Weerlose weerstand: die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett: ’n FMR-resensie

  • 1

Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk
André Bartlett
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307877

Daar het pas ’n boek verskyn wat wonderlike insigte gee in homoseksualiteit, in die aard van gay mans en gay vroue se leefstyl en seksuele oriëntasies.

Dit heet Weerlose weerstand: die gaydebat in die NG Kerk, is deur André Bartlett geskryf en is ’n publikasie van Protea Boekhuis. André Bartlett is hoof van Excelsus, die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria. Hy was voorheen predikant van die NG Kerk in Pretoria, Potchefstroom en Johannesburg. Sedert 1999 is hy dikwels betrokke by werksgroepe en sinodesittings oor hoe gays onvoorwaardelik opgeneem kan word binne die NG Kerk. Hy doen saam met ander navorsing, en lewer talle voorleggings by sinodesittings.

Hier lewer hy baie toeganklike geskiedskrywing. Dit sluit in notules, verslae, nuusberigte, briewe en vertellings deur gays, hulle ouers, ander familielede en vriende. Die verloop van sinodesittings waarop die gaydebat gevoer is, word uitgebeeld – dié in byvoorbeeld 1986, 1990, 1998, 2002, 2004, 2015 en 2016. Omdat hy self by die meeste teenwoordig was , beskryf hy hoe die gemoedere was, watter stemming oorheersend was. Terwyl ’n mens lees, kry jy dalk insig in probleme en inhoude waaroor jy nog altyd onseker was, waaroor jy dalk skuldig voel. As gay, ouer of vriend kan jy jou byvoorbeeld vereenselwig met die opgetekende ervarings. Saaklike toeligting kom oordeelkundig voor in voetnote. 

Bartlett se eerste geleentheid om pastorale werk met gays te doen was toe hy dienspligkapelaan was by Rundu langs die Okavangorivier in 1986. Hy onthou hoeveel selfverwerping hy onder die troepe gevind het. Hierna leer ken hy, in sy eie woorde, die allerverskriklikste elektrokonvulsiewe aversieterapie wat onder meer in militêre hospitale toegepas is om gays se seksuele oriëntasie te verander. Hulle kan mos genees word, hulle kan heteroseksueel word ...

’n Bekende vraag: Kies ’n gay sy oriëntasie? Nee. Hier word op ble 206 en 207 die bevindinge gegee van bioloë soos Louise Warnich en Michael Pepper. Pepper het aangedui wat tussen die negende en vyftiende week van swangerskap plaasvind: die differensiasie van manlike en vroulike geslagsorgane. Later ontstaan seksuele aangetrokkenheid: heteroseksualiteit of homoseksualiteit of biseksualiteit.

In die Bybel kom tekste voor wat gaywees veroordeel. Maar hoe verklaar die moderne teoloë dit? Dit word ook bespreek.

Op die sinode van 2015 was daar heelwat vreugde. Die NG Kerk word die eerste Afrikaanse hoofstroomkerk wat burgerlike verhoudings tussen mense van dieselfde geslag sal seën (berig van Jean Oosthuizen; bl 191). Vroeër was die kerk se houding nog dat gay gelowiges liefde moet ontvang, maar hulle mag nie gayseks beoefen nie, dit is onaanvaarbaar. Gays in alle kerklike ampte, ook gelowiges, moet liefs selibaat bly. Nou, in 2015, glo die kerk dat die lewensgeluk en die menswaardigheid van duisende mense voorop moet staan.

Die boek eindig met die skokkende besluit in November 2016. By die sitting het Bartlett “’n toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en ’n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid” aangevoel (239). Die 2015-besluite is nie betyds uitgevoer nie en word nou met verskeie “kerkregtelike prosesse en kerkordelike prosedures” verwerp (208). Slegs heteroseksuele verhoudings is vir die NG Kerk aanvaarbaar (269).

Maar die gaydebat is nog nie afgesluit nie. Twee van die oudste NG-gemeentes in ons land, Groote Kerk in Kaapstad en Stellenbosch Moedergemeente, se kerkrade het hulle byvoorbeeld spoedig van die 2016-besluit gedistansieer (288).

André Bartlett hoop op die volgende: “Miskien ontdek ons in die proses iets van ons gedeelde menswees, met al sy grootsheid én ellende; miskien ontdek ons hoe eenders ons in ons andersheid is; miskien ontdek ons ons eie weerloosheid; miskien ontdek ons in onsself die weerstand wat opstaan vir die Godgegewe waardigheid van alle mense” (203).

Nota: Weerlose weerstand is op die kortlys is vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir algemeen-Christelike en teologiese publikasies. Die wenners word in April aangekondig en die pryse op 25 Mei  op Stellenbosch oorhandig.

  • Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op Menseregtedag 2018 op Fine Music Radio uitgesaai.
  • Die boek was op die kortlys vir die 2018 Andrew Murray-prys vir algemeen-Christelike publikasies in Afrikaans. Die uitslae is ondertussen bekendgemaak.
  • 1

Kommentaar

  • Pieter de Jager

    Daar sal altyd onkruid in die kerk bly. Onkruid word deur die duiwel in goeie grond gesaai en groei saam met die goeie saad. Dit is 'n risiko om dit te probeer verwyder omdat in die proses die kind saam met die badwater uitgegooi kan word. Ons kan die sonde van homoseksuele oriëntasie egter uitwys en die kerk attent maak op teologiese dosente, proponente en predikante (wat gay is en dit propageer) se liefdelose en kwetsende aanmerkings op Christene wat die Bybelse standpunt as enigste norm teen homoseksualiteit in briewe, gesprekke en denkrigtings regverdig. "Die nag het ver gevorder, die dag (oestyd) is byna hier. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê ... welvoeglik lewe ... en nie voortdurend daarop uit wees om sondige begeertes te bevredig nie."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top