Willim Welsyn: "Ek kon weer staatmaak op my geoefende Afrikaanse chops"

  • 0

Willim Welsyn het pas ’n nuwe album uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Willim, ou perd. Hoe's dinge?

OK. Besig om Blitzkriek-CD's te pos vir mense.

Foto: Vetman Design & Photography

Geluk met jou nuwe album, Blitzkriek. Dit voel in geheel getrou aan die Willim Welsyn-styl wat ons ken (kliphard, onpretensieus, deurdringend), maar dit voel ook of daar ’n helse step-up gegee is in die intricacies van die produksie-elemente: backing vocals wat soos ongesiene roofvoëls op die luisteraar toesak, kitaareffekte wat verraderlik op-die-man af klink en jou dan pypkan op die tweede of derde deurluister ... Tot hoe ’n mate was hierdie uitbreiding ’n doelwit met Blitzkriek? Of is dit maar natuurlike evolusie saam met tegnologie en tyd? Is daar ander spesifieke aanpassings of nuwe tegnieke wat jy met Blitzkriek wou regkry, en hoe belangrik is dit vir jou om te hou by daai outentieke Willim-klank (weer eens, dis dalk als doodnatuurlik)?

Dankie, Henry. Ek was bevoorreg om weer saam met my ou skoolvriend en long-time producer Jo Ellis te werk by Blueroom Studios op Ladismith, waar ek grootgeword het. Dus is al die intricacies op die produksie-elemente te danke aan hom en sy ongelooflike talent om iets spesiaals uit ’n songwriter te kry. Ek, aan die ander kant, was ook bietjie meer oopkop en bereid om te eksperimenteer met nuwe sound palettes en vocal harmonies. Die tegnologie en instrumente is nog basies dieselfde sedert ek en Jo my Engelse album Shunt in 2013 saam record het.

Kyle Gray, die drummer, was soos altyd aan die brand! Hy’t sommer die drums in een dag getrack en Gerhard Grobler, die bassist, was so bly dat hy vir die eerste keer in ’n lang tyd net bass kon speel en nie hoef te worry oor die recording nie. (Quick sidenote: Albert Frost se album The Wake Up, wat nou onlangs ’n SAMA gewen het, is deur Gerhard Grobler record.) Ons het wel een nuwe overdrive pedal gehad wat Gerhard geleen het by Borrie Borman van Stoker. Bestaan daar ooit ’n outentieke “Willim-klank”?

Die vorige keer toe ons op LitNet gesels het, drie jaar gelede, het jy pas jou eerste Engelse album uitgereik onder die naam William Welfare. Jy was in daardie stadium ernstig oor die oorgang na grootliks Engelse musiek pleeg. Waarom die ommekeer (nie dat ons kla nie)? Laas het jy gesê: "The only thing is that when it comes to Afrikaans music there’re only a handful of people who’re willing to listen while the other people sokkie." Beteken dit, met die nuwe Afrikaanse album, dat dit suiwer kuns for the sake of kuns is, met ’n veragting van kommersiële gatskoppery, of hoe lyk jou gedagtegang in hierdie opsig deesdae? En op ’n meer musiekskepping-noot: Wat kon jy byvoorbeeld met Blitzkriek doen wat jy nie met Shunt kon doen nie?

Ag jong, as ek nou terugdink aan daai tyd, was ek maar net op soek na ’n nuwe audience met ’n nuwe album. Ek dink nie ek was soseer committed om slegs Engelse musiek uit te sit nie – ek wou myself ’n bietjie challenge in ’n ander taal en in ’n ander tyd. In hindsight was dit toe juis daai Afrikaanse “handful of people who’re willing to listen” wat my toe ondersteun het. Ek het geleer om hulle te waardeer en hulle te service.

Ek was nog nooit ’n kandidaat vir “kommersiële gatskoppery” nie, so elke ding wat ek uitsit is seker maar “kuns for the sake of kuns”. Op Blitzkriek kon ek weer staatmaak op my ou, geoefende Afrikaanse chops, waarmee ek gemaklik voel.

