WEG Louw (1913–1980)

  • 0

Gebore en getoë

William Ewart Gladstone Louw is op 31 Mei 1913 op Sutherland in die Rôeveld gebore. Sy vader, Bismarck von Moltke Louw, was prokureur op Sutherland en Gladstone was die jongste van vier seuns, met sy bekende broer NP Van Wyk Louw sewe jaar ouer as hy. Sy moeder was Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk, dogter van ’n bekende boer in die Sutherland-distrik. Die Louw-egpaar is in 1904 getroud en het vir hulle in Jubileestraat in Sutherland ’n vierkamerhuis gekoop wat Bismarck aansienlik laat vergroot het. Daar het hulle vir 16 jaar gebly en is die egpaar se vier seuns ook gebore.

Gladstone se ander broers was Koos (gebore 6 Mei 1905), die oudste, daarna NP Van Wyk (gebore 11 Junie 1906) en Bismarck von Moltke (gebore 29 Julie 1909).

Gladstone se voorgeslagte het al vir baie lank grond in Sutherland en omgewing besit. Hierdie gebied was veral geskik vir skaapboerdery vanweë die goeie weiding. Oupa van Wyk se plaas Gunsfontein was een van die Louw-kinders se gunsteling-kuierplekke en hierdie nostalgie na die hulle jeug op die platteland het later duidelik deurgeskemer in die poësie van Gladstone sowel as Van Wyk.

Gladstone het sy moeder onthou as “’n baie mooi vrou, maar ook baie kwaai. Vir haar ‘blou pantoffel’ had ek ’n heilige vrees.” Moltke Louw, daarenteen, was sy “liewe, sagmoedige vader” wat hom “’n hoogs enkele keer met die sg ‘wit karwats’ gedreig het, maar selde of ooit geslaan het”.

Hy het op Sutherland begin skoolgaan en in Desember 1920, toe hy sewe jaar oud was, het die gesin na Kaapstad verhuis. Hulle het hulle in Oranjezicht gevestig en Gladstone is na die South African College Schools (SACS). Soos sovele vooraanstaande Kaapse families van daardie jare was sy ouers sterk Engels-georiënteerd en is die kinders na Engelse skole gestuur.

Volgens Jaap Steyn wou Poppie Louw aanvanklik haar jongste seun na ’n Afrikaanse skool in Kaapstad stuur – heel moontlik die Rosmeadskool – maar ’n raadgewer het aan haar gesê dat die Afrikaansmediumskool nog “baie deurmekaar” is en dat sy hom liewer na ’n gevestigde Engelse skool moet stuur. Al het hy geen Engels geken nie, moes Gladstone na ’n Engelse skool gaan, waarin hy baie swaar gekry het met die onderrigmedium en aanvanklik nie die onderwyseres kon verstaan nie. By een geleentheid het hy die Skotse bairn in ’n leesboek teengekom, en toe nóg hy nóg sy ma die betekenis kon vind, was albei op die ou end in trane.

Bismarck von Moltke, die vader, was in sy middeljare toe hy genoeg geld gehad om uit sy prokureurspraktyk te tree. Hy was ’n vername figuur in kerklike en godsdienstige kringe in Kaapstad en was vir etlike jare ouderling van sy wyk. As gevolg hiervan het die jongste seun van jongs af ’n sterk belangstelling in die godsdiens getoon. Soos baie gebeur, was daar wel ’n fase in Gladstone se jeug wat gespreek het van twyfel in die godsdiens en opstandigheid, maar hy was later ’n oortuigde en diep gelowige Calvinis.

In Digters van Dertig het DJ Opperman geskryf: "Gladstone wat sy karakter betref, aard veral na sy moeder: uiters gevoelig, ’n bietjie teruggetrokke en trots. In sy lang outobiografiese gedig ’naggesprek' wat in 1971/1972 ontstaan het, het hy sy moeder as volg beskryf: 'veral ons moeder kon, as dit nodig was/ só vries dat die temperatuur aanmerklik daal'."
Miep Nienaber-Luitingh het geskryf dat enigeen wat Gladstone persoonlik geken en by geleentheid ervaar het hoe hy gereageer het op woorde of situasies wat hom nie aangestaan het nie, onmiddellik hierdie “bevriesing” as ’n familietrek sou herken.

Die jong Gladstone het nie uit voeling geraak met sy geboortestreek nadat die gesin na Kaapstad verhuis het nie. Hy het vir baie jare elke somer- en wintervakansie op sy oupa se plaas gaan deurgebring en later ook by een van sy broers wat in Sutherland se omgewing gaan boer het.

Vir Gladstone die jong seun was die verskuiwing van platteland na stad aan die begin baie moeilik. In ’n radio-onderhoud in 1976 het hy erken dat “vir ’n plattelandse seun [...] die stad ’n baie eensame plek [was], veral, natuurlik, in die beginjare, op ’n Engelse skool, waar [ek] nie eens die taal verstaan het waarin die juffrou les gegee het nie. Later was dit natuurlik anders.”

Hy het egter gou aan die stadslewe gewoond geraak en het perfekte Engels leer praat, in so ‘n mate dat sy uitspraak nie onderskei kon word van dié van enigeen wat van jongs af Engels as moedertaal gehad het nie. 

Gladstone het reeds gedurende sy skooljare begin dig – eers in Engels en later in Afrikaans. Sy vroegste verse (in Engels) het in The South African College Magazine van Junie 1929 verskyn. Kannemeyer skryf in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 1 dat sy verse toe reeds "met die statige tempo en veelvuldige byvoeglike naamwoorde ’n sekere weelderigheid en grootspraak" vertoon het. Hy was ook vir ’n tyd lank ’n redaksielid van die skooltydskrif. ’n Duitse dame het gedurende sy skooljare vir hom musieklesse gegee en dit het sy belangstelling in ander aspekte van die Wes-Europese kultuur gestimuleer. In sy laaste jare op skool het hy tot ’n selfbewuste en strydvaardige Afrikaner ontwikkel..

Hoewel Gladstone en sy generasie nie self aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het nie, is hulle emosioneel geraak deur die Afrikaanse volk se leed en vernedering aan die hand van die Britse Ryk en wat gespreek het uit die verhale en gedigte van ouer digters. Soos met so baie ander Afrikaners van sy ouderdom het sy ideale van vroeg af ’n duidelike republikeinse inslag getoon en was hy ’n passievolle deelnemer aan die stryd om erkenning en regte van ’n eie taal.
Gladstone het sy matriek in 1930 goed deurgekom (2 A’s, 2 B’s en 2 C’s) en ’n studiebeurs verower.

Verdere studie en werk

Na sy matriekeksamen is Gladstone na die Universiteit van Kaapstad, waar hy vir sy BA-graad studeer het en in 1935 sy MA-graad behaal het met ’n studie oor die poësie van die Nederlandse digter JH Leopold. Hy het ’n aktiewe rol gespeel in die Afrikaanse Nasionale Studentebond.

Van die begin van 1931 af het hy Vrydagaande van agt- tot tienuur private lesse in Duits by Van Wyk Louw geneem.

Tydens sy studentejare aan UK het Gladstone ’n vriendskap met Hettie Smit aangeknoop wat veral in die laat 1920’s geblom het toe hulleam studente was sa. Amanda Botha skryf in Insig van Februarie 2003 dat daar aan die begin van 1932 ’n verskuiwing in die verhouding van Gladstone se kant gekom het. Die intensiteit van die verhouding het oor die volgende drie jaar geleidelik afgeneem sodat daar teen die einde van 1935 nie meer sprake van ’n vriendskap was nie. As jong onderwyseres van Prins Albert in die Karoo was dit ’n baie hartseer ervaring. Sy het begin om liriese "kammabriewe" (haar eie woord daarvoor) in dagboekvorm te skryf. As Marié het sy die briewe aan Johan geskryf - sy het hulle "karikature" genoem – en in hierdie briewe het sy haar diepste gevoelens op skrif gestel. Daar is nog korrespondensie tussen die "lewende" karakters van Hettie en Gladstone en as hierdie twee stelle briewe saam gelees word, is dit dikwels baie moeilik om tussen die twee stelle te onderskei.

Amanda Botha vertel verder: "Einde 1934 het Smit haar dagboek se 'kammabriewe' aan 'Johan' vir Gladstone gestuur. Hy het teruggeskryf en gevra wat sy voorstel daarmee 'gedoen' moet word. Hierop antwoord sy: 'Jy het my darem ’n swaar vraag gevra: wat ek met die briewe sal “doen”? Dis eerlikwaar bokant my denkvermoë.' Gladstone het voorgestel dat dit in boekvorm uitgegee word. Dit was juis die tyd waarin die Vereniging van die Vrye Boek tot stand gekom het waarvan hy en Van Wyk redaksielede was.

“Smit was verbaas en gevlei: 'Wat gaan ek dit noem?' skryf sy in ’n brief aan hom. 'En wat van al die lewende en bekende mense wat ek daarin koelbloedig ten toon stel? Waar sal ek al die skuilname kry om alle dinge te bedek?' Die publikasie van Sy kom met die sekelmaan is deur ’n literêre relletjie voorafgegaan. In ’n polemiek tussen literêre figure in die Kaap was Gladstone self vooraan in ’n kopstamponderonsie met die Stellenbosse literator Fransie Malherbe.

"Uiteindelik was dit Van Wyk Louw wat die knoop deurgehaak het. Sekelmaan sou gepubliseer word, maar op voorwaarde dat sekere passasies aangepas, ander gesny en – die belangrikste – die laaste hoofstuk weggelaat word."

Terwyl hy nog ’n student was, het Gladstone se eerste digbundel, Die ryke dwaas (1934), verskyn. Die gedigte in hierdie bundel is tussen sy 16de en sy 20ste jaar geskryf en is in 1934 met die Hertzogprys vir Poësie bekroon. Hy het die prys gedeel met Totius en C Louis Leipoldt – ’n groot onderskeiding vir ’n onbekende 21-jarige digter. Na Gladstone se dood in 1980 skryf Etienne Britz dat Die ryke dwaas die Dertigerbeweging ingelui het. Met hierdie beweging het die Afrikaanse digkuns ’n Europese standaard begin nastreef.

