Wat moet ons met ons kerk doen?: ’n onderhoud

  • 34

Wat moet ons met ons kerk doen?
Jurie van den Heever
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316681

Die bekende paleontoloog Jurie van den Heever het die kerk en sy belydenisskrifte tot in die fondamente geskud met sy onlangse boek Wat moet ons met ons kerk doen?. In ’n openhartige onderhoud met Jean Oosthuizen verduidelik Van den Heever waarom hy as wetenskaplike ’n boek oor die kerk geskryf het en hoekom hy steeds ’n lidmaat van die NG Kerk is al kan hy nie meer die kerk se belydenis onderskryf nie.

Wat is dit wat jou as wetenskaplike aangespoor het om ’n boek oor die kerk te skryf?

Ek het eintlik nie die boek as ’n wetenskaplike geskryf nie, maar as ’n NG-lidmaat met ’n belangstelling in die teologie sowel as die wetenskap en wat toegang tot beide het. Bybelnavorsers is gedurig besig om oor ’n breë spektrum nuwe insigte oor die wel en wee van die Ou Nabye Ooste bekend te stel en te verfyn.

Hierdie inligting is geredelik tot ons beskikking in gedrukte en digitale formaat. Kenners uit verskillende studievelde is ook deurgaans meer as gewillig om te gesels, te verklaar, reg te help en in te lig. Ons gewone lidmate is dus in die unieke posisie dat ons toegang het tot baie inligting oor hoe die Bybel ontstaan het, die mense wat die Bybel geskryf het, die verskillende tydvakke waartydens die Bybel saamgestel is en gevolglik ook oor die breër historiese verloop van die verhaal van die doen en late van mense soos Jesus en sy vriende.

Jou boek se titel, Wat moet ons met ons kerk doen? impliseer dat jy steeds lidmaat is van die NG Kerk, is dit korrek?

Ja, ek is steeds ’n lidmaat en sal een bly tot die kerk anders besluit.

Maar jy is nie meer ’n kerkganger nie. Waarom stel jy nog hoegenaamd belang in die NG Kerk se doen en late en hoekom is jy steeds lidmaat van die kerk as jy nie meer sy belydenisgrondslag kan onderskryf nie?

Ek het grootgeword in die NG Kerk en dit is deel van my kulturele agtergrond as Afrikaner. Van kleins af was godsdiens daagliks deel van my bestaan. Onder die sisteem van Christelik-Nasionale Onderwys was dit deel van elke skooldag en elke byeenkoms in skoolverband. Die invloed van die CSV en die Voortrekkers moet mens ook nie vergeet nie. By die huis is maaltye met ’n gebed begin en afgesluit. Elke aand voor jy in die bed klim, het jy ook gekniel en gebid.

Terwyl Saterdae relatief godsdiensvry was, was Sondae die Here se dag. Kleredrag is voorgeskryf. Kinders moes die erediens en Sondagskool bywoon en die spesifieke week se bybelversie uit die hoof kon opsê. Ons kon ook nie soos op ander dae speel nie, want slegs sekere stigtelike aktiwiteite is toegelaat.

Die meeste besighede was gesluit en aanvanklik is daar ook gepreek teen die verskyning van die Sondagkoerante. Die voorskriftelike godsdiens wat die NG Kerk en die staat bedryf het, was gevolglik ’n integrale en deel van die daaglikse bestaan van die Afrikanervolk.

Mens distansieer jou nie maklik van so iets nie, maar as jy mettertyd agterkom dat groot dele van die storie van ons geloof soos dit deur die jare aan ons voorgehou is, nie klop met die waarheid nie, soek jy antwoorde. Die amptenare van die kerk het sulke navrae nie verwelkom nie en gewoonlik ook nie geduld nie. Wat die belydenisgrondslag van die kerk betref, moet mens verstaan dat dit deur mense, met ’n spesifieke doel voor oë, uitgedink is.

Jou boek is onlangs bekendgestel tydens die Woordfees en lok reeds wye reaksie onder gelowiges sowel as ongelowiges uit. Het jy al enige reaksie oor jou boek gehad vanuit amptelike kerkgeledere?

Nee, daar was nog geen amptelike reaksie waarvan ek bewus is nie, behalwe die kritiese resensie deur Frits Gaum in die Kerkbode van 5 Mei. In my persoonlike hoedanigheid was die talle telefoonoproepe sms’e en e-posse deurgaans positief. Tydens een radio-onderhoud was daar wel negatiewe boodskappe, maar dit was duidelik van mense wat op die ingewing van die oomblik reageer het, blykbaar nog nie die boek gelees het nie en gevolglik ook onbewus was van die verskillende teologiese en wetenskaplike argumente.

Vertel iets meer van Frits Gaum se resensie? Hy was redelik krities oor jou boek.

In sy resensie beweer hy dat ek nie net ’n streep deur geloofswaarhede trek nie, maar eintlik ook deur die hart van die Christelike geloof. Ek dink hy speel hier vir die gehoor, want wat hy geloofswaarhede noem is juis aspekte wat al baie jare deur bybelwetenskaplikes as onbetroubaar en selfs onwaar uitgewys is.

