Week van de Afrikaanse Roman 2016: 7 dae in Amsterdam

  • 2

Marike van der Watt, Ingrid Glorie, Francois Smith, Lien Botha, Marita van der Vyver, Ena Jansen, Maria Holtrop (Rijksmuseum), Karin Hougaard, Simon Bruinders en Philip du Plessis (kykNET Fiësta). Fotograaf: Janette Keller

  • Lees nog bydraes oor die Week van de Afrikaanse Roman hier.

Skuins voor toemaaktyd op die Sondag voor my vertrek terug na Suid-Afrika glip ek by die deure van Broek in Waterland se kerk in, vra of ek vinnig kan deurstap. Die oom en tante stem gemoedelik in, al is hulle op die punt om te sluit – nuuskierig oor my afkoms, wat hulle nie dadelik uit my mengelmoes van Afrikaans en Nederlands kan bepaal nie. Op die ou end kuier ons heelwat langer as die “snel doorkijken” waarvoor ek gevra het. Dit was die einde van ʼn vol week (te danke aan die Week van de Afrikaanse roman), en my eerste besoek aan Nederland. My navorsing oor die vertaling van Afrikaanse romans in Nederlands het reeds ʼn paar deure vir my begin oopmaak.

Die tweede Week van de Afrikaanse roman het vanjaar van 16 tot 24 September plaasgevind, waarvan die meeste geleenthede in Amsterdam was, maar ook Vlaandere (Gent, Brussel en Leuven) en elders in Nederland, met Barneveld, Rotterdam, Diemen, Nijmegen, Utrecht, Soest en Den Haag wat besoek ontvang het van ʼn vrag Afrikaanse skrywers en kie. Hierdie inisiatief het in November 2013 heel spontaan ontstaan toe Ingrid Glorie, redakteur van Maandblad Zuid-Afrika en vertaler van onder andere Simon Bruinders se Die sideboard (Dit is mijn land in Nederlands), genader is om te help met die bekendstelling van Irma Joubert se Nederlandse uitgawe van Tolbos (Lapa, 2013, en in Nederland uitgegee deur Mozaїek, 2014, vertaal deur Dorienke de Vries). Die eerste Week, van 19 tot 28 September 2014, het vervolgens vir Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe en Marita van der Vyver deur die Lae Lande geneem.

Danksy die sukses van die eerste Week word die tweede Week gereël en groei toe sommer baie vinnig, met meer skrywers, geleenthede en deelnemende organisasies. Tydens Saterdag se byeenkoms by die Letterkundig Museum in Den Haag ontvang ons ook die goeie nuus dat die volgende Week sommer in 2017 weer sal plaasvind om met Gent se Colloquium saam te val (die datums moet nog bevestig word), en skrywers wie se Nederlandse vertalings in 2017 verskyn, sal op die program verskyn.

Expatavond, Restaurant Tjing Tjing

My warrelwindbesoek aan Amsterdam kon ongelukkig nie al die sessies van die Week insluit nie, maar die sessies wat ek wel kon meemaak, of soms as vlieg teen die muur kon waarneem, het my oorrompel en moeilik weer laat gaan. Ek het skaars op Schiphol geland, my ouers (per ongeluk) op sleeptou deur sekere berugte strate geneem op pad na ons gastehuis aan Keizersgracht, en die steil trappies na ons dakkamer met my yslike tas baasgeraak, of ek moes my haas na die Expatavond in Café Restaurant Tjing Tjing se tuin in De Pijp. Hier word ons getrakteer op ʼn voorgereg van sop (geїnspireer deur Marita van der Vyver se Dis koue kos, Skat, Tafelberg, 2010; in Nederlands uitgegee deur Uitgeverij Orlando, 2015, as Koud opgediend, vertaal deur Riet de Jong-Goossens), gegrilde struisvogel (ten spyte van Michael se oond wat ontplof het, maar ʼn boer maak ʼn plan!), en ʼn Nederlandse variasie op Simon Bruinders se gunsteling: trifle. Randall Maarman, self op pad terug na Suid-Afrika ná ʼn verblyf van 13 jaar in Nederland, gesels met Marita van der Vyver, Ena Jansen, Simon Bruinders en Karin Hougaard – elkeen op een of ander manier ʼn ekspat: Marita wat saam met haar gesin in Frankryk woon, Ena en Karin, wat ook agter die liefde aan getrek het, die een na Nederland en die ander na Amerika, en Simon, wat as kind hervestig is as gevolg van die groepsgebiedewet.

