WF 2015: Die eksperiment

  • 0

Dit het alles dertien jaar gelede gebeur, net na my 16e verjaarsdag.

Dit is die laaste Vrydag van graad 10 en ons klas rumoer uitbundig. My vakansieplanne is agtermekaar. Ek gaan by my oom kuier terwyl my ouers oorsee reis en my twee beste vriende, Michael en Travis, kom saam. Die enigste probleem is ... My oom woon in Stilfontein! Die naam sê al klaar alles. S-T-I-L.

Die klok lui vir die einde van die pouse en die laaste vyf periodes sleep soos ’n ewigheid verby. Nog tien minute, wys Travis met ’n breë glimlag.

Ons wag klaar gepak, Travis met sy kamera en Michael met sy visstok en twee blikke vol gemmerkoekies. Travis gaan nooit êrens heen sonder sy kamera nie, hy neem gereeld aan fotokompetisies deel. Stilfontein, hier kom ons!

Ons ry verby Welkom, Kroonstad en stop in Orkney om bene te rek en iets te kry vir die hongerpyne. Ons ry deur Klerksdorp en uiteindelik: Stilfontein.

Dadelik wil Michael weet waar die museum is. Hy is die slimkop onder ons. My oom antwoord dat daar wel ’n museum is, maar ons kan dit eers die volgende dag besoek. Vir nou moet ons uitpak. My oom het ’n visvang-ekspedisie vir ons gereël en gou-gou vang ons ’n paar grotes. Michael braai vir ons vis oor gloeiende kole, ek slaan ’n vinnige geheime sousie aanmekaar en Travis neem foto’s. So kuier ons die aand om rondom die vuur.

Die oggend breek aan en vroeg-vroeg gaan ons na die museum. Dis net vyftien minute tot in Klerksdorp. Travis neem alles af wat voorkom. Geboue, sypaadjies, lamppale. Uiteindelik betaal ons die ingangsfooi by die kurator, min wetende van ’n laboratorium net agter die museum.

(’n Paar wetenskaplikes het glo aan ’n middel teen vigs begin eksperimenteer in dié laboratorium en vereers het dit gelyk asof hul resultate behaal het. Omdat hulle egter roem nagejaag het en hul eie ego’s op die spel was, in plaas van altruïsties op te tree, het die wetenskaplikes besluit om hulself met dié teenmiddel in te spuit. Wat ook maar ’n bedekte seën vir die mensdom was, want toe verander die vigs-teenmiddel die wetenskaplikes in onaardse, weersinwekkende mensvreters.)

Dit sal ook net met iemand soos Michael gebeur dat hy toe die kiem in die museum opdoen. ’n Paar dae na ons besoek aan die museum begin hy kla van seer spiere en ’n verblindende hoofpyn. Maar pieperig wil hy nou ook nie op ons vakansie wees nie, dus hou hy hom maar sterk. Hy is ’n man, nie ’n muis of sissie nie, sê Michael.

Ek moet sê, die volgende oggend aan die ontbyttafel lyk Michael nie heeltemal soos Michael nie. Dis vir my al asof sy tande skerper lyk so in die oggendson wat oor die tafel skyn. Nee wat, dis net my verbeelding! Maar tog, sy voorarms lyk dan nou ook hariger? Ek moet minder grilflieks kyk.

Rou vleis begin uit die vrieskas verdwyn, asook die buurt se katte. En onder my bed kry ek ’n halfgeëte muis. Ek ruik ’n rot. Letterlik en figuurlik.

Halftwee die nag skrik ek wakker toe ’n bloedstollende gil deur die donker kamer klief. Michael val Travis aan! Gelukkig kon Travis vinnig uit die bed rol en is slegs rakelings op sy regterduim gebyt. Ons maak dit af as ’n verskriklike nagmerrie en slaap verder.

Die volgende dag bly Travis in die bed met seer spiere en ’n hoofpyn wat nie wil breek nie.

Dis vandag Vrydag. ’n Week nadat die skool gesluit het. Ek is vanoggend alleen in die huis in Stilfontein. Ek het geen idee waar Michael of Travis is nie. Wanneer ek by die venster uitkyk, is die strate verlate en doodstil. Stilfontein doen inderdaad sy naam gestand.

Dis nou sestien jaar later. Ek is 29 jaar oud. Ek is een van die min oorlewendes in Suid-Afrika wat nie besmet is nie. Bedags skuil ons en snags soek ons na oorlewendes. Intussen werk ons onverpoosd aan ’n anti-virus in die laboratorium. Ons roei die mensvreters uit met geïmproviseerde wapens. Die oormag is groot.

Ons planeet is op die rand van anargie; behoede ons as die mensvreters heeltemal gaan oorneem. Intussen hang dit van ons paartjies af om te red wat te redde is. Maar ons sal nie moed opgee nie, ons sal nie moed op-gee-nie.

Hoekom voel my spiere so pap?

As hierdie verblindende hoofpyn net ... wil wyk!

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 </p

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top