Wilken Calitz by US Woordfees 2016: "Jy moet seker maak hulle beleef iets wat hulle nog nooit vantevore beleef het nie"

  • 0

Wilken Calitz, kitaar- en vioolspeler van formaat, is een van die musikante wat dikwels ’n swetterjoel produksies by enige jaar se Woordfees aan die gang het. Hy beantwoord ’n paar vrae oor dié moordende skedule, sy musiekaspirasies en die lewe in die algemeen. Die vrae is gestel deur Henry Cloete, sy kollega in die alternatiewe musiekgroep Die Skynmaagde.

Goeiedag, Wilken. Wat skud?

Aa! Dit skud voor die wind. My vingers jeuk van die baie musiekmaak deesdae en ek sien uit na ’n wilde Woordfees 2016.

wilkengroot1

As jou (enigste) kollega in Die Skynmaagde het ek onlangs met skok verneem dat jy by talle ander musiekprojekte ook betrokke is. Eerstens: Hoe durf jy? Tweedens: Hoe balanseer jy al hierdie verskeie rolle op die musiektoneel en in watter van die rolle kom die "ware Wilken" die sterkste na vore? Om dit eenvoudiger te stel - voel jy byvoorbeeld meer tuis met ’n viool of ’n kitaar in die hand, en voel jy byvoorbeeld meer tuis op ’n verhoog in ’n raserige kroeg of voor ’n groep stil-aandagskenkende akademici?

Ek is jammer. Ek wou jou nog laat weet ... en toe ... bel my ma en ook iemand anders en toe is dit te laat en goeters. 🙁

’n Kroeg, ’n saal vol akademici, taalstryders, brandweermanne en skoolkinders is almal kliënte as ek besluit het om voor hulle te staan en musiekmaak. The customer is always right. Elke situasie het sy eie uitdagings en dit is jou werk om seker te maak hulle beleef iets wat hulle nog nooit vantevore beleef het nie. Maar as ek moet kies, sal ek stage-dive verkies bo ’n beleefde vingers-op-palm-klappie.

Jy is ’n knaap met ’n meestersgraad in musiek, maar ek het jou ook al hoor sê dat jy soms voel jou lekkerste vioolspel is dié waarvoor jou musiekjuffrou vir jou ’n F sou gee. Waarin lê die waarde van die formele musiekopleiding vir jou? Wat het jy al geleer in vreemde venues wat ’n mens nié in die konservatorium kan leer nie, en vice versa? Sou jy bloeiende jong musikante (soos in bloeisels aan ’n boom, nie onlangs beseerdes nie) aanmoedig om tersiêre musiekonderrig te volg? Indien wel, of indien nie, wat sal jou raad aan hulle wees? Trouens, wat sal jou raad aan ’n jong(er) Wilken wees wat die musiekloopbaan betref?

Daar is twee leerskole wat van uiterste belang is vir ’n musikant. Die een is kennis van diegene wat reeds die pad gestap het van optredes, ure se oefening en ander tricks of the trade. Die ander leerskool is onverwags, soos ’n vuishou in die maag. Hierdie inligting verkry jy op die verhoog, dae wat jy admin moet doen om seker te maak nie net jou tjommie en jou ma (al weer!!!) is in die gehoor nie, om speakers te dra, ure agter die verhoog te wag vir jou vyf minute van glorie.

Aangaande die F vir vioolspel. As ek op die verhoog stap, vergeet ek gewoonlik van die jare se musiekonderrig en dit is wanneer een of ander magiese ding jou beetpak en jy jou kliënte vermaak. ’n Onverwagse cool rif op die viool is dan soveel belangriker as die regte frasering.

Wilken Calitz word dikwels by feeste as die nie-amptelike "man of the match" beskryf, vanweë jou deelname aan en bydraes tot ’n geweldige verskeidenheid items, produksies en optredes. Dit blyk vanjaar se Woordfees is g’n uitsondering wat dit betref nie. Hoe behou jy daardie soort energie, om van produksie tot produksie te hardloop? En meer belangrik, hoe kry ’n mens so vinnig "jou kop reg" as jy byvoorbeeld instrument in die hand moet draf van ’n klassieke vertoning in die Endler tot ’n toneelstuk in die HB Thom en daarna ’n rock show in Aandklas, met skaars ’n uur om asem te haal tussenin? Wat is vir jou die onaangename elemente verbonde aan hierdie soort druk, en wat maak dit lekker?

