Wenke vir 'n ware speurtog

  • 0

“The translator has to tangle with the text on as deep a level as possible.” – Janine Beichman

‘n Uitstekende oefening vir kreatiewe skrywers is ongetwyfeld om verhale en gedigte uit ‘n ander taal in jou eie te vertaal. Om regtig goed te vertaal, beteken om ‘n teks beter as enige leser te lees, regtig te kyk wat die skrywer met taal maak, hoe sy of haar sinne betekenis genereer, waarom een woord in plaas van ‘n ander gebruik word en ‘n spesifieke sinskonstruksie of ‘n spesifieke idiomatiese taalgebruik hanteer word.

Ook kan mens baie leer van ‘n skrywer se styl. Iets van daardie oorspronklike styl kan ook na jong aspirantskrywers oorgedra word. Waar gewone lesers, wanneer hulle tekste lees, vra wát verder gaan gebeur, kom die vertaler agter die kap van die byl: Hóé gebeur wat gebeur? Hóéweerspieël of verklap die skrywer dit? Hóé gaan hy of sy met woorde om? Hóé sal lesers in ‘n ander taal dit verstaan? Vertaling is dus in eerste instansie ‘n speurtog na die spel wat die skrywer speel.

Waardevolle lesse lê in literêre vertaling – nie net vir taaldeskundiges nie, maar ook en veral vir kreatiewe skrywers.

Na aanleiding van die kursus in literêre vertaling by die Universiteit Stellenbosch waaroor ek verlede week geskryf het, het ek ‘n lys gemaak van konkrete wenke aan literêre vertalers – hoe om dus nie net die taal van die een teks in ‘n ander taal te vertaal nie, maar ook daardie wêreldbeeld waaroor ek verlede week geskryf het, weer te gee.

1.       Vra jouself waarom die boek of gedig wat jy gaan vertaal, belangrik is. Wie gaan dit lees? Op watter rakke gaan dit staan?

2.       Jy moet die styl van die skrywer namaak. Oorbeklemtoning, onderbeklemtoning, interpunksie, klankspel, sinskonstruksie, toon, idiomatiese taalgebruik en herhalings is alles belangrike maniere waarop die skrywer betekenis genereer.

3.       Jy moet nie net die betekenis oordra nie, maar ook die sluimerende onderliggende betekenisse van die teks waarneem en ekwivalente daarvoor skep.

4.       Sien die milieu as ‘n karakter in die verhaal/gedig/roman wat jy vertaal. Ken jy die ruimte of milieu waar die verhaal afspeel? Ken jou lesers dit? Weet hulle meer of minder van daardie ruimte as die lesers van die bronteks? Hoe gaan jy daardie milieu lewendig, tasbaar, outentiek oordra?

5.       Vra jouself: Hoe letterlik of vry moet jou vertaling wees? Vertaling moet (volgens Daniel Hugo) nie soos ‘n vertaling lees nie. Tog: hoe meer literêr die boek, hoe meer letterlik moet die vertaling wees.

6.       Indien foute in die bronteks voorkom, mag jy (volgens Hugo) dit verbeter. Niefunksionele herhalings of niefunksionele toutologie kan byvoorbeeld verander word.

7.       Hoe gemaak met dialekte in die bronteks? Wes-Vlaamse dialekte kan byvoorbeeld nie met Namakwalandse Afrikaans of Kaaps vertaal word nie. Gebruik in daardie geval eerder ‘n informele Afrikaans.

8.       Bronne: gebruik al die woordeboeke wat jy in die hande kan kry. Verklarende woordeboeke, tweetalige woordeboeke, idioomwoordeboeke, geamalgameerde woordeboeke (waarvan die Afrikaans-Nederlandse woordeboek ANNA ‘n perfekte voorbeeld is), tesourusse, sinoniemwoordeboeke, tegniese woordeboeke, dialektiese woordeboeke, ens.

9.       Hoe goed ken jy die skrywer wie se werk jy vertaal? Wanneer en waar is die werk geskryf? Onder watter omstandighede het die skrywer dit geskryf? Verwys die werk na ander literêre werke? Is jy vertroud met al die verwysings wat in die teks voorkom? Gebruik die internet, facebook, bel of e-pos vriende wat kennis dra van ‘n bepaalde onderwerp, of gaan onderneem ‘n speurtog in jou naaste biblioteek.

10.     Lees elke dag in al die tale waaruit én waarin jy vertaal. Koerantartikels, rubrieke, romans, gedigte ... Hoe meer jy lees, hoe meer bly jy in voeling met die taal waarúit jy vertaal – asook die een waarín jy vertaal.

‘n Punt wat ek reeds vroeër gemaak het, is dat om regtig goed te leer skryf, mens eers moet leer lees. En om regtig goed te lees, moet mens leer hoe om ‘n speurtog te loods na die onderliggende betekenisse, klank, verwysings, taalgebruik wat die skrywer gebruik. Om goed te leer vertaal is om ‘n literêre speurder te word.

Vir lekkerluister-lees-pret hierdie week: ‘n Sakeman word in China vir bedrog gearresteer. Is hy regtig skuldig? ‘n Vertaling van Tommy Wieringa se Kompleks A (uit Nederlands in Afrikaans), voorgelees deur Lochner de Kock: http://www.citybooks.eu/en/news/p/detail/afrikaans-radio-book-tommy-wieringa-kompleks-a.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top