Willim Welsyn oor werk, trou en rock ’n roll

  • 1

Die gesoute rocker Willim Welsyn het pas ’n nuwe snit, "Dis vreemd", saam met sy band, die Sunrise Toffies, vrygestel. Hy vertel meer oor sy loopbaan, waarheen hy op pad is en hoe moontlik dit is om ’n rock ’n roll-leefstyl as getroude man aan die lewe te hou.

Dagsê, Willim. Hoe's dinge?

Dagsê, Skynmaagd*! Alles is heel lekker, dankie. Ek maak tans reg vir Up The Creek.

’n Nuwe snit van jou band is pas aanlyn vrygestel. "Dis vreemd" heet die lied. Vertel bietjie meer van die track – waar kom dit vandaan en waarheen is dit op pad?

Ek het die song iewers laas jaar in my Brackenfell-garage geskryf en hom so nou en dan by solo acoustic shows met ’n loop-station gespeel. Die song handel oor wakker word op vreemde plekke waar jy nie weet hoe jy daar gekom het nie. Ons bassist, Gerhard Grobler, het hom gelike en voorgestel dat ons hom record. Aangesien Grobler ook ’n kak-hot sound engineer geword het die afgelope paar jaar (hy was die engineer op onlangse Tuindwergies- en Les Javan-albums), het hy sommer self die recording, mix en master behartig by die Stellenbosch Konservatorium.

Ek weet nie regtig waarheen die song op pad is nie – toe ek laas gesien het, was hy op watkykjy.co.za.

Jy het al ’n swetterjoel albums agter jou naam. Waarom die enkelsnit so op sy eie vrystel – is dit ’n nuwe rigting waarin jy beweeg wat die vrystelling en verspreiding van musiek betref?

Yes, vyf albums en ’n EP, om presies te wees. Om dood eerlik met jou te wees: met ons al drie in die band wat die afgelope tyd voltyds werk, het ons glad nie tyd gehad om ’n sesde album op te neem nie. Wat eintlik ironies is, want tans hoef ons fokkol geld uit te haal vir studio tyd nie (aangesien Grobler ons nou self kan record). Ons het letterlik net genoeg tyd gehad om een song op te neem laas jaar, en “Dis vreemd ... hoe dinge soms uitwerk.” Ons het gescheme om hom sommer gratis te release for the hell of it en met die hoop dat – as ons wel positiewe feedback van die song kry – dit ons sal inspireer om tyd te maak vir ’n nuwe vol album.

Op daardie noot – wat is jou mening oor waar die Suid-Afrikaanse musiekmark staan in die opsig van CD-verspreiding en -verkope versus aanlyn-verspreiding, met musiek wat aflaaibaar gemaak word – teen ’n fooi of te not?

Vir ’n band soos ons bestaan daar nie regtig ’n Suid-Afrikaanse musiekmark nie. Die geld wat ons maak kom 90% van live shows af en as ons lucky is (en as ons stock het), sal ons by gigs ’n paar CD’s swaai. Raai wie koop daai CD’s? Mense bo 35 – mense met werke wat geld het vir drink, eet, feeste en paarties. Hulle wil ’n foto saam met jou hê vir Facebook, hulle wil hê jy moet hulle CD sign en hulle wil vir jou ’n Jägermeister koop. Dis eintlik weird, want ons het seker so ses video’s op MK en die meeste mense bo 35 kyk nie MK nie – “Dis vreemd hoe dinge soms uitwerk.” Tieners en mense in hul 20’s koop nie sommer vir jou Jägermeister nie, wat nog van ’n CD?

Ek het nou die dag by ’n mall in Brackenfell vier copies van ons SAMA-benoemde CD in ’n bargain bin gesien vir R20 elk, toe koop ek hulle, want dis goedkoper as wat ons record company charge vir stock – ha ha ha! Ek dink die kultuur van Musicas en Look ’n Listens is iets van die verlede – jy moet iets soos ’n R80 000 se bemarkingsbegroting voorlê aan ’n kommersiële CD-winkel voor hulle jou stock op die rakke sit. Kyk maar as jy in Musica inloop – eers kry jy die games, dan die DVD’s en dan daar doer agter steek hulle die CD’s weg.

