Willem Anker (1979–)

  • 0

Gebore en getoë

Willem Petrus Pienaar Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore. Hy word groot op Wellington in die Wes-Kaap as sy ouers se oudste kind en ook hulle enigste seun.

Hy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 19 Junie 2015) dat westerns vir hom ’n bekoring het. Hy het as kind een vakansie in sy oupa se huis ’n vertaling van een van Louis L'Amour se verhale gelees: "Ek kan nie meer die titel onthou nie ... Ek dink ook nie ek het dit klaar gelees nie. Dit was vir my onverstaanbaar: die koeiseun en die seun, want guy seker maar was of so iets; en girl was dogter en ’n hings was ’n reun ... So jy het sulke sinne soos: 'Die koeiseun klim op sy reun en gaan kuier vir die dogter.' His girl is dan sy dogter."

Oor die eerste boeke wat as jongmens op hom ’n indruk gelaat het, vertel Willem aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 23 Januarie 2016): "Die eerste boek wat ek self deurgelees het, was Huppelkind deur WO Kühne en dit bly een van my gunstelinge, maar dit was seker toe ek in die laaste jaar van hoërskool vir Albert Camus, Hermann Hesse en Etienne Leroux op ’n streep ontdek het, wat die koeël regdeur die kerk en anderkant uit is."

Daar was min dinge wat Willem nie wou word toe hy ’n kind was nie – van die algemene brandweerman en polisieman tot vegvlieënier, cowboy, Indiaan, sheriff, kroek, ridder, draak, spioen, towenaar en seerower. (Vrouekeur)

Hy matrikuleer in 1996 aan die Hugenote-hoërskool op Wellington.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Willem na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom inskryf vir ’n BA-graad. Hierna verwerf hy ook sy BA-Honneurs in Afrikaans-Nederlands en sy MA in kreatiewe skryfkunde onder Marlene van Niekerk. In 2007, op 28-jarige ouderdom, kon hy die titel “doktor” agter (of voor) sy naam skryf met ’n proefskrif getiteld “Die nomadiese self: ’n skisoanalitiese lees van enkele prosawerke deur Alexander Strachan en Breyten Breytenbach” – ’n heel lywige stuk navorsing van ongeveer 600 bladsye.

Tydens sy studentejare was Willem een Desembervakansie kroegman by die restaurant Mexican Kitchen, vertel hy aan Murray la Vita. "Maar toe die klasse weer begin, het die shifts geheimsinnig opgedroog – hulle het my nooit amptelik ge-fire nie, maar net opgehou om my naam op die rooster in te vul. Miskien was my small talk nie na wense vir die clientèle nie of miskien het ek te veel glase gebreek.

"Die jaar ná skool het ek vir ’n vriendin se pa gewerk as wewer. Hy het ’n paar besighede uit sy huis bedryf, en een daarvan was twee weefmasjiene in ’n skuur in sy tuin waar ek vir hom angora-hare geweef het wat glo uitgevoer is na Swede – of een van daardie plekke wat hulself leen tot goeie murder mysteries – vir die pelse van teddiebere. Ek het saam met oom Krisjan, die tagtigjarige man wat ook bietjie tuinwerk gedoen het, hierdie masjiene bedryf. Middagete het oom Krisjan vir ons bokkoms gaargemaak op die droë blare wat hy gehark en dan aan die brand gesteek het. Dit was een van die lekkerste werke wat ek nog gedoen het. Ek moes ongelukkig ophou toe ek agterkom ek is erg allergies vir angorabokke.

“Al slegte ding was dat oom Krisjan verslaaf was aan die vervolgverhale op radio en ook nie meer so goed kon hoor nie.

“Ná my M in skryfkunde het ek nie werk gekry nie en het ek vir ’n paar maande die working holiday-ding gaan probeer in Edinburgh. Daar was ek ’n security guard in Gap-winkels. Die uniforms het net soos Voortrekker-uniforms gelyk. Mens moes rondstaan en verdagte jean-kopers agtervolg. Dit was f—n aaklig. Ek kon ten minste ­later ’n play [Skrapnel] daaroor skryf.

“Tussendeur die sekuriteitswerk het twee Ierse swaers, wat saam ’n verhuisingsmaatskappy met hul lorrietjie bedryf het, my by die hostel kom oplaai as hulle groot huise moes trek en hulle twee nie genoeg was nie. Ek het twee keer saamgegaan, want hulle het beter betaal as die sekuriteitsplek, maar die derde keer wat hulle kom aanklop het, was op ’n dag wat ek lekkerder planne gehad het. Ek het gemaak of ek slaap. Toe het hulle my nie weer gevra nie. Dit was miskien ook oor die rusbank wat ek die vorige keer by ’n spiraaltrap laat afval het.”

Willem is tans dosent in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is met Christine Truter getroud.

Dat hy toneelskrywer geword het, was heeltemal toevallig. Hy het sy vriend Tertius Kapp by die KKNK gaan help "grafte grawe en goeters" vir Kapp se produksie in ’n ou spookhuis, vertel hy aan Willemien Brümmer (Die Burger, 4 April 2009). "Toe dit so half geslaagd was, toe dink ons ons moet probeer om nog ’n site specific ding te doen. Dit was pret om op die plaas rond te grawe, en toe dink ons waar gaan nog ’n interessante plek wees, en toe dink ons ’n scrapyard. Tertius het gesê: ‘Wel, skryf dan iets daaroor’, en toe hou hulle daarvan.”

En só het Skroothonde ontstaan wat in 2004 by Aardklop gedebuteer het waar Kapp en sy Tart ’n Koggel-produksies dit in ’n scrapyard "op die planke" gebring het. Skroothonde is by 2004 se Aardklop bekroon met die Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Die stuk speel hom af in 2204 op ’n "postapokaliptiese puinhoop", skryf Kobus Burger in Beeld van 1 Oktober 2004. Die wêreld soos die toehoorders dit geken het, bestaan nie meer nie en die enkeles wat oorleef het, praat ’n taal wat vreemd op die ore sal val, verduidelik ’n vrou met ’n plastiekgeweer aan die "toeskouers".