Simon Bruinders en Ingrid Glorie (foto: Marike van der Watt)

Die sideboard is Simon Bruinders se debuutroman, nadat dit eers as drama geskryf en toe deur die SABC afgekeur is. Sy gesin moedig hom aan om die boek te skryf, waaruit Die sideboard. The musical later voortvloei. Hy wou die trane agter die jolliegeid van die bruin gemeenskap wys, en wat die groepsgebiedewet aan hulle gedoen het. Hy hoop dat die verhaal vir mense in moeilike omstandighede hoop sal bring. Simon se dogter, Marguerite Bruinders, sing twee liedere uit die musiekblyspel.

Marita gesels oor haar nuwe boek, Misverstand (in Engels vertaal as You lost me, albei uitgegee deur Penguin Random House), wat hopelik tydens die US Woordfees in 2017 bekendgestel sal word. Die verskeurdheid tussen, maar ook verryking danksy, haar twee lande vergelyk sy met ʼn boom – met haar wortels in die een land en haar takke in die ander.

Ena Jansen se band met Nederland begin in 1974 toe sy haar doktorale studie hier kom voortsit. Sy ontmoet vir Elisabeth Eybers en hulle ontwikkel ʼn hegte vriendskap tot die digter se dood in 2007. Sy kan Eybers se werk gebruik om te verwoord hoe dit is om ʼn buitelander te wees. Volgens haar gee afstand mens ʼn ander blik, en dit is juis danksy hierdie afstand dat sy die verbintenis tussen stedelike huiswerkers en hulle werkgewers in Suid-Afrika kon ondersoek in haar bekroonde werk, Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea Boekhuis, 2015; vertaal deur Riet de Jong-Goossens en uitgegee deur Cossee, 2016, as Bijna familie).

Die feeskunstenaar, Karin Hougaard, pak haar tasse in 2007 om in Amerika te gaan woon, en dit neem haar vyf jaar om haar voete daar te vind. In 2013 stel sy vir die eerste keer sedert die ontworteling weer ʼn CD vry, Alien sky, wat verwys na die vreemde hemel waarna sy saans opkyk. Sy is verskeur tussen twee lande, maar nuuskierig oor die reis. Met Mart-Marie Snyman as begeleier sing sy oor die heimwee na die vaderland terwyl Amsterdam se katte oor die heinings spring en Tjing Tjing die fris lentebries probeer afweer met vreugdevure wat byna handuit ruk.

Randall Maarman en Marita van der Vyver (foto: Marike van der Watt)

Vertalersdebat, Vertalershuis

Op Dinsdag 20 September woon ek die vertalersdebat (in samewerking met die Afrikaanse Taalraad en die Expertisecentrum Literair Vertalen) in Vertalershuis by. Hier gesels die Nederlandse skrywer Vamba Sherif oor die verskillende tale wat hy as kind moes leer praat: hy is in Noord-Liberië gebore, waar hulle huistaal Mandingo was, maar die omgangstaal Gbandi. Omdat sy geboortestad aan Sierra Leone grens, praat hulle ook Kissi en op skool leer hulle Engels. Die gesin verhuis na Koeweit, waar hy Arabies leer, maar tydens die Eerste Golfoorlog vlug hulle eers na Sirië en vestig hulle in 1993 in Nederland, waar hy weer met ʼn nuwe taal gekonfronteer word. Hy is vanaf ʼn jong ouderdom aan wêreldliteratuur blootgestel, danksy vertalings daarvan wat in Arabies beskikbaar was, en dit vorm sy bewustheid van diversiteit in die wêreld. Sy eerste roman, Het land van de vaders, verskyn in 1999.