Gladstone se aansien as ’n betekenisvolle figuur in die jeugdige Afrikaanse letterkunde het met hierdie bekroning en die goeie kritiek op sy bundel ’n aansienlike hupstoot gekry. Sy bundel is beskou as die eerste teken van ’n omwenteling in die digkuns. Die 1930's in die Afrikaanse letterkunde (toe hy gedebuteer het) kan op dieselfde vlak geplaas word as die 1880's in die Nederlandse letterkunde. En soos later geblyk het, was die Tagtigers nie so vernuwend soos eers gedink is nie en was Gladstone Louw se poësie ook nie so vernuwend nie.

In Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (Februarie 1935) het DF Malherbe geskryf: “Gesien die jeug van die skrywer is sommige van hierdie verse merkwaardig, eerstens deur ’n eie geluid, betreklik vreemd aan Afrikaans, en tweedens deur hul introspektiewe karakter, wat tot uiting kom in ’n gryping van die siel na die lewensmisterie. Hier is ’n siel wat in vereensaming die hoë koninklike weg van begeerlikheid en wilsuitlewing bewandel het, in verhewendheid soekend na bereiking van hoogste wens en dan maar met ‘leë hande van verlatenheid’ terugkeer tot dié ene wat hy liefhet, ‘má jou en van jou suiwerheid genees, stille troos van jou en berusting leer’ (...) Gebore op die grens van droom en waarheid, in die yl sfere van verinnigde lewensbestaan, bruis daar deur hierdie verse by wyle ook ’n kragtige hartstogstroming, gedra deur forse beelding. Maar beelding, hoe noodsaaklik ook, kan alleen nimmer en nooit ’n gedig van suiwere klank en blywende werking te voorskyn bring nie.

“By geleentheid van die kongres van die Afrikaans-Nasionale Studentebond wat begin Oktober 1934 op Stellenbosch gehou is, het prof dr FEJ Malherbe besonder hoog opgegee van hierdie bundel. Volgens hom sou die Afrikaanse digkuns met hierdie verse eindelik die koppies uit wees in ’n ‘wyere wêreld’. Maar elke intelligente leser van die Afrikaanse digkuns weet dat ons reeds sedert 1913 uitgestyg het in die wyer wêreld van waaruit ’n perspektief gewin is, wat hom verbreed tot grootse wêreldbeeld. En daarby ’n styging nie maar net om die liewe styging ontwil nie, maar ’n verheffing van wat gefondeer is in die eng-nasionale uit sy beperktheid van bedding tot die vrye hoogte van perspektiwiese aanskouing. Daar word in Suid-Afrika kort-kort literêre ontdekkings van superlatiewe waarde gedoen, waarvan ’n mens later – vergelykbaar met prettige skedelvondste – niks meer verneem nie, met die gevolg dat die glans wat ’n vonds moes omgewe, van vooraf al vernietig is. Wanneer sal beoordelaars van boeke leer dat superlatiewe die dood is van alle gesonde literatuurbeskouing?

“Die opmerksame leser sal dadelik die ongelykheid van hierdie gedigte aanvoel. Daar is ’n dosyn of iets meer, waaronder egter enkele omvangryke soos ‘Ondergang’ en ‘Belydenis’, wat sekere hoë kwaliteite vertoon en ’n ernstige beskouing verdien. Die ander is van minderwaardige gehalte, sommige uiters swak indien nie waardeloos nie. (...)

“Terwyl ek hierdie jong digter verwelkom en met hoë waardering getuig van die stoutheid van sy verbeelding en krag van sy segging, het ek dit nodig geag om te wys op die hier veelal ontbrekende kwaliteite wat, gegee die heilige vuur – grootste van almal – die geheimenis van die digtersprake tot ’n onuitputlike bron van genot maak. Waarby nog gevoeg kan word dat die snaar van sielsontrafeling êrens ook sy grens het, wat die fyngevoelige kunstenaar beste sal onderken.”

In Die Huisgenoot van 12 Maart 1948 het P du P Grobler geskryf: "Die vernuwing van die Afrikaanse verskuns wat geleidelik deur Toon en CM van den Heever voorberei is, het met WEG Louw werklikheid geword. Die ryke dwaas is iets nuuts in Afrikaans, nie alleen om die godsdienstige en erotiese verse nie, maar ook wat betref die nuwe, verfynde belewing van die natuur, ’n motiewe-veld wat, naas die oorlog en die nasionale stryd, tog eintlik dié gebied was van die geslag van ongeveer 1910. Die natuur is nouer verweef met Louw se poësie as wat by Totius, Celliers, selfs Leipoldt, die geval was. Dit is nie meer ’n uiterlike dekoratiewe element of simbool van die Afrikaner se lyding en godsdiensbelewing nie; dit word ’n intens-persoonlike ervaring en daarom juis universeel. Louw het die natuur losgemaak van die bloot lokale, hy sien dit as natuur, as ’n nuwe ervaring en nie deur die waas van die eng nasionale nie. En tog is sy siening nie volksvreemd en onafrikaans, soos destyds beweer is nie. (...) Dit is verse wat in diepste wese nasionaal is, omdat hulle diep uit die Afrikaans lewe gehaal is en op nuwe, verrassende wyse uiting gee aan ’n menslike ervaring.

"Ons het voor Toon van den Heever geen liefdespoësie in Afrikaans gehad nie, hoofsaaklik omdat die oueres te besig was met die oorlog en nasionale ontreddering. CM van den Heever het ’n paar stralende liefdesverse geskryf, maar met AG Visser het ons liefdespoësie ’n vervlakking beleef waaruit dit eers tien jaar later deur WEG Louw gered en weer op ’n plan van voller menslikheid geplaas is. Net soos sy natuurliriek is Louw se liefdesgedigte verfynd en sensitief, maar tegelyk aards en warm-menslik. (...) Dis nog nie poësie van grootse allure of smettelose suiwerheid nie, maar daar is ’n uitgesproke, eerlike sinnelikheid wat veral na die stereotiepe liefdesversies van AG Visser onmiddellik ontroer.”

Grobler se mening oor WEG Louw se godsdienstige verse is dat daar uit hierdie gedigte ’n skerp twyfel straal "wat gebore is uit die drang tot volledige selfkennis. Maar waar die twyfel by Van den Heever negatief word en in sinisme oorslaan, bly dit by Louw positief, ’n verbete stryd wat enduit geveg moet word om tot helderheid en insig te kan kom. Die ryke dwaas staan in die teken van opstand en verteenwoordig ’n eerlike poging om die wesenlike van ons verhouding tot God en heelal in sy volle waarheid te stel.”

Nienaber-Luitingh (De Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, Jaarboek, 1980–1981) het geskryf: "Literêr-histories beskou is Die ryke dwaas tog ’n belangrike publikasie waarin die nuwe Afrikaanse poësie met sy verfynde natuurliriek en sterk individualisme tot ’n deurbraak gekom het. Gladstone en sy tydgenote, soos sy broer, NP Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Uys Krige, staan in die Afrikaanse letterkunde bekend as die Digters van Dertig. Aan die begin het hulle nou aangesluit by die Nederlandse Tagtigers wat hul mentaliteit en doelstellinge betref. Ook die Afrikaanse digters van die jare dertig ken die verering van die skoonheid, die romantiese droom, die aandag op die estetiese vorm en hulle trotse kunstenaarsbewussyn. Deur hulle politieke belangstelling en hulle taalstryd is die Afrikaanse digters egter sterker verbonde aan die realiteit van hul tyd as die Nederlandse en Engelse voorbeelde en is daar by hulle minder sprake van ’n ivoortoring-mentaliteit – al ontbreek die neiging daartoe nie heeltemal nie."

Gladstone se besielende geesdrif het bygedra tot die leidende rol wat hy gedurende daardie jare onder die jong letterkundiges in die Kaap gespeel het. Hy het self vertel dat daar in daardie jare ’n vriendekring in die Kaap was wat die vooruitsigte van die Afrikaanse geesteslewe met dieselfde vurige verwagting beleef het as wat ’n Renaissancis dit gedoen het. “Alles was nog moontlik. Ek sou dié parallel nie te vér wil deurvoer nie, maar net soos die 16de-eeuse Franse digters wat hulself enigsins hooghartig die Pléiade genoem het, dit wil sê die Sewester, naamlik Ronsard, Du Bellay, De Baïf en andere, vir hulle as ideaal gestel het ’n poësie in Frans net so sinryk en soepel as dié van die Klassieke digters in Grieks en Latyns, wat hulle so diep bewonder het, net só het die Afrikaanse digters van daardie jare ook ’n nuwe Afrikaanse poësie in die vooruitsig gestel. Noem só ’n strewe naïef as u wil, miskien selfs verwaand, maar só het daardie geslag dit werklik beleef.”

Weens die ouderdomsverskil van sewe jaar tussen Gladstone en Van Wyk was daar nie veel kontak tussen die broers nie, maar met dié dat hulle toe in dieselfde stad gewoon het, was daar toenadering. Van Wyk het in ’n gesprek met sy jonger broer erken dat hy ook poësie geskryf het, maar as gevolg van die afwysende kritiek van enkele ouer letterkundiges nadat hulle die manuskrip onder oë gehad het, het hy besluit om op te hou poësie skryf.

Gladstone wou dadelik die afgekeurde manuskrip sien en ’n mens kan nou sê dat hy die "werklike ontdekker" van Van Wyk Louw se digterskap was. Dit was aan sy geesdrif te danke dat Van Wyk weer begin dig het en hy het ‘n aandeel gehad in die publikasie van Van Wyk Louw se Alleenspraak in 1935.

Teen die einde van 1935 het Gladstone na Nederland vertrek, waar hy aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam ingeskryf het vir sy doktoraal oor die Nederlandse taal en letterkunde. Hy het ’n Queen Victoria Memorial Scholarship verwerf vir verdere studie in die buiteland. Sy promotors was NA Donkersloot en AA Verdenius, en hy het kunsgeskiedenis onder JQ van Regteren Altena as byvak geneem.

Hy het sy studiejare in Nederland benut om gereeld konserte en toneelopvoerings by te woon en museums te besoek. Tydens vakansies het hy na ander dele van Wes-Europa gereis. So het hy vir drie agtereenvolgende jare ’n groot deel van sy somervakansie in München deurgebring, waar hy, in verband met sy spesiale studieonderwerp vir sy byvak, in die Alte Pinakothek die reeks skilderye deur Rembrandt in opdrag van Frederik Hendrik oor die lyding en dood van Christus bestudeer het. Dit is hierdie intensiewe studie van Rembrandt se skilderye wat hom later geïnspireer het tot die reeks sonnette “Die passie van ons Heer” wat in Adam en ander gedigte (1944) opgeneem is. Dit is ook opvallend, en tipies van sy belangstelling in die skilderkuns, dat verskeie van sy latere gedigte ontstaan het na aanleiding van bekende skilderye wat hy tydens sy verblyf in Europa en ook op latere reise leer ken het.

