Winnie Mandela se dood ontbloot ons almal se donker kant

  • 9

Skielik staan ons as Suid-Afrikaners nakend voor die spieël en ons onthou apartheid se donker kant. Skielik besef ons dat ons almal ’n donker kant het.

Ironies genoeg het Henry Jeffreys, eerste en laaste swart redakteur van Die Burger, twee jaar gelede in dié koerant geskryf dat die donker kant van Winnie Madikizela-Mandela onthou moet word.

Dit was in reaksie op die Moeder van die Nasie se landwye 80ste-verjaarsdagsvieringe. Jeffreys het aangevoer Winnie se “donkerder sy” is tydens dié vieringe verkeerdelik geïgnoreer. Ter versterking van sy saak wat hy teen haar gebou het, het hy aangevoer dat ’n mens die vieringe verstaan, “maar is dit korrek om haar donker sy te ignoreer en haar op die voetstuk van die onaantasbares te plaas? Ek dink nie so nie,” het Jeffreys sy betoog afgesluit.

Terugskouend, was Jeffreys se bespreking baie omstrede by die meeste swart Afrikaanse lesers van Die Burger en baie gewild by die meeste wit lesers, omdat hulle (sommige wittes) nog altyd Winnie afgemaak het as ’n moordenaar, terroris, kommunis, martelaar, opstoker, moordverdagte, gierigaard en hoer wat met jonger mans geslaap het toe Nelson Mandela in die tronk was.

Dié barbaarse beledigings op sosiale media is aan die orde van die dag sedert Winnie Mandela op 2 April by die Milpark-hospitaal in Johannesburg gesterf het.

Haar skielike dood het die laken wat al die jare styf oor die verdelingslyne van Suid-Afrikaners gespan was, afgeruk en die rou wonde van verdeeldheid, armoede en ongelykheid ontbloot.

Die uitspattige weelde van die meeste wittes wat sedert 1994 amper verdubbel het en die kroniese armoede van die meeste swart mense het skielik soos ’n seer met vrot etter te voorskyn gekom.

Soos in die jare voor 1994 herinner Winnie ons steeds, hierdie keer vanuit die dood, dat die lewe van swart mense nog nie verbeter het nie. Trouens, swart mense het armer geword en die “reënboognasie” is grootliks ’n mislukking wat veral deur die swart jeug verwerp word.

Soos verwag, is die ontvoering en dood van Stompie Seipei, ’n 14-jarige jeugdige, in herinnering geroep.

Dié herinnering deur sommige wittes strook veral met die mening van oud-NP-minister Dawie de Villiers dat die morele gewete van die Afrikaner aan die slaap geraak het. Sou dit ongeregverdig wees om te vra of sommige wittes ondankbaarheid betoon teenoor swart mense vir hul vergewensgesindheid?

In skrille kontras met dié siening dat Winnie die slegste mens denkbaar was en ook verantwoordelik was vir die dood van Seipei, het dit George Fivaz en Dikgang Moseneke gekos om aan Suid-Afrika te vertel dat die Moeder van die Nasie nié hierdie jeugdige vermoor het nie. Geen getuienis is gevind dat Winnie by die moord op Seipei in 1989 betrokke was nie, moes Fivaz – wat van 1995 tot 2000 kommissaris van die polisie was – verduidelik.

Die gerespekteerde juris, oudregter Moseneke, wat deel was van Winnie se regspan wat haar in 1991 verdedig het toe sy verhoor is vir die ontvoering van Seipei en drie ander jeugdiges, moes verlede week sy stem hoorbaar maak deur te sê: “Anyone who calls her a monster is talking rubbish. She was wonderful.”

Hy het ook beklemtoon: “There were no findings of murder against her, and there were no findings that she assaulted Stompie in any way.”

Ironies genoeg het Winnie se dood die bordjies verhang en die fokus geplaas op menigte Suid-Afrikaners – insluitend haar eie comrades in die ANC – se donker kant wat in die onlangse geskiedenis die Moeder van die Nasie afgemaak het as immoreel en dat sy ’n verleentheid vir die ANC en Mandela geword het.