Hierna is Jan Gielkens, wenner van die Filter Vertaalprijs 2016 vir sy vertaling De woorden van Grimm: een liefdesverklaring deur Günter Grass (Meulenhoff, 2015), aan die woord. Hy praat oor die uitdagings wat ʼn vertaler in die gesig staar wanneer hy uit ʼn verwante taal moet vertaal – die gesamentlike bron hou talle gevare, maar ook verrassende oplossings in. Vertalers moet versigtig wees, en tog ook besef dat hulle só baie kan doen in vertaling. Vir hom verdwyn onvertaalbaarheid tydens vertaling.

Die skrywers en vertalers gesels oor hulle ervarings van die vertaalproses en spesifieke probleme waarmee hulle tydens vertaling geworstel het. Die feit dat Afrikaanse skrywers en hulle Nederlandse vertalers beter met mekaar kan kommunikeer, maak dit volgens Peter Bergsma, direkteur van Vertalershuis, makliker om ʼn verhouding te bou. Daar is egter ʼn verskil tussen die verstaan van ʼn taal en om ʼn teks te vertaal. Marlene van Niekerk vertel van haar en Riet de Jong-Goossens se komiese uitruilings en hoe haar tekste verryk is deur die vertaler se kennis en uitdrukkings. Elke van den Bergh, vertaler van Chanette Paul se Offerlam (Lapa, 2015 en Uitgeverij Lannoo, 2016), sê sy en Chanette het soms tot ʼn halfuur oor woordkeuses gepraat, en dan verander die redigeerder dit weer! Voorts het Chanette ook toestemming gegee dat ʼn hoofstuk oor die geskiedenis van ʼn Belgiese dorp verkort of uitgelaat kon word, maar die Nederlandse vertalers wonder of húlle lesers dan nie benadeel word nie. Francois Smith merk op dat verwysings na Bybeltekste in Kamphoer (Tafelberg, 2014, en in Nederland uitgegee deur Singel Uitgeverijen, 2015, as Een schuldig leven. Verkracht in de boerenoorlog) nie in die vertaling as sodanig weergegee is nie; in België en Nederland ken baie mense (vertalers ingesluit) nie die Bybel nie. Dit het daartoe gelei dat ʼn resensent van die Nederlandse uitgawe so ʼn Bybelverwysing as oordramaties afgemaak het.

Keizersgracht (foto: Marike van der Watt)

Leeskring extra: Avond over literatuur en geschiedenis met Francois Smith, Martin Bossenbroek, Pieter Rouwendal en Rob van der Veer, Zuid-Afrikahuis

Na afloop van die vertalersdebat haas ons ons na Zuid-Afrikahuis in Keizersgracht vir ʼn ligte maaltyd en daarna ʼn gesprek oor literatuur en geskiedenis, wat ook die bekendstelling van die Nederlandse vertaling van Karel Schoeman se Verliesfontein (Brevier Uitgeverij, 2016, vertaal deur Rob van der Veer) insluit. Daar is duidelik groot belangstelling in Afrikaanse letterkunde en geskiedenis onder Nederlandse lesers, en hierdie aand was een van vele sessies tydens die Week wat uitverkoop is. Ingrid Glorie kry dit telkens reg om die perfekte kombinasies vir die program byeen te bring, en die besprekings van hierdie drie uiteenlopende boeke verloop naatloos en vul mekaar aan.

Uitgewer Pieter Rouwendal verduidelik waarom hulle, as klein en jong uitgewery, besluit het om die Stemme-trilogie van Karel Schoeman in sy geheel uit te gee (Verliesfontein is die laaste van die drie verhale wat in Nederlands verskyn – Dit leven is in 2014 uitgegee en Het uur van de engel in 2015). Rob van der Veer, onder andere bekend as Nederlandse vertaler van André P Brink se werk en wat ook ‘n aandeel het in die besluit om Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (Van Oorschot, 2014) te vertaal, vertel hoe hy as vertaler kon doen wat Schoeman as skrywer in sy verhale doen: waarneem, registreer en bêre om later te gebruik. Vir hom was dit ʼn maklike vertaling, omdat die bronteks so goed geskryf is en hom kon lei. Lees hier meer oor Rob se ervarings met die vertaling van Verliesfontein.