Om dit geloofswaarhede te noem is ’n spel met woorde en plaas sy argument op baie losse skroewe. Deur my voor te stel as die sondebok wat ’n streep deur die Christelike geloof sou trek, ignoreer hy gerieflikheidshalwe belangrike navorsing deur bybelwetenskaplikes. In stede daarvan dat die kerk oop kaarte met ons oor hierdie aangeleenthede speel, word dit steeds met ’n lanferlap bedek.

Op watter teikengehoor is jou boek gerig en verwag jy regtig die kerk se amptelike strukture gaan jou argumente ernstig opneem en hulle aan jou steur?

Ek dink dit is ’n boek vir almal, veral Afrikaners, want die kerk het vir baie jare ’n  beduidende invloed op die lewens van alle mense in Suid-Afrika uitgeoefen. Dit was ook in baie gevalle ’n negatiewe en vernederende invloed.

Ek verwag glad nie dat die kerk hom aan my sal steur nie. Ek sal egter graag wil sien dat indien die amptenary van die NG Kerk enigsins ernstig oor die geestelike welvaart van die oorblywende lidmate is, hulle gehoor sal gee aan die navorsing van bybelwetenskaplikes en die baie belangrike bydrae oor die wese van die mens wat die biologie na die tafel bring.

Goed, kom ons aanvaar argumentsonthalwe die kerk neem jou voorstelle wel ernstig op. Sal daar dan nog enige toekoms vir die kerk wees, want jy trek eintlik ’n dik rooi streep deur die grootste deel van die dinge wat die kerk elke Sondag bely?

Bybelwetenskaplikes wys daarop dat dit wat die kerk elke Sondag bely, ’n latere menslike konstruk is wat nie strook met die lewe van die mens Jesus en sy prediking gedurende die eerste eeu nie. Gesien die oënskynlik belangrike rol wat die kerk aan Jesus toedig en die rol wat hy in die geloofslewe van baie mense speel, is dit verbasend dat hulle die oorspronklike Jesus grootliks ignoreer.

Maar is daar enige toekoms vir die kerk as hulle hul eie geloofsbelydenis se grafskrif sou skryf? Kan die kerk dan nie maar net sowel sy deure sluit nie?

Ons geloofsbelydenis is deur mense geskryf en strook eintlik nie met wat regtig in die Bybel staan nie. Daarom kan die Christelike geloof nie staan en val oor die manier waarop woorde in die huidige geloofsbelydenis ingespan word nie. Frits Gaum stel dit tog duidelik in sy resensie dat Jesus die sentrum van die kerk en die lewe van die Christen is. Moet die woorde van ons geloofsbelydenis nie liewer die doen en late van die oorspronklike Jesus weerspieël nie?

Is dit nie tog so dat die meeste mense ’n ingebore behoefte het om aan een of ander vorm van die bonatuurlike te glo nie? 

Ek stem saam dat die menslike hunkering na die bonatuurlike ’n fundamentele en universele aspek van ons bestaan is en dink nie dit sal sommer maklik uitsterf nie. Alles dui egter daarop dat dit histories ontwikkel het as een van die maniere om sin te maak van ’n komplekse en dikwels gevaarlike wêreld.

Wat is jou kort antwoord aan mense wat steeds beweer evolusie is net ’n teorie en dat daar ook ander teorieë mag wees?

Sulke uitsprake verwar hipotese met teorie. ’n Hipotese is ’n onbewese gedagte, droom of oortuiging. Daarteenoor kan ons van ’n teorie praat slegs indien dit op bewese feite gegrond is. Hiervolgens is evolusie ’n teorie, omdat dit deur ’n enorme aantal feitelike bevindings vanuit ’n wye reeks verskillende studievelde ondersteun word.

Vir alle praktiese doeleindes is evolusie dus waar en kan dit nie geïgnoreer word nie. Om te vra of iemand aan evolusie “glo” is net so onsinnig as om te vra of jy aan Tafelberg “glo”. Evolusie is tans die enigste logiese verklaringsmodel vir die geleidelike ontwikkeling van die biodiversiteit wat ons tans op aarde ervaar. Daarom moet die mens, as deel van hierdie proses, primêr ook vanuit ’n biologiese oogpunt verstaan word.

Die basis van die Christelike geloof is tog die opstanding. Val die hele Christelike geloof nie plat as die opstandingsverhaal en Jesus se goddelikheid wegval nie?

Miskien moet mens liewer sê dat Jesus die basis van die Christelike geloof is. In die woorde van Frits Gaum: Jesus Christus, die sentrum van die kerk en die sentrum van die Christen se lewe. ’n Geldige vraag is dus: Van watter Christus praat ons hier? Is dit die rabbi van die eerste eeu wat God sy vader genoem het omdat sy biologiese pa afwesig was, of is dit die godmens wat later deur mense geskep is? Eersgenoemde het nie ’n opstanding, hemel of hel nodig om sy boodskap van liefde vir God en jou naaste te verkondig nie.