Ek dink hier aan Desmond Tutu, wat nie die regte persoon was om die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) te lei nie. Sy onbeholpenheid as WVK-voorsitter om veral vir apartheidslagoffers ’n regverdige uitkoms en regstelling te beding en sy irrelevante emosionele uitbarstings het direk tot die absolute mislukking van dié kommissie gelei. Sy aandrang dat Winnie tydens haar verskyning voor die WVK verskoning moes vra, was onregverdig en ongevraagd. Hoekom het hy nie dieselfde van apartheidmisdadigers verwag nie?

Thabo Mbeki se opspraakwekkende stellings oor Winnie Mandela na haar afsterwe was onsensitief, ongevraagd en beledigend, om die minste te sê. Dit het net sy diepe haat en jaloesie teenoor haar getoon; ook die afsydige mens wat hy is wat nooit – soos Winnie – in staat was om met gewone en arm mense te connect nie.

Hoekom die ANC hom nie in die openbaar gerepudieer het nie, gaan my verstand te bowe.

Mandela was ’n spesiale mens, maar hy was geen heilige nie. Dus verdien die aanname van die EFF-leier, Julius Malema, dat Mandela swart Suid-Afrikaners in die onderhandelinge "uitverkoop" het, om gedebatteer te word en behoort dit nie bloot afgemaak te word as “opswepende en gevaarlike retoriek” nie, want onder ’n beduidende getal swart mense, veral jeugdiges, word dié sentiment van Malema heelhartig gedeel.

Madiba se reënboognasie is op ’n groter skaal ’n mislukking omdat dit veral deur swart jeugdiges verwerp word. Dit het duidelik geword teen die agtergrond van die #FeestMustFall-veldtog in 2015 en 2016.

In nabetragting op die lewe van Madiba na sy heengaan in Desember 2013 merk die historikus Hermann Giliomee tereg op: “Wat is dit wat die wêreld so aangrypend en besielend in die lewe en stryd van Mandela gevind het? Sy outobiografie en sy biograwe werp almal op die een of ander manier lig op die figuur, maar te dikwels skiet die kritiese ontleding heeltemal te kort. Die mite vervang die mens.”

Hou op om elke debat oor die nalatenskap van Madiba as “negatief” af te maak en met algehele sinisme te bejeën. Madiba was immers ’n bedrewe politikus en sou in elk geval as deel van sy algehele sin vir politieke verdraagsaamheid en sy verbintenis tot ’n robuuste debat so ’n gesprek veral onder jong mense verwelkom het.

Veral die witbeheerde media vernietig enige debat wat ernstige vrae vra oor die nalatenskap van Madiba, sy versoeningsbeleid teenoor wit Suid-Afrikaners en sy verbrokkelde huwelik met Winnie.

Ironies genoeg is Madiba se versoeningsgesindheid teenoor wit mense strydig met die manier waarop hy Winnie tot sy dood behandel het. Dit wil voorkom asof hy geweier het om haar beter te verstaan, veral teen die agtergrond van haar erge lyding en vernedering wat sy moes onder die veiligheidspolisie verduur.

Wanner dit by die Mandelas se verbrokkelde huwelik kom, verlaat die media hulle gewoonlik op volslae ongenuanseerdheid en smeer die blaam op die brood van Mama Winnie. Madiba word gewoonlik as ’n heilige sonder enige foute voorgehou.

Madiba en Winnie se huwelik was van die begin af ’n baie komplekse verbintenis vanweë die alewige “politieke teenwoordigheid” wat hul bestaan gekenmerk het. Dit was geen normale huwelik nie. Dit was liewer ’n politieke transaksie wat nog verder gekompliseer is deur die groot ouderdomsverskil van 18 jaar tussen hulle. Dit is hierdie kompleksiteit wat agterweë gelaat word wanneer die media Winnie gereeld slegsê.

Daar kan met goeie rede gevra word of die Mandelas se huwelik sou gehou het indien Madiba nie tronk toe gestuur was nie, “want hy was ’n ladies man, hy was ’n gewone mens wat ’n dwalende oog gehad het,” het Winnie in een van haar laaste onderhoude gesê.

Mandela het glo ook verskeie buite-egtelike kinders tydens sy huwelik met Winnie by onbekende vroue verwek nog voordat hy tronk toe is. Die publiek het vir die eerste keer van dié kinders gehoor na Madiba se dood in 2013.