Francois Smith gee ʼn blik op sy pad as verteller van Susan Nell se verhaal wat begin het met Nico Moolman se The Boer Whore (selfpublikasie, 2012), en hoe Hillary Mantel se Wolf Hall en Bring up the bodies die sleutel was tot die hantering van die hoofkarakter se binnespraak. Hy was deurentyd bewus van hoe moeilik dit is om oor die verlede te skryf – soos Schoeman se verteller ook opmerk: “Het verleden is een ander land. Wie kent het pad erheen?” Om as man oor ʼn vrou se belewing van oorlog en verkragting te skryf, was ʼn groot uitdaging, en hy was eintlik verlig toe iemand se kommentaar op die boek was dat dit vir ʼn oorlogsverhaal te min veldslae bevat – met ander woorde nie “macho” genoeg is nie.

Die Nederlandse geskiedkundige Martin Bossenbroek wen in 2013 die Libris Geschiedenis Prijs vir De Boerenoorlog (Athenaeum-Polak en Van Gennep, 2012, in Afrikaans uitgegee deur Jacana Media, 2014, vertaal deur Anne-Marie Mischke). Hy gesels oor die verskille tussen geskiedskrywing en die gebruik van historiese feite om ʼn roman te skryf. Hierna word ons verras deur aktrise Charlenè Brouwer en rolprentvervaardiger Niel van Deventer met nuus oor die film wat op Kamphoer gebaseer word (Palama Produksies) en wat hulle as koproduksie saam met Nederlandse en Engelse filmmaatskappye aanpak.

Vir die tweede agtereenvolgende aand stap ek laatnag vrou-alleen en vreesloos in Amsterdam se strate terug na ons gastehuis, waar my ouers toe wel op my veilige terugkoms wag.

Rijksmuseum: Goede Hoop. Zuid-Afrika–Nederland vanaf 1600

Op Woensdagoggend kry ons die geleentheid om die hoof van die Rijksmuseum se geskiedenisafdeling, Martine Gosselink, en junior kurator, Maria Holtrop, te ontmoet. Hulle vertel ons van die groot tentoonstelling wat vir Februarie–Mei 2017 op die boonste verdieping van die museum se Philipsvleuel beplan word en oor tien sale sal strek. Hulle het reeds vier keer na Suid-Afrika gereis om materiaal vir die uitstalling te versamel, onder andere rotstekeninge, kaarte, meubels, ʼn Voortrekkerkappie, foto’s en ʼn sitbankie uit die apartheidsjare. Die Suid-Afrikaanse fotograaf Pieter Hugo is gevra om ʼn reeks portrette van kinders wat ná 1994 gebore is, te maak. Hierbenewens verskyn ook ʼn TV-reeks en ʼn aantal publikasies wat fokus op die gedeelde geskiedenis van Suid-Afrika en Nederland: ʼn lywige katalogus (waarvoor sowat 30 skrywers uit Suid-Afrika en Nederland bydraes gelewer het, onder wie Ena Jansen, Dan Sleigh, Eusebius McKaiser, en met die voorwoord deur Adriaan van Dis); ʼn Gordon-webwerf waar Gordon se 18de-eeuse dagboeke (uit die Brenthurst Biblioteek in Johannesburg) en die Gordon Atlas, wat sedert 1913 in besit van die Rijksmuseum is, herenig word; en dan stel Adriaan van Dis ʼn bundel saam van sy essays oor Suid-Afrika wat nog nie voorheen verskyn het nie. Nederland heroorweeg hulle denke oor Suid-Afrika se geskiedenis, en vra moeilike vrae, soos: Is Nederland skuldig aan wat in Suid-Afrika gebeur het in die 20ste eeu? Dis ʼn riskante en moeilike uitstalling waarin woorde geweeg en verskillende perspektiewe lugtyd gebied word.

