Winnie Mandela: ’n enigma

  • 0

Winnie Mandela in 2008 (Foto: Wikimedia Commons)

Winnie Mandela was nog altyd ’n kontroversiële figuur – ’n vryheidsvegter, ’n prisonier, iemand wat nie geskroom het om geweld aan te moedig ter wille van bevryding nie, die “Moeder van die Nasie”, Nelson Mandela se vrou, ’n ikoon en iemand wat aartsbiskop Desmond Tutu kon laat huil. Maar in baie opsigte is sy ’n enigma.

In haar aangrypende huldeblyk vir Winnie op The Conversation skryf Shireen Hassim hoe Winnie se lewe die las gedra het van mense wat na goddelike helde soek om te vereer of na eendimensionele boosdoeners om te blameer, en afhangende van aan watter kant van die lyn jy jouself bevind, bepaal dit hoe jy oor haar voel. Die skerp, en in baie gevalle eensydige, kommentaar deur wit mense aan die einde van Hassim se huldeblyk is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Baie mense fokus op ’n baie onnadenkende manier op die dood van Stompie Seipei en die gruwels van die Mandela-sokkerspan waarvoor hulle glo Winnie moes geboet het.

Hierdie beperkte fokus op reg en verkeerd sonder om die grys gebiede van haar verontmensliking deur die apartheidstelsel en sy agente te probeer verstaan, laat haar soos ’n een dimensionele boosdoener lyk. Winnie het haar ikoonstatus te danke aan Afrikaners wat die apartheidstelsel in stand gehou het en van haar ’n voorbeeld wou maak van ’n swart vrou wat nie haar plek geken het nie. Winnie is konstant vervolg nadat sy met Nelson getroud is. Sy is tronkstraf opgelê. In een stadium is sy vir vier dae en vier nagte gemartel. Sy was 16 maande in eensame opsluiting en ten einde laaste verban tot Brandfort, waar sy nooit met meer as een persoon op ’n slag kon praat nie. Sy moes haar twee jong dogters in ’n koshuis in Swaziland plaas, waarna hulle nog steeds deur die veiligheidspolisie geteister is.

Enigiemand wat al die vrouetronk besoek het wat nou deel is van die kompleks wat die Konstitusionele Hof huisves, sal weet hoe groot die selle was. Net groot genoeg vir iemand om te lê en nie baie wyd nie. Versmorend in die somer se versengende hitte. Vroue, van wie Winnie een was, moes die vloere op hul knieë skoon maak, baie keer sonder broekies. Om nie te praat van die vernedering wanneer iemand ’n maandstonde gehad het nie. Gaan luister maar na die gidse by die vrouetronk.

Die verontmensliking deur ’n onmenslike stelsel is nêrens so goed versinnebeeld soos in die lewe van Winnie Mandela nie. Alles in haar lewe het saamgesweer om te verhoed dat sy die erkenning kry vir die vryheidsvegter wat sy was. Baie mense sien haar as ’n verlengstuk van Nelson Mandela, maar sy was ’n vryheidsvegter uit eie reg wat haar mense se onderdrukking eerstehands meegemaak het, selfs voordat sy Nelson ontmoet het. Wie beter om dit te verstaan as die maatskaplike werker wat sy was?

Winnie was ’n “stalwart”, maar sy is anders behandel as Albertina Sisulu en Adelaide Tambo. Sy het nooit ’n getroude lewe gehad nie, want Nelson is gou nadat hulle getroud is, besig gehou met die hoogverraadverhoor. Daarna is hy Robbeneiland toe gestuur. Winnie was ’n enkelouer, maar kon nie haar kinders grootmaak nie omdat sy verban is. Sy is die Moeder van die Nasie omdat Nelson die Vader van die Nasie is, maar die beskrywing “Moeder van die Nasie” is nie werklik op haar van toepassing nie, want sy was nie die piëtistiese vrou wat kinders sou baar ter wille van nasiebou nie. Sy was nooit die “First Lady” nie, want kort nadat Nelson president geword het, het hy haar geskei (juis omdat haar donker kant vir hom ’n verleentheid geword het). Watter mens sou nie verbitter word nie? Watter mens sal nie begin dink dat vigilante geregtigheid nie dalk die antwoord is nie?

Wat Winnie Mandela se sterk punt was, was haar band met die jeug en hoe sy die gees van die bevrydingstryd aan die lewe gehou het in ’n staat wat op die beginsels van rassisme gebou was en wat vasbeslote was om teenstanders stil te maak. Tydens die Woordfees het ek ’n film met die titel Winnie gesien wat voor haar dood gemaak is, deur die regisseur Pascale Lamche. Om die verskillende lae van haar weerstand en haar eie interpretasie daarvan te verstaan is dit die moeite werd om hierdie film te kyk. ’n Mens kry baie meer simpatie met haar as jy na die lewe deur haar eie oë kyk, sonder om noodwendig haar betrokkenheid by geweld goed te keur.

Winnie was ’n mens uit eie reg – daarom kan ons haar nie oordeel aan die kategorieë waarin vroue altyd geplaas word as die aanhangsels van mans nie – “Nelson se vrou” of “Zindzi en Zenani se ma” nie. Wat Winnie so gevaarlik gemaak het, was die idees wat sy verkondig het wat Suid-Afrikaners terug neem na koloniale en apartheidsgeweld, wreedheid en grondonteiening. En dit was hierdie gees van onafhanklikheid van Winnie Mandela wat nie geswig het voor geweld, tronkstraf, marteling of eensame aanhouding nie. Hoe sterk moet ’n mens nie wees om dit alles te weerstaan nie?

Dit is uit hierdie hoek dat ’n mens ook moet verstaan hoekom sy nie voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie kon sê dat sy jammer is nie. Vir haar sou dit beteken dat sy ook moes sê dat die apartheidbrutalisering aanvaarbaar was. Dit sou sy nooit doen nie.

Winnie Mandela het haar posisie as die vrou van Nelson Mandela en haar verbintenis met die jeug as politieke platforms gebruik. Vir baie mense was haar betrokkenheid by weerstand bevrydend; vir die agente van die staat was dit vreesaanjaend. Die staat het haar hiervoor gestraf. Die wêreld het haar veroordeel oor haar ondersteuning van “necklacing” en Seipei se dood. Nelson het haar verraai nadat sy 27 jaar vir hom gewag het, en soos dit  met vroue gaan, het sy ook nie na sy dood die huis in Qunu, wat volgens haar aan haar behoort het, geërf nie. Tot haar dood het sy hiervoor geveg.

Selfs in haar dood is Winnie Mandela ’n verdelende figuur. Mag haar siel in vrede rus.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top