Gladstone het sy doktorale eksamen in Nederlands in 1939 voltooi en in November van dieselfde jaar, toe die Tweede Wêreldoorlog in Europa al aan die gang was, na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het hom voorlopig in Kaapstad gevestig, waar sy tweede digbundel, Terugtog, in 1940 gepubliseer is.

In Die Huisgenoot het P du P Grobler geskryf: "Die stryd ‘met God om God’ vorm (soos Gladstone dit self noem in sy boekie De nieuwere Afrikaanse poëzie) die sentrale tema van Terugtog. Maar hierdie bundel bevat naas ’n paar mooi verse soos 'Oktober', ’nagreën', 'Maria' en 'Apocalypse' nog te veel gedigte wat swakker is as baie verse in sy eerste bundel. Dit verteenwoordig ook vir my ’n terugtog op poëtiese gebied. ‘Die dood van die dwaas’ (die sleutelgedig) herinner in sy plastiek soms te sterk aan Marsman en Van Wyk Louw en doen, ondanks gawe fragmente, krampagtig en geforseerd aan.”

Twee jaar later, in 1942, verskyn Louw se tesis, “Die invloed van Gorter op Leopold: ’n bydrae tot die studie van die sensitivisme” en verwerf hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad.

Gladstone het gedurende hierdie tweede verblyf in Kaapstad verskeie letterkundige artikels geskryf, onder andere “In memoriam”-bydraes vir H Marsman, E du Perron en Menno ter Braak wat later opgeneem is in die essaybundel Vaandels en voetangels wat in 1958 gepubliseer is. JM de Vries (Zuid-Afrika, Desember 1948)het gevoel dat Vaandels en voetangels nie op dieselfde peil is as Ou wyn van vreugde nie, hoewel dit tog enkele goeie stukke bevat.

Gladstone, Van Wyk, Jan Greshoff en DB Bosman het in 1940 die bloemlesing Tussen die engtes saamgestel waarvan die opbrengs bedoel was om Nederlandse skrywers wat onder die Duitse besetting gely het, te steun. Na die oorlog is die geld gebruik om eers A Roland Holst en later JC Bloem na Suid-Afrika te bring.

Vanaf September 1942 het Gladstone in Johannesburg vir die Reddingsdaadbond gewerk. Dit was ’n organisasie wat in 1939 gestig is om hulp op ekonomiese sowel as kulturele gebied te verleen aan die baie Afrikaners wat as gevolg van die droogte en die Depressiejare verarm het.

In 1942 is hy ’n kandidaat vir die vakante leerstoel wat met die uittrede van DF Malherbe in Bloemfontein ontstaan het. Gladstone is die enigste kandidaat wat deur die Senaat aanbeveel is, maar die Raad van die Universiteitskollege het ’n onderhoud met hom aangevra. Tydens dié onderhoud het dit geblyk dat van die lede van die Raad om politieke redes besware teen hom gehad het. Die hele onderhoud het, afgesien van ’n aantal “beuselagtige vragies” oor Louw se studietyd in Amsterdam, gehandel oor die “Renegaat”-sonnette in sy bundel Terugtog, verse wat as ’n toespeling op JBM Hertzog – die held van die Vrystaat – beskou is.

Dit was die eerste keer – so skryf Gladstone op 2 Maart 1942 aan Van Wyk – dat hy werklik “van aangesig tot aangesig gekom het met die vyand ... (en) met die ‘domheid’ ... Dit was ’n gesig wat ek nooit sal vergeet nie, om die makelaars in effekte, boedelagente, en ander intelligentsia van Bloemfontein, wat voor dié dag waarskynlik nie eens van die bestaan van my as digter geweet het nie, met Terugtog in die hande te sien sit!” ’n Ander kandidaat is aangestel. In ander briewe aan sy broer het hy egter sy bedenkinge uitgespreek of hy, indien sy aansoek suksesvol was, ooit in so ’n atmosfeer sou kon gelewe en gewerk het.

In 1944 is hy benoem tot hoogleraar in die Afrikaanse taal- en letterkunde aan die Rhodes Universiteitskollege in Grahamstad. In dieselfde jaar is hy en Rosa Sophia Cornelia Nepgen, die bekende komponis, in Melville in Johannesburg getroud. Rosa het later heelwat van sy gedigte getoonset. Twee seuns, Paul en Johannes, is uit hul huwelik gebore. Rosa is in 2000 oorlede en Johannes in 2001.

Aan die begin van 1944 het Gladstone besluit om die gedigte wat hy in die jare sedert die verskyning van Terugtog geskryf het, te bundel. Daaronder was die lang epiese gedig “Adam” en enkele van die reeks Passie-sonnette wat reeds uit publikasie in Die Huisgenoot bekend was. Die bundel het laat in 1944 verskyn – besonder keurig uitgegee deur die boekhandelaar en uitgewer Gerrit Bakker van Constantia.

Adam en ander gedigte is na publikasie allerweë begroet as ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse poësie en as die hoogtepunt van Gladstone se werk tot in daardie stadium.

Reeds in 1940 het Jan Greshoff vanuit Batavia aan Van Wyk Louw laat weet dat ’n literator soos Rob Nieuwenhuis daar ’n “enthousiastiese bewondering van Adam” het. Ander “kenners van de poëzie alhier zijn er wild over. Men vindt het zoo mooi als Gorter of Marsman op zijn best, zonder dat het er op lijkt.”

Toe DJ Opperman later aan sy Digters van Dertig gewerk het, het hy aan Van Wyk Louw geskryf dat die religieuse en erotiese motiewe by WEG Louw sy “mooiste uiting” en vervulling in “Adam” kry. "In dié lang gedig het Gladstone dan ook sy sintuiglikheid, erotiek en godsdiens bevredigend verbind en klink die gedig na die voltooiing van die gedagte in Die ryke dwaas dat God eers deur die liefde van die vrou vir hom sinvol kan word" – aldus Opperman in Boekewêreld van 17 November 1994.

Volgens ’n inligtingstuk van Boekhandel Constantia, wat Adam en ander gedigte uitgegee het, "onderskei Gladstone se poësie hom deur ’n verfynde sintuiglikheid en ’n drang na vergeesteliking wat in sy beste verse saamsmelt tot ’n heeltemal eie, donker-trillende toon. Hierdie toon het in sy derde bundeltjie ’n vastheid bereik, sonder om iets van sy sensitiwiteit in te boet, waardeur ons dit as die beste mag beskou wat die digter tot nog toe gepubliseer het. Insonderheid die epiese fragment Adam, is een van die pragtigste verse wat in ons taal geskryf is, ’n lofsang op die lewe, tegelyk dartel en statig, weelderig van beskrywing en tog innig en diep. In die aantal sonnette onder die titel 'Die passie van ons Heer' word Christus se lyding in gedrae taal, dog tewens met ’n gedempte kleurigheid beskryf. Daar is ook enkele meer persoonlike gedigte waarin die digter met fyn gevoel vir klank en ritme sy mistieke lewensbesef vertolk."

In sy bespreking in Die Huisgenoot het Grobler geskryf: "In die titelgedig van Adam vind ons digterlike projeksie in sy suiwerste en mees harmoniese vorm, dit is volkome identifikasie van digter en gestalte. En of die gees en atmosfeer nou Bybels ‘korrek’ is of nie, die hegte bou, die suiwerheid van taal, die klank- en beeldskoonheid daarvan maak dit een van die merkwaardigste gedigte in Afrikaans.

"'Die passie van ons Heer', wat uit ses sonnette bestaan, bevat van Louw se rypste en suiwerste werk. Die beste van hulle (‘Getsémané’, ‘Golgota’, ‘Begrafnis’ en ‘Opstanding’) is strak en skerp omlyn en herinner in dié opsig aan Nijhoff se Bybelsonnette, alhoewel Louw nog nie die sterk vormbeheersing van ’n Nijhoff besit nie. (...)

“Wanneer ’n mens in aanmerking neem dat jy in hierdie bundel slegs vier kort gedigte kan aanwys wat nie geslaag is nie, moet jy erken dat WEG Louw ’n pragtige ontwikkeling deurgemaak het en met ‘Adam’ en die Passie-sonnette die Afrikaanse poësie aansienlike verryk het. Sy vers het niks van sy aanvanklike soepelheid en speelsheid ingeboet nie. Dit het weereens gewen aan sensitiwiteit en verfyning, maar tegelyk sterker geword en ontslae geraak van die hinderlike weekheid wat sommige van sy vroegste verse ontsier. Die estetiese aard van sy laaste verse kan gekarakteriseer word met die woorde: suiwerheid en presiesheid. Hy glo dat ’n goeie gedig nie alleen gebore word nie, maar ook gemaak word. Daarom word elke woord geweeg en deurproef totdat dit onvervangbaar is.

“WEG Louw is ’n belangrike figuur nie alleen om sy vernuwende betekenis vir die Afrikaanse poësie nie, maar ook omdat hy met Adam en ander gedigte sterk en bewus na vore getree het as ons beste Christelike digter.”

Gerrit Dekker was in Die Huisgenoot van 13 April 1945egter nie sonder besware nie.

Die Louws het 13 jaar lank in die oorwegend Engelstalige universiteitstad gewoon, “gelukkig, maar in ballingskap”, soos Gladstone later in Naggesprek geskryf het. Nienaber-Luitingh was van mening dat Gladstone se geluk geleë was in sy eie huis, saam met ’n vrou wat sy belangstellings in die kultuur, sy geloof in die Calvinisme, asook sy politieke ideale gedeel het. Hy het na die oorlog in ’n brief aan Rosa geskryf dat daar in hulle huis baie musiek gemaak is en baie gelag is en dat dit een van die ideale was wat hy vir hom gestel het.