Burger skryf verder dat wat binne die daaropvolgende uur gebeur, ’n kruis is "tussen Blade runner, Mad Max en ’n onseker uitstappie deur ’n skrootwerf wat seker eendag ’n pretpark kom gewees het".

Burger sluit sy bespreking af: "Die reis eindig by die leier van die groep stofbyters. Dit blyk dat sy enigste kind/vrou ge-overdose het op die droomwater (petrol). En hulle het gereken haar droom sou hulle almal red. Dat daar hoop is. Dié toneel gee vir 'n mens 'n Shakespeare-geurtjie in Afrikaans. 'n Woordryke, Afrikaanse Terminator toneel, maar met 'n spul elemente uit die mitologie.

"Dan word ons weggejaag. Die mense (of is hulle robotte) wil rou. 'n Marilyn Monroe kruip uit die rommel en wink ons nader. Het dié god uit die droom ontsnap? Of gebruik die puinhoop-bewoners die enigste god/ikoon wat die ambassadeurs sou verstaan om ons weer terug te ruk na die wêreld wat ons wel sal kan verstaan? Al kopkrappend word ons uitgeskop. So wie is nou die honde wat stert tussen die bene moet vlug? Bang dat 'n stuk geroeste metaal ons sal sny. Of dat Breekyster ons sal beetkom.

"Die einde is nie 'n antwoord nie, maar dat dit 'n seldsame ervaring was, moet almal gelyk gee. Skroothonde is kraakvars ruimtelike teater. Waar Odd Enjinears en ander sulke teatergroepe met 'n magdom idees sit wat nie alslag as 'n sterk geheel bymekaar kom nie, bied hierdie gebeurtenis 'n kragtige kopskuif. Willem Anker se teks is 'n raaiselagtige juweel, wat met 'n mens se kop smokkel. Wat jou kop uiteindelik daarvan maak, is 'n ander storie."

Ook Sielsiek, wat in 2006 by Aardklop opgevoer is, is baie goed ontvang. Willem het weer saam met Tertius Kapp en sy produksiespan gewerk. Willem het Sielsiek as ’n "mikrokosmos van die wêreld" beskryf. In hierdie stuk is vertrekke van ’n kollege in die Nuwe Hoop-tehuis omskep. Hier kan gehore hierdie gestig se kleurvolle, maar terselfdertyd ook ontstellende inwoners ontmoet, skryf Marthinus van Vuuren in Beeld (27 September 2006).

Willem en Tertius se inspirasie was wel "ander malhuis-tipe verhale", maar dit het slegs die voorkoms van die drama beïnvloed. "Die karakters het uit ’n suiwer Suid-Afrikaanse konteks geborrel. Die konteks is Suid-Afrikaans, maar die temas is universeel."

Twee musikante, Braam du Toit en Richard Kapp, was verantwoordelik vir die "insidentele musiek" in die stuk. Hieroor was die twee skrywers baie opgewonde, want hulle het stukkende klaviere en die gestryk van ’n saag vir die effekte gebruik.

Maar dit was met Slaghuis, wat in 2006 as ’n studenteproduksie by Aardklop opgevoer is, dat Willem Anker wel deeglik op die toneel verskyn het. Dit is ingeskryf vir die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater (Spat) en het met al die belangrikste pryse weggestap – algehele wenner, beste dramaturg (Willem Anker) en beste regisseur (Marthinus Basson) as. Dit is ook in 2007 deur Genugtig! Uitgewers in boekvorm uitgegee.

Basson het aan Jo-Ann Floris (Beeld, 30 September 2009) vertel dat Willem Anker die stuk ongeveer twee jaar vroeër aan hom gegee het, maar dat hy nie eintlik geweet het wat om daarmee te maak nie: "Dit sou ’n duur en groot produksie moes wees en dis nie maklik om geld te kry nie. Dis ook ’n baie diggeweefde teks en dan is ’n mens maar altyd ’n bietjie huiwerig om dit met studente aan te pak. En vandag het ons hierdie prys en ons is wonderlik beloon."

Basson beskryf Slaghuis só aan Matieland (Somer 2006/2007): "Slaghuis is gepas geset in ’n metaforiese plattelandse slaghuis, maar is ook tegelykertyd die kamer van ’n naamlose paartjie, Hy en Sy, êrens naby die hoofweg in Bellville. In die koorsagtige nag waarin poësie bots teen banale realiteit, is dit vir die jong skrywer wat in die skaduwee van ’n literêre reus staan, logies en onafwendbaar dat hy in ’n oeroue ritueel sy skrywersgod moet slag om by sy eie identiteit as skrywer uit te kom.

"Onder die druk van ’n verbrokkelende verhouding word woorde wapens en ontaard hierdie nag van dubbeleindes in ’n Walpurgis Nacht waarin die losgelate verbeelding van ’n jong skepper en die skeppings van ’n ontslape skrywer saamspan om sin te probeer maak van die kunstenaar se verhouding met die wêreld daarbuite."

In sy resensie van die verhoogstuk skryf Danie Botha dat Anker in Slaghuis ’n "voorstelling gee van hoe Etienne Leroux (Stian Bam) se romans in sy verstand ontstaan het. Dis ’n veruiterliking, ’n konkretisering deurdat ’n aantal van sy karakters hom in lewende lywe konfronteer, hom aankla, selfs 'slag'. Dit word soms ’n mal gedoente." (Die Burger, 12 Oktober 2006)

Anna-Retha Bouwer (Beeld, 29 September 2006) was van mening dat hierdie donker en absurde stuk sonder voorafkennis van Etienne Leroux en sy werke nie na waarde geskat kan word nie. "Dit raak in daardie konteks gewoon die stryd van die skryfproses, van die skep van karakters wat by jou spook en immer onontgin bly. Dit illustreer ook die punt dat geskepte karakters nie sonder die skrywer kan bestaan nie, en die skrywer ook nie sonder hulle nie. Maar sonder om Leroux te ken (en wie ken Leroux werklik?) gaan daar veel verlore. Net soos Leroux nie vir die gewone leser geskryf is nie, is Slaghuis ook nie vir die gewone teaterganger nie. Dit is nietemin aktueel."