Dit het Winnie genoop om Madiba ’n koket (philanderer) te noem, “want elke keer is daar ’n foto van iemand wat sê ‘Ek is Madiba se kind.’ Die publiek het nie geweet nie, maar ek het geweet. Daardie is sy kinders. Ek het party van hulle skool toe gestuur in die stilligheid. Ek het hulle opgevoed. Dis wat ons doen; ons het uitgebreide families.”

Volgens Winnie was Madiba ’n regte mens met foute. Hy was nie ’n mitologie nie.

Winnie se dood het ons almal laat besef dat ons as ’n nasie naak voor die spieël staan. Dat ons skielik al ons probleme en uitdagings in die spieël sien. Dat niemand van ons volmaak is nie. Dat ons almal probleme en uitdagings het. Dat ons almal mekaar nodig het om dié probleme of uitdagings die hoof te bied. Dat ons almal ’n donker kant het.

God is genadig teenoor ons almal. Die simboliese waarde van Winnie se afsterwe rondom Paastyd is dus gepas met God se belofte van genade teenoor ons almal. Paastyd word deur die Christelike geloof erken as ’n tyd van oorwinning en hoop. Dit is ’n tyd van vergifnis en vervulling en wanneer ons oorwinning vier.

Winnie Mandela se lewe is ’n simbool van oorwinning en genade te midde van erge verlies en vernedering. Gedurende haar laaste jare hier op aarde was haar lewe tekenend van feitlike vergifnis teenoor diegene wat haar verneder het en daarop aangedring het dat haar donker kant onthou moet word.

Reeds daarom word haar lewe, wat nie sonder vergissings was nie, verewig, selfs na die dood.

Die storie van Winnie Madikizela-Mandela as een van die belangrikste ikone van die anti-apartheidsbeweging wat Suid-Afrika opgelewer het, is ’n storie van hartseer, maar ook van hoop, welwillendheid en blydskap. Mag die aarde saggies op haar rus.

  • 9

Kommentaar

  • Archie Vergotine

    Veels geluk met ‘n uitmuntende ontleding Jason. Ek deel die meeste van jou sieninge oor hierdie hoog emosionele onderwerp. Moet egter oor jou sg "irrelevansie" van Tutu se emosionele uitbarstings totaal met jou verskil. Moenie Tutu se openbare beeld verder skade berokken en jou skuldig maak aan dieselfde oortredings as hulle na wie jy in jou artikel verwys nie. Hy bly vir my een van die grootste helde van ons bevrydingstryd. Net soos Winnie, Madiba en ander. Elkeen van hulle het, soos ek en jy, ‘n skadukant gehad juis omdat God se genade waarna jy so pragtig verwys vir ons genoeg is. Ek het altyd geweet dat die beskuldigings teen Winnie oor Stompie destyds deel van ‘n plan was om haar finaal te vernietig! Seker goed 90% van alle Suid-Afrikaners wat TV gekyk en koerante gelees het, het haar veroordeel en verwerp. Ek kan goed onthou hoe mense jou kop wou afbyt as jy Winnie probeer verdedig het!
    Ek meen egter nog steeds dat jou artikel ontsettend waardevol is en ons verplig om met ‘n meer kritiese oog rondom ons te kyk.

  • Gustaf Claassens

    Nelson Mandela is alles ontneem, sy vryheid vir 27 jaar terwyl sy menswaardigheid dikwels aangetas is en hy ook vernedering moes ervaar. Hy het uit die tronk gekom en nooit 'n sweempie haat getoon nie. Inteendeel, hy het die grootste versoener in SA se geskiedenis geword. Dit en dit alleen is die verskil.

  • Dankie Jason. Briljante metafoor: die skadukant! Dit gaan gepaard met "hand in eie boesem steek" - ons moet net konsekwent wees in ons ontledings. Puik artikel!

