Wetenskap versus God

  • 14

Gee my ’n wetenskaplike of naturalis wat die hele skepping in 5 dae kan skep, dan kan hy die Skepper daarvan maar voorskryf.

Hier op LitNet word gedebatteer oor evolusie, mane en sterre, asook diepruimte. Uiters interessant en insiggewend. Ander lesers weer, voel oorstelp met al die feite en redekawelry en weet nie wat waar of fabel is. Vernaam as snuffeltyd jou toelaat om net in “fast-forward” te lees – hopende dat jy goud vinnig sal oopboor.

Maar, soms bevat die grootste waarheid die eenvoudigste feit. God het die hemel en die aarde geskape. En vir enige aardse wese om dit anders te probeer bewys, hetsy met toetsmedium, aanname of postulering, is soos om in die diepte van die see te spring en te hoop jy kan golwe uithoes. Onmoontlik.

Geen aardse instrument kan die bonatuurlike begrip van God meet. Geen siening van die ewolusionis kan die beginbestaan van die mens, openbaar. Geen breinkrag kan die spinnewebvlies en totale wet van eerste asemteug, verklaar. Want al hierdie dinge, in Sý heelal, bly die WONDERWERKENDE krag van God in aksie.

Die mens geniet die krag van ontdekking. Natuuropgrawings, navorsing en sterrekyk, bly fassinerend. ’n Ware stootvoeter vir die ontsaglike begrip omtrent die grootheid van God en Sy skeppinge. Maar om eie fabel en veronderstel rondom dit te bou, of die ontstaan van kosmiese krag en diepruimtes te probeer meet, is futiel.

Vandaar die logika omtrent ’n Goddelike Intelligente Wese. Dit maak sin. Voor my geestesoog kan ek sien hoe die Skepper afglimlag na die mens wat oor jare heen geswoeg het om die maan en planete, wat Hy so wonderbaar ontwerp het, te bereik. En hoe die mensdom op aarde rondskarrel of redeneer oor dit wat was of is.  

Natuurlik het wetenskap sy plek. Evolusie het sy plek. Die mens het sy plek. En God het sy plek. Maar wanneer daar naarstigtelik rondgetrippel word, op soek na ’n ander rede tot skepping – is dit tydmors. Nie alles in ons bestaan kan gemeet, getoets of bewys word nie. Kyk na die begrip “tyd.” Wie bepaal sy begin en einde? Tyd moet aangewend word vir nuttigheid en verryking. Asook spel God se aarde rustigheid en genieting in tyd.

Ruimtes en dinge met ewigheidswaarde vul my met verwondering. Hier in my wêreld is dit lekker om in die bosveld die skoon lug en atmosfeer, in jou longe op te suig. Want Desembertyd is vakansietyd is opgewondetyd. Dan is dit rondsluip in die bosse agter die groot 5 aan. Bloeiseltyd wat soetreuk nalaat en gekneusde groengras wat buig met dinamiet in die sade. Die oë van die mens wat heldhaftig “lock” in die geeloë van die Leeu. Jakkalsbessiebome wat tydloos inmekaar gevleg ingroei. Flippie die grootvoet, met sy groot grys lyf, wat wanneer in mist, sy ore vir jou flap en halfhartig storm. Die Cheetah-boys se slanksit, roerloos op die kruin, afgebeeld tussen rooison en skemeraand. En laaste, maar nie die minste, Drakensbergkranse in die agtergrond, wat misterieus wegkruip agter misvlae. ’n Onbeskryflike ondervinding in 'n snipperdeel van die aarde, geskape deur God vir die genotrykheid van die mens. 

Mmmm - dan weet en sing my siel:

“Want deur die hele skepping klink dit saam - Hoe groot is U, Hoe groot is U!”

Trienie

  • 14

Kommentaar

  • Trienie

    Pragtig en vroom maar die veronderstelling waarvan jy uitgaan is dat god bestaan. Al ooit gewonder of hy regtig bestaan en indien jy dink hy (tog sekerlik nie sy nie!) bestaan regtig, wat van Allah en Thor en al die duisende ander? Watter god het nou al die goed gemaak en loer vir jou daar uit die wolke?

    Thomas

  • Beste Trienie,

    Dit hinder my glad nie as julle Xtene bloed uit julle knieë kruip agter ’n skepping van die menslike verbeelding nie. Moet net nie van my verwag om dit ook te doen, of om mee te doen aan julle rituele soos mensbloed drink en mensvleis eet nie. Moet ook nie van my verwag om my lewe te baseer op wonderwerke soos dat die man uit grond en sy vrou uit ’n ribbebeen gemaak is nie. Ek voel ook vere vir mense wat kastig op water kan loop, en water in wyn kan verander.

