertellers van alle tye, die Jode, die geteikendes gemaak in sy stories. Demokrasie en vryheid was nie geag in Hitler se Duitsland nie, net soos dit nie geag was in apartheid-Suid-Afrika nie.

Toe die apartheidsbewind besef het dat hulle teistering en marteling nie Winnie Mandela gaan vernietig nie, het hulle die gesofistikeerde roete van storievertel begin volg. Soos Hitler, het hulle toegesien dat hulle storie die enigste storie sal wees wat die wêreld gaan hoor. Hulle het ook die mag gehad om te bepaal wat hulle sou vertel en wat hulle sou weglaat. Hulle het die staatsgesteunde Stratcom gestig wat ’n disinformasieveldtog begin het teenoor Winnie om die hele ANC te diskrediteer. Die voormalige hoof van Stratcom, Vic McPherson, het voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie getuig dat hulle gedurende die 1980’s verskeie disinformasieveldtogte begin het. Hulle het artikels in verskeie koerante in Suid-Afrika en wêreldwyd geplaas wat heelwat sukses behaal het. Hierdie bewerings was saamgevat in dokumente wat aan die kommissie oorhandig is. ’n Goeie dosis van disinformasie was aan Winnie gewy.

Ongeag hoeveel ’n mens Winnie bewonder het, het hierdie disinformasie, die storievertel omtrent Winnie, die gedagtegang geïnfiltreer en ’n mens het begin te twyfel. Dit was die sukses wat die apartheidsregering deur middel van Stratcom gesoek het. Met Winnie se verskyning voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie het ek oudergewoonte na my pen gegryp om sin van alles te maak. Ek het gevrees vir haar lewe; alles het so fataal voorgekom:

Winnie
(met verskyning voor Waarheid-en-Versoeningskommissie, 1997)

Die dag breek
en donker stukke van wanhoop
spoel uit teen die kus
Die wrakke van jou Titanic
het weer kom seil
en die see spat koud
teen jou vel in die nag.
Langsaan jou drome
lê die skeefkrom kompas
en die Suiderkruis
flikker met pyn
oor die spore in die see
wat wegsak in ’n wêreld
onder die aarde in
Die prys vir jou alleenvaart
om die suidpunt van Afrika is duur
en die troebel waters wag
besmet met oopbek haaie
wat langtand lag
vir jou wat sink –
jy kan tog nie op water loop!

          (Ons Komvandaan, 2006)

Gelukkig het die getuienis wat Stratcom voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie gelewer het, baie lig op sekere vraagstukke gewerp. Die apartheidsregering wou hê dat die publiek moes glo dat Winnie Stompie Seipei self vermoor het. Dit het toe aan die lig gekom dat Jerry Richardson, die afrigter van die Mandela Football Club, dit gedoen het. Hy was ’n spioen vir die apartheidsregering en moes Stompie vermoor omdat Stompie hom ontmasker het. Sy vertoë dat hy dit onder Winnie se instruksies gedoen het, is met ’n knippie sout geneem. Hierdie inligting word ook weergegee in die film Winnie wat Pascale Lamche gemaak het. Winnie het inderdaad nie “gesink” nie. My vrese was besweer.

Vandag in ’n demokratiese Suid-Afrika kan ons vrylik terugkyk op Winnie se storie. Haar pogings tot versoening met haar voormalige martelaars en teenstanders is bewonderenswaardig. Haar verhouding met Graça Machel, Nelson Mandela se vrou wat hy getrou het nadat hy Winnie geskei het, getuig van ’n buitengewone persoonlikheid. Sy was nie ’n engel nie, maar kom ons vra onsself die vraag af of ons ooit sou kon staande bly het as ons moes deurmaak wat Winnie deurgemaak het. Sy was ’n mens met al die kompleksiteit van menswees. Ek glo dat ons land Suid-Afrika vandag ’n baie beter land is om in te woon danksy die feit dat Winnie Mandela haar lewe daaraan gewy het om onreg en onderdrukking te beveg. Mag haar siel in vrede rus, die rus wat sy in haar lewe ontsê was.

Winnie
(song)

Winnie, Winnie, what can we say (x2)
You were young and beautiful
barely an adult
but you had to be a lion
gritting your teeth
hiding your pain
always knowing, never in vain.
always knowing, never in vain.

          (Unpublished, Diana Ferrus, 1998)

Bronne

Ferrus, D. Ons Komvandaan. 2006. Diana Ferrus-uitgewery.

Social dynamics of storytelling: implications for story-base design, Deborah Lawrence en John C Thomas. http://citeseerx.ist.psu.edu/viewdoc/download?doi=10.1.1.39.1024&rep=rep1&type=pdf.

The history of storytelling and the power storytellers possess!. https://maramenzies.co.uk/2014/11/19/the-history-of-storytelling-and-the-power-storytellers-possess.

Winnie Madikizela-Mandela. South African History Online. http://www.sahistory.org.za/people/winnie-madikizela-mandela.

  • 7

Kommentaar

  • Baie dankie Selena, Elizabeth en Euodia. Julle kommentaar word hoogs gewaardeer.
    Groete, Diana.

  • Raakgevat! My ervaring van stories is hetsy die vertellings van familie, vriende, openbare figure, politici, joernaliste ens is dat daar altyd twee kante van 'n saak is. Soos 'n egskeidingsadvokaat altyd gesê het "Daar is altyd sy kant van die saak en dan is daar haar kant van die saak en dan is daar die waarheid ...” Het op die jeugdige ouderdom van 21 op Brandfort aangekom met Winnie in die swart woonbuurt aan die een kant en en oud President CR Swart woonagtig op sy plaas De Aap ... Wat 'n belewenis!

  • Frances-Ann Douglas

    Pragtig mense wil die punt insien dat sy mens was en boonop so jonk. Haar vasberadenheid het vir ons deure oopgemaak wat ek glo vandag nog gesluit sou gewees het. Mag sy in vrede rus; soos u sê die vrede wat sy nooit gegun was nie.

  • Dankie vir 'n breër insig en die deernis van jou storie oor die moed en pyn van 'n formidabele vrou, ikoon en onverskrokke vryheidsvegter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top