Watter bydrae lewer hierdie menseregte-aktivis tot die samelewing?

  • 3

Hoe sal die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie se bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing beoordeel en onthou word?

Dit is die relevante vraag op menige mens, veral bruin mense, se lippe nadat dit bekend geword het dat Kadalie na bewering binnekort na Amerika gaan emigreer.

Dié vraag is selfs moeiliker om te beantwoord omdat konsensus, veral onder bruines, ontbreek oor Kadalie se porsie aan die openbare diskoers.

Die vernaamste kritiek op Kadalie was onlangs deur die politieke wetenskaplike en rubriekskrywer Amanda Gouws korrek opgesom.

Volgens Gouws “bring Kadalie die grootste deel van haar lewe deur om ergerlik te voel en dan teiken sy mense op wie sy haar gramskap kan uithaal. Haar vorige rubriek, waarin sy my aanval, gaan oor ’n nuwe rashiërargie wat bruin (en wit en Indiërs) uitsluit.

“Waarvoor sy eintlik verontreg voel, is dat die nuwe swart elite nie haar struggle-credentials erken nie.”

In ’n onlangse onderhoud het Kadalie die fout begaan om Gouws gelyk te gee om na haar pa, wyle Fenner Kadalie, asook na haar vakbondleier-oupa, wyle Clements Kadalie, se bydraes te verwys.

Die bydrae tot die land van ’n bekende persoon of familie mag nooit belangriker geag word as dié van die miljoene gewone mense wie elke dag in ’n sukkelbestaan gewikkel is nie.

Daarby sluit Kadalie haar ongelukkig aan by – wat ek noem – “bitterbek” sogenaamde bruines. Diegene wat voel dat hul struggle-credentials nie erken word nie. Asook diegene – wat ’n direkte uitvloeisel is van hul “ergerlikheid” teenoor die nuwe Suid-Afrika – wie hul in die afgelope paar jaar tot “subtiele” bruin etniese politiek gewend het.

Kadalie is soos Jonathan Jansen – baie onredelike mense wie hulle nie maklik in ander mense (veral swart mense) se skoene kan plaas nie. Jansen het selfs onlangs swart mense in die gesig gevat deur te sê apartheidsonderwys was beter as vandag se onderwys. Dit is net hy en Kadalie wat dié snert glo.

Kadalie is vandag saam met Jansen die darlings van die verstarde en konserwatiewe denke van die Afrikaanse hoofstroom-media wie daagliks op die drome en aspirasies van swart Suid-Afrikaners urineer. Dit is koerante wat min begrip en respek toon vir die eeue van koloniale en dekades van apartheidsagterstande.

Toegegee, ’n mens moet ook begrip toon vir Kadalie se “verontregtingsgevoel”, want daar is baie foute waarvoor die ANC-regering pa moet staan. ’n Rubriekskrywer moet egter gebalanseerd en nie voorspelbaar wees nie.

Kadalie se deurlopende temas in haar rubrieke is: die bevordering van bruin etniese belange en dat die swart regering onbevoeg is. Dit is voorspelbaar en vervelig en reeds daarom behoort geen redakteur so ‘n rubriekskrywer te behou nie.

Ek ervaar haar gedrag teenoor die regering en haar mededingers soms as gevul met kortgebakerde argwaan, hovaardigheid en dit voel vir my of sy eerder persoonlik beledig as om ander se standpunte te oorweeg.

Hierdie ongelukkige ingesteldheid – deur ook uit woede uit die Menseregtekommissie en die universiteitsrade van Maties en Ikeys te bedank – het deurgesuur na haar algemene openbare deelname en sal so in die kollektiewe geheue van alle Suid-Afrikaners onthou word.

Kadalie se openbare deelname, wat vir my aan onmenslikheid grens, sal ongelukkig altyd my geheue oor haar beliggaam.

  • 3

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Liewe aarde dis 'n swak bydrae hierdie. Dis nou die grootste pot toktokkietos wat ek in 'n lang tyd gelees het. 

  • CorneliusHenn

    Ag Jason, dit is nou van die grootste klomp tottokkietos wat ek in 'n baie lang tyd gelees het. Jou argumente is lomp en dis nog boonop sleg geskryf ook. Ag nee wat jong, back to the drawing board. 

  • Herman Lategan

    Dis nou die grootste toktokkietos wat ek in 'n baie, bale lang ruk gelees het. Up your game my friend. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top