Wat is op jou bedkassie? Loammi Wolf antwoord

  • 0

LitNet het aan ’n paar lesers gevra watter boek of boeke wag op hul bedkassie vir die rustyd tussen Kersfees en Nuwejaar.

Loammi Wolf antwoord:

Ek het ’n boekrak-bedkassie wat ek self gebou het. Daar staan dus ’n trop boeke langs my bed, maar ek steek nie so dikwels ’n hand na hulle uit nie.

Daar lê tans vyf boeke bo-op die bedkassie. Almal gaan toevallig oor die snitpunte tussen die Christendom, Judaïsme en Islam.

Die eerste een is Navid Kermani se Ungläubiges Staunen über das Christentum (Ongelowige verstomming oor die Christendom). Dis wonderlik geskryf en Kermani het ’n letterkundeprys daarvoor gekry. Dit gaan oor ’n betragting van die Christendom en religieuse kunswerke vanuit ’n Islam-perspektief.  Ek het die boek laas Kersfees persent gekry en lees dit so happie vir happie – veral Sondagoggende as ek lekker lui is en die koffiekan byderhand het.

Dan vir tussen die feesdae: ’n boek van die skrywer Gabi Gleichmann. Eintlik is hy ’n Hongaar wat in Swede grootgeword het, maar die boek is op Norweegs geskryf. Hy is ’n joernalis wat ook ’n tyd lank die president van PEN in Swede was. Ek lees die Duitse vertaling van sy bekroonde boek Das Elixier der Unsterblichkeit (The elixir of immortality). Dit het niks te doen met Harry Potter of Nicholas Flamel nie. Dis ’n familiesage van Sephardiese Jode, die Spinozas wat in die 12de eeu in Spanje begin.

Ek is ook besig met ’n biografie oor Maimonides, die beroemde 12de eeuse Joodse filosoof, juris en geneesheer van Cordoba wie se weë hom na Fes en later na Egipte gevoer het. Dis geskryf deur Joel Kraemer. Dik en lywig, maar baie spannend. Ek lees dit met verdrag.

 

Steeds binne daardie spektrum: Georg Bossong se boek Das maurische Spanien (Die Moorse Spanje). Dit is ’n beknopte oorsig oor die geskiedenis en kultuur van daardie era.

En laastens, Lion Feuchtwanger se Die Jüdin von Toledo (Die Jodin van Toledo). Dit gaan oor die beeldskone Raquel wat verstrik raak in die lewe en magspolitiek van Koning Alfons VIII van Kastilië. Feuchtwanger was ’n tydgenoot van Thomas Mann, en het die Duitse letterkunde met grootse werke verryk. Maar ... ek sukkel met sy skryfstyl. Hy’s vreeslik omslagtig – nes Thomas Mann. Ek is darem nou al so halfpad na drie jaar ... Ek wil natuurlik weet wat met die skone Formosa gebeur, maar ek is ook bietjie bang om te vinnig te lees want ek weet dat sy uiteindelik vermoor is tydens die reconquista deur maghebbers wat deur Alfonso se vrou Eleanor opgestook is ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top