So, watter Jesus is dan nou eintlik die regte Jesus, eersgenoemde of laasgenoemde, en was Jesus nie die Seun van God nie?

Laasgenoemde is  ’n konstruk wat deur mense gemanipuleer word. In ’n poging om aan te toon dat Jesus wel die Seun van God was, haal Frits Matteus 16:16 aan waar Simon Petrus sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Afgesien van die destydse gebruik om ’n gelowige as ’n seun van God te tipeer, is dit nie goeie eksegese om bybelverse een op ’n slag in te span nie. Dan kan ons mos op dieselfde manier, maar in ’n negatiewe sin, Romeine 3:7 (1933-vertaling) teen Paulus gebruik omdat hy erken dat hy leuens vertel om die geloof te bevorder.

Hoe moet gelowiges dan sin maak van Jesus se opstanding wat so deel is van die Christelike geloof?

Aangesien verskillende bybelwetenskaplikes al aangetoon het dat daar nie ’n fisieke opstanding was nie, kan dit nie as basis vir die Christelike geloof dien nie. Teoloë wys toenemend daarop dat die opstanding nie histories nie, maar simbolies, gesien moet word, net soos die wyn en brood by die nagmaal simbole van die bloed en liggaam van Jesus is. Onder die Katolieke is baie egter steeds oortuig dat tydens hulle nagmaal die wyn fisies in bloed en die ongesuurde beskuitjies fisies in spierweefsel verander, terwyl niemand dit so ervaar nie. ’n Keldermeester wat sy sout werd is, kan maklik verduidelik hoekom die chemiese bestanddele van wyn nie onmiddellik in menslike bloed kan verander nie. Enige fisioloog kan ewe maklik aantoon dat gaar meel en water nie in ’n mens se mond skielik in menslike spierweefsel, bloed en senuwees kan verander nie.

Sou jy sê godsdiens was oorwegend goed of oorwegend sleg vir die samelewing, want daar is tog goeie dinge ook wat in die naam van godsdiens gebeur?

Daar het weliswaar ook baie goeie dinge uit die godsdiens gevloei, ten spyte van die kruistogte, die inkwisisie en apartheid. Dit voel vir my egter asof die vraag nie soseer by die godsdiens lê nie, maar by die optrede van sommige mense wat hulself Christene noem en dikwels die amptelike gesig van die kerk verteenwoordig.

Daar is menslike redes hoekom die neocalvinisme in Suid-Afrika so eiesoortig en met so ’n treurige nasleep ontwikkel het. Die mense wat die kerk bestuur, het in gebreke gebly om ’n geestelike hawe vir die mens van die 21ste eeu te skep.

Hoe sou jy jou geloofsoortuiging bestempel in terme van “ateïsties”, “agnosties” of watter term ook al volgens jou die beste by jou pas?

Moet die “anateïsties” nie ook genoem word nie? Ek hou nie eintlik van etikette nie, want dit ignoreer dikwels die mens agter die etiket. Dink maar aan die destydse politieke etikette van “verlig” of “verkramp”. Dit het ’n manier geword om iemand se hele wese te beskryf, ongeag die feit dat  ’n sogenaamde verkrampte individu miskien verlig kon wees ten opsigte van aangeleenthede soos diereregte, besoedeling van die omgewing of oopgroefmyne. Is dit nie veel belangriker om iemand eerstens as mens en medemens te respekteer sonder om geloofsoortuiging, seksuele voorkeure of musieksmaak tot een of ander kwalifiseringsnorm te verhef nie? In antwoord op jou vraag sou ek dus sê ek glo dat  ’n oorwegend rasionele benadering tot ons bestaan ’n gesonde platform bied vir ’n moreel-etiese leefwyse.

As mens kyk na die NG Kerk se jongste besluit oor homoseksualiteit, waaroor jy ook in jou boek skryf, lyk dit of die NG Kerk al hoe meer fundamentalisties neig. Waarom dink jy gebruik baie gelowiges en kerke die wetenskap so selektief wanneer dit hulle pas, soos byvoorbeeld wanneer hulle siek is, maar steeds behep is met mense se seksuele oriëntasie terwyl die wetenskap baie duidelik toon dat dit nie ’n keuse is nie?

Die moderne wêreld is kompleks en ons moet dikwels, op grond van nuwe wetenskaplike ontdekkings, ons uitkyk op die lewe aanpas. Nuwe, meer effektiewe, mediese prosedures en medisynes, kleiner, kragtiger selfone en rekenaars word allerweë verwelkom, maar ons raak warm onder die kraag wanneer van ons geliefde vooroordele in die gedrang kom. Dan word bybeltekste dikwels op onvanpaste en simplistiese wyse aangewend, asof die wetenskap skielik te kort skiet. Die kerk se kleitrappery rondom menslike seksualiteit en die biologiese onderbou daarvan is ’n goeie voorbeeld. Ek vermoed dit het te doen met ’n ietwat desperate soeke na een of ander vorm van sekerheid in ’n leefwêreld wat vinnig verander.