Maria begelei ons dan na die Eregalerij met beroemde skilderye van Johannes Vermeer, Frans Hals, Jacob van Ruysdael en al die ander meesters uit Holland se Goue Eeu, en natuurlik op die ereplek, Rembrandt se Nagwag. Daarna neem sy ons na die saal wat aan Nederland se voormalige kolonies gewy word, voor sy ons groet en ons op ons eie tyd deur die res van die museum kan wandel. Karin Hougaard ontdek toe sommer vir Simon Bruinders ʼn Nederlandse “sideboard”. Marita van der Vyver verkas om voor te berei vir die aand se Europese première van die film Dis koue kos, skat wat die aand by Zuid-Afrikahuis vertoon word (en waarvoor die kaartjies ook uitverkoop en die belangstelling so groot was dat ʼn tweede vertoning vir die Vrydagaand gereël is), en Ena Jansen, Simon Bruinders en Francois Smith kies ook koers na hulle volgende sessie in De Wintertuin, Nijmegen.

Marike van der Watt (foto: Karin Hougaard)

Vertalersmoed

Terwyl twee bussies – een luukse bussie van Marcus Vervoersbedrijven met komplimente van die Suid-Afrikaanse Ambassade – Donderdagoggend vir Ingrid, Karin, Mart-Marie en die skrywers wegvoer vir ʼn dag in Brussel, hoor ek of Rob van der Veer dalk iewers ʼn tydjie het om nog vertaalsake te gesels. Nadat ek ʼn vinnige draai deur die Van Gogh Museum gemaak het, draf ek oor Museumplein en ontmoet hom by die Concertgebouw se koffiekamer. Ek bestel koffie en ontdek toe dat ek eintlik vir “koffie verkeerd” moes gevra het (Rob kry toe maar vir my nog ʼn klein houertjie melk om in my espresso te gooi ...). Die kennis oor vertaling wat Rob oor jare opgebou het en sy bereidwilligheid om dit te deel (hy is ook dosent by die Vertalersvakschool), is iets wat my altyd sal bybly van my eerste besoek aan Amsterdam. Ek maak notas van nuwe begrippe (vir my) soos vertalersmoed, vertalersverdriet, vertalersgeluk en vertalershoogmoed, en dink weer oor my eie siening van vertaling toe hy my vertel van die “luikje van gekte” wat vir ʼn vertaler moet oopgaan, maar dikwels deur ʼn te sterk teoretiese fokus onderdruk word.

Literair symposium: Menselijke natuur? Herinnering, ecologie en esthetiek in hedendaagse Afrikaanse letterkunde

Nadat ek en my moeder die oggend ingeloer het by die Delft-museum en ons verstom het aan “cannabis starter packs” en daggakoekies wat op die winkelrakke pryk (en ek my gelukkig bedink het toe ek die tulpbolle by die blommemark wou koop – terug op Kaapstad Internasionale Lughawe is enige plantmateriaal en kaas summier gekonfiskeer), haas ek my oor die gragte na die Universiteit van Amsterdam se VOC-zaal (of dan, die Bewindhebberskamer). ʼn Uitdagende program, saamgestel deur Hanneke Stuit en in pas met die status van die vertrek, het op ons gewag.

Marlene van Niekerk se werk laat my altyd voel asof iemand ʼn magnesiumfakkel in my kop aangesteek het, en haar lesing getiteld “Farewell to the Beautiful Soul: A Poetics for the Anthropocene” is geen uitsondering nie. Sy betrek Peter Sloterdijk se werk deur te verwys na die krisis van outeurskap in die huidige era; Art in the Anthropocene (saamgestel deur Heather Davis en Etienne Turpin); Francisco Goya se skildery Fight with cudgels; Stoermer en Crutzen se werk oor die Antroposeen – die eerste geologiese tydperk wat deur wetenskaplikes geїdentifiseer word terwyl hulle daarin leef én wat sal voortduur lank nadat ons geslag nie meer die ondermaanse bewandel nie; en Stockholm Resilience Centre se “planetary dashboard” wat verklaar hoekom ons voel soos ʼn pyl wat uit ʼn boog geskiet word – die lewe het inderdaad vinniger geword en die mens se impak op ons omgewing het eksponensieel toegeneem sedert die begin van die Industriële Revolusie. Die mens is nie meer die kroon van die skepping nie, maar het self nou ʼn objek geword wat deur ons eie afval onderdruk word. Volgens haar is die tyd van die “beautiful soul” wat die natuur onkrities kan besing, verby. Sy hou ʼn model voor om poësie te klassifiseer en lees haar gedig “Teorie en praktyk van die digkuns in ʼn era van aardgas (Vir die meesters van Shell, ʼn boodskap uit Suid-Afrika)” voor. Sommer daar in die VOC se Bewindhebberskamer vertel die digter vir Jan Eggink hoe sy naamgenoot, “die een van sestien twee-en-vyftig”, met lint en krale kom plunder het, en dat dit duidelik is hoe Shell nou met “ʼn Lexus, ʼn Rolex, ʼn goue stewel” dieselfde in die Karoo kom doen.

