Weltevrede(n)-liedjieskrywer Fran wen CrescendoKreatief

  • 0

Die ATKV het onlangs amateurliedjieskrywers van alle ouderdomme genooi om deel te neem aan ’n unieke liedjieskryfkompetisie, ATKV-CrescendoKreatief.

Liedjieskrywer Fran Carstens is pas aangewys as die sesde wenner van ATKV-CrescendoKreatief.

Amateurliedjieskrywers kon hul nuutgeskrewe werke, opgeneem op ’n CD, aan die ATKV stuur. Teen die einde van Oktober is die inskrywings beoordeel deur ’n beoordelaarspaneel onder leiding van Lize Beekman. Die tien liedjieskrywers, waarvan 3 Huisgenoot Tempo Liedjieskrywers ingesluit is, is genooi om op die ATKV se koste deel te neem aan ’n liedjieslypskool, aangebied by die ATKV-Goudini Spa se Slanghoek Villa. Hierdie werkskool het vanaf 2 tot en met 7 Desember plaasgevind en was ’n praktiese kursus waartydens die skryf van musiek en liriek ontwikkel en geslyp is. Die liedjieslypskool onder leiding van Lize Beekman met Jaconell Mouton en Douw Steyn wat haar bygestaan het, het kursusgangers op ’n praktiese wyse meer geleer oor die kuns van liedjieskryf. Liedjieskrywers van vele treffers by name Karin Zoid en Niël Schoombee het onder andere ook hul kennis kom deel.

Aan die einde van die werkskool het ’n konsert plaasgevind waartydens die kursusgangers kans gekry het om hulle liedjieskryfvernuf ten toon te stel. Die beoordelaarspaneel, bestaande uit die kursusaanbieders, se keuse het op Fran Carstens geval en Fran is as die sesde wenner van ATKV-CrescendoKreatief aangewys.

Volgens Fran het sy by ATKV-CrescendoKreatief 2011 se liedjieslypskool uiteindelik uitgevind wie sy is as liedjieskrywer - wat is haar genre, haar sterkpunte en waaraan sy moet werk. Dit het haar ongelooflik gemotiveer.

“Ek het so paar vertonings gehou en dit was goed ontvang. Ek is bly dat ek besluit het om weer in te skryf die jaar, want ek het alweer 'n magdom goed geleer by die slypskool. Iemand het vir my gesê: "Jy sal nooit soveel leer in drie jaar op 'n ander plek soos wat jy sal leer in een week onder die leiding van Lize Beekman nie." En hulle is reg ... so, so reg. Om as die wenner weg te stap van Crescendo Kreatief 2012, was die inspuiting wat ek nodig gehad het. Dis 'n ongelooflike groot eer en voorreg en ek hoop dat ek die ATKV sal trots maak met dit wat ek aanpak en opdis op die pad vorentoe.”

In Fran se woorde: “Vir solank ek leef, sal ek nooit ophou skryf, sing en stories vertel nie. Dis wat ek doen ... dis wie ek is.”


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top