Baie mense verlaat die kerk en is moeg vir georganiseerde godsdiens, maar is steeds spiritueel of gelowig. Kan spiritualiteit of geloof in énige vorm regtig langs die wetenskap staangemaak word? Met ander woorde, is geloof en wetenskap hoegenaamd versoenbaar?

Baie sal sê dat daar hoegenaamd geen sprake van so iets is nie. Hiervan is Richard Dawkins `n goeie voorbeeld. Die filosoof Michael Ruse is self nie ’n gelowige nie, maar voer aan dat ’n Darwiniaan, dikwels met heelwat moeite, wel ook ’n Christen kan wees, Die teoloog Richard Grigg dink ook dat dit moontlik is, maar dat daar in die proses sterk aan die dogma van die boom van die georganiseerde godsdiens gesnoei moet word.

En hoe voel jý daaroor?

Feit van die saak is dat wetenskaplike bevindings voortdurend nuwe inligting oor ons aard en herkoms, asook ons verwantskap met alle ander lewensvorme, bekendstel. Frits skuil byvoorbeeld nog agter die ou mantra dat terwyl die wetenskap al baie vermag het, dit byvoorbeeld nie kan verklaar waar ons vandaan kom nie.

Eintlik weet ons al, vir alle praktiese doeleindes, hoe lewe op aarde ontwikkel het. Oor hoe die heelal ontstaan en ontwikkel het, is daar ook heelwat sekerheid. Gelowiges behoort nie so onseker oor hulle eie oortuigings te wees dat hulle voortdurend die wetenskap moet probeer afkraak nie. Dit hou die geloof heeltyd op die agtervoet en verhoed dat dit groei.

Watter opsies bly daar dan vir gelowiges oor wat ook erns maak met die wetenskap?

Die beter opsie is vir gelowiges om die krake in hulle eie huis te herstel en die bevindings van die biologie ten opsigte van die herkoms en aard van die mens te aanvaar, anders loop hulle die gevaar om selfs verder gemarginaliseer te word.

Ek is ook van mening dat spiritualiteit en die soort geloof waarmee ons grootgeword het, nie sinoniem is nie. Die dogma waarin ons, as lidmate van die NG Kerk, lank in vasgekrink was en wat sekere van die amptenary steeds nie kan of wil aflê nie, is uitgedien. Die wetenskap help ons om die beklemmende mure van dié dogma te transendeer na ’n natuurlike spiritualiteit. Dit lei na interessante insigte oor ons werklike plek in die heelal en ons morele verpligting teenoor die planeet en alle lewe daarop.

  • Jurie van den Heever se boek Wat moet ons met ons met ons kerk doen? kan aanlyn bestel word by die uitgewer Naledi op hulle webwerf.
  • 34

Kommentaar

    • Truida heymann

      Goeie onderhoud! 'n Simboliese perspektief doen tog nie afbreuk aan die bybelse waarhede nie. Inteendeel.

  • Ek is 'n ou dominee, amper, amper 70 jaar oud. Het nou net 'n DD voltooi en sal graag my bevindings (navorsing) met jou persoonlik wil bespreek terwyl ek jou in die oë kyk - ek weet nie of dit moontlik is nie?

  • Punt is: Die mens en so ook alle ander vorms van lewe het evoleer en evoleer nog steeds. Trouens die totale kosmos evoleer. Alles is net energie. Wat ons waarneem 'n illusie daarvan. Lewe is die spanning tussen positief en negatief gelaaide ione. Die verwysing na enige god (goddelikheid) of geloof is menslike konstrukte om die mens te probeer beheer. Geloof en die wetenskap is dus ongelukkig glad nie versoenbaar nie.

  • Science education is in the business to replace beliefs with facts, religion is in the business to replace facts with beliefs.

    Science adjusts its views based on what’s observed. Faith is the denial of observation so that belief can be preserved.

    Religion claims knowledge, science seeks it. Religion requires belief, science discards it. Religion demands respect, science earns it.

    Science is constantly trying to prove itself wrong for the benefit of man. Religion is constantly trying to prove itself right for the benefit of itself.

  • Hannes van der Westhuizen

    Hier is net nog 'n slimjan. Gaan hierdie neo-vrydenkers uit hulle ongelowige filosfie
    ontsnap?

  • Ek lees hier dat van den Heever sê: "Gelowiges behoort nie so onseker oor hulle oortuigings te wees dat hulle voortdurend die wetenskap probeer afkraak nie" Na my mening 'n growwe veralgemening ... maar vind ons nie dieselfde by wetenskaplikes wat met felle kritiek en veroordeling kommentaar lewer op gelowige leiers se menings/oortuigings? Watter Jesus het nou weer gepraat van "die eerste klip gooi"?