Terwyl ons nou praat oor die bedryf en gedagtegange en sulke lekker dinge: jy doen die afgelope jaar of twee die WAT-podcast, wat jy uit jou garage bedryf, met musikante, skrywers, akteurs en sommer ander interessante mense. Jy't nou al ’n magdom van hierdie onderhoude gedoen: Hoe dink jy het dit ’n invloed gehad op hoe jy dink oor jouself, jou skeppings en hoe jy jouself as kunstenaar laat geld? Benewens ’n paar wenke en inspirasies was daar seker ook ’n paar meer siniese stories wat mens laat wonder oor die ware nut van musiek, loopbaan en so aan? Watter van dié onderhoude sou jy sê het die grootste knuppel in die duiwehok van jou brein gegooi?

Die feit dat mense begin luister het na my gaste se stories het my laat besef dat ek toe uiteindelik daai nuwe audience gevind het wat ek daai tyd met Shunt gesoek het. Sodra mens gereeld met ander skeppende mense gesels, voel mens dadelik nie meer so alleen nie en besef mens dat almal maar deur dieselfde missions gaan om gehoor, gesien of gelees te word.

Dis moeilik om nou ’n siniese storie te herroep, maar die gesprekke met ouens soos Riku Lätti, Gian Groen, Koos Kombuis, Valiant Swart, Ryno Velvet en Albert Frost het my wel laat besef dat as jy wil skep, moet jy skep en minder praat oor dit wat jy al geskep het en dit wat jy nog wil skep. Met ander woorde: Less talk, more walk.

Jou bemarking vir Blitzkriek lyk – in lyn met die musiek – soos ’n mengsel tussen die oue en die nuwe ... Daar's plakkers op lukrake padtekens en so aan (maar dit was seker jou aanhangers se skuld), tergende lokprente op sosiale media ... Wat is jou filosofie rondom musiekbemarking, en daai skelwoord "viral" waarna almal op soek is? Hoe lyk die ideale verhouding tussen daai ongemaklike bedmaats – opregte kuns en bemarking? Is dit moeilik om nou, teen (as ek reg tel) jou sewende album, nog die energie bymekaar te skraap daarvoor, of is dit maar deel van die pakket?

Self-promotion is vir my ’n baie uitputtende en angsbevange oefening, so ek probeer om dit ten minste fun te maak vir my en my luisteraars. Die cool ding van die Blitzkriek-campaign is dat ek nog nie een enkele persverklaring uitgestuur het nie. Slegs my WAT-podcast-luisteraars het geweet dat ek ’n nuwe album op pad het, omdat ek hulle sedert episode 99 begin vertel het daarvan. Ek het hulle ook gesê dat ek Blitzkriek-stickers gaan print, dat hulle Exit Through The Gift Shop moet kyk en as hulle sou wou deel raak van die Blitzkriek-beweging, moet hulle my e-mail en dan sal ek vir hulle stickers stuur wat hulle op strategiese plekke moet plak. Sodra hulle dit geplak het, moet hulle ook ’n foto neem en dit op sosiale media plaas met die hashtag #Blitzkriek. Analogue life meets digital life. Dis lekker geheimsinnig so op ’n niche-statement manier.

So, in plaas van om my naam of my gesig te bemark, het my luisteraars my gehelp om die album en sy logo te bemark. Om “viral” te gaan is soos om die lotto te wen – jy kan dit nie beplan nie. Jy kan wel ’n eerlike verhouding bou met die bietjie fans of luisteraars wat jy wel het en hulle aanhou koester en service.

Ja, dit is moeilik om na die sewende album die energie bymekaar te skraap om te bemark, en dis hoekom ek dit bietjie ge-outsource het na my luisteraars toe. Daar’s even ’n billboard buite Swellendam op die N2 … watch that space. With friends like these, who needs fans?