  • Ek wens ek het jou geken, Winifred.
    Voordat jy Nelson ontmoet het.
    Jy was blerrie mooi en boonop 'n prinses. Ek ken nie enige royalty nie en in die Britse klomp het ek geen behae nie, maar jou Pondo koninklike herkoms het jou goed voorberei vir wat sou voorlê. Daar was altyd 'n soort kwaliteit in jou voorkoms en uitsprake wat gespreek het van 'n diep standvastige inbors en onverstoorde geloof in wie jy was.
    Jy was 'n rots en het sterk standpunt ingeneem.
    En jy was meestal reg.
    Maar jy het verskriklik baie seer in jou binneste rondgedra. Daardie seer is oor baie jare deur witmense en enkele swartes veroorsaak toe jy gesuffer het vir die saak.
    Jy is uitgesonder as 'n opstandige moeilikheidmaker en die regime het jou onverbiddelik vervolg. Ek weet nie hoe jy dit verdra het nie.
    Toe hulle jou Brandfort toe gestuur het.
    Toe hulle jou verkleineer en soos kak behandel het.
    Jou kinders moes sien hoe hul ma onderdruk en sonder simpatie verguis is deur die staat.
    Die polisie het genot daaruit geput om jou te verkleineer.
    Maar steeds het jy uitgereik na die armes, klinieke geskep en was jy daar vir die swakkeres en ontworteldes.
    Jou hart was saam met die hopeloses en onderdruktes.
    Jy was hul moeder.
    Maar, OK, jy was ook 'n feilbare mens met swakhede.
    Nes ons almal.
    Dat jou swaarkry jou nie tot raserny gedryf het nie, sal ons nooit verstaan nie. Ek vermoed jy het dikwels jouself aan die slaap gehuil na nog 'n dag van onmenslike gedrag en haat om jou. Verseker het jy verskeie senu-ineenstortings gehad en het waarskynlik aan post-traumatiese stres gelei. Maar jy het keer op keer weer opgestaan en een voet voor die ander geplaas. Ter wille van die kinders en die nasie.
    Jy herinner my aan daardie ikoniese vrou wat met ontblote borste die vyand trotseer en weier om tou op te gee.
    En dit terwyl jou man in die tronk sy dae weggeslyt het. Jy't alleen moes sien en klaarkom.
    Dit was nie fair nie.
    En jy was eensaam en verbitterd.
    Verskeie mans het probeer om daardie leemte te vul maar was net 'n tydelike afleiding. Jou eintlike lover was die verontregtes. Die swakkeres en ontheemdes. Dis waar jou hart was.
    Jy't soms jou kompas byster geraak. Amper jouself vernietig.
    Maar iets diep binnekant het jou maak staande bly.
    Oorleef.
    Ek wens ek was daar om jou te kon troos. Ons sou saam 'n wyntjie kon drink of sommer net 'n koppie tee terwyl ek kon luister.
    Net luister.
    Ek dink ek sou 'n goeie vriend kon gewees het.
    Ons sou soms saam kon huil.
    Ons sou ook saam kon lag en net verspot wees.
    Dis jammer ons het nooit ontmoet nie. Ek dink jy sou van my gehou het.
    Liefde
    Charl

  • Puik artikel. Die probleem is dat ons met simptome-politiek te doen het en nie die oorsake van probleme behandel nie. Enige blanke wat in Winnie se skoene was sou dieselfde gedoen het. Die land is in siviele chaos en oorlog omdat dinge verkeerd gehanteer was. Maar dis nog nie te laat. n Onderdrukkende minderheid moet verantwoording doen vir hul onbereidwilligheid om n U-draai te maak. Nou moet ons besluit oorlog of om waarlik die regte stappe te neem wat almal insluit. Moet nou nie eers vra wat die stappe is nie, veral jy wat Christen is.

  • Ek glo hoegenaamd nie in heldeverering nie, dus het ek geen sielewroeging oor die geleenthede waar die 'engel' sy of haar vlerke deur die roet gesleep het nie.

    Party mense gaan so op in die gebruik dat dit later word: My held is tog beter as jou held. Daar is van my landgenote wat naarstiglik soek vir helde wat dan soos poppe opgestel word.

  • Vergifnis is op so baie se lippe maar so min in mense harte. Net God trek regtuig lyne met n krom stok. Net soos die geskiedenis van 27 000 vroue en kinders vermoor is deur die Engelse so belangrik is vir ons die geskiedenis van Winnie en Dr.Allan Boesak en vele leiers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top