     En, ja, uitgevang! (verskoon die anglisisme). Jy’s niemand anders as Dolf nie. Hoe weet ek dit? Kyk, ’n jakkals verander van hare, maar nie van streke nie. Dolf is ook so lief vir die woord “naarstigtelik”, wat glad nie bestaan nie. Die woord is “naarstig”, met verbuigings “naarstiglik” en “naarstiglike”. 

     Groete,  Angus

  • Trienie, ek belowe jou, g'n lewende mens het nog ooit die geeloog van 'n leeu gesien nie, want teen daardie tyd het hy sy gat gesien.

  • Daar is nie noodwendig ’n konflik tussen wetenskap en godsdiens nie. Konflik ontstaan wel wanneer godsdienste toetsbare stellings maak oor die aard van die fisiese heelal, of op grond van teologiese argumente eerder as waarneembare getuienis, stellings maak oor die aard van die fisiese heelal, of sulke stellings nou toetsbaar is of nie. 

    Deesdae het meeste kerke skynbaar nie eintlik meer ’n probleem met die bevindinge van die wetenskap nie; daar bestaan wel nog heelwat konflikte oor politieke en sosiale kwessies soos aborsie.

  • Angus,

    Hoekom val jy vir Triene aan met jou ondeurdenkte skrywes? Al wat sy doen (in opregtheid én tereg só) is om God te loof en te prys vir Sy wonderlike skepping! Waar presies sê sy dat sy van julle (ateïste) verwag om die Waarheid van God se Woord te glo en Hom te dien? Julle loop dan al lankal met julle dwaasheid te koop en dit is vir almal om te aanskou – dan nie? Hoekom sou sy enigsins van julle insigloses verwag om God se Almag en Wysheid in Sy skepping raak te sien? Nee-nee, daarvoor is julle heeltemaal te blind en doof – dié feit bewys julle oor-en-oor,  kyk maar weer na jou eie skrywes!

    Terloops, is jy ’n “cross-dresser”? Ek vra maar net, omdat dit seker dié is dat jy vir Trienie, as vrou, verwar met my, as man. Jy sien, jy hou jouself op met die woordjie “naarstigtelik”, pleks daarvan om die wonderlike boodskap van Trienie se skrywes te lees én te probeer verstaan – maar dan weer, dit kos insig……

    Verder lyk dit vir my meer-en-meer of  ou “ongelowige” Thomas begin wens hy was ’n kameel – jy weet, die oog van ’n naald is darem maar baie klein.

    Brianvds – jy verstaan die essensie van die ware christelike kerk, gebou op die enigste ware evangelie, glad nie – hou op probeer.

    Sterkte

    Dolf

  • Kobus de Klerk

    Verbasend hoe agnostici sommer net tot gevolgtrekkings kan raak sonder die vaagste bekommernis of hulle reg is of nie. Om nie eens van daardie kinderagtigheid te praat, wat hulle net nie van ontslae kan raak nie. Brianvds maak sommer die wilde, wye bewering dat meeste kerke skynbaar nie eintlik meer ’n probleem met die 'bevindinge' van die 'wetenskap' sou hê, nie. Watter ''bevindinge' en watter 'wetenskap' en watter kerke?

    Angus, weer, was blykbaar nog nooit in die wildtuin of in ’n dieretuin nie. As hy wel daar was, het hy soos kenmerkend, nie die vaagste benul van wat daar te siene is, nie. Is dit omdat Jannie Stapman ook met jou daar saamstap, terwyl jy vir die diere moes kyk, Angus? Daar is oral leeus en mens kan definitief hul geel oë sien. al is dit nou met ’n sakverkyker. Dan het hy dit nou weer kinderagtig dat Trienie eintlik Dolf, is. Dat Trienie se benadering, skryfstyl ens so maklik uitkenbaar en onderskeibaar van Dolf s’n is, kan die arme skepsel nie insien nie. Dit gaan oor een woordjie. en nou is hulle een persoon. So was dit ’n rukkie gelede met my en Dolf.

    Die gevolgtrekking? As jy met die onvolwasse, insiglose en onoordeelkundige agnostici se koppe wil smokkel en hulle heeltemal verbysterd wil laat, hou dan net iemand se skryfstyl dop en gebruik ’n rukkie daarna ’n woordjie wat hy of sy gebruik wat nie so algemeen voorkom nie. dan raak hulle verbyster. Hulle doen dit spontaan, sonder uitlokking, soos in die geval met Trienie nou weer. Wat nog te sê as jy hulle moet uitlok... en so kan jy hulle speel totdat hulle regtig nie meer herwaarts of derwaarts weet, nie.