Oor die dramateks skryf Marius Crous in Die Burger van 30 Julie 2007 dat Willem Anker hiermee in die geselskap is van Pirandello, Uys Krige en Breyten Breytenbach met dieselfde ontginning van die verhouding tussen die dramaturg, sy karakters en die stuk wat geskryf en opgevoer moet word. "Daar is ook ’n duidelike aansluiting by die tradisie van die Teater van die Absurde en veral elemente van Brecht se werk. Veral in die tonele tussen Gert Garries en Onse Hymie kom laasgenoemde na vore. (...)

"Die vernaamste in­terteks­tuele spel in dié dramateks is dus met die persona van Eti­enne Leroux en sy tiental romans. Die karakters kom uit Leroux se romans, Leroux self is een van die karakters en daar word byvoorbeeld voorgelees uit sy romans. Daar word ook kommentaar gelewer op die kritiese diskoers wat om Leroux se komplekse romantekste ontstaan het."

Vir Crous is dit presies wat ook met Anker se teks gaan gebeur, aangesien dit ’n teks is wat vra om psigoanalitiese vertolking, asook ’n diepgaande kyk op die psige van Etienne Leroux.

Crous sluit af: "Anker se teks is, nes Leroux se romans, kompleks en veelvlakkig, en sal be­slis ook 'oorgeanaliseer word deur li­teratore'. Dis ’n intellektuele toneelstuk wat beslis nie ingestel is op goeie, grap­pige gesinsvermaak nie, want dit verg heelwat van die leser/kyker X soos in die geval van Cloete se Onderhoud met ’n Bobbejaan of Breytenbach se Boklied en Die Toneelstuk. Interessant hoe die Afrikaanse dramaliteratuur so ’n intellektuele rigting inslaan."

Willem Anker se eerste roman, Siegfried, word in 2007 deur Kwela uitgegee. Die eerste weergawe van die roman is geskryf ter verkryging van sy MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Dit is aanvanklik aan etlike uitgewers gestuur vir publikasie onder die titel Sirkus, maar niemand was bereid om dit uit te gee nie, omdat dit na hulle mening te eksperimenteel was. Daar is toe geskaaf, oorgedink een oorgeskryf aan die manuskrip en ook aan sy vriende voorgelê vir hulle menings, en uiteindelik is dit toe onder die titel Siegfried gepubliseer. Dit is in 2008 met die Universiteit van Johannesburg se debuutprys en die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende skryfwerk bekroon.

Soos Willie Burger in De Kat (9 September 2007) geskryf het, is Siegfried ’n roman wat jou laat "regop sit".

Willie Burger skryf verder: "Siegfried begin op aangrypende wyse met die dood van die boer, Landman (die name is simbolies) op sy Karooplaas. Sy swaksinnige seun, Siegfried,  met sy lomp gewebde vingers en tone, onderneem ’n reis op soek na sy enigste familielid. Hierdie 'paddaman', ontuis op land en in die wêreld, word op sy reis vergesel deur die mislukte skrywer en amateur-entomoloog, Smit (Smetsmid) wat in sy voortdurende dronkenskap tóg probeer om vir Siegfried te beskerm teen ’n wêreld waarin onskuld en naïwiteit nie ’n plek het nie. Hul reis lei tot ’n deurmekaarspul in Kaapstad waar hulle onder meer beroof en aangeval word."

Hierdie wêreld, wat soos ’n nagmerrie is, word meestal vanuit Siegfried se perspektief vertel. "Sy beperkte begrip word weerspieël deur prosa waarvan die sintaksis versteur is. Siegfried se perspektief word afgewissel deur die perspektiewe van Smit, David (’n verveelde jong man wat selfmoord pleeg) en uiteindelik ook deur Fafnir, die 'dramaturg', se versplinterde beeld op die wêreld. Hierdie buitestanders se ervarings maak ’n kritiese blik op die samelewing moontlik."

In ’n onderhoud met Suné Kitshoff (Die Burger, 28 September 2007) wou Kitshoff ietsie meer weet oor die karakter Smet en sy "gogga-ding" wat haar aan Dracula van Bram Stoker laat dink het. Willem se antwoord hierop: "In Dracula is Tom Waits in ’n malhuis en Gary Oldman die beroemde bloedsuier. Wat ’n goeie fliek; net jammer van Keanu Reeves! Smet is nie gebaseer op Renfield nie, maar die woorde van Renfield pas miskien goed in sy mond. 

"Oor Smet se insek-etery wil ek nie self te veel sê nie; ek was heel verbaas toe die stomme man die eerste keer ’n kriek in sy mond gedruk het. Hy sou seker iets sardonies sê, soos wat die hart van vol is, loop die mond van oor. As ’n mens kinders en diere dophou, sien jy hulle snuif of kou aan iets wat hulle interesseer of fassineer. Sommige eet kougom, ander kou hul naels. Dit maak dalk veel meer sin om iets met ’n bietjie proteïen in te kry. Maar Smet sou seker gespoeg het op sulke verklarings. Ek is nie sy sielkundige nie."

Kitshoff wou verder weet, gesien die feit dat in Frankenstein die "kreatuur" erg verbrand word en ook Siegfried wat geteister word deur vuur, asook die skepsels in Fafnir se sirkus, of ons "eers vermink moet word voordat ons aanvaar". Vir Willem was hierdie vrae juis dié rede hoekom hy Siegfried geskryf het: "Ek glo nie daar is enige maklike antwoorde vir hierdie kwessies nie. ’n Roman is vir my ’n praatplek waar met sulke vraagstukke omgegaan kan word sonder dat daar op ’n finale antwoord afgekom hoef te word. Ek voel die skrywer se werk is om te ontwrig en nie te onderrig nie. As die boek as ’n moraliserende traktaat gelees kan word, het ek misluk. Of mense hou van die boek, of hulle dink dis prulwerk en of dit iemand ontstig, is om’t ewe, solank niemand ’n lessie daarin sien nie. Siegfried was my manier om te dink oor die bogenoemde kwessies van Frankensteinagtige vure, Fafnir-Rose-grilvertonings en spykers. Dit is die enigste antwoord wat ek kan gee."

