Waterskaarste: Dibi Breytenbach se wenke

  • 3

Dibi Breytenbach (foto: Izak de Vries)

Verlede week het Alta Cloete met Naomi Meyer oor waterskaarste en droogte gesels. Hierdie week deel Dibi Breytenbach haar gedagtes oor hierdie onderwerpe.

Die verskil tussen waterskaarste en droogte

Ek het grootgeword in die malse, groen heuwels van Natal. As kind was ek gelukkig genoeg gewees om beide stelle grootouers te ken. My ma se ouers het op ’n plaas net buitekant Zeerust gebly en my pa s’n op ’n wildsplaas naby die destydse Ellisras. Baie skoolvakansies is uit die aard van saak óf op die een plaas, óf op die ander deurgebring. Daar het ek destyds die begrip van waterskaarste leer ken.

Beide plase was in waterarm gebiede geleë. Daar het ’n mens nie sommer ’n kraan oopgemaak vir niks nie, want die water vir huisverbruik is diep onder uit die aarde in die groot tenks langs die huis gepomp en om water te pomp, kos geld. In die plaasdamme het jy geswem net as daar ’n wesenlike risiko bestaan het dat jy gaan beswyk van die hitte, want die diere het daardie water gedrink; en diep baddens soos by die huis het eenvoudig nie gebeur nie. As jy kon wegkom daarmee om in die bed te gaan klim sónder om te bad, was dit selfs nog beter, en dit was natuurlik hemel op aarde vir dorpskindertjies wat gewoond was aan ander standaarde van higiëne. Wanneer ons weer terug was by die huis, het my arme ma haar half doodgesukkel om ons ons (nuwe) vuilgatgewoontes weer af te leer.

Dit was egter hoe dit was: waterskaarste was iets wat geassosieer was met skoolvakansies en nie iets waaraan jy jou vreeslik gesteur het nie, want dit was van verbygaande aard. Wanneer ons weer terug by die huis was, was water volop en oorvloedig.

Die eerste keer toe ek egter met droogte te doene gekry het, was in 1983–1984 in Newcastle. Ek was toe in graad 6. Vir maande het ons die rommelinge van ’n naderende ramp gehoor. Die munisipaliteit het geleidelik al hoe meer drakoniese waterbeperkings ingestel en teen die tyd dat die sikloon Domoina die droogte gebreek het, was die maandelikse beperking iets soos ses kiloliter per huishouding. Alhoewel die krane nooit leeggeloop het nie, het daardie droogte ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Oortreding van die beperkings het jou die allerverskriklikste boetes op die hals gehaal en huisgesinne het alles binne hulle vermoë gedoen om binne die ses kiloliter te bly.

In 2016 het ek rêrige droogte leer ken. Ek bly al 20 jaar in Vryheid, Newcastle se buurdorp. Die twee dorpe is ongeveer 120 km uitmekaar in die noorde van KwaZulu-Natal. Destyds met Domoina het Vryheid en Pongola, nader aan die see, die ergste van die sikloon se skade gely. Spore van die destydse vloed is steeds te sien in omgespoelde brugpilare wat in die Pongolarivier lê en in plaaslike straatname. Na die vreeslike droogte van ’84 was daar nog nooit weer ’n tekort aan water in hierdie distrikte nie. Inteendeel. Dit is vrugbare landbougebiede met groot bees- en wildplase. En selfs in ’84 was daar nooit nié water in die krane nie.

In die winter van 2015 word ons egter vir die eerste keer bewus gemaak van ’n naderende ellende. Dit is nooit amptelik aangekondig nie, maar die storie het begin loop dat die dorpsdam besig was om leeg te loop. Mense het hulle aanvanklik nie veel daaraan gesteur nie, want die begrip van’n dorp om heeltemal sonder water te wees, was uit die aard van die saak verregaande. Geen spesifieke voorsorg is getref om ’n ramp af te weer nie. In Oktober 2015 het die mense in die boonste gedeelte van dorp begin kla dat hulle nie water het nie. Ons dorp se watervoorsieningstelsel werk met gravitasie van ’n reservoir op die heuwel waarteen die dorp genestel is na die res van die dorpsinwoners. Die algemene gevoel was dat die rykgatte op skuldbult al weer meer eis as wat hulle toekom en hulle besware is met bespotting afgemaak.

Gedurende die eerste kwartaal van 2016 het ook die onderdorp periodieke wateronderbrekings begin ondervind, maar steeds is die erns van die situasie nie na behore besef nie.