  • Jaap Coetzee, Rooi-Els

    @Hannes van der Westhuizen
    More Hannes,
    Ek haal jou aan :"Gaan hierdie neo-vrydenkers uit hulle ongelowige filosofie
    ontsnap?"
    Ek lees dat Jurie 'n paleontoloog is en beslis nie soos jy hom in jou eie strooipopboksie klassifiseer as "neo-vrydenkers ...ongelowige filosofie ... ontsnap".
    Kom ons kyk nou na die woorde hierbo.
    1."neo-vrydenkers"
    Wat bedoel jy met die woord? Waar kom jy hieraan?
    Jurie is nie 'n NEO-vrydenker nie. Daar was en is honderde voor hom wat geloof opreg ondersoek het en hulle bevindinge verwoord het met die nodige feite wat nie klop nie.
    Vat jy dit ernstig op dat Adam en Eva die eerste mense op aarde was?
    Noag en sy ARK en die groot vloed?
    Mense wat uit die dood opstaan?
    Slange en donkies wat praat?
    Dalk het jy nog nooit gedink nie.
    1.2 "neo-VRYDENKER"
    Dalk moet jy die woord VRYDENKER ernstig opneem en dit bietjie op jou eie lewe toepas. Ek weet dit kan moeilik wees veral as jou bubble van indoktrinasie gebars word.
    2. "ongelowige filosofie"
    Jou filosofie tov ISLAM, Judaïsme, Zeus Thor en Ra is net so 'n ongelowige filosofie in die oë van bg gelowe.
    Jy toon met hierdie woorde "ongelowige filosofie" jou eie beperkings en die grootte van die klein kokon waarbinne jy jou lewens- en werklikheidsbeskouing uitleef. Jy klink presies soos die fundamentalis Islam gelowige.
    3. "ontsnap"
    Hierdie woord "ontsnap" wat jy gebruik toon die mate van gevangenskap aan waarbinne jy is in die mensgemaakte grense van jou geloofswêreld. Dis eerder jy wat 'n behoefte aan ontsnapping het.
    Dit is opmerklik dat jy met geen feite kom nie om Jurie se punte te redeneer. Jy gebruik die outydse NG- en Dopper-metode van klassifikasie en karakterisering om jou eie dilemmas en onkunde te kamoefleer.
    Jou eie geloof is deur jou kultuur en ouerhuis op jou afgedwing. Die keuse wat jy gemaak het om jou eie geloof te kies is nader aan 0% as aan 5%.
    Dalk is dit jy wat uit jou kulturele indoktrinasie moet ontsnap voordat jy iemand anders klassifiseer uit onkunde.
    JC

  • Dat Jurie gesprek wakker maak, is nie altemit nie. Om summier kant te kies, is om te ignoreer dat, soos Shakespeare gesê het: There are more things in heaven and earth, than are dreamt of in your philosophy! En die onderwerp is te groot en wydlopend om in die verbygaan te bespreek. Daarby behoort die boek eers gelees te word en dan goed oordink word voordat gesprek kan plaasvind. Walter de la Mare het 'n diepsinnige gedig geskryf wat hy 'Inspiration' genoem het. Die laaste strofe eindig só:
    “Identifying, I shall lend you courage too: Hello my friend!”

  • Ag nee wat Jurie ... jy sê : "Aangesien verskillende Bybelwetenskaplikes al aangetoon het dat daar nie ’n fisieke opstanding was nie, kan dit nie as basis vir die Christelike geloof dien nie." Hoekom glo jy nou skielik net hierdie Bybelwetenskaplikes? Net omdat dit jou pas? Wat van die kerk van alle eeue wat oor baie dinge verskil het , maar oor die grondwaarheid van die opstanding saamstem? Wat van die gerespekteerde Bybelwetenskaplikes soos bv NT Wright wat 'n sterk wetenskaplike saak uitmaak vir die opstanding? ... en ja Jean is maar te gretig om ongeloof te help bevorder ...

  • Kind van die Here

    Nogal "ons" kerk. 'n Baie lekker intellektuele artikel. Alles sal egter deur die mat val as Jesus terugkom vir "SY" ware kerk. Die wat Hom vertrou en hul hoop in Hom plaas. Jurie jou redenasies is so oud soos die mensdom so ek hoop nie jy sien jou standpunte as post modern nie. Jesus het jou innig lief maar hoogmoed en verwaandheid sal altyd ’n kloof van ongeloof skep totdat mens by die punt kom dat jy besef dat jy verstaan dat buite God is daar geen lewe nie. Hy hou dit in stand. Nie wetenskap nie. Net lewe kan lewe gee op meganismes ver bo wetenskap se begrip. Nog nooit het lewe spontaan begin nie ten spyte van grootse pogings in die wetenskap.
    “Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’ “Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”
    LUKAS 16:30‭-‬31 NLV

  • Staan langs jou kind se sterfbed en die Dr (Wetenskaplike) sê: Hulle kan niks doen nie dit is verby. Begin op die Bybelse terme vas en bid en binne 24 uur draai sy omstandighede en hy lewe. Vyf jaar daarna en werk en is heeltemal gesond. Dan begin jy besef slim praatjies van wetenskaplikes is woorde in die wind. Jesus leef en het opgestaan en Hy het my kind genees. Hy het Hom sterk aan my bewys. Ek is Hom innig dankbaar. http://www.cancerstories.co.za. ń Lewende getuienis dat Jesus leef en genees.