Siegfried bestaan uit vier dele en vir Kitshoff het die eerste deel haar aan John Steinbeck se Of mice and men laat dink en was dit ook vir haar baie komies. Sy wou weet of Willem Anker ’n gunsteling onder die verskillende dele het: "Of Mice and Men is ’n wonderlike boek wat ek al ’n paar keer gelees het. Deur die loop van die romanskrywery het ek ’n klomp tekste gelees wat oor idiote-karakters handel. Ek dink nie Steinbeck was een van die grootste invloede nie, maar as iemand enige raakpunte sien, is dit ’n kompliment vir my. Siegfried is as ’n geheel geskryf, maar ek het tog probeer om aan elke deel ’n eie stem of stemming te gee. Ek hou nie van enige van die afdelings meer as van die ander nie. Sommige dele was natuurlik moeiliker om te skryf as ander, maar wie het gesê pyn dra nie ook ’n bietjie genot nie?"

Willem skryf nie net oorspronklike toneelstukke en het al ’n hele paar toneelstukke vertaal. In 2008 het hy die Britse dramaturg Sarah Kane se Crave in Afrikaans vertaal onder die titel Smag. Dit was haar voorlaaste toneelstuk voordat sy nie lank nadat sy 28 geword het, selfmoord gepleeg het nie.

Deborah Steinmair (Die Burger, 31 Julie 2008) het oor die opvoering in die Baxter-teater in Kaapstad geskryf dat Willem Anker Kane se poëtiese en intense woorde wat "gestroop is van hoop" in "elastiese Afrikaans omgetoor" het.

"Anker se vertaling tref soos ’n opstopper in die maag. Die ­gespierde, elegante woorde draai nie doekies om nie. Afrikaans is by uitstek ’n taal om in te wroeg. Die wroeging het dimensie en slaan oomblikke van hoë, suiwer skoonheid raak soos die rand van ’n glas wat sing onder ’n vinger. Braam du Toit se musiek is ­alomteenwoordig soos ’n hartklop, soos asemhaling: dit ­onderstreep, omlyn, dra en onderskraag sonder om op te dring. 

"Die geheel is soos ’n fyn geïntegreerde simfonie. Die atmosfeer is katedraalagtig, die marimbaspeler asof agter ’n orrel en ’n koorleier in lang ­gewaad op die voorgrond. Sodoende word die smagting amper draaglik; spoel die litanieë oor die gehoor soos water. (...)

"Die produksie is fyn ge­orkestreer. Dis sinnelik en lieflik."

Vir Aardklop in 2009 het Willem ’n opdragstuk geskryf met die titel Skrapnel, weer ’n titel wat met ’n S begin. Dit was een van net twee nuwe stukke by Aardklop van daardie jaar en het weggeloop met die AngloGold Ashanti/Aardklop Smeltkroes-prys vir die beste nuwe Afrikaanse verhoogteks by Aardklop en was ook die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir Drama in 2010. Dit is ook bekroon met die Beeld Plus Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Die hoofkarakter van Skrapnel is Christiaan Rudolph de Wet Botha, ’n jong, wit Suid-Afrikaner wat na skool Londen toe is, waar hy as ’n veiligheidswag in ’n klerewinkel werk. Deel van die intrige in die verhaal is die agtergrond van die selfmoordbomaanvallers wat agter die aanvalle op Londen se vervoerstelsel in Julie 2005 gesit het. Botha is een van die slagoffers van die bomme en die stuk "die skrapnel van Chris se lewe, losgeslane fragmente van ’n ongeleefde lewe en ’n ontheemde generasie" – aldus Jaco Bouwer, die regisseur van die stuk (Beeld, 26 September 2009).

In 2010 is Skrapnel ook op die Nasionale Kunstefees op Grahamstad opgevoer, wat dit die eerste Afrikaanse stuk op hierdie fees maak sedert 2004, toe Straties op die planke was. Dit is ook in 2011 deur Protea Boekhuis in boekvorm uitgegee.

Willem se volgende toneelstuk, Sakrament, debuteer in 2009 by die KKNK, en hierdie slag is Marthinus Basson weer die regisseur. Dit is ’n baie kritiese stuk oor Suid-Afrika. In haar resensie skryf Laetitia Pople (Die Burger, 6 April 2009): "Wat bly oor vir die mens behalwe bid en suip? In Willem Anker se wrang Sakrament bykans niks. Pa, Sus en Boeta is verby vuisvoos geleef in ’n Suid-Afrika onder beleg van misdaad. Pa is net ’n fluistering in ’n karkas, Boeta se kop het uitgehaak as misdaadverslaggewer vir ’n dagkoerant en Sus, hoogswanger na ’n gewelddadige aanval hou alles net-net bymekaar met borde pap en troos.”

Sakrament het vyf jaar vantevore sy beslag gehad nadat Anker ’n foto van ’n vrou gesien het wat ná ’n plaasaanval haar kinders vashou en net na die kamera staar nadat haar man in die aanval doodgeskiet is. Tog was daar iets in die vrou se oë wat spreek van ’n wil om aan te hou sorg, al is dit sonder hoop, vertel Willem aan Willemien Brümmer (Die Burger, 4 April 2009).

"Ek het ’n paar keer iets probeer maak met hierdie karakter – die versorger wie se enigste verweer teen die geweld, die wanhoop, is om aan te gaan, vir wat dit werd is. Dit was die geboorte van Sus, miskien die spilpunt van die stuk, al sê sy nie baie nie."

Hy verduidelik verder aan Brümmer: "Ek moes my egter begin afvra hoe skryf ’n mens oor geweld in Suid-Afrika? Veral hoe skryf ek oor geweld. Ek wou nie namens die slagoffers praat nie, en beslis nie soppy raak en trane trek en goed nie.

“Ek het begin dink dat die antwoord dan in die styl, die taal en die vorm van die verhaal sou lê. Ek het dadelik aan die Markies de Sade gedink, wat sy lewe gewy het aan die opskryf van geweld. Toe ek oor hom begin lees, kom ek af op ’n artikel van Bataille, ook iemand wat op talige wyse gefassineer is deur geweld, seks en die soeke na die anderkant van taal – die taal van transgressie.