Tydens sy verblyf in Grahamstad was hy op allerlei gebiede aktief. In 1956 het sy vierde digbundel, Bybels en Babels, verskyn waarin hy onder meer gedig het oor sy herinneringe aan hulle verblyf in Nederland en Italië twee jaar vantevore. Oor Bybels en Babels skryf Gladstone aan Koos Human, indertyd van Nasionale Boekhandel: “Die uiterlike van die bundel is myns insiens baie bevredigend – die linne vertoon beslis baie mooi; die gouddruk op die buitekant vind ek op sommige eksemplare egter nie skerp genoeg nie. Gebruik die boekhandel ’n koper-stempel of gewone setsel? Met gewone setsel kry ’n mens myns insiens nooit ’n skerp en suiwer bandstempel nie.”

Hy het ook ’n reeks artikels geskryf waarin hy ’n herwaardering van die ouere Afrikaanse digters Totius en Leipoldt uitspreek en wat later gebundel is in Ou wyn van vreugde wat in 1958 verskyn het. In Gladstone se kritiese en letterkundige artikels was daar nie eintlik van objektiwiteit sprake nie en dit was ook baie impressionisties, maar dit het ‘n intuïtiewe aanvoeling vir die digkuns geopenbaar, dus was sy oordele meestal in die kol. JM de Vries (Zuid-Afrika, November 1958) het geskryf dat hierdie bundel ’n vyftal baie waardevolle studies bevat – veral die een waarin die werk van Leipoldt op ’n nuwe en boeiende wyse belig is.

Gladstone, Van Wyk en die Nederlandse letterkundige HA Mulder, wat ook ’n dosent aan Rhodes was, het in 1945 die letterkundige tydskrif Standpunte gestig. Dit het aanvanklik as ’n kwartaalblad verskyn, maar het later ses maal per jaar verskyn en was tot die einde een van die mees gesaghebbende kulturele tydskrifte in Suid-Afrika. Behalwe gedigte, verhale en artikels in Afrikaans, is ook bydraes in Engels en Nederlands opgeneem. As redaksiesekretaris van die blad het Gladstone jare lank ’n belangrike invloed uitgeoefen op die letterkundige lewe in Suid-Afrika.

Dit was ook deur sy bemiddeling dat die Vlaamse letterkundige Rob Antonissen in 1951 na Suid-Afrika geëmigreer het en as dosent aan Rhodes aangestel is. Antonissen het gou ’n belangrike rol as kritikus gespeel en een van die beste boeke oor die Afrikaanse literatuurgeskiedenis tot op daardie stadium, Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, het uit sy pen verskyn. Toe Gladstone in 1957 na Kaapstad vertrek het, het Antonissen hom as hoogleraar opgevolg – ’n posisie wat hy tot sy dood in 1972 beklee het.

Behalwe sy pligte as dosent, digter, kritikus en redakteur van Standpunte was Gladstone tydens sy jare op Grahamstad ook op ander sosiale gebiede aktief. Die gemeenskap waarin hy hom bevind het, was een waar sy Engelse kollegas soms min simpatie getoon het vir die Afrikaanse taal en dikwels niks geweet het van die Afrikaanse letterkunde nie, terwyl die Afrikaanssprekende inwoners van Grahamstad dikwels verkies het om eerder Engels te praat. Dit het aan hom ’n nuwe missie besorg: die bevordering van Afrikaans. Jare daarna het hy vertel dat hy ’n taalstryder geword het toe hy in Grahamstad aangekom het.

Onder sy leiding het die studie van Afrikaans aan die erg Engelsgesinde Rhodes-universiteit ’n sterk dissipline geword. Die departement het studente met opvoerings van Afrikaanse dramas en werke van Europese dramaturge soos Ibsen deur die hele Oos-Kaap op toer geneem. As lid en later sekretaris van die NG Kerk se onderwyskomitee het Gladstone hom beywer vir die stigting van ’n Afrikaansmedium skool in Grahamstad. Hy het ondersoek ingestel na wat hy genoem het “die taalprobleem in onderwys” en tot die gevolgtrekking gekom dat moedertaalonderwys die doeltreffendste is. Hy het ook bevind dat daar genoeg Afrikaanse kinders in Grahamstad was om ’n enkelmediumskool te regverdig.

Maar hy en sy medekomiteelede het hewige teenstand gekry. Hulle verbintenis met die NG Kerk is teen hulle gehou en daar is gesê dat hulle ’n kerkskool wou stig. Peter Vale (Rapport, 8 Oktober 2006) skryf: "Dit is ironies as ’n mens in gedagte hou dat daar in daardie stadium reeds vyf skole met noue bande met die Katolieke, Anglikane en Metodiste in Grahamstad was. Maar Gladstone het hom nie laat afskrik nie. Hy het aangevoer dat ’n Afrikaanse skool nie '’n ontwrigtende element' sou wees nie, maar eerder kon help om verdraagsaamheid tussen die Afrikaanse en Engelse gemeenskappe te bevorder. In die idioom en denkwyse van daardie tyd het hy geskryf: 'Ons het ná alles ons afsonderlike kerke, ons afsonderlike klubs en verenigings. Waarom kan ons nie ook afsonderlike skole hê waar elke seksie toegelaat word om tot sy eie hoogste potensiaal te ontwikkel nie?'"

Die rusies met veral die Albany-skoolraad en sy voorsitter, mev ME McKerron, en sy oorgrote meerderheid Engelssprekendes was nimmereindigend. Uiteindelik is toestemming gegee om die skool te stig. Die skool is in 1956 gestig, maar McKerron het weer ’n paar jaar later vasgeskop toe die Afrikaanse skool toestemming vra om ’n koshuis te bou. Uiteindelik is die koshuis tog gebou en 50 jaar later heet dit steeds Huis WEG Louw. In 1977, toe die Hoërskool PJ Olivier 21 geword het, het Gladstone ’n stuk vir die skool se feestydskrif geskryf: “Ons land gaan moeilike tye tegemoet. Ons sal meer as ooit tevore burgers en burgeresse nodig hê wat bewus is van hul swaar verowerde geestelike en staatkundige vryheid, wat dit met die grootste noulettendheid handhaaf en verdedig, maar wat terselfdertyd diensvaardig bewus is van hul verantwoordelikheid.”

Deur middel van persoonlike gesprekke, asook deur voordragte en lesings, het hy sy bes gedoen om ’n kulturele belangstelling in en ’n trots op hulle eie taal by die Afrikaanse inwoners van Grahamstad te kweek. Tydens hierdie jare het hy ook gereeld as ouderling huisbesoek gedoen by lidmate van die NG Kerk, wat aan hom die geleentheid gebied het om sy taalgenote te leer ken en sy persoonlike invloed op hulle uit te oefen.

Gladstone het in 1957 as hoogleraar bedank. Hy het na Kaapstad teruggekeer, waar hy as kunsredakteur van Die Burger begin werk het. Hy het in Oranjezicht gaan bly, waar hy ’n groot deel van sy jeugjare deurgebring het.

Die bekende joernalis Piet Cillié, wat destyds self vir baie jare by Die Burger gewerk het, het later geskryf dat ’n aantal lede van die redaksie redelik skepties was oor die aanstelling van ’n akademikus tot die redaksie van ’n koerant: “Kan ’n professor hoegenaamd werk soos ’n koerantman verstaan: volgehoue, sigbare produksie, soms twee of drie stukke op ’n dag plus die redigering van ander se bydraes?”

Gladstone se werk het sy kritici se monde egter gou gesnoer: “Nie alleen die omvang van WEG Louw se produksie nie, maar ook die gehalte daarvan het uit die staanspoor gesoute koerantmanne geïmponeer,” het Cillié in Tydgenote, 1980 geskryf.

In ’n artikel in Die Burger van 9 Mei 2015 skryf Kerneels Breytenbach oor WEG Louw se termyn as kunsredakteur: "Louw het baie vinnig ’n eersteklas-kunsblad geskep wat die grondslag geskep het vir alles wat daarop sou volg. Hy het onmiddellik besluit dat Die Burger dié gesaghebbende stem sou word op die gebied van die letterkunde, toneel, beeldende kunste, opera en ballet.

"Omdat Louw so ’n breë kennisveld had, kon hy self ewe gemaklik oor die letterkunde, teater en ballet skryf. Daar is in sy tyd ook oor Kaapse kultuurgoed geskryf: argitektuur, meubels en Kaapse silwer.

"Hy het sy vrou gewerf as musiek- en opera-resensent en vir die beeldende kunste het hy die gerespekteerde kunshistorikus FL Alexander ingespan. Vanuit die staanspoor het hy ook ander mense genooi – of eerder toegelaat – om op enige van die terreine te skryf, mits hulle beskou is as kenners op hul gebied. So is die weeklikse radiorubriek sowel as die platerubriek geskryf deur José Rodriquez-Lopes, die land se voorste begeleier, wat getroud was met die alt Annie Lamprecht. Ander medewerkers was die Nederlander dr Jan Bouws, ’n lektor in volksmusiek aan die Universiteit Stellenbosch, en sy vrou, Juliana, asook die heraldikus Cor Pama. Louw het ook sy beroemde ouer broer, die digter en denker NP van Wyk Louw, gevra om vir Die Burger te skryf.

"Die Kunsblad het op WEG Louw se aandrang ’n vaste plek in die koerant gekry en was gou bekend as Bladsy Twee. Die inhoud was eenvoudig: lang en indringende resensies, artikels en minstens een behoorlike foto.

"Louw het nie besonder baie van mense gehou tensy hulle op dieselfde vlak as hy beweeg het nie. Wanneer Die Burger dus ’n onderhoud met ’n kunstenaar gevoer het, het dié kunstenaar geweet hy het die paal gehaal. Louw was ook ingeskakel by ’n uitgebreide netwerk – van sy broer tot by die grootste gedeelte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (en ook net die bestes onder hulle), asook feitlik alle groot beeldende kunstenaars wat Suid-Afrika sedert die jare dertig opgelewer het.

"Hy het Bladsy Twee gebruik as loopgraaf vir vele van sy 'gevegte', hetsy op literêre of kultuurterrein. Hy het onbeskaamd die redaksionele ruimte gebruik om sy teenstanders by te kom, maar dan geweier dat hul replieke op Bladsy Twee verskyn. Hulle moes maar vir hulself ’n plek vind in die koerant se briewerubriek.