OK, terug by die musiek: Daar duik op ’n hele paar snitte sulke soort kopknikke, of ligte spotdryf, of iets soortgelyk op ... Byvoorbeeld die deuntjie van "Wat ’n vriend het ons in Jesus" wat inval op "Seun van die reën", eggo's van Radiohead se "Karma Police" op "Ysterkonfetti", en ... dalk het ek ’n whiskey te veel in, maar ek hoor selfs ’n knipoog na die versmelodie van "Torn" (Natalie Imbruglia) op "Al Die Cool Kinders" ... Ha, seker nie. Elk geval, jy was nog altyd lus vir ’n bietjie draaksteek in lirieke en ook sulke elemente wat ingesleep word by jou musiek: Hoe word daardie idees gebore? Is dit ’n lightbulb moment, of is daar ’n eksakte wetenskap met die onderliggende boodskap? Trouens, hoe werk daai liedskepproses by jou in die algemeen? Hol mens met die idee soos hy opkom, of ly jy aan die skrywersvloek van herskryf, herskryf, herskryf?

Die “Wat ’n vriend het ons in Jesus”-deuntjie is actually jou band Die Skynmaagde en Johannes Kerkorrel se skuld. In die tyd wat ek daai song geskryf het, het ek jou band se music geluister en “Wat ’n vriend het ons in Zuma” was ’n oorwurm wat my mal gemaak het, en toe besluit ek om die tradisie van daai tune ’n vierde hoofstuk te gee. Die NG Kerk was eerste, Kerkorrel tweede, Die Skynmaagde derde en ek vierde. Het wel nie bedoel om spot te dryf nie!

Dis baie cool dat jy eggo’s van “Karma Police” hoor op “Ysterkonfetti” – ek het nooit so daaraan gedink nie, maar dit is spot-on en lekker om ’n ander reference in hindsight te besef. Ek love ook die feit dat jy Natalie Imbruglia se “Torn” op die "Al Die Cool Kinders" hoor (not intentional, by the way) – want dit is heel waarskynlik die meeste “pop” wat ek probeer gaan het op die album. Die coolste terugvoer wat ek op daai song gekry het, was van Peter Crafford van 3rd World Spectator, in ’n private message:

PC: Wat ’n ongelooflike stuk werk is jou album nie. Dit voel soos ’n event piece. Baie geluk!

WW: Wat ’n mooi kompliment, dankie Peter. Wat bedoel jy met event piece? Soos ’n play?

PC: Dit voel soos die soort album wat mens agterop Q Magazine sien. Waarvoor mens uitkamp voor die shops. Ek was genuinely laas met KOBUS! se debut so opgewonde oor ons taal. Ook, ek bedank jou vir die feit dat jy glam rock in Afrikaans kon afpull.

Ek dink met die “glam rock in Afrikaans” verwys Peter na "Al Die Cool Kinders". Die song gaan oor die sosiale media en ek dink die glam-vocal-harmonies is dalk ’n lekker metafoor vir ons almal wat so “glamorous” voorkom op die skerms. Nadat ek die song vir Valiant Swart gespeel het in die kar, het ons gesels oor die references en besluit dat dit soos Karoo-Queen klink.

Wat die liedskepproses aanbetref, word elke ene op ’n hele ander random manier gebore. "Al Die Cool Kinders" is ’n cut-en-paste oefening: die sagte choruses is geskryf op ’n ou auto-harp wat my ma vir my een jaar vir Kersfees gekoop het op Calitzdorp, en die vinnige dele is geskryf op my ou trustworthy Epiphone SG, wat my pa vir my gekoop het in 2003.

Ek skryf die heeltyd ’n klomp stukkies: ’n strofe hier, ’n riffie daar. Speel dan cut-en-paste met die stukkies. Ander kere kom ene sommer so in een go, soos “Dis Vreemd” en “Ver Hiervandaan”. Ek herskryf soms, maar ek probeer nooit om té precious raak nie, anders verdwyn die dringendheid. Die temas van die songs, besef ek nou in hindsight, het nogal baie met familieverhoudings te doen.