    • Ek dink die skrywer van die boek vat alles baie raak. Gaan kyk na die betekenis van die derde dag. Een dag in die oë van die Vader is soos `n duisend jaar en `n duisend jaar soo een dag. Dan sê Jesus self in Ope. 22:16 ; Ek Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeente te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid(soos geprofeteer) die blink morester. Volgens Jes 14:12 is die blink morester Satan wat uit die hemel op die aarde neergewerp is.

      • Attie Linstrom

        Ons moet die Bybel "reg lees" en die bedoeling van 'n woord reg verstaan. Die morester bring/bekendstelling van 'n nuwe dag, era, tydperk,of selfs iets nuuts. Daar sal ons ook beide verse parralel teenoor mekaar kan sit. Beide profetiese boeke, Openbaring, Christus se verlossing as die Verlosser. Jesaja, Satan as verdoemde na die verdoemenis. Die mense van die Bybelse tyd het geglo die hel is op of binne die aarde.

    • Ek stem so saam met jou! Jesus het my op een oomblik kragtig uit verslawing/alkoholisme geruk ... letterlik in 'n oogwink. Jare en ek meen jare, kon ek nie loskom nie. Rehabilitasie, alles probeer en die beste van alles, ek het nie een onttrekking gehad nie. Enige verslaafde kan vir jou vertel hoe erg onttrekking is. Sommige mense sterf indien dit sonder mediese toesig gedoen word. Ek het om hulp geroep na God, gesmeek, want ek kon nie meer nie en Hy het my gered! My gedagtes het 100% omgeswaai. Ek was verstom! Slegs God kan so iets doen. Ek loof Hom vir altyd daarvoor. Jesus is 'n werklikheid en so ook 'n persoonlike verhouding met Hom, die Vader en die Heilige Gees. Ek praat nie van 'n kerk nie, maar wel geloof en 'n verhouding met God. Talle, maar talle dinge gebeur daagliks in my lewe wat my verseker van Sy werklikheid. Om so in die spirituele realm met God te leef is absoluut wonderlik verby!

  • Ek het nie hier gelees nie, maar hier is die opinie van ’n wetenskaplike, Colin Patterson, oor pseudo-wetenskaplikes: "The explanation value of the evolutionary hypothesis of common origin, is nil. Evolution does not only convey no knowledge, it seems to convey anti-knowledge. Most of you in this room will have to admit that in the last 10 yrs we have seen the basis of evolution go from fact to faith. It does seem that the level of knowledge about evolution, is remarkably shallow. We know it ought not to be taught in high school, and that’s all we know about it. (Patterson was the senior paleontologist at the Museum for Natural History in London) "Darwin’s Demise", 2001, p 47. Patterson is maar een van hordes wie hierdie mening huldig. SA’s moet ophou om stront te glo. Dit is waarom hulle so maklik op politieke gebied ook uitgebuit word.

  • Stefaan de Jager

    Jesus se liggaam het nie vergaan nie en die graf was dus nie leeg omdat die honde dit dalk kom opvreet het nie. Hy het liggaamlik uit die dood opgestaan, soos verwoord in Handelinge 13:36-37, "En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders gegrawe, en sy liggaam het vergaan. Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek." Om dit natuurlik so te glo, moet jy glo dat die Bybel die Woord van God is, anders sou daar baie argumente kon wees waarom hierdie verse antieke geskrifte is wat vandag nie meer bestaan nie ens. Sonder die Heilige Gees se oortuiging sal niemand dit in elk geval glo nie. Daarom het Jesus sy volgelinge nie gestuur om sy bewysers te wees nie, maar Sy getuies. Die Heilige Gees oortuig mense van die Woord, die Godheid van Jesus ens. Hy is God en saam met Thomas bely (LW nie bewys) die gelowiges "My Here en my God (Johannes 20:28)!"
    As Jean Oosthuizen as resensent beweer dat van den Heever se boek "die kerk en sy belydenisskrifte tot in die fondamente geskud" het, is niks verder van die waarheid as dit nie. Al wil die resensent dit graag so sien, weerspreek die Woord dit "want niemand kan `n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus (1 Kor 3:11)."
    Geloof en wetenskap lê nie teenoor mekaar nie. Die wetenskap is immers God se wetenskap want Hy is die Skepper daarvan. As ons al meer nuwe fasette daarvan ontdek, word ons net meer bewus van die grootheid God`s. Ons kan `n lang gesprek hê oor evolusionêre ontwikkeling ens, maar aan die einde van die gesprek sal die paaie altyd skei by die geloof dat God die Skepper van alles is, teenoor die standpunt dat alles bloot net evolusie is. Al sou ons hipoteties tot by die sg oerknal kon teruggaan, dan sou dit nog steeds die ewige God wees wat gesê het "Laar daar `n oerknal wees (met respek gesê)."
    Van den Heever en sy resensent Oosthuizen kies om God en so ook Sy openbaring in Christus as Here en God sowel as die Woord uit die prentjie te haal. Dan verstaan mens waarom hulle siening is wat dit is en is Gaum reg in sy beoordeling.

