Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett: ’n lesersindruk

  • 6

Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk
André Bartlett
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307877

’n Aantal jare gelede het ek op ’n stadium by myself gedink iemand moet eendag ’n boek skryf oor die NG Kerk se pad met homoseksualiteit. Nie ’n suiwer teologiese boek nie, maar ’n boek wat die historiese ontwikkeling van die saak in besonderhede uiteensit. Dit was nog voor die dramatiese “spesiale sinode” van die kerk in 2016, waar die kerk die sogenaamde inklusiewe besluit van die 2015-sinode herroep het en daardeur verbintenisse tussen homoseksuele mense as strydig met die kerk se teologiese boodskap verklaar het. En nou het daar presies so ’n boek verskyn, en wie beter om so ’n boek te skryf as André Bartlett, die teoloog wat hom vir soveel jare met die saak bemoei het.

Bartlett begin sy boek by die jaar 1986. As mens die NG Kerk se pad met homoseksualiteit wil verstaan, dan moet mens ook die NG Kerk se verhouding met apartheid verstaan. Die kerk het apartheid skriftuurlik en teologies goedgekeur, en in die proses redelik goed onder skoot gekom vanuit die ekumeniese gemeenskap, spesifiek vir die manier waarop daar met die Bybel omgegaan is, met ander woorde die soort Skrifgebruik soos wat mens dit vind in die beleidsdokument “Ras, Volk en Nasie en Volkeverhouding in die lig van die Skrif”, wat in 1974 verskyn het. En so, tesame met die herroeping van die Bybelse regverdiging van apartheid in 1986, het die NG Kerk ook op nuwe maniere begin omgaan met die Bybel. Daar het ’n paradigmaverskuiwing plaasgevind wat ook uitgekring het na buite die NG Kerk.

Maar dit is asof sekere groeperinge binne die kerk agterweë gebly het, veral ten opsigte van selektiewe sake. Selektief, want die patriargale gemeenskappe waarin die Bybelse tekste geskryf was, het nie dieselfde as moderne mense oor gender en oor vroue gedink nie. En daarom is die kerk se beleid ten opsigte van vroue vandag baie anders as in die jare voor 1986. Maar waar dit by seksuele oriëntasie kom, daar brand die kerk vas. Daar diskrimineer dit nog. Daar gaan dit selektief om met die Bybel – ’n boek wat heelwat mense binne sowel as buite die kerk nie meer as ’n wetboek beskou nie.

Ek het nog nooit Calvyn se Institusies deurgelees nie. Ek wonder of dit vir my fisies moontlik sal wees om so ’n dik boek oor teologie deur te lees. Maar dit lyk vir my asof daar binne die Gereformeerde teologie onderskei word tussen “perifere” sake en die hoofsaak: die liefde en verlossing van God. Ek het al voorheen teoloë hierdie onderskeid hoor tref en ek vermoed dit kom van ver uit die verlede. En hierdie beginsel is skynbaar ook die basis vir die pleidooi van Bartlett en verskeie ander om te sê daar behoort juis ruimte te wees vir verskillende opinies. Die kenmerk van Gereformeerde teologie is daarvolgens dus juis die erkenning en akkommodering van verskille, in die besonder vir daardie sake wat as op die “rand” van die kerk se boodskap beskou word.

Laasgenoemde is miskien die grootste openbaring wat ek uit Weerlose weerstand neem, en wat nou vir my in veel groter perspektief gestel is as voorheen. Na die lees van hierdie boek verstaan ek die kerk waarvan ek self eens lidmaat was, sommer veel beter. Ek kon byvoorbeeld nooit verstaan hoekom die NG Kerk ruimte laat vir mense om te kies of hulle in die bestaan van Satan glo of nie, maar ek vermoed nou dit kom op dieselfde argument neer.

