WF 2015: ’n Nuwe begin

  • 0

“Ek hoop jy is gereed vir wat kom, Jes!” roep Isak uit die kombuis. “Pa het lank gewag vir ’n dag soos hierdie.”

Soos altyd, ignoreer Jessica haar broer as hy van hul pa praat. Sy hardloop by die trappe af, deur die voorkamer, reguit biblioteek toe. “As jy net vir vyf minute kan stilbly oor daardie man, sal ek vir ewig dankbaar wees!” Jessica vererg haar vir Isak en storm by die voordeur uit. Isak wou nog jammer sê, maar Jessica is reeds weg.

Isak vlug deur die skare mense in die straat af. “Wie sou kon dink ’n dag soos hierdie sal sy aanbreek? Beslis nie ek of Jes nie, maar Pa het presies geweet van hierdie dag.” Isak staan voor die laboratorium se hekke. Is dit regtig die plek waar hy sy ma verloor het? Is dit regtig sy pa se skuld? Isak voel dadelik verpletter. Hy haat dit wat sy pa gedoen het, maar hy het hom vergewe, alhoewel die ontploffing sy hart gebreek het.

Net ’n paar uur en die heelal sal besluit oor die lot van die menslike natuur. Sal daar weer hoop wees na vandag? Jessica is besig om ’n oplossing te soek om die noodlot van die mensdom te verander. Sy blameer haar pa vir vandag.

“As hy net daardie simpel chemikalieë in die laboratorium gelos het! Hy moes nou nóg ’n simpel ontdekking aankondig aan die wêreld! Hy het geweet dit is gevaarlik!” Jessica is woedend vir haarself. Sy kon hom gestop het, maar sy het nie. Niemand kon dit keer waarmee hy besig was nie. Vandag is die einde van ’n perfekte wêreld en ook die begin van ’n groot, hartseer einde.

As daardie ontploffing nie plaasgevind het nie, sou alles vandag nog normaal gewees het. Binne twee ure staan die wêreld voor een van die grootste en laaste noodlottige gebeurtenisse. Volgens Jessica se pa sal vulkane oral verskyn. Berge sal inmekaar stort. Om elke hoek en draai sal ’n gevaarsone wees. Die mens gaan ’n groot verrassing kry.

“Isak! Waar is jy?” Jessica is bekommerd. Daar is nog net tien minute voor groot veranderinge plaasvind. Jessica soek vir Isak, maar sien geen teken van hom by die huis nie. Sy ry laboratorium toe. Geen teken van hom daar nie. Die tyd vlieg. Jessica se oë is vol trane. Sy sukkel om aan plekke te dink waar hy kan wees. Die dorp is stil. Almal het gevlug toe hulle hoor van die skrikwekkende nuus. Om te vlug was onnodig. Die wêreld was besig om te vergaan, nie net die dorp nie.

Voor Jessica wegry, sien sy vir Isak voor ’n ou gebou. Hy lyk so verlore. Sy roep na hom. Geen reaksie nie. Sy roep nog ’n keer. Hierdie keer kyk hy om. Sy oë is vol trane. Hy is bly om haar te sien. “Jes! Jy het dit gemaak!” Isak lyk opgewonde. Jessica is nou deurmekaar. Isak wys na die hemelruim. Dit is vreemd. Die hemel is vol sterre en die maan is baie groter as voorheen. Wat nog vreemder is, is dat die son nog helder skyn. Hulle het nog nooit so iets gesien nie. Dit was pragtig. Net toe Isak wou praat, verskyn daar ’n reusagtige swart kol in die lug. Dit was amper tyd om finaal tot siens te sê. Jessica omhels haar broer.

Die berge stort inmekaar. Elke instorting voel soos ’n aardbewing. Vulkane verskyn oral. Die lawa spat oral en vernietig alles wat in sy pad staan. Die swart kol raak al groter. Jessica en Isak hou die hartverskeurende toneel van ’n hoë gebou af dop. Skielik gebeur iets ongeloofliks. Sneeu begin val. “So ’n mooi toneel op so ’n aaklige dag.” Jessica se oë is rooi gehuil. Isak se trane loop oor sy gesig. Net twee minute en die aarde sal verdwyn soos ’n stofwolk in die heelal.

“Ek wens Pa kon sien wat hy gedoen het,” sê Isak teleurgesteld.

“Wel, ten minste is hy weg met ’n hart vol skuldgevoelens.” Jessica kan haar pa nie vergewe vir sy dade nie.

“Ek is lief vir jou, Jes.” Isak omhels vir Jessica. Sy haat dit om tot siens te sê. “Sien jou later, Boet.” Jessica soen haar broer op sy voorkop. Die tyd het aangebreek. Die aarde was besig om swaartekrag te verloor. Geboue stort in duie. Geboue sweef nou in die lug, selfs die gebou waarin Isak en Jessica sit.

Jessica was gereed om finaal tot siens te sê, maar toe kry sy die grootste skok van haar lewe. Voor die gebou teen die ander geboue stamp, hoor Isak die geluid van ’n helikopter wat na hulle toe vlieg. Eers het dit gelyk na ’n militêre helikopter, maar toe dit nader kom, herken Isak dit. Dit is sy pa s’n!

Gerhard gooi ’n tou na onder. Isak gryp na die tou en wil dit vir Jessica gee, maar sy weier om die tou te vat. “Jessica, ek verstaan hoe jy voel, maar vergeet asseblief van die verlede en vat die tou! Ons lewens hang van daardie tou af!” Jessica vat die tou en klim na die helikopter. Isak klim agterna.

“Ek sal jou nooit vergewe nie! Nooit!” Jessica is woedend vir haar pa. Sy wil hom vergewe, maar sy kan nie. Haar pa was desperaat vir ’n tweede kans.

“Ek het nie ’n keuse gehad nie, Jes. Ek moes die laboratorium vernietig, anders het ek julle verloor. Ek was nie bewus van jou ma wat daar binne was nie. Ek is jammer!” Gerhard smeek vir ’n tweede kans. Nadat Jessica se pa haar vertel het van die hele gebeurtenis, het sy hom vergewe.

“Ons moet so gou as moontlik by die lughawe uitkom. Parys is die enigste plek wat veilig is,” sê Isak vir sy pa.

Die helikopter het geland en Jessica-hulle was gereed vir ’n nuwe begin. Of was hulle?

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top