WF 2015: Eindtyd

  • 0

Ek het lanklaas na die sterre gekyk. Die maan is volmaak, met sy goue kring om hom. Rondom sit elke ster, netjies op sy plek. Die gevoel daarvan was ’n tydelike ontsnapping uit die realiteit, maar steeds goed genoeg om in te marineer.

Ek wou so ver moontlik van die realiteit wegkom. Helaas, die vyand was by my deur. Ek sit regop. My kombers stewig om my lyf gevou. Dan draai ek en kyk na hom.

“Hy lyk so rustig.”

Die geluid van my eie stem het ’n soort vrede in my hart laat heers. Ek het lanklaas iemand anders as myself hoor praat. Vanaf die dag toe die ruimteskepe hulle eerste verskyning maak het, alles verander.

Ek kyk in die vuur voor my. Diep genoeg om verlore te raak. Stadig tap ek dan water in ’n kan.

“Bietjie tee, bietjie tee.”

Ek sit dan die kan water op die vuur en neem weer plaas.

Hulle was soos die grootste weermag ooit. Duisende ruimtewesens, elk in sy eie ruimteskip. ’n Vryval na die planeet aarde teen ’n verbysterende spoed van 120 000 km/h. Toe hulle tref, stuur hulle skepe ’n onaardse geluid uit wat mense se oordromme laat bars het. Duisende het aan hulle beserings beswyk.

Die vraag wat selfs die slimste wetenskaplikes nie kon beantwoord nie.

“Is ons alleen in die wêreld?” Op 11 September 2020 is dié vraag finaal beantwoord.

Die water kook. Ek gooi die water vir die tee in twee blikkies.

“Geen suiker vanaand, maar ons het rooibostee.”

Hy lê roerloos. Ek sit maar weer agteroor en roer my tee met ’n stokkie. Dan kyk ek na die graaf.

Die aanval was afgryslik. ’n Soort chemiese stof was hulle eerste wapen. Jy sien mos altyd in die flieks hoe ońs op húlle skiet en dan wonderbaarlik wen. Nie dié keer nie. Ná die geluid het die geveg begin.

Ons was in die huis. Alle voorbereidings en reëlings vir die naweek se begrafnis was klaar getref. Toe die ontploffing die huis tref, was dit chaos. Die skok het die vensters in skerwe laat blaas. Die sweepslag het my agteroor op die vloer gegooi en Denzil se kis skoon deur die voorkamer geslinger.

Ek sit die blikkie neer. Die warmte van die tee bring nuwe hoop in hierdie eensaamheid. Ek staan op, tel dan die graaf op. Stadig begin ek grawe. My hande bewe. Ek weet wat kom volgende.

“Dit is tyd, my seun.”

Die gat is gemaak. Stadig tel ek sy koue liggaam op. Ek probeer, maar kan my trane nie terughou nie. Ek kniel, dan sit ek sy lyk in die gat.

“My enigste seun … Vader.” Hy was maar drie jaar oud toe hy gediagnoseer word. “Fase 4-breinkanker,” het die dokter gesê. Hy is in die Rooikruis-hospitaal opgeneem.

Ek tel ’n handvol sand op en hou dit tussen my bene.

“Twee maande later, Here, verklaar hulle hom breindood.”

My trane begin onkeerbaar vloei. Ek gooi die hand vol sand oor sy lyk, dan hoor ek die gekraak van bome. Hulle kom vir my. Net soos vir al die ander. Hierdie ruimtewesens wou my doodmaak en dié oerwoud sou my nie vir ewig wegsteek nie.

“Hulle kom vir my, Vader, hulle soek my bloed. Vir drie maande hardloop ons. Ek en my kind op my rug. Vir drie maande skuil ons, vir drie maande sien ek elke dag lyke: orals lê. Vader. Verlos my.”

Die geluid van bome wat breek en takke wat kraak kom stadig nader. Dan tel ek die graaf weer op.

“Vandag sien ek weer ’n lyk. Dis die lyk van my kind. Vat hom, Vader. Vir vyf jaar lank was Rooikruis se saal nommer 51 sy huis. Hy het net sieker geword.”

Ek skep ’n graaf sand, dan gooi ek dit oor hom.

“Toe gebeur dit alles. Die ruimtewesens val ons aan. Ek het van die huis af gery. My wiele het gesleep soos ek weggetrek het.”

Ek skep nog ’n graaf sand, gooi dit oor hom.

“Toe kom ek by die hospitaal. Die mense was almal paniekerig. Ek het net my kind uit daai hospitaalbed gevat. Daai hospitaal …”

Ek het op ’n tyd by sy bed gesit, voor hy gediagnoseer is. Dan vra hy ek moet vir hom uit die Bybel lees. Hy het gehou van die stories. Van jou stories.

“Suster De Wet skreeu nog agterna: Jy kan hom nie vat nie! Maar ek kon hom ook nie daar los nie. Hy was swak, Vader. Sy arms maer en sy ribbes soos dié van ’n siek hond. Hy het pype dwarsdeur sy tenger lyf gehad. In sy neus, in sy arms. Sy gesig was maar ’n skraal skaduwee van sy vorige self.”

Ek begin aanhoudend skep. Dan voel ek die grond dreun. Ek moes klaarmaak, want my tyd was naby.

“Toe vat ek hom en ons begin hardloop. Ek wou my kind help, Vader. Ek wou hom veilig hou.”

My gesig was sopnat gehuil.

“Vanoggend, toe sterf hy in my arms. Na vyf jaar se lyding is hy huis toe. God, nou het ek niks.”

Ek skep die laaste graaf sand en gooi die gat toe. Dan staan ek op terwyl ’n lig oor my flits. Ek tel my sak op en haal my rewolwer uit. Ek sit dit teen my kop, dan kniel ek weer.

Ek voel hoe my hart klop. Dis vinniger as ooit te vore. Die dood het gekom. Hierdie keer vir my. “Ek is klaar gehardloop. Dis verby.”

My asem raak kort. Sweetdruppels blink al oor my gesig. Die bome agter my breek. Dan laai ek die rewolwer en sit dit in my mond.

“Amen.”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top