Ek het ADHD. In grotmandae is dié tipe genetiese variasie as ’n pluspunt gesien vir die brandalarm-lid van die samelewing. Sy aandagspan kon vinnig van een bewende bos verwissel na ’n ander om sodoende ’n wakende oog te kon hou terwyl die res slaap of gaan jag. Ek pas dit nou maar toe op my kunstefees-hoedanigheid. Wanneer ek van die een produskie na die volgende een toe jaag, weet ek dit is net vir ’n uur wat ek nou op iets anders moet fokus. Hiperfokus hou net vir ’n klein rukkie en dit help baie met hierdie tipe metamorfoses.

Een van die interessante produksies waarby jy vanjaar betrokke is, is Rasende ryme, saam met Elsabé Daneel. As ek dit nie mis het nie, het ’n regstreekse vertoning hiervan al ’n paar keer groot aftrek op RSG gekry. Jy gooi musiek en Elsabé gooi bekende gedigte – wat presies is die werking hiervan? Hoeveel van die musiek wat jy skep is improvisering, en hoeveel is vooraf uitgewerk? Hoe benader jy dit wanneer jy begeleidende musiek vir ’n gedig moet skep – met ander woorde, in hoe ’n mate laat jy die teks die musiek lei? Hoe verskil die skep van gepaardgaande musiek vir ’n gedig van die toonsetting van ’n gedig?

Dit is ’n konstante wisselwerking. Beide dissiplines, musiek en teks, moet ’n rol vervul. Op die ou einde is dit tog die woorde wat klaskaptein is. Die res moet ondersteunend wees. Rasende ryme beoog om die jol op te draai sodat stowwerige gedigte weer ’n bietjie van ’n gatskop kry ... "Hi julle, ek is al in 1950 geskryf, maar hier is ek nou ... Elsabe, sien ek, hou ’n ketting vas en Wilken ... o donner, hy stem sy electric en trap die distortion pedal. Oh well, let's see what happens ..." Dit is die tipe ding wat ons wil doen.

Jy is getroud met die bekroonde teaterregisseur Mari Borstlap (en julle verwag ’n eersteling – geluk, ou kêrel), en julle werk weer eens saam aan ’n stuk – Soskin – by vanjaar se Woordfees. Jy behartig die klankbaan van Soskin. Dit is nie die eerste klankbaanwerk wat jy doen nie – wat is die uitdagings verbonde aan ’n klankbaan skep, en waar kom die makliker dele daarvan in (indien enige)? Hoe werk jou proses om ’n klankbaan vir ’n toneelstuk te skep? Is dit ’n geval van die teks lees en luister na wat binne jou roer en dit oordra na die instrumente se werk, of gaan dit meer oor die gehoor se ervaring wat in gedagte gehou moet word, of hoe werk dit vandat die eerste woord gelees is tot die laaste noot geskryf is? Is klankbaanskep iets wat jy verder sal wil verken?

Dankie! Ek sien uit na die kind en die onwillekeurige klankbaan wat uit die babakamer gaan opklink. Klankbaanskep is ’n proses. Omdat ek en Mari getroud is, begin die proses om die regte klanke te skep sommer so tydens huishoudelike dinge. Ek sal byvoorbeeld ’n broodjie maak, dan sal sy in die kombuis ingehardloop kom en ’n scene begin voordra. Eers dink ek gewoonlik: "My hemel, die vrou van my is werklik mal", dan sal sy met haar hande begin beduie hoe ’n sekere tipe klank in stereo oor die verhoog moet vleg. Dit gebeur nogal gereeld, so teen die tyd dat die akteurs in hulle rolle begin settle, is daar klaar ’n algemene gevoel van wat die persoonlikheid van die klankbaan gaan wees. Is dit meer soundscape (ondersteunende klanke), nuutgekomponeerde musiek of iets uit die buitenste ruim? En ja, ek sou dit vir die res van my lewe kon doen.