    Om die kinderagtigheid en totale onvolwassenheid by hulle verder te demonstreer, hoef ons nie verder as Panda te soek nie. Ek bemerk in sy kommentaar in ’n ander brief dat hy letterlik by Trienie pleit soos ’n stout onopgevoede kind, dat sy tog vir haar uitspreek oor my skrywes oor die planete in die hoop, natuurlik, dat sy my sal weerspreek. Soos ’n sleg opgevoede kind, probeer hy kwaad stook tussen maats op sy kinderagtige, onbeholpe manier.

    Kenmerkend verder van hul almal, is dat die kruks en die implikasie van die kragtige boodskap wat Trienie hier weergee, net eenvoudig bo hul koppe verbygaan omdat hulle te kleingeestig is om enigiets daarvan te verstaan.

    Kobus de Klerk

  • Kobus, ek weet nou beter as om eindeloos met jou te redekawel. Wat ek jou wel kan sê is dit: as jou kerk ’n probleem het met enige bevindinge van die wetenskap, is dit nou maar jammer vir jou kerk. Jy hoef my nie te glo nie. Jou kerk sal mettertyd vanself leegloop. 

    Nog elke enkele keer in die geskiedenis wat religie met wetenskap gebots het, het religie verloor. Die aarde is regtig rond, Hy draai regtig om die son. Jupiter het regtig mane. Siektes word regtig deur bakterieë ens. veroorsaak en nie deur bose geeste nie. Lewe het werklik geëvolueer. 

    As jou kerk anders beweer, is jou kerk verkeerd. As Jesus anders beweer, is Jesus verkeerd. Jammer as jy nie daarvan hou nie. Die wetenskap voel ’n veer vir wat jy glo of nie glo nie. As dit jou enigsins beter laat voel, die wetenskap gee ook geen snars om wat EK glo of nie glo nie. 

  • Vandag word die teorie van evolusie wyd aanvaar as ’n wetenskaplike feit. Op die oog af lyk dit ook inderdaad asof evolusie ’n onbetwisbare werklikheid is. Doen mens egter die moeite om bietjie dieper te gaan krap begin dinge sommer vinnig baie anders lyk. Baie van die sogenaamde harde wetenskaplike bewyse is niks anders as spekulasie en omstandigheidsgetuienis nie. En heel dikwels word data wat nie met die evolusieteorie strook nie eenvoudig geignoreer. Een so ’n geval is die voorkoms van sitichroom C in verskillende organismes.

    Sitochroom C is ’n proteien wat in feitlik alle lewende organismes aangtref word. Dit verskil egter van een organisme na die ander ten opsigte van die rangskikking van aminosure. Omdat sitochroom C so algemeen voorkom, en effens verskil van organisme tot organisme, kan dit baie maklik gebruik word om die evolusie van meeste spesies te volg. Daar behoort mos ’n logiese progressie te wees van die laer orde organismes na die hoër orde organismes. Dit is, die sitochroom C wat in ongewerwelde diere (soos wurms) voorkom behoort effens te verskil van die sitochroom C wat in bakterieë voorkom, en die sitochroom C in hoër orde organismes behoort weer effens van die in bakterieë te verskil terwyl dit heelwat meer van die in ongewerwelde diere moet verskil. Soos wat mens dan die veronderstelde evolusionêre weg van amfibieë na reptiele na soogdiere na primate en uiteindelik die mens volg, behoort die verskille stelselmatig toe te neem. Toetse wat reeds in die 1980's gedoen is het egter heel ander bewyse opgelewer.

    Daar bestaan geen evolusionêre progressie in die voorkoms van sitochroom C in verskillende organismes nie. So is daar byvoorbeeld gevind dat die sitochroom C in bakterieë 64% verskil van die van perde, en met 65% met die van tuna vis. Dus stem die sitochroom C in bakterie meer ooreen met die sitochroom C in ’n hoër orde organisme (perd) as in ’n laer orde organisme (vis). Indien evolusie waar was sou mens verwag dat die verskille in sitochroom C geleidelik sou toeneem soos wat mens op beweeg van een biologiese klassifikasie na die volgende. Daar kan egter geen so ’n progressie in die natuur gevind word nie.Hoekom word hierdie bevindinge geignoreer? Hoekom word evolusie steeds as onbetwisbare feit voorgehou? Is evolusie werklik wetenskap, of is dit dalk ’n materialistiese filosofie ingekleur met ’n dun lagie wetenskaplikheid?

