Waterskaarste: Praktiese wenke

  • 2

Daar heers debatte oor of Suid-Afrika as ’n waterskaars land beskou kan word.

Lees hierdie onlangse artikel op LitNet.

In die algemeen is dit egter duidelik: water moet spaarsamig gebruik word. Alta Cloete het onlangs op haar blog oor (gebrek aan) water geskryf en ook verwys na ’n skrywe deur Dibi Breytenbach.

Alta Cloete gesels na aanleiding hiervan met Naomi Meyer oor waterskaarste.

Droogte. Beteken dit vir jou dieselfde as waterskaarste? Brei asseblief ’n bietjie hierop uit. Ook jou emosies en gedagtes hieromtrent. En kinderdaeherinneringe, waar jy grootgeword het en hoe jy dit toe ervaar het.

Ek het in die Karoo (Sutherland se wêreld) grootgeword, waar droogte deel van die lewe was en steeds is. Ek onthou hoe my ma in ’n skielike donderbui gehardloop het om haar kuikens te red en dié woorde geuiter het: “Te veel reën is nog erger as te min.” Vandag kan ek daaruit aflei dat sy – soos ek – gewoond was aan periodieke droogtes, maar nooit aan ’n lewensbedreigende waterskaarste blootgestel was nie.

Ek het grootgeword met die besef dat water kosbaar is en altyd spaarsaam gebruik moet word. Vir my is die wenke wat nou gegee word, soos dat jy nie die ketel moet vol tap vir een koppie tee of dat jy die kraan moet toedraai terwyl jy jou tande borsel, hopeloos te min, hopeloos te laat. Dit – en vele ander – is dinge wat in ons huis nog altyd gedoen is. My mening is dat ons nou veel drastieser maatreëls nodig het as hierdie goedjies.

Ons het in die ’70’s, toe ek kind was, natuurlik veel meer basies geleef. Ek besef nou die standaarde vir persoonlike higiëne was eenvoudig nie so hoog soos vandag nie. Ons het in Sutherland se koue in die koshuis slegs op sportaande warm water gehad. Die tussenin aande het ons ge-top&tail in die wasbakkies. Ek onthou dat ons in die winter die lou water uit ons warmwatersakke gebruik het om ons gesig te was. Ek het twee dae aan ’n skoolhemp gedra en hare is een keer per week met vars water uit die tenk gewas. En dan wat vandag vir ons amper ondenkbaar is: die toilet is nie gespoel vir elke klein piepietjie nie!

Ek dink die tyd is ryp om permanent terug te gaan na sommige van daardie ouer praktyke. Ons was destyds honderd persent gesond en gelukkig en beslis nie vuil nie. Cleanliness is next to godliness, dis waar – maar ons sal ons standaarde ’n ietsie moet laat sak, of andersins waterlose skoonmaakplanne maak. (Ek het onlangs gehoor van Saoedi-Arabië se hele vloot vliegtuie wat met ’n waterlose middel gewas word.)

Te min water. Ons beleef dit reeds. Het jy praktiese besparingswenke, terwyl daar nog (bietjie) water is?

Ek sien die huidige krisis as ’n geleentheid om ons hele benadering tot water te verander. Vir my as plaaskind uit ’n droë streek is dit nie so ’n groot verandering nie, hoewel die dorpslewe my wel ’n bietjie bederf het. Ek verstaan egter dat stedelinge verder van die natuur lewe en dalk dinge soos water en vars lug makliker as vanselfsprekend kan aanneem. Daardie tyd is egter nou verby. Ons moet baie vinnig leer om oor elke druppel water wat ons gebruik te DINK. Ons moet leer seerkry as drinkbare water bloot in die drein afloop. Ons moet outomaties probeer om water minstens twee keer te benut, indien nie meer nie.

Die afgelope maande het ons ons huishouding (twee mense en ’n hele paar diere) se watergebruik van agt kiloliter na vier4 verminder deur eenvoudig net versigtig met elke druppel water om te gaan. Mens raak wonderlik gewoond daaraan. Toe ons onlangs in ’n vakansiehuis tuis was, het ons vanselfsprekend die tuin met ons stort- en skottelgoedwater begin natdra.

Ek het verlede winter al net een of twee keer gebad, terwyl ’n warm bad vir jare ’n gegewe was in die winter. (Nee, ek het nie soos my broer as tiener voorgestel het, net een keer in die somer en minder dikwels in die winter gebad nie! Ek het bloot die luukse van ’n warm bad as dit koud is, vir die “lyding” van ’n stort verruil.) Vanoggend (met eindelik sneeu op ons Bolandse berge) het die versoeking vir ’n bad my weer oorweldig – maar toe het ek ’n bondel wasgoed in dié water gewas en net met die masjien uitgespoel. Ons bad het feitlik ’n wit olifant geword.