"Met sy hoë standaarde het hy in sy teaterresensies nie geskroom om, soms met heelwat venyn, die sweep in te lê onder spelers wat syns insiens nie die mas opgekom het nie. Dit het hom nie besonder gewild onder akteurs gemaak nie en hy het sy opvolger, Ben de Kock, eenkeer ’n kis wyn belowe as hy kon vasstel wie ’n pakkie hondemis as kommentaar op een van sy resensies by die kantoor laat aflewer het. Ben het wyslik nie veel moeite gedoen om die akteur op te spoor nie. [...]

"Louw was dalk ’n intellektuele snob, maar ook ’n puik skrywer en skerp denker, deeglik op die hoogte met die Europese kunste. Die gevolg was dat Bladsy Twee binne ’n kort tydjie deel van die Kaapse kultuurlewe geword het – ’n maatstaf vir ander koerante."

’n Aantal van sy gewilde essays oor die uiteenlopendste onderwerpe het later in boekvorm verskyn onder die titels Onvoltooide kalender (1962) en Kolom (1964). Hy het onder andere oor die behoud en restourasie van ou Kaapse geboue, die massamedia, belang van die Nederlandse letterkunde vir Suid-Afrika, tipiese Afrikaanse geregte, Afrikaanse blomname, die beste manier om in die buiteland te reis, die Afrikaanse Bybelvertaling en tallose ander onderwerpe geskryf.

Van hierdie artikels se toon was moraliserend en opvoedkundig van aard en hy het gereeld krities gestaan teenoor destydse toestande en tendense in Suid-Afrika sowel as in die buiteland. Maar vir Nienaber-Luitingh was daar in sy werk altyd ’n teken van ’n "verfynde lewenshouding en goeie smaak", maak nie saak waaroor hy geskryf het nie – of dit nou oor kuns, die letterkunde af ander aspekte van die maatskaplike lewe was.

Die essays in Onvoltooide kalender het Audrey Blignault (Sarie Marais, 27 Februarie1963) getref deur die "direkte, lenige woord en die netjiese oorgang van ’n skynbaar triviale aanknopingspunt na ’n kernagtige bespreking van ’n klaarblyklik belangrike saak. Ons het nie hier te doen met die intiem-gemoedelike onthullingsessay van die Montaigne-stempel nie, maar dat hulle eerder staan in die teken van die soberder Baconiaanse tradisie: besinnend, ontledend, vermanend, krities. Hulle neem by uitstek die vorm aan van kritiese kommentaar op en besinning oor eietydse gebeure, veral ten opsigte van kulturele toestande, die bepaling van smaak en die toepassing van standaarde. (...) Die skrywer formuleer sy insigte en menings met die perspektief van ’n helder, dinamiese denke en die agtergrond van breë, diepgaande kennis van die geestestrominge van sy tyd.”

Gladstone is in hierdie tyd onder meer verkies tot raadslid van die Universiteit van Kaapstad en het ook in die beheerrade van die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum en van die Nasionale Museum in Kaapstad gedien. In 1965 het hy die medalje van verdienste van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging ontvang.

In 1966 is die professoraat in Afrikaans-Nederlands, en meer spesifiek in die Nederlandse letterkunde, aan die Universiteit Stellenbosch aan Gladstone aangebied en het hy met ingang Januarie 1967 by WJ du P Erlank oorgeneem. Die gesin het na hierdie pragtige historiese dorp verhuis, maar aangesien Stellenbosch nie te ver van Kaapstad is nie, het Louw steeds noue kontak met Kaapstad behou. Hy en Rosa het nog jare lank medewerkers van Die Burger gebly. Aan die Universiteit Stellenbosch met sy groot aantal studente met Afrikaans as moedertaal het Gladstone ’n vrugbare aarde gevind waarop hy sy liefde vir die Nederlandse letterkunde kon uitleef.

In September 1970 is Louw op Stellenbosch gehuldig vir sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Die huldigingsaand is gereël deur die plaaslike skakelkomitee van die FAK, die Afrikaanse Skrywerskring en die ATKB. ’n Deel van die program het bestaan uit voordragte van Louw se gedigte deur Fred le Roux, hoogleraar in drama aan die universiteit, en sy studente. ’n Paar van Louw se gedigte wat getoonset is, is gesing en Rosa was die begeleidster. ’n Oudstudent, RH Pheiffer van Kaapstad, het ’n huldigingsrede gelewer, waarna Louw ’n paar van sy ongepubliseerde verse voorgelees het.

Sestien jaar na Bybels en Babels is Louw se volgende digbundel, Naggesprek en ander gedigte, in 1972 gepubliseer. En hoewel dit nie grootse poësie bevat nie, bly hy daarin getrou aan sy individualistiese benadering en eie toon in die Afrikaanse poësie, volgens RH Pheiffer (Die Burger, 30 November 1972).

“Die bundel val uiteen in twee afdelings sonder meer aangedui as I en II. In die eerste tref ons drie lang gedigte aan en in II ’n aantal korteres, meestal met ’n strikter versvorm, waaronder een sonnet. Maar nou die eerste en langste gedig, ‘Naggesprek’. Hoe om dit te omskryf? ’n Gesprek met ’n afgestorwe broer (Van Wyk Louw), ’n gesprek wat ’n lewe lank gevoer is en deur die dood afgebreek is, maar tog ook nie sommer net so kon ophou nie. ’n Innige verbintenis wat deur die dood so plots en eensydig verbreek is, word van die kant van die lewende, die oorblywende gespreksgenoot, met soekende woorde voortgesit.

“Daar is dus, veral in die openingsreëls, ’n elegiese toon wat later verdwyn en uitmond in ’n gevoel van berusting, ja, verligting. Daar bring die afsluiting van ’n gesprek van broer tot broer ook die rus van voltooiing.

“Die gedig self is moeilik om te karakteriseer – want dis wisselend van stemming en uitdrukkingswyse. Hoofsaaklik het dit ’n praattoon, rustig en gewoon, soms mooi beeldend en ontroerend, soms bra prosaïes en na my gevoel te gemeensaam. (...) As geheel is die gedig ongelyk in waarde, met mooi momente waarin die woord poëties gelaai word, en andere waarin dit nie bo nugtere prosa uitstyg nie.

"Die tweede afdeling se verse is ’n aantal korter gedigte in verskillende versvorme, enkeles in vierreëlige strofes. Hulle is meesal beskrywend en steeds is die uitgangspunt sensitiewe waarneming, konkrete besonderhede wat saamvloei en lei tot ’n ingekeerde bepeinsing of interpretasie. Die versvorm is in die algemeen los en soepel, maar soms geneig tot slapheid (in onderdele van gedigte). Die bundel is kenmerkend van Louw se individualisme, verfyning en sensitiewe toon en bevat die neerslag van rype ervaring asook ’n bewys van wat die rustige spreekvers nog kan doen.”

Anita Lindenberg se resensie in Rapport het die vorm aangeneem van ’n “tweegesprek” met die ontslape Van Wyk Louw. Uit hierdie tweegesprek is dit duidelik dat sy die bundel van WEG Louw nie baie hoog aangeslaan het nie. "Daar word baie gesê oor baie min en dit is die snaaksste poësie wat nog in Afrikaans geskryf is. Dit is ’n vae gesweef tussen twee sfere (prosa en poësie). Rytjies-rytjies woorde loop soms flink in bliksoldaatgelid, maar dan, meteens, woeps, uit uit die gelid en in in die slapte. Dis ‘tennis with the nets down’ – en dan slaan hy nog elke keer die bal skoon uit die baan.”

Na enkele jare op Stellenbosch het die Louws hulle op ’n kleinhoewe buite Stellenbosch gevestig wat Gladstone Sondraai genoem het. In sy latere poësie het hy met trots en liefde verwys na sy eie “plasie tussen wingerd en olywe” wat “oop tussen berg en see gewig” lê. Veral die gedig “Sondraai” in sy bundel Vensters op die vrees (1976) kan gesien word as ’n "dankbare gesang vir die idilliese woonplek wat hy teen die einde van sy lewe bekom het".

Die Louws het verskeie kere korter of langer besoeke aan Europa gebring, waar Gladstone lesings aangebied het in Nederland en België. Na ’n reis van twee maande deur Italië, Griekeland en die Midde-Ooste het hy ’n boeiende reisverslag geskryf wat in 1969 gepubliseer is onder die titel So ver as ’n engel te perd kan ry.

In Die Transvaler (1 Junie 1970) het PD van der Walt geskryf dat die publikasie na sy smaak ’n bietjie te "oorvloedig" is, daar tog stukke is wat die moeite werd is om te lees. Die eienskappe van Louw se digwerk, soos sy fyn waarnemingsvermoë en sy verwoording wat netjies en sensitief is, is ook in hierdie stukke duidelik sigbaar. “En die woordvoerder in die reisverslag is ’n belese en lewenswyse mens, deurdronge van ons kultuur, sodat sy wedervaringe en die weergawe daarvan meestal sinryk en boeiend is. En so menslik. (...) WEG Louw het gaan soek in die bakermat van ons beskawing en deur middel van sy boek ons as lesers iets meegedeel van ons geestelike erfgoed.”

Tydens die Louws se verblyf in Italië het hulle in ’n klein hotelletjie in Toskane, die Villa Scacciapensieri, “’n nag of wat” gebly. Terug in Amsterdam het Gladstone die gedig “Villa Scacciapensieri” geskryf. In September 2001 was die klein hotel die gasheer vir ’n ongewone seremonie: die “onthulling” van die geraamde afskrif van hierdie gedig van WEG Louw, met die Engelse en Italiaanse vertalings langsaan. Die hotelbaas het aan Lorraine Braid (Insig, Januarie/Februarie 2002) vertel dat veral Nederlandse en Duitse gaste gereeld gaan staan om die Afrikaanse woorde aandagtig te lees en te probeer ontsyfer:

Die Monseigneur se klok wat praat
in die verte uit die katedraal,
en aan Siëna sê dat God
weer opgestaan het met die son,
die boer gesien het in sy tuin,
die hasie in die dou, die slaai,
die jagter en sy koeël, álles;
en dat dit goed is met sy werk.

Gladstone se laaste bundel voor sy voortydige afsterwe, Vensters op die vrees, is in 1976 gepubliseer. RH Pheiffer (Die Burger, 28 Oktober 1976) het geskryf dat die verskeidenheid van tema en versvorme wat in die 12 gedigte in die bundel voorkom, groter is as wat ’n mens uit die omvang sou verwag. Benewens kenmerke wat as tipies van Louw se werk herken sal word (soos die fyn genuanseerde sintuiglikheid en ’n sterk pikturale element), is daar ook verse wat vernuwing in tema en toon bring.

