Weerwraak

  • 1

Die druppels sny tot in haar gemoed terwyl sy met die skropborsel stoei. Vader, wat het sy gedoen om die aalwynbeker te verdien? Waarom het haar prins in ’n padda ontaard toe sy hom gesoen het? Hoe groot moet sy die stort se warm krane oopdraai – hoe hard moet sy skrop om al die jare se pyn, vernedering en smart van haar voosgebruikte liggaam af te skrop? Hoeveel seep is nodig om dit wat onrein is, weer rein te maak?

Haar liggaam voel nog steeds rou van al die geskroppery wanneer haar vriendin ’n bietjie later ’n koppie Earl Grey-tee in haar rukkende hande druk.

“Wie sal my tog glo?” beantwoord sy haar vriendin se stille vraag. “’n Vrou is seker maar veronderstel om dít vir haar man te doen ...”

“Marieta, dit wat Dirk aan jou doen, is verkragting ... Punt.”

Marieta neem ’n sluk van die Earl Grey. Haar gunstelingdrankie proe vandag na níks nie. As die pyn net wil bedaar ...

“Gaan polisie toe en gaan maak ’n saak ... daar is baie mense wat jou sal ondersteun. Vrouemishandeling word nie meer in ons tyd en in hierdie eeu geduld nie!” tier haar vriendin voort.

“Ag Liefie, hy steur hom tog aan geen interdik nie – ek het dit al probeer. Wegloop help ook nie. Hy vind my maar net weer. Dit is ook darem net as hy te veel Klipdrift saam met die manne gedrink het. Iewers in hom moet daar nog iets wees van die man wat ek liefgekry het,” probeer sy haar vriendin paai, maar sy voel moeg. Lewensmoeg.

“Ons moet dadelik vir jou ’n werk kry, want jy is te totaal en al afhanklik van hom.”

Marieta skud haar kop. “Wie sal my tog wil aanstel? Buitendien, Dirk sal my nooit toelaat om te gaan werk nie.”

Nadat hulle hul tee in stilte klaar gedrink het, help Liefie vir Marieta kamer toe. Met ’n “ek is net ’n telefoonoproep ver as jy my hulp nodig het” groet sy en verdwyn om die deur.

“O, ja! Ek onthou nou eers: wil jy nie asseblief Dirk se voorskrif vir my by die apteek gaan kry nie – en ook asseblief ’n sterk pynpil vir my!” skree sy agter Liefie aan.

Nadat Marieta die pynpil by Liefie geneem het, het sy aan die slaap geraak en sy skrik net so voor vier die middag wakker. Sy sal moet roer om kos vir Dirk te maak. Solank sy hom nie kwaad maak nie, is hy darem oukei ...

“Tra-la-la! Ek het ’n verrassing vir jou!”

Marieta klap amper die pan vol eiers bo van die stoofplaat af wanneer Dirk skielik agter haar bulder. Sy het hom nie by die voordeur gehoor inkom nie. Seker maar omdat sy so versonke in haar eie gedagtes is. Sy voel om te braak wanneer sy omdraai en die bos geel affodille wat hy kammakastig boetvaardig na haar toe uithou sien. Hoeveel maal kan jou gunstelingblom as soenoffer aangebied word voordat dit in jou absolute-haat-blom verander?

“Baie dankie, Dirk, dit is gaaf van jou,” ontvang sy die blomme gemaak-ekstaties.

“Enigiets vir my mooiste blom ...” antwoord Dirk joviaal en druk sy lippe teen haar wang. “Prinses, ek is jammer oor gisteraand. Ek was dalk ’n klein bietjie rof ... Maar jy is so mooi ... Jy maak die ondier in my wakker.”

“ʼn Klein bietjie rof? Jy kom gesuip hier aan en dan moet my lyf dit ontgeld? ʼn Klein bietjie rof se gat man!”