Noudat ons daaroor praat, dis interessant: ek het al telkens in onderhoude met bandlede, regisseurs, akteurs en dies meer te doen gekry in egpare wat baie nou saamwerk in dieselfde bedrywe, of dit nou saam skryf, saam optree of saam filmvervaardig is. Die vraag oor hoe konstruktiewe kritiek en genadelose herverwerking van eerste konseptualisering wat betref kunsproduksies tussen egpare werk, kry ook elke keer ’n ander antwoord. Jy en Mari het al talle produksies saam gedoen en blyk ’n besonder produktiewe span te wees. Wat is die geheim daarvoor? Wat sou jou raad wees aan ander mense wat hulle in dieselfde soort posisie bevind? Is daar ’n droomproduksie waaraan julle twee nog wil saamwerk?

Om saam met enigiemand te werk is ’n groot uitdaging. Persoonlikhede verskil net soveel soos kreatiewe idees. Ons het nou al geleer om nooit enige fisieke goed saam te doen wanneer ons ’n produksie doen nie. Geen stel ronddra nie, geen klank opstel nie, geen admin saam doen nie. Dit is ’n suiwer kreatiewe proses. Sy sê wat sy wil hê en ek sê wat is moontlik binne die budget of tegniese parameters. Ons droomproduksie is ’n film. Hopelik binne die volgende twee jaar. Dit sal my ’n gelukkige man maak.

Terug by die Woordfees. Onder meer is jy ook betrokke by die gevierde toneelstuk Moeder Moed. Sover ek verstaan is jy ’n musikant op die verhoog gedurende die uitvoering. Hoe is daardie ervaring vir jou? Voel dit soos akteurswerk? Is dit soms moeilik om nie in ’n aandagtrekkende solo los te breek wanneer jy ’n groot skare voor jou sien terwyl die aandag eintlik op die akteurs moet wees nie?

Ek het tydens ons vorige speelvak in Potchefstroom elke keer gedreig om "My heart must go on" van Celine Dion te speel as hulle nie my klank vinnig genoeg na die afloop van die produksie afsit nie. Dit is omdat ek nie enige solo's het tydens Moeder Moed nie. Ek is bloot ’n rat in die wiel. ’n Belangrike een, maar steeds ’n team member. Dit is wat Moeder Moed ’n uitdaging maak. Jy moet presies weet wanneer om te gee en wanneer om niks te doen nie. Die teks is so ryk dat die musiek amper moet verdwyn. Dit is ’n ander tipe uitdaging wat geweldig goeie dissipline verg. Ek is nie ’n akteur in die stuk nie, maar ek dra ’n uniform.

Ek wou nou iets noem oor jou ontluikende skrywerskap, maar toe onthou ek jy is allesbehalwe ontluikend – jy het immers al veelvuldige pryse gewen vir jou skryfwerk, onder meer met radiodramas en ook kort fiksie. Wat gaan nog aan in jou skrywerslewe? (Oukei, ek weet reeds, maar vertel die lesers sodat hulle so gou moontlik slaafse aanhangers van jou kreatiewe skryfwerk kan word en ek biertantième as kommissie kan kry.) Waaraan werk jy tans en hoe beskou jy jou toekoms (en hede) as skrywer?

Haha! Ek is tans doenig met ’n roman wat hopelik hierdie jaar nog die lig sal sien. In my laai is ’n driekwart-toneelstuk en ’n radiodrama wat nog eers bietjie moet asemskep. Ek sien my lewe vorentoe as ’n musikant wat skryf. As ek die lewe oor kan hê, sal ek presies dieselfde weer doen.

Aan al my duisende fans: Koop asseblief my roman as julle hom in die winkel sien.

wilkengroot2

Wat is die sin van die lewe?

Om die toekomsbeskouende kwaliteit van jou eie maagsappe wat gis oor ’n idee nie te onderskat nie.

Kan ons een of ander tyd gaan koffie drink? Net om, soos, te praat oor als?

Oukie douks! Sal ve my lekke ws. Dnki ve jou. Betkn ve my baie. 🙂 nytie, nytie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top