“Sommige verse bevat jeugherinneringe soos die nagtrein oor die Karoovlaktes in ‘Matjiesfontein’, maar daarbenewens is daar in dié kort gedig twee temas wat sterker as voorheen in hierdie digter se werk na vore kom, naamlik dié van die tyd en die vrees. (...)

“Louw toon steeds sy soepel hantering van ’n uiteenlopende reeks versvorms – vrye vers, die sonnet, hegte rymende strofes. Een aspek wat meermale na vore kom, is sy pogings om vanuit die gesofistikeerde milieu van ’n vers soms te gryp na ’n volkse spreektaalvorm, byvoorbeeld ‘’n vrytjie vry’, ‘so kap die boere dit mos uit’, ‘sweerlik’, ‘smoel’, ‘juffie’, ensovoorts. Na my gevoel is hierdie pogings om ’n brug te slaan na die eie omgewing deur middel van ’n meer gemoedelike, gemeensame woordgebruik, nie geslaag nie, trouens nie nodig nie. Dit val te seer buite die toon van die res van Louw se taalgebruik.

“Daar is gedigte van minder allooi, en seker ook insinkings in die genoemde gedigte waar die vers nie oral heg en gekonsentreerd van segging is nie. Maar oor die algemeen is dit, hoewel nie oral ewe maklik toeganklik nie, op ’n hoër niveau as sy vorige bundel en ’n belangrike nuwe bydrae tot sy werk.”

Toe Gladstone die ouderdom van 65 bereik, en daarmee ook sy aftree-ouderdom, het sy kollegas, oudstudente en vriende hom met die bundel Skanse teen die tyd (1978) gehuldig. Verskillende bydraes oor sy letterkundige en ander werksaamhede is daarin opgeneem. Die Junie 1978-nommer van Standpunte is ook aan hom en sy werk gewy.

Op 24 April 1980 is Gladstone onverwags aan ’n hartaanval op Sondraai oorlede. Hy het nog die vorige aand poësie met ’n groep studente (lede van die groep “Kaapse studente” wat hy self gestig het) bespreek.

’n Roudiens is vir hom op Stellenbosch gehou, en Hennie Joubert, afgetrede hoogleraar in die teologie aan die Universiteit van Fort Hare, het die diens gelei. Gladstone is veras en Flip Theron van die NG Gemeente Welgelegen op Stellenbosch het die kort verrigtinge by die Maitlandse krematorium gelei.

Na Gladstone se dood het Rosa sy as bewaar tot haar dood in 2000. Voor hul dood het hulle die wens uitgespreek dat hul as in die Verlatekloof, ’n pas sowat 20 km van Sutherland, gestrooi moet word. Hul oorlewende seun, Paul, en die Museumraad van Sutherland het egter besluit om die as eerder by die Louw-huis te begrawe. Dit is die huis waar Gladstone gebore is en wat in 1987 deur Rosa as museum geopen is. In 2006 is sy as, sowel as dié van Rosa, by die Louw-huis op Sutherland ter aarde bestel.

Die Louw se huis is in 1987, met die herdenking van die 80ste verjaardag van NP Van Wyk Louw, ingewy as huismuseum ter nagedagtenis aan die twee digter-bouers aan die Afrikaanse taal. Dit dien tegelykertyd as Sutherland se dorpsmuseum én die Roggeveldse streekmuseum. In 1997 is die Louw-Museum heropen nadat dit opgeknap en herstel is. Ton Vosloo, destyds uitvoerende voorsitter van Nasionale Pers, het die opening waargeneem.

Die groep belangstellendes wat vir die opknapping verantwoordelik was, het hulle daarvoor beywer om die huismuseum uit te bou as ’n plek waar die lewe en werk van die Louw-digters lewendig gestalte sal kry. Die doel is onder meer om daarvan ’n waardige en insiggewende taaltoerbestemming te maak.

Tot sy dood het Louw in die redaksie van Standpunte gedien, was hy toneelkritikus van Die Burger, direkteur van Historiese Huise in Suid-Afrika Beperk, en namens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns letterkundige raadgewer vir die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Hy was sedert 1944 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie en vanaf 1960 ook lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Die Friese Akademie het hom in 1954 met erelidmaatskap vereer en in 1970 is die Gustav Preller-prys vir sy letterkundige kritiek deur die Suid-Afrikaanse Akademie aan hom toegeken.

Sy postume digbundel Opvlugte en opdragte word in 1980 deur Tafelberg uitgegee. Dit verskyn as ’n gewone uitgawe maar ook as ’n luukse uitgawe, genommer van 1 tot 66, wat van kosbaarder materiaal gemaak is as die gewone een en dit laat dit lyk na die versamelaarstuk wat dit is. Die lees van die gedigte in die duur uitgawe is ook met ’n soort aromatiese bonus beloon, want die bladsye gee die allerheerlikste “nuwe boek”-geur af.

In sy bespreking van die bundel het Etienne Britz (Oosterlig, 13 Julie 1981) geskryf dat ’n mens gerus lank na die semiformele foto van Louw deur die fotograaf Colin Edwards kan kyk, want “die merkwaardige persoon wat met sy Opvlugte en opdragte ’n laaste bydrae tot die Afrikaanse poësie lewer, was – anders as die meeste mense – in die werklikheid gelyk aan ’n enigsins formele foto van homself, dit wil sê hy was van binne-uit gedistingeerd. WEG Louw was volmaak tuis in die milieu van geestelike en estetiese dinge. Hy was ’n gekunstelde egtheid, ’n skone skyn wat terselfdertyd ’n skone syn was. Sy integriteit was helder, bewoë, heftig, soos die foto ’n mens vertel as jy dit met aandag betrag.”

Die eerste afdeling van die bundel se titel is “Opvlugte”. Volgens Britz moet die woord klaarblyklik “gepoëtiseerde opvliegings”, “estetiese woede-uitbarstings” beteken, want die afdeling word ingelei met ’n reeks sterk, “verontwaardigde” gedigte getiteld “Sewe ballades met ’n proloog”. Hierdie ballades vorm ’n bitter tirade teen die korrupsie van die hede. “Die grondliggende tematologiese opposisie in die bundel, die geskil met die geskiedenis wat die meeste gedigte inspireer en vol intense gevoel maak, kom dan ook die skerpste in dié afdeling na vore. Louw verheerlik in Opvlugte en opdragte die ‘ou Weste’, die klassieke en vervolgens verchristelikte Europese beskawing.

“Dié beskawing word ook verheerlik in soverre dit met die koms van die blanke na Suid-Afrika hier gevestig is. Daarteenoor spreek hy ’n klag, ’n waarskuwing of ’n verdoemenis uit oor verskillende magte en geestestrominge wat in ons tyd dié lewensorde bedreig.”

Die opskrif van die tweede afdeling is “Opdragverse” en dit verwys daarna dat byna elke gedig in hierdie afdeling aan ’n vriend of vriendin van die digter opgedra is. “Terwyl die ‘reaksionêre’ strekking van die bundel hier voortgesit word, is daar ook sprake van ander motiewe. Dié motiewe sou ’n mens miskien onder die algemene noemer van ‘die liefde’ kon tuisbring.

“WEG Louw was ’n liefhebber van die lewe. Hy het nie die ongelukkigheid van die twyfelaar of die komplekse senubol geken nie, maar het dit wat die lewe hom gebied het, met oorgawe liefgehad en gewaardeer. Die ‘Opdragverse’ is in ’n sekere sin ’n inventaris van alles wat Louw liefgehad en geniet het en dus ‘liries’ oor kon raak: die natuurskoon, die poësie, die God van die Bybel en die Kerk, blanke Suid-Afrika en sy simbole, sy vrou, sy kindertyd en studentedae, en ook: sy vriende, wat hy een vir een met hierdie opdragverse vereer. (...) Die opdragverse is nie alleen fynsinnig nie, maar het ook ’n aandoenlike kwaliteit van opregtheid. ’n Gedig soos ‘Amsterdam, September 1939’ toon vir my die digter WEG Louw op sy beste: sensitief, emosievol, met ’n suiwer aanvoeling vir die mooiste woord, nie al te ‘verhewe’ van gedagtegang nie.”

Die derde afdeling van Opvlugte en opdragte bevat ’n afdruk van die digter se laaste versplan. Hy wou nog ’n reeks verse geskryf het wat sou heet: “Veertig variasies op die tema: Dood en Opstanding”. “Terwyl die ‘Opdragverse’ vreemd genoeg op ’n mens die indruk van ’n afskeidsgebaar maak, byna asof die digter sy eie dood voorsien het, sou dié ‘versplan’, as hy daaraan uitvoering gegee het, oor opstanding, dit wil sê oorwinning oor die dood, gehandel het.

“Dié laaste afdeling word ingelui met ’n beskrywing deur sy vrou, Rosa Nepgen, van sy laaste lewensdag, toe hy haar van dié nuwe projek vertel het. So kry ons vir oulaas ’n insae in die lewe van WEG Louw: Dié onvervangbare tegelyk kinderlik-suiwere én aristokraties-gekultiveerde gees wat ons ontval het.”

Volgens Nienaber-Luitingh sal WEG Louw as digter belangrik bly vanweë sy besielende invloed in die jare dertig op die ontwikkeling van die moderne Afrikaanse digkuns. Sy eie bydrae tot die Afrikaanse digkuns lê eerder in sy latere gestaltepoësie en die verse oor belangrike kunswerke as in die liriese, soms ietwat narsistiese en retoriese, belydenisgedigte uit sy jeugjare. Die musikaliteit van sy vroeëre gedigte het verskeie komponiste in Nederland, België en Suid-Afrika in so ’n mate geïnspireer dat hulle (Blanche Gerstmann, Arnold van Wyk, Rosa Nepgen, Johannes Röntgen, Wolfgang Wijdeveld, Flor Peeters en Rudolf Mengelberg) van sy gedigte getoonset het.