  • Dis 'n lekker manier om onderklere te koop.

    @Vrou....as die goed jou so walg hoekom lees jy dit? Dis net 'n vraag,nie 'n aanval nie ne'. Die kanse dat dit net 'n fantasie is is omtrend 99.95%. 
  • André: Jy sal my moet verwys na die kreasionistiese webwerf waar jy daardie inligting gekry het, maar jy verstaan in ieder geval die sitochroom-ding verkeerd. Vir een ding, vanweë die oortolligheid ("redundancy")  van die genetiese kode, sê die aminosuur-volgorde van sitochroom ons nie noodwendig alles oor die genetiese kode daaragter nie. Verder is beide perde en tuna so ver verwyder van die gemeenskaplike voorouer dat ’n een persent verskil nie statisties beduidend is nie: die hele punt van die stichroom-ding is dat ALLE hoër diere min of meer ewe ver verwyder is van bakterieë, naamlik omtrent 65% verskil in hulle sitochroom.

    Lees meer daaroor hier.

    Kreasioniste op forums soos hierdie is dikwels heel toegewyd en probeer nalees oor dinge, maar die ouens wat meeste van daardie kreasionistiese webwerwe maak, is feitlik deur die bank absoluut siniese, onbeskaamde leuenaars. Hulle voel ’n veer vir ouens soos André - hy is vir hulle maar bloot ’n nuttige pion. Politieke mag is wat hulle wil hê.

    Nou ja, gelukkig is hulle dae van politieke mag skynbaar getel, veral hier in Suid-Afrika. (Was ek nie ’n bose agnost nie, het ek die liewe Vader gedank dat ouens soos KdK nie meer politieke mag het nie!)

  • Charl le Roux

    ’n Netjiese pakkie in mooi geskenkpapier is aanloklik en verdien waardering.  As ’n mens egter die presentjie oopmaak en vind dat dit leeg is, is dit teleurstellend.  So was dit ook met Tienie se artikel: die verpakking was mooi, maar dit was leeg.

    Afleidings gebaseer op wetenskaplike navorsing is glo "fabels" en die bestaan van ’n goddelike intelligente wese kwansuis "logies".  Van waar, Gehasi?  Om lukraak ongefundeerde stellings rond te slinger maak geen bydrae nie.

    Alle natuurliefhebbers is dit eens dat ons in ’n pragtige wêreld leef en waardeer dit.  Sommige van ons kan die tekens van die stelselmatige vorming daarvan oor miljarde jare bewonder sonder om ’n skepper daarmee saam op te dis.

  • Ek stem saam met Trienie.  Net so duiselingwekkend, indien nie meer nie, is die ONDERHOUDING van die ganse skepping, die heelal, deur die Skepper. Vir een ding:  hoe is dit moontlik dat miljuisende sterre en planete op hul plekke wentel in die niks, sonder om in chaos neer te stort en te bots?  Probeer DIT verklaar!

  • Jong ek weet nou nie, maar ek glo Tienie het die artikel geskryf om haar opinie uit te druk oor haar dank vir iets wat mooi is op haar manier, maar nou braak mense nou weer gal want niemand gun iemand iets nie. Sy het nie gesê dat evolusie en dies meer nie bestaan nie, trouens, sy het genoem dat dit ook ’n plek het, so hoekom val julle nou die arme vrou aan? Dankie Tienie, ek het die skrywe geniet hier uit my betonwoud in JHB, my sommer laat verlang na ’n lekker bosveld vuur en uitkamp.

  • Henrietta:

     
    Die wette van gravitasie ens verklaar heeltemal goed hoe sterre en planete beweeg. Sover ek weet stem selfs diep gelowige wetenskaplikes daarmee saam. Hulle sou dan wel miskien van mening wees dat God daardie natuurwette in die eerste plek daargestel het, en dat dit 'n heel slim plan was omdat dit dan nie nodig is vir engele of wat ook al om die hele tyd alles direk te beheer nie, net soos dit straks slimmer is vir 'n ingenieur om 'n horlosie te maak om tyd aan te dui, eerder as om sy eie hartklop as tydmeter te gebruik en dan die horlosie se wysers die hele tyd direk met sy hande te beweeg. 
     
    Nodeloos om te sê, daar is geen getuienis dat God natuurwette gemaak het nie, maar daar is darem ook nie eintlik enige getuienis TEEN dit nie. Dit staan gelowiges dus vry om so iets te glo.
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top