Wenners van die pryse by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees aangekondig

  • 1

Drie groot produksies wat by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gedebuteer het, was duidelik in ’n kop-aan-kop-stryd deurdat elkeen in afsonderlike kategorieë pryse gewen het.

Die komiese Afrikaanse opera Poskantoor het die Clover Soveel Beter-prys vir die beste algehele aanbieding gewen met prysgeld van R60 000. Volgens die beoordelaars is daar deur klankgrense gebreek en die moderne en vernuwende aanslag plaas dit vierkantig in die 21ste eeu. Braam du Toit is die komponis, Tertius Kapp die librettis en Jaco Bouwer die regisseur.

Christiaan Olwagen het die Beeld-Aartvarkprys vir grensverskuiwende werk gewen vir sy regie van Die seemeeu. Die prysgeld beloop R25 000. Die beoordelaars sê Olwagen bewys dat die Russiese dramaturg Anton Tsjechof in die konteks van die 21ste eeu ongelooflik aanpasbaar en relevant is. Hy maak dit nuut en vars deur Tsjechoviaanse konvensies veral ten opsigte van karakteruitbeelding op sy kop te keer.

Marthinus Basson het die OFM-prys vir beste regisseur ingepalm vir Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles. Gekombineer met sy ontwerp (van die stel sowel as die kostuums) is hy volgens die beoordelaars die “totale pakket” wat die verwikkelde teks van die Belgiese dramaturg Tom Lanoye sekuur blootlê in ’n produksie wat al die elemente soomloos saamvoeg.

Rolanda Marais is bekroon met die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise vir haar rol as Nina in Die seemeeu, terwyl De Klerk Oelofse die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur gewen het vir sy spel in die solovertoning Na-aap. Al drie dié pryse is R15 000 werd.

Die Burgemeesterprys vir die gewildste produksie ter waarde van R6 000 is gewen deur Vir ewig en altyd (met Marius Weyers en Sandra Prinsloo in die rolverdeling en Hennie van Greunen as regisseur).

Die Clover Mama Afrika-prys van R5 000 vir die beste gemeenskapskunstenaar of -projek is toegeken aan die plaaslike orkes Medupi Band.

Die dramaturg en skrywer PG du Plessis is in sy tagtigste jaar gehuldig vir sy onmeetbare bydrae tot die Afrikaanse literêre skat en in die besonder ook vir sy noue verbintenis met Aardklop. ’n Installasie-werk van die kunstenaar Jan van der Merwe is by die geleentheid aan hom oorhandig.

Die beoordelaars van die onderskeie Clover Soveel Beter-pryse en die OFM-prys was die resensente Thys Odendaal en Diane de Beer, en skrywer en resensent Deborah Steinmair. Resensente Rudolf Stehle en Paul Boekkooi, en dramaturg en drama-onderwyser Nico van Niekerk was die paneellede vir die Aartvark-prys.

 

  • 1

Kommentaar

  • antoinette klein

    Baie geluk Tertius met hierdie groot prestasie. Deel in jou plesierigheid hieroor. Mag daar nog vele uit jou pen kom. xx

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top