Wat word in 'n wynkelder gemaak?

  • 0

 

musicsilverscreen1

Hannes Nel, keldermeester van Lourensford in Somerset-Wes, gesels oor wat alles binne 'n wynkelder gemaak kan word.

Hannes, ek lees oor jou filosofie dat wyn nie in 'n wynkelder gemaak word nie, maar wel in die wingerd (http://www.thenewspaper.co.za/tag/hannes-nel-lourensford/). Wil jy iets van jou agtergrond, en van jou gedagtes oor wynmaak met so min moontlik inmenging van buite, aan ons lesers verduidelik?

Wynmaak begin in die wingerd. Ons moet na die beste van ons vermoë probeer om die wingerd te bestuur in perfekte balans en harmonie om die beste gekonsentreerde druiwe te produseer waarmee kwaliteit-, vrugtige wyne gemaak kan word wat uitdrukking kan gee aan die area en mikroklimaat waar hulle gegroei het. Vir my is wynmaak beide ‘n kuns en wetenskap en kan die een nie sonder die ander nie. Ek het ‘n meestersgraad in wynmikrobiologie wat my die wetenskaplike denkwyse aangeleer het, en saam met my kreatiwiteit en liefde vir die natuur is dit ‘n goeie kombinasie vir my om te streef om top wyne te maak.

musicsilverscreen2

Lourensford, waar jy keldermeester is, is bekend vir sy wyn en sy mooi omgewing. Julle het ook 'n spesiale soort koffiewinkel daar, soos die fynproewerstydskrifte vermeld, en 'n sjokoladefees wat onlangs verby is. Wat is alles op die plaas se vermaaklikheidskalender en waarom dit met wyn kombineer?

Lourensford ‘n werklik ‘n dagbesoek werd vir die hele familie. Tussen ons natuurprag kan besoekers nie net van ons bekroonde landgoedwyne proe, of dit selfs met sjokolade of nougat paar nie, maar het ons ook ‘n koffiewinkel wat die beste koffiebone van wêreldoorsprong self rooster, ‘n Italiaanse-styl-restaurant, en natuurlik ons baie gewilde naweekmark wat uitgesoekte fynproewerprodukte verkoop en vele aktiwiteite vir die kinders aanbied. Die kunstenaar Frans Groenewald het ook sy ateljee op die landgoed.

musicsilverscreen5

'n Geleentheid wat binnekort opduik, is 'n orkesoptrede van die Stellenbosch City Orchestra. Gepraat van wyn wat nie die enigste ding is wat in 'n wynkelder gemaak word nie ... Wat is besonders aan hierdie optredes?

Net soos wyn is musiek onafskeidbaar deel van ons samelewing. Oor die eeue heen pols dit deur ons are en bring dit mense saam. Wyn is ‘n vloeibare kunsvorm wat gekomplementeer word deur die tipe musiek wat die Stellenbosch City Orchestra eersdaags na die kelder bring. Saam gaan dit ‘n verkwikking van die sintuie wees wanneer beide die lewendige musiek en die wyn ons gaan meevoer in ‘n baie besonderse atmosfeer in die kelder met sy uitstekende akoestiek.

musicsilverscreen3

Prakties: hoe gaan dit werk vir 'n orkes om binne-in 'n wynkelder te kan speel? Waar sit hulle, waar sit die gehoor, waar is die koor (en dan hoor ek ook nog van 'n filmvertoning van 'n aard tydens die konsert ...)?

Dit gaan iets heeltemal besonders en uniek wees. Ons wyntenke hang as’t ware in die lug sodat ons gravitasie kan gebruik in die maak van ons top rooiwyne. Daarom het ons plek onder die tenke op die vloer van die kelder waar die gehoor gaan sit, omring deur wyntenke en vate. Vir die orkes en die koor bou ons spesiaal ‘n verhoog uit wynpalette om seker te maak dat almal die kunstenaars mooi kan sien. Die musiek is uit bekende films soos Star Wars, Indiana Jones, Lord of the Rings en nog vele meer. Saam met die musiek word dele uit die films op groot skerms langs die verhoog gewys. Die gehoor gaan basies die fliek sien met ‘n lewende simfonieorkes en koor wat die musiek in die kelder speel.   

'n Wynkelder is mos nie 'n ruimte waar mens gewoonlik lank en stil sit nie. Watter soort temperatuur kan mens hier verwag en hoe beïnvloed dit die gehoor en orkes se kleredrag, as jy moet voorstelle maak?

Dit is winter in die Kaap en daar is sneeu op die berge, dus moet die gaste maar lekker warm aantrek en ‘n kombers saambring. Natuurlik verkoop ons ook wyn op die aand en ligte versnaperings en gaste kry ‘n glasie Glühwein gratis as verwelkoming.

Foto's verskaf

musicsilverscreen4

Die Stellenbosch City Orchestra tree op Vrydag 21 Augustus en Saterdag 22 Augustus 2015 binne-in Lourensford se wynkelder op. Glühwein word van 18:30 af bedien en die konsert begin om 19:00. Die gehoor word versoek om warm aan te trek, aangesien die temperatuur binne-in die kelder nie verstel kan word nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top