Wat die aanlyn verkope aanbetref, ken ek nie baie mense in hulle 20’s met kredietkaarte nie, of wat aanlyn shop vir musiek nie; hulle copy maar oor en weer en torrent musiek. Ons het darem al ’n paar aanlyn verkope op iTunes en The Orchard gemaak, maar dis meestal oorsese verkope van Suid-Afrikaners wat land uit is. Gratis aanlyn songs? Ek dink dis nou en dan nodig en dit hou die pot aan die kook – wat jou profile aanbetref.


Foto: Jan Gerber

Buiten musiek maak hou jy jouself besig met verskeie dinge – onder meer werk jy vir Rolling Stone. Dit klink na ’n cool gig – hoe het dit gebeur en hoe ervaar jy dit?

Dit is nogal ’n cool gig. Toe ek hoor dat die tydskrif hom kom vestig het in Suid-Afrika, het ek ’n oorlas van myself gemaak en hulle kantoor begin stalk. Ek het hulle gespam met gig foto's, reviews en stories (hulle het in die begin net my foto's gebruik, want my Engelse skryfwerk was toe maar nog kakkerig). Uiteindelik het ek my eie internskap daar gevestig en ’n grot vir myself uitgekrap wat min mense sal kan volmaak. Hulle het basies nie ’n keuse gehad nie – hulle moes my voltyds aanstel.

Ek love die werk en ek werk hard – ek update die website daagliks, behartig die sosiale netwerke, skryf feesverslae vir die tydskrif en het ook onlangs my eerste twee feature articles geskryf. Die eerste een verskyn in Maart 2013 se uitgawe. Ek neem ook foto's en review albums vir print en online. Ek het al geparty saam met Eagles of Death Metal, ek het al ’n onderhoud met Die Skynmaagde gedoen, ek het gister my photo accreditation vir Red Hot Chili Peppers gekry, en daar's ’n kans dat ek miskien vir Rodriguez gaan ontmoet. Dis befok – musiek is letterlik my lewe vandat ek opstaan tot ek gaan slaap.

Een van jou kortverhale is ook in 2012 in NB se Nuwe Stories-bundel opgeneem. Hoe kom die bouery aan die skrywersloopbaan aan? Of is dit bloot ’n stokperdjie?

Jissie, ek sal dit love om meer Afrikaanse goeters te kan skryf, maar Rolling Stone hou my way te besig, en soos jy kan agterkom, ly my Afrikaans daaronder (fokken souties). Ek het nog ’n paar stukke stories en tekste wat op ys lê waaraan ek wil skaaf … My girl het my geleer om nooit vir enigiemand te sê jy skryf ’n boek of ’n roman nie, want as die ding nooit klaar kom nie, dan lyk jy soos ’n pedantiese poephol. Ek het al daai fout gemaak om in ’n onderhoud te se ek skryf ’n ‘boek’, toe gaan lees ek nou die dag my onvoltooide ‘boek’, en ja, ek het soos ’n poephol gevoel. Dus, nee, my skrywersloopbaan lê tans tussen die blaaie van die Rolling Stone elke maand.

Jy is deesdae ’n getroude man. Wat is die implikasies daarvan vir ’n ruk-en-roller wat ver toer, laat gig en dae in die ateljee betref?

Ek en my girl (“vrou” klink so voorstedelik en oud) se roetines is die afgelope jaar baie dieselfde – ons staan saam op, ry saam trein tot in die stad, stap saam werk toe en eet gereeld saam samoesas in Kompanjietuin vir lunch. Haar kantoor is so twee blokke van myne af. As ek moet gaan record of gig, dan doen ek dit, want dit maak my happy, en as ek happy is, is sy happy. Sy deel ook immers in die wins (volgens die aanwasbedeling, of so iets). Die rede hoekom ek haar getrou het, is dat sy my uitlaatkleppe en passie vir musiek verstaan en ondersteun. Die ware implikasies is: as sy nie in my lewe was nie, sou ek seker till geslaan het in die platteland (nie dat daar enigiets fout is met till slaan nie, rock ’n roll is net veel lekkerder).

Watter kort- en langtermyn-planne word deur Willim Welsyn (met of sonder die Sunrise Toffies) beraam?

Korttermyn? ’n Sesde album saam met die Toffies. En op lang termyn wil ek begin werk aan ’n Engelse album om ’n wyer gehoor te bereik. Daar’s ’n handjie vol Suid-Afrikaners wat get en like wat ons doen. As net ’n handjie vol mense reg oor die wêreld kan like wat ons doen, dan sal ons miskien eendag daai huisie by die see kan koop.

*Die onderhoudvoerder is ’n lid van Die Skynmaagde.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top