Waterbergstraat

  • 0

Die papawer val deurmekaar
raak ’n uitmekaar papawer
sowaar

    In die maer strate van Heideveld
    op ’n middag só gewoon, lê Ma-Davids
    in die kamer ’n wyle en rus
    terwyl buite haar dogters traag hul bal
    heen-en-weer speel
    deur ’n skewe ring. Klink klappers meteens
    hoek om in Waterbergstraat

En die papawer val uitmekaar
raak ’n deurmekaar papawer
sowaar

    In die droë strate van Heideveld
    op ’n middag so terloops, hardloop
    drie susters na hul maats
    tromp-op, die spervuur waar gangsters
    grootmeneer speel
    met Breeze en Thupak reeds dood.
    Koes agter mure in, maar te laat,
    te laat

    Nou lê Anthonia ook in die straat
    terwyl ’n papawer groei op haar rug —
    Nooit weer sal sy weet hoe droog
    die spel

    hoe veldvry die heide sterf
    in Waterbergstraat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top