“Bataille sê De Sade se opnoem en lys van gewelddadige aksies is ’n manier om deur die menslike kondisie te werk, om aan die ander kant uit te kom – dat dit De Sade se poging was om te ontsnap aan sy ego, ’n manier om van homself weg te skryf. Dit was waar die idee van ’n misdaadjoernalis wat sy eie koerantstories oor en oor sit en tik ontstaan het.

"Indien ek hierdie gegewe in taal wou opvoer, sou die enigste oplossing lê in ’n ritueel – ’n dramateks. Om ’n effense vervreemding te bewerkstellig, het ek die stuk binne die herkenbare struktuur van die Griekse tragedie geplaas en so by Dionusos uitgekom.

“’n Belangrike aspek van Dionusos is dat hy die god van oorgawe aan die chaos is, die god van egolose beswyming, en so het die joernalis ’n volgeling van Dionusos geword, en uiteindelik ook self ’n klein Dionusos [uit] eie reg. Euripides se tragedie, Die Bacchae, was dus ’n obvious keuse om as struktuur te gebruik.”

Maar Willem meen dat dit nie ’n voorwaarde is dat die gehoor bekend hoef te wees met al die intertekste nie. “Dit was maar ’n sogenaamde vervreemdingstegniek, ’n manier om te sê: Hierdie is niks nuuts nie, baie het al voorheen dieselfde gesê. Ek hoop die stuk staan op sy eie sonder dat jy ’n biblioteek hoef saam te sleep Oudtshoorn toe. ’n Ritueel werk tog net as die gehoor, of gemeente, kan en wil deelneem.

"Tussendeur is ’n koor van vier wraakengele wat kommentaar lewer, wat snydend sis en voortdurend eggo – als kan tot niet gemaak word, selfmoord is ’n uitweg. In sulke tye het jy voorwaar ’n strooihalm nodig en siedaar ’n versekeringsagent verskyn op die verhoog. Die man is vasberade en paraat; vir elke probleem het hy ’n polis. Die pad na heelheid is ’n handtekening weg.

"Vir bykans twee uur ry die gehoor op die rondomtalie van verskrikkings en besinnings. Die produksie onder spelleiding van Marthinus Basson kom oordrewe, bewerk en selfbewus voor. Net hier en daar tref die waarheid van Anker se diepgaande insigte jou. Tog leef ons in dieselfde Suid-Afrika, niks hier is vreemd of onthullend nie. So wat is die punt van Sakrament? Tereg is daar niks nuuts aan sy stuk nie soos Anker self in sy nota skryf. Gaan ’n mens nie teater toe vir ander insigte om jou werklikheid te herrangskik nie? Soek jy nie ’n ander invalshoek nie? Hier word jy nie veel gegee om mee te timmer nie. Boeta/Dionusos se uitsprake is soos die afrits van slagspreuke gevoed deur koerantopskrifte en intertekste. Benewens die skitterspel van Stian Bam, Eben Genis en kie is Sakrament ’n teleurstelling." 

In 2012 word die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan Willem toegeken. Die prys se waarde was op daardie stadium R350 000 en word aangewend vir die aanmoediging van skeppende skrywers. Willem se reaksie op hierdie toekenning was: "Die aansoek vir die beurs was vir my eerder ’n gestruktureerde manier om my kop rondom die beoogde roman te kry as dat ek gedink het ek het werklik ’n kans. Dit is ’n enorme eer."

Hy het die geld gebruik om navorsing te doen vir sy nuwe boek oor Coenraad de Buys – "die rebelse grensboer, revolusionêr, veedief, outlaw, poligamis, adviseur van Gaika, vriend van die sendeling Johannes van der Kemp, grootwildjagter, charmer, trekker en kwaadstoker".

In Die Burger van 1 Februarie 2014 het hy gesê dat die geld hom in staat gestel het om vir twee jaar op sy agterstewe te sit en te skryf en te skryf en te skryf. "Ek kon opspring en ver gaan reis in die spore van die verloopte trekboer om te sien hoe die doringbome en miershope langs die Visrivier anders en dieselfde lyk as die doringbome en miershope in Botswana. Ek kon weer gaan sit op die einste bas en verder skryf. Dit het my baie ryk laat voel."

In 2014 verskyn Buys en dadelik is die literêre tonge los. In 2015 slaan dit drie van die grootste pryse los – die UJ-prys vir skeppende skryfwerk, die WA Hofmeyr-prys en die kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Tydens die toekenningsfunksie van die kykNET-Rapportprys het Thys Human hom in sy commendatio as volg oor Buys uitgespreek: "Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit en spesifiek die Afrikaneridentiteit, verset, korrupsie, geweld, magmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan” (Die Burger, 20 November 2015). En die beoordelaars van die WA Hofmeyr-prys was van mening dat Buys "’n roman is wat, soos sy historiese titelkarakter, op onverskrokke wyse bestaande grense, literêr en andersins, uitdaag en ­oorskry” (Die Burger, 6 Junie 2015).

By die ontvangs van die UJ-prys het Willem gesê dat hy goed moes dink oor wie of wat Coenraad de Buys was: "’n volkslegende, ’n historiese karakter of ’n fiktiewe karakter, of almal? My werksreël was dat ek hou by die feite, waar ­hulle te vinde is, maar soms is die waarheid oor ’n lewe meer storie as feit. Die navorsing vir dié teks het uiteraard meer as een ­bestemming gehad. ’n Bietjie meer as nege bladsye in een hoofstuk van die roman het hul bestaan te danke aan geskiedenis, oorvertellings, teksplundering, ’n tesis, ’n Engels-onderwyser in die Appalachiese gebergte en die waterinhoud van sommige warmbronne in Limpopo. 

