Wentel en roteer vir Angus

  • 4

Angus

Jammer ek het amper hierdie een gemis en het toevallig jou kommentaar en vraag aan my vanoggend eers raakgesien. Omdat daar nou soveel tyd intussen verloop het plaas ek maar my antwoord as ’n nuwe bydrae en nie as kommentaar nie. Om eerlik te wees ek kry ook nie meer die plek waar ek dit raakgelees het nie.

Ek onderskei wentel en roteer as volg by hemelligame:

Wentel is wanneer een hemelligaam in ’n baan om ’n ander een beweeg bv die aarde wentel om die son en die maan om die aarde. Daarom word daar ook verwys na wentelbane. Dit neem vir die aarde bv. ± 365¼ dae om een keer om die son te wentel en vir Jupiter neem een omwenteling om die son  5.2 jr en  vir Neptunus meer as 30 jr Die wentelspoed van planete verskil uit die aard van die saak ook. Mercurius se wentelspoed is 47.87 km/s en die aarde s’n is 29.79 km/s en Neptunus is maar 5.43 km/s. Die animasie van Wikipedia illustreer presies wat ek bedoel met wentel.

Roteer is die draaibeweging van ’n hemelligaam om sy denkbeeldige as. Die spoed waarteen die aarde op ’n bepaalde punt roteer sal natuurlik afhang van die breedtegraad. By die aarde is die rotasiespoed by die ewenaar meer as 1 600 km/h en so 10 km vanaf die pool is dit maar omtrent 1km/h. Die aarde roteer ongeveer elke 24 uur, een keer om sy as terwyl Jupiter net 10 uur benodig vir een rotasie.

Panda

  • 4

Kommentaar

  • Beste Panda,

    Dankie vir jou verduideliking; dit maak nou vir my sin. Die HAT maak my deurmekaar; daarvolgens is die twee woorde sinonieme wanneer dit by draai kom, bv. "die wiel wentel om die as". 

    Groete,

    Angus

  • Laat behoorlik mens se kop draai. 

    Ek vind dit eintlik uiters uitputtend om aan die wetenskaplike gesprekke hier op LitNet deel te neem, want ek het my wetenskap in Engels geleer en sukkel nogal baie om met goeie Afrikaanse ekwivalente vorendag te kom vir vele van die terme. En noudat Afrikaanse universiteite afgeskaf word gaan dié probleem seker net vererger.

  • Brianvds – Die Engelse ekwivalente sou ek sê, is 'orbit' en 'rotate'. Jou gebruik van Afrikaans in die wetenskaplike besprekings waaraan jy deelneem, ongeag die Engelse opleiding, is uitstekend en die geduld wat jy aan die dag lê met Kobus de Klerk se gekwetter is bewonderenswaardig.
    Panda

  • Panda: Dankie vir die vriendelike woorde; dit doen my brose ego baie goed. 🙂

    Helaas, soos jy in daardie Jupiter-debat sal sien, het selfs ek ook nou met Kobus geduld verloor. As hy nou wil dink hy weet meer as ek van die kwessie, is hy welkom. Enigeen met ’n hoërskoolkind se kennis van wetenskap sal die teendeel kan sien, en as enigeen enige vrae daaroor het kan hulle my gerus ook maar vra.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top