Onder die stort is natuurlik ’n emmer vir die eerste koue water en vir enige water wat jy kan opvang terwyl jy blitsvinnig stort. (Dit help nogal om ’n lekker rock-liedjie hard aan te skakel en te sorg dat jy klaar is voor die lied klaar is!) Wat vir my die meeste water neem onder die stort, is die afspoel van mens se hare. Ek het my voorgeneem die dag as ons pype opdroog, laat sny ek my hare so kort af dat bitter min ekstra afspoel nodig is. (Ek het tevore al my hare vir Cansa se Shavathon kort laat sny en ek weet hoe bevrydend dit is.)

Die stortwater gaan natuurlik toilet toe. Uit Dibi se wenke het ek eers besef hoeveel skoner die toilet bly as mens nie die toiletpapier vir nommer eens daarin gooi nie. En natuurlik verhoog die papier die kans vir verstopping, met grusame gevolge! ’n Emmertjie met ’n deksel doen die ding vir die papiere. Maak dit gereeld leeg, spoel die emmertjie met ’n bietjie Jik-water uit en geen geurtjie pla jou nie. Die effek van diée klein dingetjie is regtig verstommend – dit is eenvoudig minder dikwels nodig om die toilet te spoel.

In die kombuiswasbak staan my ma se ou emaljeskottel wat al vir baie dinge in hierdie huis ingespan is. Mens besef nie hoeveel water jy gebruik deur net vinnig ’n koppie uit te spoel of jou hande te was nie. In daardie water word die krimpvark se wiel (baie soos ’n hamsterwiel, maar ’n soliede plastiekoppervlak) eers soggens gewas en dan gaan dit na die bedding voor die agterdeur.

Die wasmasjien is natuurlik die grootste watergebruiker. Ek dink ons is verby die punt waar dit genoeg is om die hoeveelheid water aan te pas by die grootte van die wasgoedbondel. En dit spreek vanself dat mens nou twee keer dink voor jy ’n kledingstuk wat net een keer gedra is, in die was gooi. Méér is nodig.

Ons opset is so dat dit bykans onmoontlik is om die gryswater met ’n pyp na buite te lei. Ons dra dus die water met emmers uit tuin toe, wat ’n yslike werk is wanneer mens nie meer so bloedjonk en erg lewenslustig is nie. Maar ons doen dit, want dis nodig. En put tog ’n mate van bevrediging daaruit.

Ons kan beslis baie klere (bv jeans – daar was onlangs ’n artikel wat sê jeans behoort eintlik nooit gewas te word nie!) minder dikwels was. Niemand kom iets oor as beddegoed elke veertien dae ipv weekliks gewas word nie. Handdoeke kan lekker in die son uitgehang word vir ’n verfrissende, waterlose opkikkering.

Ek het juis vanoggend ’n drastiese stap uitgetoets: ek het ’n bondel wasgoed slegs deur die spoelsiklus van die masjien gesit. (Ek praat nou van doodgewone klere van doodgewone dorpsmense, nie olierige oorpakke of bebloede slagtersjasse nie.) Daarmee spaar ek dus die helfte van die water wat normaalweg gebruik word. En dit neem ’n breukdeel van die tyd. Ek het die wasgoed vanaand deeglik bekyk en beruik en ek kon geen verskil agterkom nie.

Waar drastiese en permanente verandering nodig is, is by ons tuine. ’n Australiese besoeker het jare gelede sy verbasing uitgespreek omdat Suid-Afrikaanse tuine so Europees van aard is. Intussen het ons darem veel meer bewus geraak van waterwys en inheemse plante, maar daar is steeds groot ruimte vir verbetering. Dis deesdae vir my ’n plesier om op te let hoeveel pragtige vetplanttuine daar nou te sien is. Die dorpie Prince Albert is ’n wonderlike voorbeeld – hulle het daardie les jare gelede al geleer.

Ek het nou tot die gevolgtrekking gekom dat ’n grasperk eintlik ’n effens belaglike instelling is. Is dit regtig sinvol om ’n klomp water en kunsmis te gebruik om iets welig te laat groei – en dit dan met groot moeite telkens weer stomp af te sny? Die meeste van die gras in ons erf is jare gelede al deur ’n klippiestuin vervang en die klein stukkie gras het wonderbaarlik aan die lewe gebly deur die somer. Ek dink nie ek gaan ooit in my lewe weer ’n stuk kikoejoe twee maal per week natspuit nie!