"’n Roman skryf jy nie alleen nie. Ek sal prosa weer aanpak. Die skryf van ’n roman is soos die 'agterplaas-buskruit' wat Buys en Buchanan, ’n Skotse karakter in die boek, maak. Al twee benodig konkoksies van uiteenlopende ­materiale. Op hul beste gee albei ’n mooi knal en vonk van ontlading af. ’n Mens moet maar net hoop dat albei góéd is, en reg gemeng is, sodat dit sal vuur waar en wanneer dit moet. En nie in jou gesig sal opblaas nie.” (Die Burger, 14 Mei 2015)

Op LitNet vertel Willem Anker aan Naomi Meyer dat daar nie net een aspek van Coenraad de Buys se verhaal was wat hom gefassineer het nie – "onder meer hoe hierdie eenman-oorlogmasjien alle vorme van grense geminag het".

Daar was egter ook ander dinge van sy persoon waarvan hy nie hou nie, soos dat hy ’n rassis was en die manier waarop hy die mense naby aan hom behandel het; en daar was selfs gerugte dat hy handel in mense gedryf het. "Ek was aangetrokke tot die onoplosbare teenstrydighede."

Een van die moeilikste fasette in die skryf van die boek was "om met ’nhistoriese karakter te werk wat ook moet kan funksioneer as fiktiewe karakter – jy word gebind aan sekere feite en ’n basiese lewensverloop waarvan jy nie kan afwyk nie. Soms het ek die feite gehad, maar die motiverings was duister – dan moes ek motiverings uitdink vir die vent. Hoekom sal hy sus of so aanvang as hy so pas presies die teenoorgestelde gedoen of gesê het?

"Om die feite in die hande te kry, was ook ’n ander storie. Ek het geskiedenis op skool gehad, maar het nog nooit self ’n stuk geskiedenis nagevors nie. Die navorsing dy vinnig wyer uit as die karakter se persoonlike geskiedenis. ’n Mens kan nie iemand begryp sonder om iets te weet van die tyd-ruimte waarbinne hy geleef het nie – hoe lyk die bossies op sy geboorteplaas, hoe werk ’n snaphaan, hoe ruik ’n VOC-pruik, hoeveel kos ’n vat brandewyn in 1811?"

Dan was daar ook baie dooie punte in die skryf van Buys. "Ek onthou byvoorbeeld dat ek vir meer as drie weke op soek was na ’n bepaalde plaas waar Buys vir ’n jaar of wat gebly het. Ek het al wat museum is, gebel en kaarte gesoek, maar niks. Ek het opgegee en verder geskryf en probeer om niks oor die ruimte te sê nie. Natuurlik kan geen toneel werk as mens dit in ’nvakuum laat afspeel nie. Ek het gelukkig uiteindelik die spoor gevind na die plaas met die hulp van ’ngawe skrywer wat alles weet van die Langkloof en ’n hulpvaardige vrywilliger by ’nmuseum wat alles weet van kaarte wat verkeerd geliasseer is. Die plaas was presies soos ek wou hê dit moes lyk – bruin grond, bruin klippe, volstruiskampe, een bergskilpad …"

Willem het die eerste keer van Coenraad de Buys gehoor toe hy in ’n boek deur Max du Preez op ’n hoofstuk oor De Buys afgekom het. Op daardie stadium het hy ’n ander idee vir sy volgende roman gehad, vertel hy aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Oktober 2014).

“Die eerste deel sou oor so ’n ­tipe outlaw-figuur gewees het. En toe gaan soek ek sulke ouens, Dirk Ligter, dié tipe figure. Ek het nooit voorheen van Coenraad de Buys gehoor nie. En toe dink ek, maar wie is hierdie mens? Op die internet lees ek toe ’n stuk van Rian Malan oor hom. Daarin vra hy: Maar hoe is dit moontlik dat daar nog nie iets soos ’n fliek of boek oor hom is nie? En toe kry ek die idee om dalk iets oor hom te doen. Toe ek begin navorsing doen vir Buys, kom ek agter dit gaan ’n groot ­projek wees. En iets waarvoor ek tyd gaan nodig hê.”

Die roman het sy beslag gekry ná twee jaar se navorsing wat die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir hom moontlik gemaak het.

Vir sy navorsing het Anker deur die land gereis, en hoewel plekke verander het (waar die eerste drostdy in Graaff-Reinet byvoorbeeld was, is vandag ’n Shell-vulstasie), was hy tog in staat om die spore van hierdie legendariese figuur te kry. Baie van die plekke waar De Buys hom destyds bevind het, is vandag wildplase en bewaringsgebiede en omdat daardie gebiede behoue gebly het, is Buys se wêreld aan Anker blootgestel.

“Ek was in baie dele van die land waar ek nie tevore was nie, ook die plekke wat nog lyk soos dit tóé gelyk het. Dieselfde soorte bokke en bossies kom nog voor. Ek het op hierdie reise anders gekyk na die landskap. Soos op pad na Graaff-Reinet. Jy sien dáár kom ’n donderstorm aan. Jy kry in daardie ooptes sterk die indruk van weerloosheid.

“En as jy – soos Buys – 11 jaar lank in die klowe van die Couga gaan sit en geen kontak met die buitewêreld het nie, kry jy ­sekerlik die idee jy is aan jouself oorgelewer. Wat jy ook al doen, dit gaan nie saak maak nie. Jy gaan net aan. Maar soos ek dit verstaan het, wou die man heeltyd wégkom van iets af. En as jy só op die ver­nietigingsbaan bly, is daar één ding veral waarvan jy wil ­wegkom en dit is juis jouself.

“Hy het hom deurentyd teen die Kolonie verset. Stelselmatig het hy alle grense aangevat, alle ­vorme van kolonie. Om daaruit te breek – ook die grens van ’n gesin of ’n familie. Sodra hy ’n hegte band het met ’n vrou en kindjie, dan bring hy nog iemand by net om dit onmoontlik te maak.

“Die eerste omtrent 150 bladsye het ek geskryf in die derde ­persoon en die idee was om so ver moontlik nét aksies en landskap te wys. Ek het gebly by sensoriese goed. Om net handelinge te wys sodat ’n mens daaruit aflei wat die persoon se motiverings en ­emo­sies is. Toe het ek alles oor­geskryf in die eerste persoon.”

Oor die tydsgetrouheid van die roman vertel Anker aan Willem de Vries dat indien daar enige foute of oordrywings is, moet die blaam na sy kant toe kom. Die manuskrip is aan Dan Sleigh, Karel Schoeman en Fransjohan Pretorius gegee om die geskiedkundige akkuraatheid daarvan na te gaan. "Hulle was baie vrygewig met hul wye kennis en het almal baie nuttige en spesifieke raad gegee."

