Wat om van die ANC se 54ste nasionale konferensie te verwag

  • 1

Theo Venter (Foto: Twitter)

Teen Sondag 17 Desember 2017 sal die slag gelewer wees, maar die ANC-konferensie nog nie verby nie. Ons sal dan weet wie die nuwe leier van die ANC gaan wees vir die volgende vyf jaar. Daar heers ongekende belangstelling in hierdie konferensie, omdat nuwe leierskap verkies gaan word nadat Jacob Zuma sedert 2007 se 52ste nasionale konferensie die president van die ANC was en nou aangedui het dat hy na twee termyne as partyleier gaan uittree.

Die konferensie is egter nie net ’n verkiesingskonferensie nie – dit sal die president se oorsig moet aanhoor; dit sal die stand van die party bespreek by wyse van die sekretaris-generaal se verslag; dit sal beleidsaanpassings wat vroeër tydens die beleidskonferensie bespreek is, moet aanvaar; en dit sal die ANC-grondwet moet wysig.

Die ANC gaan sy nasionale konferensie hou as ’n diep verdeelde en in baie gevalle ’n disfunksionele politieke party. Die verskillende faksies het hulself so diep in provinsiale en plaaslike strukture ingegrawe dat dit moeilik is om te sien hoe die ANC uit die konferensie gaan kom anders as as ’n steeds verdeelde party wat binne ongeveer 18 maande in Mei 2019 aan die volgende nasionale verkiesing moet deelneem. Wen die Cyril Ramaphosa-faksie, gaan hulle die interne weerstand van die Zuma-faksie met ’n baie sterk KwaZulu-Natal-, Noordwes-Vrystaat- en Mpumalanga-gebaseerde steunbasis moet hanteer en kan dit die Ramaphosa-regering van binne verlam. Wen die Zuma-faksie die stryd by die konferensie, is ’n wegbreek deur die ontgogelde Ramaphosa-ondersteuners een van die waarskynlikhede en gaan Gauteng, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Limpopo en Wes-Kaap waarskynlik in ’n ander rigting trek as die nuwe Dlamini-Zuma-regering.

Wat ook al die uitkoms, die ANC lyk na ’n party wat op ’n lang en uitgerekte afdraandepad is.

Die aanloop tot die konferensie was een van die mees dramatiese in baie jare. Dit het sterk herinner aan die 2007 Polokwane-konferensie met die skorsing van Zuma in 2005, verskillende hofsake, faksies en toe die onverwagte oorwinning van Zuma tydens die konferensie in Desember 2007. Thabo Mbeki is natuurlik nie lank daarna nie, in 2008, herroep as president van Suid-Afrika, en Kgalema Motlanthe het sy termyn voltooi totdat Jacob Zuma in 2009 staatspresident geword het.

Die aanloop tot die 54ste konferensie het beide administratief dinamiese en polities dinamiese uitdagings gehad. Twyfel het tot ’n week voor die konferensie bestaan of die organisatoriese reëlings vir die konferensie getref sou gewees het. Dit was egter van die begin af duidelik dat die ANC-grondwet swyg oor die uitstel van die vyfjaarlikse nasionale konferensie en dat dit teen wil en dank sou moes plaasvind. Uitstel sou die faksies net verder verdiep en politieke onsekerheid net nog verder verhoog. Desnieteenstaande is daar steeds hofsake in verskillende provinsiale howe aan die gang wat die samestelling van die konferensie op die een of ander wyse probeer beïnvloed. Die agenda vir die konferensie is reeds gepubliseer, asook die werksdokumente, en die sowat 5 000 afgevaardigdes is reeds op pad na Nasrec, die skouterrein suid van Johannesburg.

Die konteks waarbinne die konferensie plaasvind, is uiters betekenisvol en verskeie gebeure, insluitende die publikasie van The Presidents keepers deur Jacques Pauw, was deel daarvan. Hierdie agtergrond gaan ’n bepalende invloed op die gang van gebeure uitoefen.

Die konteks kan in minstens vyf kategorieë ingedeel word, naamlik partypolitieke gebeure, regsprekende en statutêre ingrypings, burgerlike aktivisme, die media en publikasies, en laastens die algemene stand van die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie.

