WAT: Valiant Swart, verjaardagversoek en woord van die week

  • 0

Valiant Swart het onlangs by 'n Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgetree. Hier verskyn hy saam met die bekende skrywer Deon Meyer en Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT (foto voorsien).

Brief van Elsabé Heystek

Goeidag Willem en span

Ek het in Maart met my verjaarsdag vir my vriende versoek om in plaas van ‘n geskenk (oorvloed kaggelkakkies oor tyd vergader!) eerder ‘n bydrae tot die WAT se Borg ‘n Woord inisiatief te maak, ‘n woord of drie saam met die geld in ‘n koevert te gooi en om ‘n langtafel en wyn te kom vertel hoekom hulle daardie woord/e gekies het.

Ons het baie pret gehad, nostalgies geraak en mekaar se woordeskat help uitbrei. Twee aande van onbevange lag, besin en kuier rondom ons geliefde moedertaal, Afrikaans …

Ek het sopas R5000 oorbetaal in die WAT Trust rekening. Hieronder volg die 50 woorde wat deur ons vriende geborg is. Elke woord spreek natuurlik boekdele oor die persoonlikheid wat dit aangebied het! Reg geraai, hierdie is maar ‘n handvol van al die woorde wat op daardie twee aande ter sprake gekom het …

Johan van der Walt: kapittel
Lourens Erasmus: slaggat en gatslag (die een lei na die ander!)
Lucia Erasmus: kuttel en desnieteenstaande
Elsa de Kock: glimpen en vloermoer
Gavin de Kock: klavier
Ina Vos: kuier
Veronica van Rooy: snert, glinster
Charl van Rooy: mamparra,foonbuffel
Matthys Wessels: holderstebolder
Francisca Wessels: asemrowend, skattebol
Martie Botha: negosie
Pieter Botha: tombola, toe (en toe…), hekel (om hekel aan iets te hê)
Mariette Coetzee: koestertjie
Rian Coetzee: rompslomp
Elsabe Heystek: psalm, potsierlik, spitsvondig
Andries Heystek: fnuik,agterbanker
Andries Heystek jnr: brandewyn
Annatjie van Urk: tjommel, fuifparty, muggiesiftery
Peter van Urk: jag
Maria de Bruyn: karnallie, skoppelmaai
Rudolf du Plessis: iesegrimmig, hoekom
Marie du Plessis:  dekonstrueer
Jan en Daleen Smit: droesem
Stef du Plessis: ontgogelingsproses
Tanya du Plessis: hede
Amelia van der Walt: onrusbarend, barensnood (vrou van Barend van der Walt!)
Barend van der Walt: wat (WAT!?)
Letitia van der Westhuizen: pletterpet, kotiljons
Sune van der Westhuizen: virtuoos
Gerda Venter: pamperlang,genade
Rohan Venter: kaiing

Ek het ongelukkig nie almal se e-pos-adresse nie. Julle kan dus die sertifikate na my toe aanstuur en ek sal elkeen se sertifikaat aan hom of haar besorg.

Mooi loop.

Woord van die Week

tingting    b.nw.
1       (ten opsigte van konfyt en stroop) Wat te lank gekook het en baie dik en taai is:  Hou die konfyt dop dat dit nie tingting kook nie (Bitterfontein).  Haal die konfyt dadelik af, anders is dit nou-nou tingting (Garies).
2       Baie soet, omdat te veel suiker bygevoeg is: Jy maak jou koffie ting-ting as jy so baie suiker ingooi (Vredendal). Die koekie is tingting.
tingting-en-tameletjie        Goeie vriende: Na ons bakleiery was ons gou weer ting-ting-en-tameletjie met mekaar (Noordweste)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top