Dieper op die draakstekery: dit voel of daar baie tragikomedie in jou liedere skuil. Ek't byvoorbeeld eerste na "Sanlamkliënt" geluister en iets in die lyn van Koos Kombuis se "fokol" verwag, maar dit is eintlik ’n soort sinies-optimistiese reality check wat grens aan die makabere, met opening lines van "Jou pa is besig om dood te gaan/ dis moeilik vir hom om op te staan/ soos ’n hond met ’n wond in sy maag", als met vrolike driemaat folksy kitaarspel. Tot hoe ’n mate is dit vir jou ’n manier om die swaarhede van die lewe te verwerk – deur dit te omskep in iets dubbelsinnig in jou kuns? Is daar iets terapeuties daaraan wat jy ook aan die luisteraar wil oordra?

In plaas van om te persoonlik te skryf oor myself, het ek op Blitzkriek karakters gebruik om elke song soos ’n kort storie, of vinjet, te laat afspeel. Alhoewel "Sanlamkliënt" nie oor my gaan nie, kan ek wel relate met die ervaring van wanneer jy ’n ouer verloor. Dit raak ’n skouspelagtige sirkus van gebeurtenisse en emosies. Mense wat jy lanklaas gesien het, kom van ver om te kom ondersteun en die begrafnis by te woon. Mag mens grappe maak en partytjie hou saam met daai mense? Of moet mens nou stil raak en eerder respek toon? Dis ’n baie ambivalente karnaval vol teenstrydige emosies. Die musiek op "Sanlamkliënt" probeer daai vrae beantwoord.

Die lirieke, aan die ander kant, probeer die vrae rondom closure beantwoord tussen ’n kind en ’n ouer wat op sterwe lê. Verkoop Sanlam closure? Is dit effektief? Ek weet nie. Is dit terapeuties om sulke songs te skryf? Ek weet nie, ek voel nie noodwendig beter nie – maar ek dink wel dat daar baie mense is wat sal kan relate met die song. En dat daar baie min Afrikaanse songwriters is wat bereid is om te indulge in so ’n donker tema. Maybe Die Briels, o ja! Hierdie song is my modern homage aan Die Briels.

Ek het Saterdag by Die Boer vir Ryno Velvet geopen voor ’n sold-out audience toe ek "Sanlamkliënt" vir die eerste keer live speel. Ek het vinnig besef dat ... I’m not your ideal night out. Hahaha! Die terugvoer na die tyd was verstommend. Een ou het kom tune dat ek “moet terugfok Stikland toe met my issues” en ’n ander vrou het met trane in haar oë en ’n R100-noot in haar hand ’n CD kom koop, net om daai song weer te luister.

Jy is deesdae, benewens ’n trotse eggenoot, ook ’n trotse pa van ’n jong lat. Geluk! Vind jy dat die nuwe verantwoordelikhede ’n noemenswaardige impak op jou musiek maak? Uiteraard is toer en gig nie meer so maklik soos vroeër nie (of is dit?), maar na verneem word, verander ’n kind ook nogal ’n mens se lewensuitkyk. Ervaar jy dit so? Sypel daardie effek deur in jou lirieke en ook in hoe jy jou musiek benader? Wat wil jy graag vir jou kind leer oor rock & roll, en wat leer jy by jou kind oor rock & roll?

Dankie, Henry. Die verantwoordelikhede maak ’n groot impak. Dit beteken ek het baie minder tyd en geld om musiek te maak en te bemark, dus moet ek dit vinnig en doeltreffend benader. Nee, toer en gig is nie meer so maklik nie, so as ek iets aanpak moet ek doodseker maak ek kom vinnig terug huis toe, met genoeg dividende om die bills te cover.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Willim Welsyn? Word hy eendag weer William Welfare? Of dalk uWilliam Inhlalakahle?

Ek lewe in drie-maande-instalments, so ek weet nie regtig wat die verre toekoms inhou nie, en ek is ook nou oud genoeg om nie lawwe voorspellings of uitlatings oor die toekoms te maak nie. Vir nou is ek ’n werkende man vir my vrou en my kind en die ou met die WAT-podcast en die nuwe Blitzkriek-album.

Ek het jou al gevra oor die sin van die lewe ... Wat is die sin van die dood?

Die dood is jou deadline, dus moet jy vinnig begin lewe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top