WF 2015: Die einde is ’n nuwe begin

  • 0

In die begin is dit ’n raaiskoot in die donker gedoop, later bekend as wetenskaplike voorspellings, nou ons realiteit.

My motor se binnegoed grom. Daar flits beelde van alle kleure en vorms by die venster verby. Min inligting kom verby die aansluiting tussen my retinas en senuweestelsel. Daar staan ’n wag wat slegs die nodige deurlaat. “Hierdie liggaam se hoofkwartier werk vandag oortyd,” sê hy. “Geen onnodige inligting sal deurgelaat word nie.”

Volg die senuwees tot tussen my ore en die toneel behoort soos volg te verloop …

Duisende gedagtes maal hulself saam en probeer hopeloos om ’n oplossing vir die onmoontlike te vind. Een struikel, ’n woordewisseling is daardie kant aan die vererger, hier gaan twee mekaar amper te lyf. Vonke spat.

Die druppeltjies vat handjies, drup van my voorkop.

Ek wou myself mos in die voet skiet. Vandag kan my hardkoppigheid ’n einde aan die planeet van ons oorsprong beteken. Ons tuiste, ons bron van lewe. Ons aarde.

Die beelde buite die venster begin stadiger beweeg tot hulle eindelik in fokus kom. Ek ruk my kar se deurhandvatsel byna af. My voete vlieg die trappe twee-twee verby, die deur gee vinnig pad om nie in my vaart vernietig te word nie.

Drie mans het hulself reeds sit gemaak om die sederhouttafel. Behalwe vir die skryfbord, tafel, ’n halfdosyn stoele, watertenk en ’n paar glase lyk die kamer maar verlate. My kollegas se voorkoppe vertel ’n storie van stres, wanhoop en uiterste radeloosheid.

Hulle kom nie agter toe ek die kamer binnestorm en op die naaste stoel neerplons nie. Die vol asdrom vertel sy eie storie van hopeloosheid en planne wat net nie wil realiseer nie. Dieselfde worsteling is tussen my ore aan die gang. Elke keer as ’n paar gedagtes hulself in die regte kombinasie meng, sal die realiteit dit fnuik.

So gaan dit aan vir sewentien minute en drie-en-veertig sekondes. ’n Opgewonde asemteug uit die rigting van een van die drie skep hoop, maar die opfrommel en wegsmyt van nόg ’n ongeslaagde idee laat almal se skouers sak. Hierdie ritueel het ek ook ’n paar keer herhaal, hoewel ek al geleer het om enige vorm van hoop te ignoreer. Selfbehoud. Ons het hierdie bed lelik vir onsself opgemaak.

Nog iemand betree die kamer op dieselfde gedisoriënteerde manier as ek. Storm in, gryp die naaste sitplek. Die arme sederhoutstoel kreun onder die volle gewig van die lywige vrou. Nog iemand merk haar aankoms op, maar keer egter onmiddellik terug na die koorsagtige sirkulasie van gedagtes.

Kollega nommer ses volg vyf minute en sewe sekondes later. ’n Beeldskone lid van die vroulike geslag. Hoë hakke klik-klak oor die vloer soos sy nader trippel en die laaste sitplek inneem. Haar aankoms skeur almal uit hulle diepe bepeinsing. Hulle neem ’n vinnige drie-en-twintig sekondes en laat hulle oë haar skelmpies van die deur tot by haar stoel volg. Ek word self uit my nuutste nuttelose stukkie hoop geskeur om hierdie aankoms te aanskou.

Soos een man word oë weer afgeskuif en op die blou lyne van hopeloos gerig.

Dit is Stefan wat eindelik die stilte verdryf. “Goed, dames en here, laat hierdie vergadering begin. Ons almal weet waarom ons vandag hier vergader. Die situasie is redelik ernstig en soos die meeste van julle weet, van kardinale belang vir ons voortbestaan. Ons het onsself hier ingekry en niemand anders as ons kan ons nou hier uitkry nie.”

Die rooi liggie op ons kommunikasietoestel begin skree. Die gedagte aan wat dit is, is ’n meteoriet teen my bors. Ons omstandighede bly dieselfde, maar ons tyd word kortgeknip. Aansienlik kortgeknip. Elke sekonde is maklik die mees kritiese in die geskiedenis van die mensdom. Elke gedagte het die potensiaal om sy eienaar die Leonardo van ons tyd te maak. Die oorlewing van ons tuiste hang hiervan af.

Liters adrenalien pomp deur my are. Ek voel my hemp aan my plak. Elke tik van die horlosie is ’n knoop om my keel, elke keer stywer, stywer, stywer. ’n Weermag marsjeer in my borskas rond. My hande lê bewend op die tafel. My gedagtes werk volstoom.

Vir die volgende twee uur – 120 minute, 7 200 sekondes – van onskatbare waarde, is daar kort besprekings, hopelose asemteue en asdromme vol gemorste tyd. Ek kry snuf in die neus dat van die ander se hemde ook nie juis meer gemaklik los van hulle lywe hang nie.

Daar klink ’n gejuig langs my op. Die lywige tannie omhels vir Stefan wat na sy asem snak, maar duidelike triomf straal uit sy gesig. Ons toekoms, vyf velle papier, lê trots voor hom op die tafel.

Weg is dit. ’n Rooi streep. Op en op en op, die oneindige swart in. Kan dit? Kan dit ons red?

My oë, nou die onbelangrikste sintuig van die vyf, staar op, sien niks nie. Iewers, ver in daardie donker swart massa, lê ons moeder, ons aarde. Die meeste van ons broers en susters salig onbewus van die potensiële naderende einde, sal moontlik binnekort die dood in die oë staar. Wie sal triomfeer?

My intuïsie sê vir my die tyd het aangebreek. Kan hierdie stasie op ons vierde planeet die mensdom se slimste idee ooit of die grootste bron van wanhoop in die geskiedenis wees?

Vibrasies uit Stefan se keel, vir die mikrofoon van ons tweerigtingradio met moeder aarde bedoel, trek my so te sê onverkrygbare aandag: “Aarde, kom in, aarde?” Geen antwoord. “Hulle is weg,” huil hy. “Ons nuwe tuiste is die rooi planeet.”

In die begin is dit ’n raaiskoot in die donker gedoop, later bekend as wetenskaplike voorspellings, nou ons realiteit. Tot in lengte van dae.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top