Ná hierdie kragtoer volg akademiese gesprekke tussen Carrol Clarkson en Ena Jansen oor Soos familie en Ksenia Robbe en Francois Smith oor Kamphoer; Hanneke Stuit en Lien Botha gesels oor Wonderboom en Luc Renders tree in gesprek met Simon Bruinders oor Die sideboard.

Marlene van Niekerk, Francois Smith, Ena Jansen en Eep Francken (foto: Marike van der Watt)

Tentoonstelling Afrikaanse literatuur, Letterkundig Museum, Den Haag

Asof die Week se program nie al indrukwekkend genoeg was nie, sluit Saterdagmiddag ʼn afgevaardigde van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag, Lindsay Louis, die verteenwoordiger van die Koninklijke Bibliotheek, Cees Klapwijk, die akademikus Eep Francken en die skrywer Adriaan van Di, in. Teen hierdie tyd ken ek al ʼn paar gesigte en name van belangstellendes wat by vorige geleenthede van die Week was. En hoewel ek reeds meermale gesprekke van dieselfde skrywers bygewoon het, is die invalshoek telkens anders en bly die sessies interessant.

Die byeenkoms in die Letterkundig Museum word geborg deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Hierdie organisasie is vanjaar 250 jaar oud en die byeenkoms is deel van die Maatschappij se jubileumfestiviteite. Die Maatschappij het ook mede aan die wieg gestaan van die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) wat in 1999 as ‘n gesamentlike projek van die Nederlandse Taalunie, die Vlaamse Erfgoedbibliotheek en die Koninklijke Bibliotheek te Den Haag van stapel gestuur is. Die dryfkrag agter die DBNL is dr. Cees Klapwijk van die Koninklijke Bibliotheek. Dit bevat ongeveer 13 000 tekste in digitale formaat en lok daagliks tot soveel as 24 000 unieke gebruikers. Sedert 2008 is Suid-Afrikaanse literatuur ook by die versameling gevoeg, maar hulle wil dit graag verder uitbrei. Die Digitale Bibliotheek bevat ook ʼn lys van Afrikaanse literatuur in Nederlandse vertaling.

Die afgevaardigde van die Suid-Afrikaanse Ambassade, Lindsay Louis, sien Afrikaans, ten spyte van die taal se problematiese geskiedenis, as ʼn samebindende faktor, aangesien dit die taal is wat deur die meeste mense in Suid-Afrika verstaan word. Voorts het Afrikaans baie om aan ander inheemse tale te bied om te help om hulle vorentoe te neem. Dit sluit in kennis op die gebied van moedertaalonderrig en die groot verskeidenheid kultuuraktiwiteite wat in Afrikaans en vir die ontwikkeling van die taal aangebied word. Hy erken die rol wat Afrikaanse skrywers in die verset teen apartheid gespeel het.

Ingrid Glorie gee ʼn kort oorsig oor die ontstaan van die Week en die uitstalling oor die algemeen. Sy bedank die borge en instansies wat tot die sukses van die Week bygedra het. (Volledige program van die Week - hier beskikbaar; Borge van die Week is hier sigbaar) Die mediabelangstelling in die Week was besonder goed, met onder andere kykNET Fiësta, LitNet en Media24 wat die Week gedek het. Die Week wil Afrikaanssprekendes wat bekommerd is oor die toekoms van die taal wys hoeveel waardering daar ook in die buiteland vir Afrikaanse skrywers is. Ingrid voel dit is nou tyd dat die Week “volwasse” word – sonder dat die liefde en die vriendskap daaruit verdwyn. Sy doen ʼn beroep op mense wat kan help met die saaklike aspekte van die Week – veral mense wat weet hoe dinge in Nederland en Vlaandere werk, byvoorbeeld borgskappe, honorariums, kontrakte en aanspreeklikheid. Terselfdertyd sal die beskeie opset van die Week – hulle woeker met die min middele tot hul beskikking – altyd ’n deel van die krag en die sjarme van die projek bly.