Dinge kom gewoonlik iewers vandaan. Niks val uit die lug uit nie. En toe daar in 2016 in die media berig word van een afgevaardigde na die 2016-sinode se gebruik van die woord “kernhomo”, het ek, met my amateuragtige belangstelling in etimologie, lank na die tyd nog stilgestaan by dié interessante woordjie. Groot was my verbasing om te lees dat die kerk ’n verslag in 1986 getiteld “Homoseksualiteit: Wat sê die kerk?” aanvaar het. Dié verslag was ontwikkel uit ’n handleiding met die titel “Pastorale sorg aan die homoseksueel”, wat op sy beurt gebaseer was op ’n doktorale proefskrif met die titel “Pastorale sorg aan die homoseksuele mens”, wat in 1975 aan die Universiteit van Pretoria voltooi is deur ene Albert Botha. En in hierdie verslag word daar glo onderskei tussen “kernhomoseksualiteit” en “periferiese homoseksualiteit”.

Bartlett se boek volg die spoor van die sinodesittings en studiekommissies wat oor die jare in die NG Kerk gehou is rondom die kwessie van homoseksualiteit, en al die drama en intrige wat daarrondom ontvou het. Een van die skokkendste stukke besonderheid in die boek was vir my dat homoseksuele mans in Suid-Afrika gedurende die 20ste eeu onderwerp is aan ’n praktyk bekend as “elektrokonvulsiewe aversieterapie”, wat ten doel gehad het om hierdie mense van homoseksualiteit te “genees”. Hierdie “terapie” het dan behels dat daar aan die manlike “pasiënte” naakfoto's van mans gewys is terwyl hulle met elektrisiteit geskok is. Dit is dan afgewissel met naakfoto's van vroue, wat vergesel was van strelende musiek en positiewe woorde. Hierdie “behandeling” was gedoen met die medewete van ten minste sommige kerkleiers, en een van die “terapeute” wat hierdie metodes gebruik het, is uiteindelik in 2013 self skuldig bevind aan seksuele misbruik van sy manlike pasiënte. Maar mens moet ook in gedagte hou dat die kerk se standpunt op daardie stadium deel was van die breër Suid-Afrikaanse standpunt, ook van die owerhede, dat homoseksualiteit onwettig is, en strafbaar volgens Suid-Afrikaanse wetgewing van die tyd. Trouens, dit was eers teen 1973 dat homoseksualiteit in die Psigologiese Vereniging van die VSA nie meer as afwykende gedrag beskou is nie.

Daar is ’n aantal dinge aan die boek wat ek mis, soos ’n saakregister, want daar is altyd daardie een onderwerp waarna jy weer later soek, maar jy weet nie meer mooi waar jy daaroor gelees het nie. Dan is daar hier en daar enkele voetnote, maar so min dat mens dit amper nie kan verreken nie. Natuurlik gaan die een kritikus ’n teks sonder voetnote verwelkom, en sê dit verbeter die vloei van die teks, maar die volgende een, soos ek, sou dit tog geniet het om meer verwysings na tersaaklike bronne te sien. Daarby sou ek ook ’n lys met afkortings en akronieme voorin geplaas het, want ek kan nooit byhou met al die afkortings en akronieme wat deur kerke gebruik word nie. Daar is geen bibliografie nie, wat aansluit by die afwesigheid van voetnote/eindnotas. Die oorweldigende meerderheid van Bartlett se verwysings is in elk geval na die kerk se studiestukke, wat opgeneem is in die agendas en notules van die kerk.

Wat die slegste smaak in my mond gelaat het, is die wete dat die kerk, deur die aandrang op selibaatheid van homoseksuele mense, eintlik vir baie jare lank mense versoek het om mekaar nie lief te hê nie. Met reg word die saak van homoseksualiteit vergelyk met die Cottesloe-beraad en die 1857-besluit oor die "swakheid van sommige". Dit is goed dat die NG Kerk se “reis met homoseksualiteit” nou saamgevat is in hierdie boek. Weerlose weerstand is in ’n boeiende styl geskryf, en die spanning bou op soos wat mens voortlees, en die kerk uiteindelik in die derde laaste hoofstuk die sinode van 2015 se besluit herroep, by ’n vergadering gekenmerk aan ’n “toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en ’n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid” (239). Die skade wat in die proses veroorsaak is, gaan nog baie jare gevoel word, want die NG Kerk het weens die gebeure ’n reuse-stuk gesag en waardigheid verloor. En vir die kerk moet die pynlikste miskien wees die wete dat die saak, na alles, nog steeds nie opgelos is nie.