Ek het hierdie jaar dieselfde tipe ding in die Kaap teëgekom. Dit is doodeenvoudig asof die omvang van die ramp so groot is dat dit net nie tot die mense se koppe kan deurdring nie. Mense het maar aangegaan met hulle daaglikse lewens tot die water een goeie dag in Mei 2016 heeltemal opgedroog het. Ek kan onthou dat ek besig was om wasgoed te was toe die masjien ophou werk het, want daar was geen watertoevoer in die pype nie. Ek het die munisipaliteit gebel omdat ek onder die indruk was dat daar moontlik ’n gebarste pyp of ’n ding êrens was, maar ek sal nooit vergeet hoe dit gevoel het toe die persoon aan die ander kant van die lyn vir my sê die water is alles op nie.

Dit was letterlik die woorde: “Die water is alles op.”

“Wat bedoel jy die water is op?”

“Die water is alles op. Die dam is leeg.”

Hoe de hel?

Dit is moeilik om te beskryf wanneer ’n mens met so iets gekonfronteer word. Nog nooit was ek in ’n situasie waar ’n basiese lewensmiddel nie beskikbaar is nie. Dis soos wanneer ’n mens se kar in ’n vreemde dorp breek: dieselfde gevoel van ontreddering, gebrek aan beheer, ’n uitsiglose toekoms.

Ek dink van al die emosies wat ek daardie dag ervaar het, was die verlies aan beheer die ergste een gewees. En wat doen ’n mens op daardie stadium? Gelukkig kon ons intussen water aanry van vriende met boorgate af, maar op daardie spesifieke dag was daar geen hoop nie.

Waterbesparingsmaatreëls wanneer die water min is en wanneer die water heeltemal opraak?

Sjoe, dis moeilik, want ’n mens moet jou hele lewensuitkyk verander. Onthou, hierdie dinge het ek hoofsaaklik geleer toe daar niks meer water was óm te bespaar nie. Daar’s eintlik baie wat ’n mens kan doen, maar dan moet almal dit doen. Die eerste ding wat ’n mens moet leer, is dat dit ’n sonde is om water slegs een keer te gebruik. Ek het egter dié maatreëls aangeleer eers toe die water heeltemal opgeraak het.

Die munisipaliteit se oplossing vir die probleem was om groot watertenks op strategiese plekke in die dorp op te sit waaruit water onder streng toesig getap is. Daar het almal hulle water gaan haal in enige ding wat hulle kon. Ons het aanvanklik 5-liter-houers gebruik. Dertig van hulle was genoeg vir ons huishouding van vier vir vier tot vyf dae. Dit was ’n verootmoedigende ondervinding om by daardie tenk te gaan staan, want daar is nie nog so ’n gelykmaker in die wêreld nie.

Omdat ons kampeerders is, was ons gelukkig reeds in besit van ’n kampstort met ’n dompelpomp wat ons in die stort opgesit het. Elke gesinslid het ongeveer drie liter water gekry om mee te stort. Ek weet dit was ongeveer soveel, want dit was die grootte van die kastrol waarmee ons water op ’n induksieplaat warm gemaak het. Die geyser is uit die aard van die saak afgeskakel, want hy sou uitbrand sonder watertoevoer. Vir die interessantheid: wanneer daar geen water in die pype is nie, veroorsaak die deurvloei van lug dat die watermeter steeds ’n verbruik registreer. Stopkrane moet derhalwe ook toegemaak word.

Ons het ’n skottel in die stort gesit en ’n 25-liter-plastiekemmer met ’n deksel in die toilet. Wanneer ons gestort het, het ons dan die water in die skottel opgevang en in die toiletemmer gaan uitgooi. Toilette is gespoel slegs wanneer dit werklik nodig was. Dit was aanvanklik traumaties om ’n leeftyd se aangeleerde toiletmaniere opsy te skuif ter wille van oorlewing, en dit het naderhand ’n hele spotternasie in die dorp veroorsaak. Hoe weet jy iemand kom van Vryheid af? Hulle karre is vuil en hulle spoel nie die toilet as hulle klaar gepiepie het nie.

Ons het egter ook baie vinnig geleer dat ’n mens nie toiletpapier in die toilet gooi indien jy nie beoog om dit weg te spoel nie, want dit veroorsaak die allerverskriklikste blokkasies wat huweliks- en gesinsvrede tot die uiterste beproef omdat daar geen water is om mee te ontlont nie. Die oplossing daarvoor was by Checkers te vinde in sogenaamde Ecobins, ’n pikante klein asblik met ’n opwipdeksel wat dig seël. Dit was belangrik. Enige toiletpapier wat nie onmiddelik gespoel sou word nie, is daarin gegooi en dan later diskreet van ontslae geraak in die groot buite-asblik.