Marieta tree verskrik terug wanneer sy besef wat sy so pas kwytgeraak het. Sy weet mos nou al teen hierdie tyd dat ’n mens nie so met Dirk kan praat nie. As hy gesê het hy is jammer, moet jy sy verskoning met grasie aanvaar of die gort is gaar.

“Jammer Dirk, ek het dit nie so bedoel nie,” probeer sy verskoning maak; “ek is net ’n klein bietjie oorstuurs. Baie dankie, weer eens, vir die blomme.”

Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in Dirk se oë. Oë wat haar lank gelede aan varsgemaalde koffiebone laat dink het. Oë wat nou vir haar slegs die vertoonbeelding van Adam en Eva se slang is. Die reuk van verbrande eiers hang swaar in die lug wanneer hy sonder ’n woord omdraai en in die rigting van hulle slaapkamer verdwyn.

Nadat Marieta die Judas-blomme in ’n vaas gerangskik het, trek sy die pak eiers nader om weer ander eiers vir Dirk te bak, want sy is tog nie honger nie. Hoe voed ’n mens ’n lyf waarvoor jy eintlik niks meer lief is nie?

“Hoe was dit vandag by die werk gewees?” probeer sy om die vrede te bewaar wanneer sy later Dirk se bord kos voor hom inskuif.

“Ag oukei,” antwoord Dirk met ’n norserige stem. “Daar was groot drama vandag. Wikus se vrou het daar aangekom ... ’n groot tantrum voor al ons manne gegooi omdat hy gisteraand saam met ons klomp ’n dop gaan steek het. Die man is regtigwaar ’n papbroek – jy moes gesien het hoe hy haar gesmeek het om hom tog net nie te los nie. Verspot! Gelukkig kon ek darem sê dat ek ’n baie goeie vrou het. Sy sal nóóit so ’n scene maak nie.”

“Ja, ek sal nie, nè?” Alles in haar voel gedaan.

Wanneer sy klaar Dirk se badwater ingetap het, soos wat hy daarvan hou, trek Marieta die deur agter hom toe en gaan sit met haar selfoon op die stoep en begin te tik aan ʼn boodskap: “Hi Liefie, kan jy my dalk kom oplaai. Ek wil graag vanaand by jou plek kom oornag as dit oukei is met jou? Ek verkoop nie verder my lyf en siel vir ’n bos geel affodille nie. Ek wil môre ’n prokureur gaan sien. Dink jy ek kan dalk tydelik by jou kom woon?” Haar hande bewe effens wanneer sy die groen knoppie druk om die WhatsApp vir Liefie te stuur. Die twee blou strepies wat aandui dat die boodskap gelees is, het so pas op die selfoon se skerm verskyn toe die selfoon terug biep. “100%. Sien jou oor ’n halfuur.”

Marietjie plak haastig die selfoon op die koffietafeltjie neer en stap kombuis toe sonder om die voordeur eens op knip te trek. Daar is min tyd om haar plan van aksie in werking te stel. Die plan wat sal sorg dat sy vir eens en altyd van Dirk ontslae is. Hy sal haar nie weer met pleidooie en ’n gesmeek kan oorreed om terug te kom na hom toe soos die vorige kere nie ...

Haar hand bewe wanneer sy eers die Amoxilen 1000 mg-penisillienpilletjie in Dirk se ongewaste teekoppie gooi en daarna die Earl Grey daarin voorberei. Die reuk van die affodille hang swaar in die lug wanneer sy met die koppie tee na die sitkamer stap. Dirk gaan vandag sy moses teëkom!

Die aarde swem voor haar oë wanneer sy die woorde op die MedicAlert-plaatjie om haar pols lees: Allergies – Penisillien. Net wanneer sy voel hoe sy in anafilaktiese skok ingaan, hoor sy ’n motordeur in die oprit toeslaan. Dirk gaan nooit uit hierdie een kom nie, is haar heel laaste gedagte, voordat alles om haar swart raak.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top