Die grootste belegging wat elke huishouding betyds moet maak, is natuurlik ’n opgaartenk (of sommer ’n paar). Maar dit kos geld – en die pryse is alreeds aan die styg. Daarby is baie erwe eenvoudig nie geskik vir die plasing van ’n tenk nie. Ons kon self nog nie by ’n oplossing uitkom nie. Die beste wat ons op die oomblik kan doen, is ’n emmer onder die enkele geut waaronder ’n emmer wel pas. Ek vermoed ek gaan volgende somer ten minste al die geute afsaag en nog ’n stapeltjie emmers aanskaf. Mens is werklik verstom om te sien hoeveel water kom selfs met net ’n paar millimeter se reën met een enkele geut van die dak af.

Ek dink werklik dis nou ons kans om permanente veranderings aan ons lewenswyse te maak, om nader aan die natuur te leef en in die proses die frenetiese haas waarmee ons leef, ’n bietjie te verminder. Ek dink nie die waterkrisis gaan gou weer weggaan nie, indien ooit. Die dae van ’n kraan oopdraai sonder om ’n gedagte te skenk aan die drinkbare water wat in die drein wegloop, is eenvoudig verby. Al wat dit vra, is ’n bietjie ekstra tyd en moeite. Dis natuurlik juis die tyd wat vir baie mense ’n kwessie is. Maar ek dink nie ons het meer ’n keuse nie.

Dit help nie meer om te kla oor die owerhede wat nie betyds maatreëls getref het nie of die mense wat van elders instroom nie. Dis gegewens waarmee ons nou moet saamleef. Ek dink steeds mense besef nie die waarde van ’n individu wat versigtig met sy water omgaan nie. Ons kan nie meer dink die ou bietjie wat ons dalk mors, maak nie saak nie. Elke druppel maak nou saak.

En dan kan die krane opdroog. Dit voel werklik apokalipties. En tog kán dit en hét dit al gebeur (soos wat Dibi op haar blog skryf). Wat maak ’n mens prakties?

Lees Dibi se oorlewingswenke op my blog.

Voorspel vir my die land se watertoekoms oor ’n paar jaar. Anders kan jy net vertel hoe jy dink mens kan saamleef met ’n nuwe normaal van baie minder water.

’n Paar jaar gelede was daar al ’n advertensie wat gesê het die volgende wêreldoorlog gaan nie oor grond uitbreek nie, maar oor water. Ek dink nie dis ’n onrealistiese scenario nie. Ek sien ons land se watertoekoms as nogal taamlik donker. Die huidige krisis in die Wes-Kaap gaan nie deur een goeie reënseisoen opgelos word nie. Ons probleme gaan nie sommer weggaan nie.

Mense verskil natuurlik oor aardverwarming of nie, maar vir my as leek lyk dit beslis of natuurverskynsels hewiger word – droogtes word intenser en wanneer die reën kom, kom dit met geweld, soos ons die afgelope week in die Kaap aan ons lyf gevoel het. Ons sal moet leer om daarvoor voorsiening te maak, oa deur te skep as dit wel reën.

Hopelik leer ons owerhede uit die huidige krisis en word alternatiewe maniere van watervoorsiening in die toekoms ’n werklikheid. Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om drinkbare water vir allerhande ander goed te gebruik nie.

Ek dink dus ons moet eenvoudig aanvaar ons leef in ’n waterskaars land en ons lewens daarvolgens inrig. Dit kan gedoen word. Dit kan selfs tot persoonlike groei en ’n rustiger lewenstempo lei. Mens kan gewoond raak aan baie dinge. En jy kan in die proses ’n groter waardering vir die gawes van die natuur ontwikkel en leer om meer bewustelik en met groter dankbaarheid te leef.

  • Foto van Alta Cloete: Izak de Vries.
  • 2

Kommentaar

  • Handré Brand

    Uitstekende artikel. Dit is insiggewend om te lees met watter respek water hanteer is gedurende die outeur se skooljare in die Karoo. Houdings en waardes wat deeglik en vroeg vasgelê word, speel dikwels 'n kardinale rol gedurende die volwasse jare. Daarom behoort oorweeg te word om "respek vir water"-modules in te bou in leerplanne vanaf Graad R tot Graad 12.

  • Baie dankie ... laat mens besef hoe noodsaaklik elke druppel water is,en dat mens met klein verandering baie water kan spaar! Dankie en dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top