WF 2015: Die kanker van die heelal

  • 0

Oorlog verorber alles wat in sy pad staan. Dit is die kanker van die heelal, die swaard van Damokles.

Kanker is ’n siekte wat versprei soos dit eksponensieel groei. Stadig maar seker word die heiliges vergiftig. Die heelal het ’n dooiepunt bereik.

Oorlogskepe verdoof die son. Die lug is rooi en swart met die rook van vernietigde tenks en oorlogmasjiene. Vanaf sy hoofkwartier kan aartshertog Max Mauser die beleg aanskou. Sy weermag het reeds die kristalstad omsingel. Hy weet die einde van die tonnel is in sig.

Hierdie beeld is sigbaar op elke planeet in die heelal. Duisende oorlogskepe wat mekaar vernietig sonder keer; miljoene vreemde ongediertes wat teen mekaar baklei. Die diversiteit van lewe belemmer nie die universele doel, die beheer van die heelal, nie.

Die ou Republiek, eers ’n trotse koalisie van ’n duisend planete, het moreel verval.  Gevolglik het duisende planete hulle trou verbreek en saam ’n nuwe konfederasie gestig.

Die republiek, desperaat om sy houvas op die heelal te behou, wou hierdie separatiste op hulle plek sit. ’n Konfrontasie op die planeet Tanxin het die heelal in oorlog gedompel.

Die konfederasie het uit ontevrede planete en maatskappye bestaan. Elkeen het sy ondersteuning beloof in die vorm van militêre of ekonomiese bydraes. Die aartshertog van Serenno, Max Mauser, is as die opperbevelvoerder sowel as staatshoof verkies.

Max het die sjarme van ’n slangbesweerder gehad. “Wanneer die weermagte van die onafhanklike planete met die vlote van die handelskorporasies gekombineer word, sal ons die grootste militêre mag in die heelal wees. Ek verseker julle dat nog tienduisend planete by ons konfederasie sal aansluit met julle ondersteuning.”

Alles het verloop soos hy dit beplan het.

Sy paleis op Serenno het sy heiligdom geword. Dit is behang met vreemde kunswerke en geskenke van sy bondgenote. ’n Regte connoisseur. Sy adellike herkoms het hom beheer oor sy familie se rykdom en mag gegee.

Twee jaar van wrede oorlog het verbygevlieg. Sedert die begin van die oorlog het die meeste vergeet waarom die oorlog in die eerste plek uitgebreek het. Die veldhere van albei kante het die kanker geword wat hulle wou vernietig. Die leiers het massale rykdom verkry uit die lyding van die meerderheid. Die beloftes van vryheid en gelykheid het bloot die opium van die massas geword.

Paranoia het deur die heelal gevloei. Die motivering vir oorlog het verander na gierigheid en grootheidswaan. Niemand wou die oorlog beëindig nie. Niemand wou die mag en rykdom wat die oorlog hulle gegee het, verloor nie.

Op Serenno sit Max in sy paleis, besig om hom te verlustig in sy rykdom en mag wat hy deur die oorlog verkry het. Serenno, eens ’n planeet met pragtige, swart pêrelstrande en hangende brugstede, is nou ’n skaduwee van sy glorieryke verlede. Max se tirannie het oorlog na sy wêreld gebring. Die son word deur duisende oorlogskepe verdoof. Die blou lug raak al hoe rooier soos die vernietiging begin.

“Stuur die stormtroepe! Die vyand mag nie deur die vallei kom nie!”

Vanuit sy paleis beheer hy die slag. Die pilare verdwerg die dorpies van die plaaslike bevolking. Die reuk van tabak vul die vertrek; die reuk van vrees. Die kolonels hardloop rond met boodskappe. Party skreeu bevele in die kommunikators na die bataljonne.

In die ruimte reken die duisende oorlogskepe met mekaar af in ’n dodelike spel. Max se seun, Max Mauser II, lei sy pa se vloot teen die aanvallende republiek. Sy taktiek is ’n vloek. Die republiek se skepe word gelok na Serenno se naaste maan, Maximus IX, waar ’n vloot van kruisers wag. Die vyand se skepe vlieg reguit in die loop van die konfederasie se kanonne.

Die republiek se vloot word genadeloos uitmekaar geskeur. Sonder simpatie word pyn en lyding uitgedeel.

“Vader, die republiek se vloot is verslaan! Die oorlewendes is in totale wanorde. Ons besit die hemele.”

Die gesprek tussen pa en seun is van korte duur. Max II se ruimtetuig word deur laservuur getref. Hy is dadelik veras.

Max I, in die gemak van sy paleis, sak op sy troon ineen Sy hart verkrummel, soos die as van sy seun.

Is dit al doel wat hierdie oorlog dien? Die vernietiging van lewe?

Die geveg het egter geen keer nie.

Oorlog verorber alles wat in sy pad staan. Dit is die kanker van die heelal; die swaard van Damokles. Kanker is ’n siekte wat versprei soos dit eksponensieel groei. Stadig maar seker word die heiliges vergiftig.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top