En geskiedkundige verantwoordbaarheid is baie belangrik in so ’n roman, want as De Buys op ’n sekere tydstip op ’n spesifieke plek gebly het, moes hy in die roman ook daar gebly het. "Oor die eerste deel van sy ­lewe is ’n klomp opgetekende feite. Toenemend, soos wat hy oor grense gaan, raak dit baie meer gerugte. Dan begin ’n mens werk met historiese feite én legendes. Ek wou albei behou en dan met mý Buys invul. Dan dit alles saamsit sodat dit fiksie word.” 

Waar die "Buys-volk" geplunder het, kan dit die leser aan die Wilde Weste laat dink. Anker vertel aan De Vries dat hy baie gelees het oor Billy the Kid en die redes hoekom hy so ’n legende geword het. "My Buys het help skep aan sy eie beeld. Dit was vir my lekker om daarmee te speel. Om buite die Kolonie te funk­sioneer, was geweld vir hóm die paspoort. Ek het wel karakters ingebou wat ander maniere van leef vind. Dis maar hoe hý was. Vat wat jy kan, solank jy kan. 

“Hy is ’n tipe figuur wat nog oral is en seker altyd maar was. Ek dink as ’n mens geskiedenisboeke en vandag die nuus lees, kom jy agter baie van die stryery is oor dieselfde dinge. Selfs dieselfde argumente. Alles bymekaar bly dit die storie van mag.”

Die resensente was dit almal eens oor die hoogstaande gehalte van Buys: ’n grensroman. Hier is enkele uitsprake:

  • Henning Snyman op LitNet: "Met hierdie grootse roman en geweldig baie gegewens, goed nagevors, skep Willem Anker ’n roman wat sy plek langs die werklik groot Afrikaanse romans kan inneem. Kortom, dit is ’n kragtoer, en hierdie enkele indruk van ’n leser laat nog sóveel buite rekening."
  • Thys Human in Die Burger van 7 November 2014: "John Updike het iewers opgemerk dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van sy eie unieke taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder om hom enigsins te laat verlei deur oordaad of vertoon, slaag Anker telkens daarin om met die oordeelkundigste van woordkeuses ’n subtiele verskuiwing in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot by dit wat die hart wring) te bewerkstellig en op woordekonomiese wyse ’n verbygegane wêreld glashelder voor die leser se oog te roep. Soos ’n rifrughond se ysingwekkende tjank is Buys ’n roman wat selfs lank ná die lees daarvan in die omtes van die hart én die verstand bly eggo." 
  • Rian Malan in Rapport van 9 Desember 2014: "Anker se vertolking: Buys het vermoed dat sy beskaafde gehoor nie die waarheid sou begryp nie: 'Hier is nie vrede te maak nie; hier is niks om te verstaan nie. Die enigste revolusie is tussen stof en vuur, die enigste gelykheid die plat grond, die enigste broederskap op voorwaarde van ’n gedeelde vyand of skande ...' Dis ’n donker blik, maar as dit Anker se doel was om mites te ondermyn slaag hy daarin. Soos Ingrid Winterbach op die omslag sê: 'Ek haal my hoed af vir wat Willem Anker hier regkry.'"
  • Phil van Schalkwyk op LitNet: "Buys is ’n roman wat groot wil wees en dit ís, en noop die leser om in daardie terme te dink en so goed as moontlik te probeer byhou. In navolging van Buys wat met sy 'welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saamgedink het nie' (Anker 2014:84), vra die roman Buys van die leser om groot en kreatief en integrerend te probeer dink. Min wat mens oor hierdie roman mag bedink, kan myns insiens te hooggegrepe wees."

Willem se volgende toneelstuk, Samsa-masjien, word in 2014 op die planke gebring en wéér bly die pryse nie agterweë nie. Dit verower nie net die ATKV-Woordveertjie vir drama in 2014 nie, maar by die KKNK in 2014 word dit bekroon met die Herrieprys vir vernuwende denke, asook Kanna-pryse vir beste akteur (Gerben Kamper), beste aktrise (Antoinette Kellerman) en beste regisseur (Jaco Bouwer). Laetitia Pople het die drama beskryf as ’n "totale aanslag op die sinne" (Die Burger, 4 April 2014).

Dit is deels gegrond op Franz Kafka se novelle Die Verwandlung (Die metamorfose), hoewel Willem teenoor Naomi Meyer op LitNet erken dat goggas vir seker die begin van die stuk was. "Ek en Jaco (Bouwer) het sedert 2009 gepraat oor ’n moontlike stuk waar mens kan speel met hoe insekte swerm en skarrel en geraas maak. Dit was eers toe ons begin praat het oor hoe mense swerm en skarrel en geraas maak dat Kafka se gogga sy kop uitgesteek het."

Samsa-masjien was klaar geskryf voor Willem met Buys begin het, maar hy het tog nog ’n bietjie aan die drama geskaaf. Hy het aan Naomi Meyer (LitNet) verduidelik dat hy daarvan hou om eers een projek af te handel voordat hy met die volgende een begin, "maar die goed bloei maar seker altyd mekaar effe binne".

In Samsa-masjien is die hoofkarakter ’n oudskoolhoof, Gregor Samsa (Gerben Kamper), wat oortuig is daarvan dat hy besig is om in ’n baie groot insek te verander. Sy vrou (Antoinette Kellerman), hulle dogter en skoonseun is baie bekommerd oor hom, terwyl die dokters dit diagnoseer as gevorderde demensie. Omdat sy hom nog liefhet, kruip en speel sy vrou saam met hom rond. Aan die ander kant walg hy sy dogter en skoonseun en kan hulle dit feitlik nie meer wegsteek nie.