Klere is gewas slegs as dit werklik nodig was, want dit was ’n reuse-schlep. Ek het twee 50-liter-asblikke met roldeksels gaan koop en in my waskamer geparkeer. Hulle het ek een keer per week volgemaak. Een het ek gebruik vir waswater en die ander vir afspoelwater. Ek het steeds met my masjien gewas (’n Samsung-bolaaier), maar op sy handwasfunksie. Maandae en Dinsdae het ek witgoed gewas en die water teruggetap in die asblik en afgespoel met water uit die ander asblik. Woensdae en Donderdae het ek ligte goed gewas en Vrydae en Saterdae donker goed. Wanneer die waswater soos Coke gelyk het, is dit toilet toe en die afspoelwater, Sta-soft en al, het die volgende week se waswater geword. Ek kan tot vandag nie sien dat dit die klere enigsins beskadig het nie.

 Ek het ook Sta-soft met water gemeng en in ’n sproeibottel gesit. Voordat ek klere wat ek voorheen gedra het, weer aangetrek het, het ek dit vol Sta-soft gespuit en in die tuimeldroër gesit. Dit bly nogal lank “vars” op hierdie manier en ek doen dit nog steeds, want ek dink ek sal vir die res van my lewe watersuinig bly.

Terwyl daar water in die pype is, is dit ’n goeie idee om skottelgoed in die skottelgoedwasser te was as jy een van die nuwer skottelgoedwassers het, want jy kan baie skottelgoed met ’n bietjie water was. Wanneer die water natuurlik heeltemal opraak, is ’n skottelgoedwasser ’n nuttige plek om vuil borde te bêre tot vanaand wanneer die takie afgehandel word. Nood het ons leer bid, in hierdie geval, want skielik moes ek weer skottelgoed met die hand was.

Die waarde van foelie (ek het dit in catering-rolle gekoop) om potte en panne in dubbellae uit te voer, moenie onderskat word nie! Dit het skottelgoedwaterverbruik aansienlik verminder. Ek het twee 5-liter-skottels (onthou die kastrol!) in my kombuiswasbakke gesit en die skottelgoed met kookwater gewas en afgespoel in water waarin ek wit asyn gegooi het. Dit neutraliseer die skottelgoedseep, wat alkalies is, en veroorsaak dat jy meer skottelgoed kan afspoel in minder water. Daardie water, uit die aard van die saak, is ook toilet toe.

Ons het nooit probeer om water tuis te suiwer nie. Ek sou ook nie die kans waag nie, tensy iemand my behoorlik oplei. Om ’n omgekrapte maag te hê wanneer daar nie water is om die toilet te spoel nie, is ’n groot ellende.

Gaan water duurder word as goud?

Dit sal my nie verbaas nie. Wat in ons dorp opvallend was, was hoe vinnig die mense dissipline aangeleer het ten opsigte van waterverbruik toe die water heeltemal klaar geraak het. Ons het werklik nie ’n keuse gehad nie. Dis iets wat ons eintlik lankal moes geleer het, ter wille van oorlewing. Gedurende die tyd wat water by my huis afgelewer is om die tenk vol te maak, het dit my gemiddeld ’n addisionele R1 000–R1 300 per maand gekos. Ek kan derhalwe sê dat ek ook daardie koste aan eie bas gevoel het.

Ek wil nie ’n voorspelling waag oor die land se watertoekoms nie, maar dat klimaatsverandering aan die gebeur is, is ’n voldonge feit. Reeds kan ’n mens sien hoe dele van die land wat altyd groen was, soos die Kalahari begin lyk. Minder water, dink ek, gaan die norm word. Soos ek reeds gesê het, het ons geleer dat dit ’n sonde is om water net een keer te gebruik.

Soos wat ek hier sit en skryf, voel al hierdie dinge onwerklik, asof dit iemand anders se storie is. Ek kan aan die een kant nie glo dat dit werklik met ons gebeur het nie en aan die ander kant was dit geweldig traumaties. Ek staan nog steeds in die middel van die nag op om ’n kraan te gaan oopdraai sodat ek seker kan wees daar is water in die pype.

  • 3

Kommentaar

  • ... en so op hierdie noot het ander Waterstories hom om my ontvou ...
    ... dalk beter as ek die storie toelaat om hier dood te loop.
    'n Ander Waterstorie van dieselfde dorp en sy mense ...

    • Baie dankie vir jou storie. The water shortage in Cape Town is becoming really serious now and you have given me some good tips on how to manage. We have been doing our best to use as little as possible and re-use again. It certainly "concentrates the mind". Best wishes to you. Groete!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top