WF 2012: Die Vrou

  • 0

Ek sit op die bankie by die park; die kinders praat in fluisterende stemme. Hulle ouers hou hulle weg van my af, bang vir wie ek is, vir waar ek vandaan kom.  My maker het my verwerp toe hy gesien het wat hy geskep het, ’n sintetiese intelligente wese wat vir homself kan dink, wat emosies kan ervaar – hy het seker gedink hy het te ver gegaan.  Ek was ontsteld toe dit met my gebeur het, maar ek het my behoud gevind op ’n harde parkbankie waar die Vrou my onbewustelik bekoor het. 

Haar hele wese was vir my mooi: haar houding, haar persoonlikheid.  Haar gesig was geweef van ragfyn sy ingevoer vanaf Sjina, haar hare was vloeiende bruin golwe.  Maar ek en sy het nie die gevoel van liefde gedeel nie.  Ons was van die begin af nie vir mekaar bedoel nie. Hoe kan ek, ’n robot, ’n mens uitvra?  Maar ek het dit nie toe al geweet nie en toe ek die moed bymekaargeskraap het om haar uit te vra, het sy geskree en weggehardloop.  Eers later het ek my fout agtergekom toe ek myself in die spieël bekyk het: ek was skreeulelik. Ek was gemaak van geroeste staal, ’n ou karbattery en twee kameras vir oë. Die enigste ding wat my laat uitstaan het bo ander, blinker robotte, was dat ek vir myself kon dink en emosies kon ervaar.  Hoe sou so ’n wonderbaarlike kreatuur soos die Vrou my ooit kon aanvaar en lief wees vir my?  My blikbrein het ’n kompleks ontwikkel.  Ek het gou agteruitgegaan. Jare het verbygegaan. Die koue van winter en die warmte van somer het ek nooit kon voel nie, nes ek nooit die liefde van die Vrou sou kon voel nie.

Die idee het na my toe gekom in ’n droom: om vir myself ’n vrou te bou wat net soos die Vrou sou lyk, en wat ek sou kon programmeer om my lief te hê.  Dit was moeilik aan die begin, omdat ek nie ’n idee gehad het van wat om te doen nie, maar soos ek meer en meer boeke gelees het, het ek meer en meer kennis opgedoen.  Mense het my snaaks aangekyk toe ek by die biblioteek gesit en lees het. Hulle het my dikwels gevra wat ek besig was om te doen. My antwoord was altyd dieselfde: “Ek soek inligting om ’n trouvrou te bou.”  Hulle het geskaterlag en weggeloop, maar ek sou hulle wys.  Ysterware-winkelkassiers het my met groot oë aangekyk toe ek duisende rande spandeer aan masjinerie, maar hulle het geen vrae gevra nie.  Na maande se swoeg en sweet het ek uiteindelik die robot klaargemaak. Sy was ’n absoluut perfekte replika van die Vrou.

 Beeldskoon ...

Ek het haar uitgevra en sy het dadelik geantwoord, amper te vinnig, asof sy nie werklik nagedink het daaroor nie, asof sy nie ’n keuse gehad het in die saak nie.

Die parkie se atmosfeer het skielik koud geword toe ek agterkom wie op een van die bankies sit. Dit was donker en sy kon ons nie sien nie. Die Vrou het net daar gesit en in die verte in gestaar.  Ek en my robot-Vrou het toe ook op ’n bankie gaan sit.  “Jy lyk mooi vanaand,” sê ek vir my robot-Vrou.  Haar glasoë skuif met ’n snaakse klank rond, die pupille word groter en kleiner om op my te fokus en eindelik sê sy iets met ’n monotoonstem: “Dan-kie.”

Die Vrou, wat oorkant ons gesit het, het skielik ons aanwesigheid gewaar.  Sy staan skielik op en kom aangeloop na waar ons sit.  Sy het seker geskrik toe sy haar robottweeling sien, want haar mond het oopgegaan en toegeklap en weer oopgegaan.  Na ’n ruk wat sy net daar gestaan en staar het na ons, begin sy praat.  “Wie is dié?” vra sy verontwaardig.  Eers huiwer ek om te antwoord, maar ek het besluit om vir haar die waarheid te vertel.  “Hierdie is my robotweergawe van jou.”  Sy knik stadig, en sonder nog ’n woord begin sy wegstap, duidelik getraumatiseer deur dít wat sy so pas gesien het.  Die laaste wat ek haar gesien het, was toe sy om die hoek van die parkie verdwyn.  ’n Stilte het oor die stad geheers.  ’n Stilte in my blikhart.

Smart ...

Dié is die gevoel waardeur ek nou elke dag gaan, met ’n blikbrein-Vrou wat my sintetiese liefde bied.  Nooit sou ek weer die Vrou voor my sien nie, nooit weer sou ek die wonder van haar aanwesigheid ervaar nie. 

My gevolgtrekking is dus dat die wêreld eintlik ’n wrede plek is, dat dit die liefde kan ontneem van ’n wese wat lief kan hê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top