Gladstone was ’n mens wat sy gevoelens moeilik kon verberg en wat op sy punt gestaan het. Dit het hom herhaaldelik in botsing met ander gebring. Hy het ’n hele aantal male in openbare letterkundige polemieke betrokke geraak en het geneig om soms erg persoonlik te raak. As gevolg daarvan het hy vir seker vyande gemaak. Maar aan die ander kant was daar vele vriende en oudstudente wat die grootste bewondering vir hom gekoester het – nie alleen om sy welsprekendheid nie, maar ook om sy heel beminlike persoonlikheid. Sy studente het sy aansteeklike geesdrif vir sy vak waardeer en ook sy menslike belangstelling wat hy vir hul persoonlike probleme aan die dag gelê het.

Huldeblyke

  • Etienne Britz: "Louw se hele lewenswerk word gekenmerk deur ’n intense liefde en ywer vir die saak van die Afrikaner en sy kultuur, met daarby die ideaal dat die Afrikaanse kultuur aan die diepsinnigheid en verfyning van die Europese kulture gelyk sal word. Uit dié strewe ontstaan nie alleen ’n oeuvre van sewe digbundels nie, maar ook ’n dinamiese aktiwiteit op gebiede soos die opvoeding, die literatuurwetenskap, die kerkmusiek, die toneelkuns, die grafiese kuns, die bewaring van historiese geboue en artefakte, die vertaling van die Bybel en nog ander. Op elkeen van hierdie terreine het Louw se bydrae ’n prakties-totstandbrengende en kwalitatief-verheffende uitwerking gehad. (...) Talryke belowende studente het in WEG Louw se huis ’n werklik beskaafde Afrikaanse wellewendheid ontdek, en kon hulle verryk nie alleen aan sy kennis en begrip van hul vakbelangstellings nie, maar ook aan die voorbeeld van menslikheid en integriteit wat hy altyd gestel het. Jong skrywers was veral aangetrokke tot Louw se vriendelikheid, egte belangstelling en eie skeppende ervaring. (...) WEG Louw se dood skep ’n ernstige verantwoordelikheid teenoor ’n tradisie van inisiatief, vernuwing, idealisme, menslikheid, volkstrou, werksywer en hoë standaarde op alle vlakke wat hy op ’n uitsonderlike manier help opbou het." (Die Burger, 8 Desember 1977)
  • MJ de Vries, rektor van die Universiteit Stellenbosch: "Ons dank hom dat so ’n groot deel van die diens wat aan hom gegun was, aan ons universiteit gelewer kon word. Die genot wat hy uit sy werk gehaal het, was ’n inspirasie vir vele en veral vir sy studente, wat sy borrelende entoesiasme daagliks kon ervaar." (Oosterlig, 29 April 1980)
  • JC Kannemeyer: "WEG Louw het, afgesien van sy poësie, ’n belangrike vormende invloed gehad as kritikus, koerantman, dosent en as redakteur van die tydskrif Standpunte. As mens was Louw ’n aangename, vriendelike en oop ontvanklike persoon. WEG Louw het met die jare ’n oeuvre opgebou wat ’n geleidelike groei en innerlike rypwording vertoon het en wat in sy beste verse van suiwer vakmanskap getuig. Met sy poësie van die dertigerjare het Louw vir die eerste keer in Afrikaans stem gegee aan die romantiese jongeling met sy vreugdes, frustrasies, sy gevoel van verlatenheid, sy opstand en berusting. Dié poësie is geskryf in ’n tipe vers wat indertyd ’n rewolusionêre breuk met die vroeë Afrikaanse digkuns verteenwoordig." (Vaderland, 28 April 1980)
  • Ernst Lindenberg: "WEG Louw was iemand wat baie intens met die Afrikaanse kultuur saamgeleef het en daarom sal sy afsterwe ’n leemte laat. Dit is treurig dat die dertigertydperk nou aan die verbygaan is." (Vaderland, 28 April 1980)
  • DH Steenberg: "Louw se Christelike verse staan hoog uit in Afrikaans. Hy het met sy Passie-sonnette nuwe klem gelê op die hantering van Bybelse stof deurdat dit in sy verse meer geword het as net historiese gegewe." (Volksblad, 24 April 1980)
  • PJ Nienaber: "Louw het die Hertzogprys verower ondat hy ’n nuwe toon gegee het met sy bundel Die ryke dwaas. Hy is allerweë as een van die beste toneelkritici in die land gereken. Sy heengaan is ’n groot verlies vir die Afrikaanse kultuurlewe." (Volksblad, 24 April 1980)
  • JH Senekal: "Sy afsterwe is ’n groot verlies vir Afrikaanse letterkunde. Hy was ’n man wat oor ’n lang tydperk oor die hele terrein van die kuns en letterkunde ’n groot bydrae gelewer het." (Volksblad, 24 April 1980)
  • Uys Krige: "Louw se dood is ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde. Hy het die moderne vers soos ons dit vandag ken, ingelui. Hy was die eerste digter van dertig en het baie van sy verse geskryf voor hy nog 20 jaar was. Hy het reeds in daardie vroeë jare beelde gebruik wat vandag nog modern is." (Volksblad, 24 April 1980)
  • André P Brink: “Met Louw se heengaan val een van die laaste skakels met Dertig weg. Hy sal altyd ’n plek behou as die een wat die beweging van Dertig oopgemaak het en die vernuwer by uitstek was." (Volksblad, 24 April 1980)
  • Piet Korthuys: "WEG Louw is gestorven. Maar van een poëet blijft de stem spreken, ook als zijn mond voor altijd is gesloten. Dat kan ons helpen de ondraaglijke werkelijkheid dat een vruchtbaar leven afgebroken is, toch aan te kunnen. Ik herlees WEG Louws gedicht over onverganklikheid:

    Ons is almal sterwelinge
    wat vreemd staan onder die sterre;
    ons is almal sterwelinge
    wat luister na die verre
    stemme oor die heuwels en die water,
    wat nog nie weet van die verloregaan
    van alle dinge later. (Zuid-Afrika, 31 Mei 1980)

  • PJ Cillié: "Nie alleen die omvang van WEG Louw se produksie (as kunsredakteur van Die Burger nie), maar ook die gehalte daarvan het uit die staanspoor gesoute koerantmanne geïmponeer. Hy het die leier geword van ’n landwye herlewing van beriggewing en meningsvorming oor letterkunde en kuns. Na sy vertrek na die Universiteit van Stellenbosch het Die Burger in ’n hoofartikel sy betekenis vir die joernalistiek só saamgevat: ‘Dr Louw het die verskillende kulturele afdelings van Die Burger onder hande geneem en met die hulp van ’n goed gekose span medewerkers belangstellinge gekweek, standaarde gestel en strewes aan die gang gesit wat nie met sy vertrek sal verdwyn nie. Aan ons bladsy twee en die ander rubrieke wat hy òf self behartig òf beheer het, het hy ’n status en gesag gegee wat Die Burger se aansien op daardie gebiede aansienlik verhoog het. Veel van sy werk het as model gedien wat navolging by ander Afrikaanse koerante gevind het. In welke mate dr Louw se koms na Die Burger en sy werk hier aan ’n groeiende behoefte veral onder die Afrikaners voldoen het, het die dankbare reaksie op daardie verbreding en verryking van die koerant se inhoud getoon.’” (Die Burger, 25 April 1980)
  • Die Burger se hoofartikel van 25 April 1980: "Saam met die familie en ’n skaar van vriende en bewonderaars oral waar Afrikaans lewe, betreur Die Burger die skielike heengaan van Gladstone Louw, digter van Dertig, literator, leermeester, toneel- en kunskenner ... en nog veel meer, want hy het ’n verskeidenheid van kultuurgebiede ontgin en verryk. By ons koerant sal hy in die herinnering bly as ’n vernuwer by uitnemendheid. (...) Hy het leiding gegee, volhardend en onvermoeibaar, in rigtings wat vandag geld as vanselfsprekend, maar wat indertyd versper was deur onverskilligheid sowel as verset: die bewaring van mooi ou geboue, die opbou van die Afrikaanse toneel, die simpatieke bekendstelling van ’n nuwe geslag van naoorlogse skrywers, die opskerping van goeie smaak vir ernstige musiek en beeldende kuns. Sonder joernalistieke ervaring in die engere sin, het hy instinkmatig die koers van groot meningvormende joernalistiek ingeslaan deur sy artikels en rubrieke aan die voorpunt te stel van wat naderhand gesien kon word as ’n algemene kulturele herlewing en vernuwing. Hy het meer gehad as ’n sin vir wat nuus is: hy het geweet wat op sy eie gebiede nuus behóórt te wees en daarom nog gaan wórd. So het hy ’n voorloper en pasaangeër geword in die literêre en estetiese koerantjoernalistiek van die jare sestig en sewentig. Sy benadering het navolging gevind, sy uitvoering het standaarde gestel. Ons ander het geleidelik eers besef hoe nodig Die Burger en ons land hom juis in daardie tyd gehad het."
  • Ernst van Heerden: "Vir iedereen wat met sake van die gees en intellek te doen het, sal die begrip kultuurmens ’n eie persoonlike aksent inhou. Maar dat kultuur met ’n innerlike beskawing saamgaan, sal niemand betwis nie. In hierdie sin was WEG Louw ’n kultuurmens in die mees fundamentele, die ruimste sin van die woord: nie net as bydraer deur sy eie skeppende werk nie, maar ook as beoefenaar van ’n beskaafde lewenstyl en wat ’n mens ’n estetiese lewenshouding kan noem. Want WEG Louw was ook ’n kwaliteitsmens en steeds die soeker na die kenmerke van voortreflikheid, of dit nou in ’n gedig, ’n skildery, ’n toneelopvoering, ’n musiekstuk, ’n beleë wyn of ’n keurige tafelgereg was. (...) As draer van ’n aristokratiese, kompromislose standpunt in die geesteswêreld van die Afrikaanssprekende was WEG Louw ’n man van kaliber wat ons beswaarlik kan mis. Maar ons is dankbaar vir die verryking uit daardie gesin van mnr B von M Louw, prokureur van Sutherland, wat in 1920 na die Kaap verhuis het en so ’n erfenis van begaafdheid en prestasie nagelaat het." (Beeld, 26 April 1980)

Na Louw se dood het sy weduwee, Rosa, sy dokumenteversameling aan die Universiteit Stellenbosch geskenk. Dit het ’n ruimte van 23 liniêre meter in die dokumentasiesentrum van die JS Gericke-biblioteek beslaan. In Mei 1988 het Rosa ’n kopie van die katalogus in ontvangs geneem. En dit was van hierdie materiaal wat JC Kannemeyer en sy medewerkers gebruik het om Ek ken jou goed genoeg: die briefwisseling tussen NP van Wyk Louw en WEG Louw 1936–1939 in 2005 te versorg, saam te stel en van ’n inleiding te voorsien.