Laetitia Pople skryf: "Daar is vele betekenislae in die toneelstuk, waarvan ek net kommunikasie belig. Anker gebruik onverstaan­bare, by tye geradbraakte, taal en later die brabbeltaal van ’n kind. Anker se karakters kan nie met mekaar kommunikeer nie. Een kan net vir ’n ander ‘piep’ sê of ten beste swyg, skouers ­optrek en wegdraai. Waar die seun as psigiater juis taal moet kan besig om ’n komplekse psigiese toestand te kan beskryf en die dogter se taal uit die leë oorreding van die advertensiewese spruit, faal albei om te kommunikeer. Die klanklandskap klink soos die gegons van ’n byenes, dit groei aan en ­verdoof op die agtergrond. 

"Tussendeur konstrueer jy jou eie verhaal van ’n ge­siene skoolhoof wat sy kinders nog harder as die ander ­'gebliksem' het, om ’n voorbeeld te stel en ’n ma wat haar drome prysgegee het en in haar dertigs begin praat het van 'in haar dae'. Twee liefdestonele word treffend teen mekaar afgespeel as seks gelees word as die intiemste kommunikasie. Skoonseun kan dit net doen as hy na ’n klinkende sjampoe-advertensie luister terwyl die ouers soos insekte kerjakker. 

"Bouwer se visuele voor­stelling is trefseker. ’n Huis van yuppies, alles klinies wit met ’n weggesteekte slop­emmer vir die pa en onder ’n donker kelder met stellasies. Die kelder word ’n spelonk van die onbewuste, waar dít wat verborge en verdronge was in die gesin aan die lig kom. Die ma en pa verban hulself hierheen. Dit is hier waar daar geweeklaag word oor die seun wat op 19 jaar aan die grens gesterf het. 

"Dan volg die meesterlike ommeswaai, die 'sinryke ­dialoog' is nie die onbetrokke taal (mumbo jumbo) van die psigiater (skoonseun) of die oorreed-en-smokkeltaal van die advertensiewese (dogter) – 'ek sê vir mense wat hulle moet droom' – nie, maar juis van dié verworde insekte wat hul korf onder die wit huis bou. Dit word skitterend uitgebeeld in ’n banale gesprek oor flertse niks om die etenstafel.

"Die lawaai word oorverdowend, dit is net distorsie en wanorde aan die einde. As teaterganger weet jy nie mooi wat met jou gebeur het nie – jy sukkel skielik om self sinne aan mekaar te flans, asof jy ’n insek is wat uit die eerste modder kruip. Oudword, aflegging en die verlies aan taal boei enduit."

In 2015 is Samsa-masjien deur Protea Boekhuis in boekvorm gepubliseer. Willem en Jaco Bouwer het, nadat die eerste weergawe van die stuk in 2011 klaar was, die komponis Pierre-Henri Wicomb gevra om die musiek vir die stuk te skryf, vertel Willem aan Naomi Meyer op LitNet. Met die publikasie van die boek is ’n CD met die musiek van Wicomb agter by die boek ingesluit. Daar is ook heelwat foto's uit die produksie in die boek afgedruk sodat die leser ’n indruk kan kry van wat op die verhoog gebeur.

Met die publikasie het Willem en Danél Hanekom, wat die redakteur van die publikasie was, probeer om die boek se formaat só op te stel dat die teks oral maklik gelees kan word. "Die teks was tot nou toe meestal net gebruik deur mense wat betrokke was by die produksie, so in baie gevalle was net halwe woorde nodig as dit gekom het by die aanwysings. Omdat sommige tonele gelyk afspeel, moes ons ter wille van leesbaarheid soms aanpassings maak in die manier waarop die toneelaanwysings werk. Op een plek waar daar byvoorbeeld twee gesprekke gelyktydig plaasvind, het ons die bladsy in twee gedeel en die twee gesprekke langs mekaar geplaas. Omdat die stuk op twee vlakke en in drie vertrekke gespeel word en daar met die verloop van die stuk toenemend tonele op dieselfde tyd maar in verskillende ruimtes afspeel, moes ons vir die gepubliseerde teks seker maak dat dit altyd duidelik is wie waar is. Behalwe om die verhoogaanwysings en formatering soms effe aan te pas, het ek nie veel aan die dialoog verander nie – die opvoer van ’n verhoogteks is gewoonlik die dialoog se strengste toets," verduidelik Willem aan Naomi Meyer oor hulle werkswyse met betrekking tot die verwerking van die stuk om dit geskik te maak vir publikasie.

Marius Crous (Beeld, 23 Junie 2015) sluit sy bespreking van die boek só af: "Anker se intertekstuele spel met Kafka bied aan die leser ’n nuwe blik op Kafka se gekanoniseerde teks. Op slim wyse word dit herskryf in ’n nuwe gedaante. Dit bevestig opnuut dat die Afrikaanse drama op ’n interessante trajek is, wat veral, sedert Boklied, die konvensies van die verhoogdrama telkemale uitdaag."

Publikasies:

Publikasie

Siegfried

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780795702549 (sb)

Uitgewers

Roggebaai: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • UJ-debuutprys 2008
  • Jan Rabie/Rapport-prys vir Innoverende Afrikaanse Letterkunde 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slaghuis

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780958488075 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Genugtig!

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Wenner Sanlamprys vir Afrikaanse toneel 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrapnel

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194093 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir die beste nuwe Afrikaanse verhoogteks Aardklop 2009
  • Wenner ATKV-Woordveertjie vir Drama 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Buys

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780795706936 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • UJ-prys vir Skeppende skryfwerk 2015
  • WA Hofmeyr-prys 2015
  • kykNET-Rapportprys vir fiksie 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Samsa-masjien

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485302568 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir drama 2012
  • Herrieprys vir vernuwende denke 2014 (toneelstuk)
  • Kanna-pryse vir beste akteur (Gerben Kamper), beste aktrise (Antoinette Kellerman), beste regisseur (Jaco Bouwer) 2014
  • Fleur de Cap-toekenning 2016: 
    • Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks (Willem Anker)
    • Beste klankontwerp, oorspronklike musiekkomposisie of oorspronklike klankbaan (Pierre-Henri Wicomb)
    • Beste stelontwerp (Jaco Bouwer)
    • Beste regisseur (Jaco Bouwer)
    • Beste akteur (Gerben Kamper)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Willem Anker beskikbaar op die internet

Artikels deur Willem Anker beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top