  • 6

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    DIe NG Kerk is al so totaal irrelevant dat net fossiele nog belangstel in wat hy van die wêreld dink. Daarbenewens het die NGK ook baie bloed aan sy hande weens al die lyding wat hy onder gay mense veroorsaak het en die Bybel as 'n stok gebruik het om hulle te slaan en slaan en slaan totdat daar niks van hulle waardigheid oorgebly het nie.

    • Barend van der Merwe
      Barend van der Merwe

      Dit bly my altyd verbaas hoe belangrik die kerk vir sommige mense bly. Spesifiek van die mense teen wie die kerk diskrimineer, soos die homoseksuele teologiestudente waarvan daar in die boek geskryf is.

      Hoewel ek in breë trekke met jou saamstem, en ook voel die kerk is grootliks, irrelevant, is dit tog goed dat hierdie storie vertel word en dit is heel spannende leesstof.

    • jip, die NGK raak al hoe meer irrelevant. Maar soos 'n ongeluk, mens kan nie ophou kyk nie. Ek wonder hoeveel lidmate het oor die jare uit die NGK verdwyn.

      • Barend van der Merwe
        Barend van der Merwe

        Dit is 'n gruwelike vergelyking Jakes. Maar goed dan. Vir my bly die verhale van mense interessant. Of dit nou Christene of Islamiete of of Jode of ateïste of wat ook al die geval mag wees. En die geskiedenis van godsdienste en kerke is maar net fassinerend.

  • "Maar dit is asof sekere groeperinge binne die kerk agterweë gebly het, veral ten opsigte van selektiewe sake. Selektief, want die patriargale gemeenskappe waarin die Bybelse tekste geskryf was, het nie dieselfde as moderne mense oor gender en oor vroue gedink nie. En daarom is die kerk se beleid ten opsigte van vroue vandag baie anders as in die jare voor 1986. Maar waar dit by seksuele oriëntasie kom, daar brand die kerk vas. Daar diskrimineer dit nog. Daar gaan dit selektief om met die Bybel – ’n boek wat heelwat mense binne sowel as buite die kerk nie meer as ’n wetboek beskou nie."
    Die Bybel is óf God se woord óf dit is nie. As dit nie is nie, kan jy maar die kerk toemaak want dan kan enige kursus in etiek (uit die lug gegryp) die plek daarvan inneem.

    • Barend van der Merwe
      Barend van der Merwe

      Ek is maar 'n buitestaander wat deur die ruit kyk, maar ek dink nie die gesag van die Bybel is waaroor daar verskil word nie. Om te sê die Bybel is "God se Woord" beteken iets anders as om te sê dat die Bybel 'n letterlike wetboek is waaruit sinsnedes uitgehaal kan word en soos wette gelees moet word. As jy laasgenoemde wil doen, dan moet jy ook nie vroue op die kansel toelaat nie.
      Teoloë en historici erken al baie jare dat die Bybel uit letterkunde bestaan. Gedigte, prosa, geskiedenis en wysheidsliteratuur.
      Daar is wel wetboeke in die Bybel. Die ironie is dat die boeke wat wel wetboeke is, word geïgnoreer deur die kerk, en selfs mee gek geskeer (Bv: Hy het ons die Leviete voorgelees). Maar die boeke wat nie wetboeke is nie, word soos wetboeke gebruik.
      Dit gaan vir die kerke oor Skrifgebruik, nie oor Skrifgesag nie, soos wat Bartlett dit ook in hierdie boek mooi uiteensit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top