Aan die hand van briewe en foto’s van Elisabeth Eybers wys Ena Jansen watter nuwe lig die argiewe van die Nederlands Letterkundig Museum kan werp op die kennis van die Afrikaanse literatuur. (Vir meer besonderhede oor die uitstalling, saamgestel deur Ena Jansen, Ingrid Glorie en Jente Rhebergen, kyk hier.)

Eep Francken tree in gesprek met Francois Smith, Ena Jansen en Marlene van Niekerk oor die rol wat Nederlandse literatuur in hulle vorming as skrywers gespeel het en die invloed daarvan op hul skryfwerk. Buiten die paar Nederlandse boeke wat hy op skool moes lees, het Francois Smith eers tydens sy honneursjaar regtig ʼn bewussyn van Nederlands ontwikkel toe hy met die skryfwerk van Hugo Claus kennis gemaak het. Dit is versterk danksy ʼn studieverblyf van drie maande in Gent en vriendskappe met mense soos die digter Alfred Schaffer en die skrywer David van Reybrouck. Vir Ena Jansen was die wêreld van Nederland eintlik heeltemal onverstaanbaar en vreemd tot sy as student na Amsterdam kon gaan en gevolglik die ideale leser van Eybers kon word danksy haar bekendheid met sowel Suid-Afrika as Nederland. Marlene van Niekerk blaai “met nat vinger deur die geheue” en verskaf omtrent ʼn hele bibliografie van gedigte wat ʼn invloed op haar werk gehad het, asook baie plesier toe sy WEG Louw namaak soos hy met gedrae bewoënheid Herman Gorter (1864–1927) se gedig “Gij staat zo heel, heel stil” in die klas voorgelees het:

Gij staat zo heel, heel stil
met uwe handen, ik wil
u zeggen een zo lief wat,
maar ‘k weet niet wat.

Uw schoudertjes zijn zo mooi,
om u is lichtgedooi,
warm, warm, warm – stil omhangen
van warmte, ik doe verlangen.

Uw ogen zijn zo blauw
als klaar water – ik wou
dat ik eens even u kon zijn,
maar ’t kan niet, ik blijf van mijn.

En ik weet niet wat ’t is wat
ik u zeggen wil — ’t was toch wat.

Van Niekerk voel dit is belangrik dat Nederlands steeds as vak in Suid-Afrika aangebied word, en beskou dit as ʼn tipe venster op ʼn ander kultuur en ʼn woordeskatoefening waardeur Afrikaanse studente iets van die wordingsgeskiedenis van Afrikaanse woorde kan leer. Sy betreur die kulturele verskraling as gevolg van die verbruikerskultuur onder die middelklas.

Adriaan van Dis is laaste aan die woord en vertel van die invloed wat Afrikaans en Afrikaanse skrywers tydens sy verblyf in Suid-Afrika op hom gehad het. WEG Louw was vir hom ʼn vaderfiguur, en hy maak kennis met mense soos André Brink, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Hy beloof ook om sy geheime dagboekie, wat hy al in die rondte moes draai om al sy inskripsies uit sy tyd in Suid-Afrika te ontsyfer, na sy dood aan die museum te skenk.

Foto’s deur Elize Zorgman tydens die Tentoonstelling in die Letterkundig Museum - hier.

Borrel

Die Nederlanders sluit hulle funksies met ʼn “borrel” af. Ek het my sewe dae in Amsterdam saam met my ouers in die Waterland net buite die stad afgesluit. Dit was ʼn stil en sonnige dag en laatmiddag het daar ʼn fyn reënbui uitgesak. Die enigste borrel wat ek sedertdien beleef het, is hierdie artikel wat aanhou prut.

Karin Hougaard se fotobeeld van haar bydraes as feeskunstenaar - hier.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top