En onmiddellik het hierdie bundel briewe ’n klein stormpie op die Afrikaanse letterkundige toneel veroorsaak. Die familie van die broers het ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad teen JC Kannemeyer, Protea Boekhuis en die Universiteit Stellenbosch ingedien. In hofstukke het Peter Louw, seun van NP Van Wyk en Truida Louw, beweer dat die publikasie van die briewe “die doodskoot (kan) wees vir die reputasie van die Louws” en dat dit Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde “enorme skade (kan) berokken”. Hierdie aansoek van die Louw-familie om verdere verspreiding van die bundel briewe te keer, was egter onsuksesvol.

Etienne Britz skryf oor hierdie publikasie (Die Burger, 28 Maart 2005): “WEG Louw is 22 jaar oud aan die begin van 1936. NP van Wyk Louw 29. Albei broers leef in die gloed van hul twintigerjare en is temperamenteel geneig tot vurige oortuigings. Ná hul kinderjare op die oer-Afrikaanse Karoodorp Sutherland, en opleiding aan die oer-Engelse SACS en Universiteit van Kaapstad, voel albei geïnspireer om die Afrikanersaak te dien met radikale toewyding en hartstogtelike taalgebruik. Die wêreld was ’n gans ander plek as vandag. In 1936 word die Olimpiese Spele in Berlyn aangebied, ’n vertoonkas vir die jeugdige vitaliteit van Nazi-Duitsland. Hitler het sy ergste vergrype nog nie laat sien nie. In België juig duisende Vlaminge die opkoms van die Duitse nasionaal-sosialisme toe. Ook in Suid-Afrika word talle jong mense besiel deur die moontlikhede wat die nuwe Duitse beweging skynbaar vir die verslane Afrikanervolk oopmaak. Die aktrise Anna Neethling-Pohl eindig haar briewe met ‘Ariese groete’.

“Jodehaat, vandag feitlik onbekend onder Afrikaners, vorm in 1936 ’n belangrike onderdeel van die Afrikaner-nasionalistiese beweging. Twee takke van die Nasionale Party laat byvoorbeeld geen Jode as lede toe nie. Ook die immigrasie van Jode word bestry deur dr DF Malan se Nasionale Party. Jode word enersyds geassosieer met die kapitalisme en andersyds met die kommunisme in Suid-Afrika. Hulle word gesien as die grootbase van ’n industriële en kommersiële kompleks wat die verarmde Boerevolk uitbuit en verkneg. Andersyds loop Jode vooraan in die vakbonde en in die kommunistiese beweging wat die Afrikaners wil gelykmaak met die mees onderontwikkelde bevolkingsgroepe in Suid-Afrika.

“Onder hierdie politieke omstandighede vertrek WEG Louw as jong student na Nederland. So ontstaan ’n briefwisseling met sy ouer broer wat volgehou word tot 1939, die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog uitbreek.

“Veral in die briewe van 1936 tot ongeveer die middel van 1937 sien ons hoe die strominge van daardie tyd die Louw-broers beetgepak het. WEG Louw, wat die situasie in Wes-Europa aan sy eie lyf ervaar, skryf met bedenkinge en waarskuwings oor Nazi-Duitsland. Van Wyk Louw voel egter gefrustreer deur die verwaterde ‘Smelter’-politiek van Smuts en Hertzog in Suid-Afrika. Hy sien die nasionaal-sosialisme as die aangewese manier om die Afrikaner reg te ruk en op die strydbare pad na republiekwording te plaas. Saam met sy kleinboet kyk Van Wyk Louw ook met argwaan na die rol van die Jode in Suid-Afrika, onder meer na die invloed wat die Jood IW Schlesinger op die Afrikaanse media gehad het.

“Kortom, die kort ‘Nazi-fase’ van Van Wyk Louw, wat nie tot veel later as 1937 geduur het nie, word in die briewe blootgelê. Ek is nuuskierig om te sien watter kritici hierdie briewe gaan misbruik om die liberaliserende en buitengewoon verheffende rol wat Van Wyk Louw later in die Afrikaanse geesteslewe gespeel het, te probeer doodverf. Ná 1937 word Hitler se naakte aggressie in Europa steeds duideliker vir WEG Louw, en word Van Wyk Louw al hoe stiller oor Duitsland.

“Afgesien van kritici wat hoop om afbreuk te kan doen aan die nagedagtenis van die Louw-broers met behulp van hierdie intiem persoonlike briewe uit die dertigerjare, sal lesers wat in hul literêre stryd geïnteresseerd is, baie uit die uitstekend versorgde brieweversameling kan leer. Die Louws het duidelike, idealistiese doelstellings gehad en ook duidelike afkeure en vyande. Hulle wou met hul werk ‘vir ons verflenterde volk iets gemeensaams gee’, soos Van Wyk Louw dit stel. Maar dit moes nie middelmatige of banale leesstof wees nie. Dit moes getuig van gehalte, goeie smaak en besieling.

“Veral WEG Louw kon dit nogal teatraal in sy briewe stel. Hy het ’n ‘heerlike stryd’ vir hom en sy broer sien voorlê, ‘met ’n einddoel te groot om nou al helder in woorde te kan sê’. Kleinboet Louw het gesweer om ‘met hele hart en siel en moed en droom en daad’ aan dié stryd mee te werk. Met ‘vlam en swaard en stormvlaag’ sou hulle hul vyande die hoof bied. Onder dié vyande het die gevestigde Afrikaanse literêre kritici getel, die ‘broodletterkundiges’ met hul ‘literêre gesmous’. Tientalle van dié ‘aartssotte’ het ons letterkundige leerstoele volgesit.

“Hierdie uitgawe maak van die Louw-broers menslike persoonlikhede. Tradisioneel word hulle ‘groter as lewensgroot’ voorgestel. Hier leer ons die twee invloedryke digters ken soos hulle werklik was, binne ’n bewoë tydsgewrig wat klaarblyklik ’n groot invloed op hulle uitgeoefen het.”

In sy Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, band I het JC Kannemeyer WEG Louw se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde as volg saamgevat: “WEG Louw is vir die Afrikaanse letterkunde van belang deur die besieling wat daar aan die begin van Dertig van hom uitgegaan het en deur die pleidooie vir en sensitiewe studies oor die digkuns van sy geslag, terwyl sy kritiese opstelle oor Totius en Leipoldt belangrike herwaarderings en korrekter waardebepalings bring. As digter maak hy aanvanklik ’n bydrae met impressionisties-sensitivistiese verse en gedigte oor volkse figure, terwyl sy geding-met-God-poësie en belydenisse met die jare heelwat van hulle glans moes inboet. Tot sy beste werk behoort enkele sonnette oor Bybelse figure en die passie, lang epiese verse oor Ou-Testamentiese karakters en kunstenaarsgestaltes, ’n aantal vrye verse oor Europese temas, ’n bekoorlike Franse ballade, ’n paar gedigte oor sy jeugwêreld en enkele aktueel-politieke verse. Sy poësie toon met die jare geen dramatiese vernuwing of deurbraak na iets anders nie, maar eerder ’n innerlike rypwording, ’n stadige groei wat in sy beste verse van suiwer vakmanskap getuig.”

Publikasies

Publikasie

Die ryke dwaas

Publikasiedatum

  • 1934
  • 1935
  • 1943
  • 1955
  • 1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1934

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

De nieuwere Afrikaanse poëzie

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewers

’s-Gravenhage: Daamen

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Terugtog

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1942
  • 1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Die invloed van Gorter op Leopold: ’n bydrae tot die sensitivisme

Publikasiedatum

1942

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Beperk

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Adam en ander gedigte

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1949
  • 1968
  • 1972

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Constantia
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Bybels en Babels: verse

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Vaandels en voetangels: opstelle pro en contra

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Ou wyn van vreugde: opstelle oor ons ouer poësie

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Onvoltooide kalender: essays

Publikasiedatum

1962

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Kolom: veertig opstelle

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

So ver as ’n engel te perd kan ry

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverslag

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Twee bronne van vernuwing in die poësie van NP Van Wyk Louw

Publikasiedatum

1971

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

“Is die poësie nutteloos?”

Publikasiedatum

1971

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Skrywerskring

Literêre vorm

Lesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Naggesprek en ander gedigte

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1975

ISBN

0624002950 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1978
  • 1988

ISBN

  • 0624003671 (hb)
  • 0624026094 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vensters op die vrees

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624009335 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Persoonlike perspektiewe: WEG Louw in gesprek met Roy Pheiffer

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624010473 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige gesprek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Opvlugte en opdragte

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014614 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

_

 

Publikasie

Ek ken jou goed genoeg: die briefwisseling tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw 1936–1939. JC Kannemeyer (redakteur)

Publikasiedatum

2005

ISBN

9781869190880 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

  • Brieweboek
  • Letterkundige biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Briewe van WEG en NP Van Wyk Louw 1941–1970. JC Kannemeyer (redakteur)

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780987002228 (sb)

Uitgewers

Hermanus: Hemel en See Boeke

Literêre vorm

  • Brieweboek
  • Letterkundige biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

WEG Louw as vertaler

  • Flaubert, Gustave: Die legende van Julianus die Herbergsame. Kaapstad: Nasionale Pers, 1940
  • Géraldy, Paul: Hélène. Kaapstad: Nasionale Pers, 1939
  • Reidel, Marlene: Kasper se wêreldreis. Kaapstad: Tafelberg, 1960 (vertaal saam met Rosa Louw)
  • Shaw, George Bernard: Johanna die soldaat van God. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1962

WEG Louw as redakteur en samesteller

  • Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt. Kaapstad: Tafelberg, 1978 [ISBN 0624011682 (sb)]
  • Leipoldt, C Louis: Vyftig gedigte van C Louis Leipoldt. Kaapstad: Balkema; Nasionale Boekhandel, 1946, 1951, 1956, 1962
  • Tussen die engtes: ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Kaapstad: HAUM, 1940 (redakteur saam met DB Bosman en NP Van Wyk Louw)

Artikels oor en deur WEG Louw beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top