  • Drie partypolitieke gebeure is belangrik. Eerstens het die verskillende opposisiepartye in die lig van ANC-swakheid baie beter begin saamwerk as parlementere opposisie. Nie alleen in die parlement nie, maar ook ondersteunend tot mekaar in hofsake en koalisieregerings op ander vlakke. Tweedens het die mosie van wantroue in president Zuma gedurende Augustus 2017 ’n skok deur die ANC gestuur toe minstens 30 ANC-lede vir die mosie gestem het. En laastens het die Nkandla-beslissing teen Zuma die ANC-koukus grootliks vervreem van die Zuma-presidentskap en kan hulle optrede duidelik gesien word in die parlementere komitees oor Eskom, die SAUK en staatskaping in die breë.
  • Regsprekende ingrypings. Die rol van die regbank gedurende die Zuma-jare het gedurende Desember 2017 ’n soort klimaks bereik toe twee uitsprake gemaak is waarin die President se uitsluitlike magte beperk is vanweë sy oënskynlik botsende belange en erodering van die regsproses. Eerstens is sy prerogatief om die nasionale direkteur van openbare vervolging aan te stel op 8 Desember van hom ontneem en aan sy adjunk toegeken. Tweedens is sy prerogatief om ’n kommissie van ondersoek aan te stel ook deur die hof op 13 Desember 2017 aangepas soos aanbeveel deur die openbare beskermer. Hierdie is unieke gebeure in die regsgeskiedenis van Suid-Afrika. Die twee kostebevele teen Zuma in sy persoonlike hoedanigheid maak hom dus ook nou kwesbaar om selfs tot ’n “kwelsugtige litigant” verklaar te word as gevolg van sy deurlopende dwarsboming van die regsproses.
  • Burgerlike aktivisme was ook ’n groot deel van die opbou tot die konferensie, en veral drie aspekte hiervan is belangrik. Die eerste is dat die #FeesMustFall-veldtog die hoëronderwyssektor in ’n krisis geplaas het en tans die integriteit van ons nasionale begroting bedreig. Daar is sprake dat dit weer in 2018 kan opvlam en dit sal dan direk aan Jacob Zuma toegeskryf kan word. Die tweede aspek is die deurlopende ontwrigting van ons plaaslike owerhede. Die skokkende verkiesingsuitslag in die Metsimaholo plaaslike owerheid (Sasolburg en omstreke) gedurende vroeg-Desember 2017 waarin die SAKP setels teen die ANC gewen het en die ANC minder as 50% steun in gevestigde wyke gekry het, was ook ’n skok vir die partystrukture. Laastens is daar die etlike burgerlike en nieregeringsorganisasies wat betrokke geraak het in die proses om staatskaping en korrupsie in die howe te beveg. Laasgenoemde is die onbesonge helde van die laaste twee jaar.
  • Media- en ander publikasies het ook gehelp met die skep van ’n klimaat om die rampokkerregering van Jacob Zuma en sy kornuite oral uit te wys. Min was so suksesvol as die boek deur Jacques Pauw getiteld The President’s keepers. Those keeping Zuma in power and out of prison wat op 9 Augustus 2107 gepubliseer is en binne ’n week ’n topverkoper in Suid-Afrika was en binne twee weke ’n Amazon.com internasionale topverkoper in die niefiksie-afdeling was. Die boek lees soos ’n Tom Clancy-spioenasieroman en ontbloot veral die verval van SARS onder leiding van die Zuma-vertroueling Tom Moyane. Die boek wentel rondom Jacob Zuma en hoe vervleg die patronaatskapnetwerk om hom en sy familie ontstaan het. Dit moet saam met ’n paar ander boeke gelees word, naamlik die een van Ronnie Kasrils, Johann van Loggerenberg, Johan Booysen, Pieter-Louis Myburgh, Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the people en beslis ook Khwezi van Redi Thlabi.
  • Die stand van die politieke ekonomie is ook bepalend in die uitkoms van die konferensie omdat die politieke onsekerheid wat die hoogste in 30 jaar is en die swak ekonomie wat op die afgrond van ’n soewereine afgradering staan, mense verplig om twee maal te dink voordat hulle besluite oor of in Suid-Afrika neem.

Ten slotte: die ANC gaan ’n nasionale konferensie tegemoet waarin die uitgaande president ’n verswakte president geword het en die stelsel gekonfronteer word met ’n nuwe leier (moontlik Cyril Ramaphosa) met ander voorkeure as die sittende staatspresident. Die gebrek daaraan dat die ANC sedert 1994 nog nie die tydperk tussen presidensiële termyne op regeringsvlak kon sinchroniseer met leierskapsverkiesings op partyvlak nie, gaan ’n krisis in 2018 veroorsaak. Die regsuitsprake wat in die twee weke voor die konferensie gemaak is, plaas president Zuma in ’n krisis en die ANC sal iets daaraan moet doen in belang van die land en indien die ANC die Mei 2019-verkiesing wil wen.

Hulle kan Zuma in ’n staat van beskuldiging plaas, maar dan volg hulle ’n parlementêre proses en speel in die hande van die opposisie omdat daar 'n verkiesing in Mei 2019 is, wat net om die draai is. Hulle kan hom herroep, wat 'n partypolitieke proses is. Dit is makliker en vinniger, maar hulle het dit met Mbeki gedoen en Cope is daaruit gebore. Nkosazana Dlamini-Zuma kan ook die komende naweek wen en dan word dit nog meer kompleks as gevolg van haar verbintenis met Jacob Zuma. As Cyril Ramaphosa wen en die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) is sterk aan sy kant, sal Zuma herroep word. Vraag is: Wie doen die staatsrede op 8 Februarie 2018 as Cyril Ramaphosa wen? Gestel Ramaphosa wen die ANC-presidentskap, maar die NUK is 50/50 verdeel tussen faksies, dan het ons ’n voortsetting van politieke verlamming en dinge draal net so voort. Kan hernude studente-opstande vroeg in 2018 die uittog van Zuma verhaas? Met studenteprotes, swak ekonomie en burgerlike protes op huidige vlakke staar die ANC groter uitdagings in die gesig na sy 54ste nasionale konferensie as moontlik in enige ander tydperk in sy 105-jarige geskiedenis.

Theo Venter*
NWU Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur

* Theo Venter sal 24.com se politieke ontleder tydens die ANC se nasionale konferensie van 16 tot 21 Desember te Nasrec wees.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top