  • Jacobus L du Plessis

    Die bybel is bloot 'n voortsetting van die geskiedenis wat gevind word in die Sumeriese kleitablette. Die vleis- en bloedgode van die Sumeriese kleitablette word ook in die christen bybel gevind. Die OT god Yahweh, was niks anders as die Annunaki "god" Enlil nie. Lucifer was die Annunaki Enki. Jesus en Lucifer is een en dieselfde, die blink môrester. Hierdie is navorsing wat elke een self moet doen. Die waarheid is so traumaties pynlik dat dit jou met kognitiewe dissonansie laat. Die bybel is 'n geskrif wat dikteer is deur Annunaki wesens en die profesieë in Openbaring sal deur hulle verwesenlik word. Maar dis navorsing wat elke indiwidu self moet doen om uit die slaap uit wakker te word. Die ganse bybel is 'n misleiding, en dis skokkend om so iets te moet beweer, wat nog te sê, om dit te moet aan hoor. Maar feit is, die mensdom was en word steeds bedrieg. Maar jy kan wakker word, as jy wil.

  • Dis maar net nog 'n teken van die Tye, en die werking van die gees van die Antichris. Ek is nie eers 'n lidmaat van die NG Kerk nie, maar een van sy susterkerke naamlik die AGS. Kyk ons kerk is baie fundamentalisties georiënteerd en ek is ietwat aan die liberale kant. Ek is vir Gayregte en baie ander goed wat my kerk summier as duiwelsgoed afskryf, maar om die waarheid van Jesus te bevraagteken is nou wrintie te ver gaan. Ons moet weer terugkom by die fundamentele boodskap van die Christelike geloof naamlik Liefde vir God en Liefde vir ons naaste. Jesus Christus is werklik die seun van God wat deur 'n maagd in die lewe gebring is. Hy het siekes gesond gemaak en wonders gedoen. Hy is gemartel en gekruisig vir ons Sonde en Hy het werklik uit die dood op gestaan en na sy vader in die Hemel opgevaar. Daai storie van Horus en Mithras is ook nie waar nie, want dit is al deur hoeveel Egiptoloë en geskiedkundiges uitmekaargeruk. EK IS NIE SKAAM OM TE Sê EK GLO IN JESUS CHRISTUS DIE SEUN VAN GOD NIE, SONDIGE NIETIGE MENS WAT EK IS.

  • Beste Stefaan de Jager,
    As die wetenskap immers God se wetenskap is, soos jy beweer, dan is God 'n kontradiksie. Hoe kan hy aan die eenkant al die seediere, wilde diere, mak diere, en die mens skep, elkeen na sy aard, en aan die ander kant alles wat lewe laat evolueer? Hoe kan hy 'n god van liefde wees, en al die wreedhede op die aarde toelaat, en self ook die aller wreedste dade pleeg?

    Dan weerspreek jy self ook nog jou eie standpunt met jou skeiding van paaie.

    Hoe weet jy dat Jesus werklik bestaan het, en wie het al sy graf ontdek om te sien dat dit leeg is? Jy lees dit in die Bybel? Hoe weet jy die Bybel lieg nie? Dit lieg dan oor dinge van die wetenskap en die liefde van God. Waarom sal dit nie lieg oor die bestaan van Jesus nie?

    Groete,
    Angus

  • Gaan doen navorsing oor Walter Veith asb. Hy het vir eerstejaar mediese studente evolusie as vak aangebied in die laat 1970's by Stellenbosch. Hy het tot ander insigte gekom oor die term evolusie. Hy was nou betrokke by okkulte tot die Here ingetree het. Wat my verstom staan is dat wetenskaplikes tot die gevolgtrekking kan kom dat enige leefvormige selle ontstaan het deur 'n ontploffing miljoene jare gelede. Materie is wel in 'n vorm, al is dit die kleinste vorm, waar het dit onstaan?

    • Walter Veith is 'n Sewendedag Adventisteprediker. Die dogma van hierdie kerk verklaar sy kreasionistiese uitgangspunt.

  • Michael Venter

    Ek sou graag Jurie se "Bybelwetenskaplikes" ontmasker wil sien. Is dit dalk manne soos Robert Price van Jesus Seminar? Of Bart Ehrman wat onder Metzger sy Doktoraal behaal het? Nee wat, ons was nog altyd maar so 'n bietjie ágter. Tekstransmissie en Manuskrip-tradisies weerlê hierdie ouvroustories in 'n japtrap. Evolusie is 'n sterwende teorie al sedert sy ontstaan met Darwin wat nie kon droom oor kompleksiteid van die sel van wat ons vandag weet nie. Wat mense moet besef, is dat dit nie 'n geveg tussen die wetenskap en relegie is nie. Dis 'n geveg tussen mense se idees van realitiet. Almal van ons het 'n model van realiteit, die groot vraag is; wie se model kan rekeningskap gee vir die noodsaaklike voorvereistes vir verstaanbaarheid?

  • Hier lyk wel evolusie tans aan die gebeure. Mens begin onder sy geïndoktrineerde hoed uitloer en vra: Is dit wat ek geleer is waar? As jy bereid is om intellektueel eerlik met jouself te wees dan moet jy erken Jesus was ’n brons-era karakter in ’n storie. Behalwe vir daai storie het ek hom nog nooit gewaar of gehoor nie. Nes soos spoke het ek geen rede om daarin te glo nie. Nes Vader Krismis is dit ’n wonderlike storie om kinders te troos. Maar ongelukkig kan mens nie kind bly nie.

  • Prometheus Ongebonde

    Wat sal ons met die kerk doen? Niks nie, net ignoreer. Dit het sulke ou, verstarde idees dat dit in die wetenskaplike 21ste eeu wat op rasionele bewyse gegrond is voor jy enigiets kan glo, irrelevant vir ons samelewing geword het. Dit word deur haat en nie liefde nie gedryf.

  • Hier is 'n man wat sy tradisionele kerkgang sonder die teenwoordigheid van geloof verruil het vir Darwin se geloof. Jammer my friend maar jy kies die verkeerde pad en daarom sal die heerser van hierdie wêreld 'n sluier oor jou oë trek dat die waarheid aan jou verborge sal bly. Jy glo seker dat daar dan ook nie 'n siel is nie? Onthou dat evolusie wel ’n geloof is.
    Daar is vier baie belangrike vrae in die lewe.
    1) Wie is ek en wat is ek werd?
    Evolusie : Jy is afkomstig van iets wat ontstaan het van niks. Jy is eintlik deel van die probleem wat hierdie aarde besoedel.
    God: Jy is God se eiendom. Hy het jou so lief dat hy sy enigste seun geoffer het vir jou.
    2) Waar kom ek vandaan?
    Evolusie: Jy kom weereens van niks wat ontstaan het biljoene jare terug.
    God: Jy is deur God - wat die hemel en aarde geskape het - geskep volgens sy beeld.
    3) Waarom is ek hier en wat is die doel om te lewe?
    Evolusie: Jy het geen doel nie. Jy kan net sowel jouself met alles geniet wat jou laat goed voel ... "Dit is ook een van die gebooie uit die satansbybel."
    God: Jy is hier om God te leer ken en Hom toe te laat om jou die pad te wys. Jy moet sy Woord uitbring na ander en hul leer sodat hulle ook hul wedloop in die lewe suksesvol kan voltooi.
    4.Waar gaan ek heen wanneer ek sterf?
    Evolusie: Jy gaan graf toe en jou oorskot gaan verander in 'n wurm of slak of watse natuurlike seleksie daar gaan plaasvind ... nog 'n gebooie in die satansbybel noem dat jy net 'n dier is.
    God: JY gaan na een van twee plekke toe. Die paradys saam jou skepper of die Hel omdat jy gekies het op aarde dat jy nie in die paradys wil wees nie.
    Daar is maniere hoe mense kontak maak met bose geeste of hul siel uit hul liggaam laat projekteer. Daar is tot klasse aan lyn hoe jy dit kan bemeester (asb moet nie). Nou hoe kan evolusie dan waar wees omdat dit teenstrydig is met die bestaan van 'n siel?
    Darwin was bekend gewees as die prins van Satan. Hy het selfs twee jaar tronkstraf ontvang vir bedrog omdat hy ’n mens-kakebeen gevat het en dit maak pas het op die skedel van 'n aap (vandag bekend as Ms Ples).
    Jou boek kan baie oningeligte en swak gelowige mense wegdraai van hul skepper en jy gaan moet pa staan daarvoor.
    Maar nou ja jy glo ons mensdom het ontstaan vanaf niks en toe een groot bang en loop nou rond sonder waarde afwagtend om waardeloos te sterf en te verander in iets nuuts.
    Wanneer genoeg mense glo in 'n leun sal dit later as die waarheid beskou word.

  • Sjoe, sjoe, sjoe mense! Hier is slegs een of twee wat die werklike Evangelie van Jesus begryp. En dit maak my hartseer. Stefaan de Jager, ek stem volkome saam met jou. Indien mens nie die Heilige Gees ontvang het nie, sal mens dit nie verstaan nie! Toe ek die Heilige Gees in my ontvang het ... en dit was letterlik ... het alles eensklaps verander. Ek het nie mense, boeke deur mense geskryf of redenasies nodig nie! Die Heilige Gees lei my gedurig en God breek Sy Woord, die Bybel, stukkie vir stukkie oop vir my. Verse wat ek my lewe lank oor en oor gelees het en geen betekenis vir my gehad het nie.
    God sê ook dan in Sy Woord dat daar geheimenisse in die Bybel versteek is. Indien mens soek en klop, SAL daar vir jou oopgemaak word en jy sal verstaan. En hierdie is waaragtig die waarheid! Dit het met my gebeur en as die Woord en evangelie so voor jou oopgaan, SAL jy nooit weer twyfel nie. Dit is awesome verby hoor! Ek sê weer: Dis alles in die spirituele aan't gebeure en dis hier waar mens ook die stryd aansê met al die wêreldse dinge besig om te gebeur rondom ons. Ek het geen vrees meer nie ... ek lewe in afwagting deur alle traumas, want nog nooit, nie eenkeer was ek teleurgesteld in God nie! God "het" my en my situasie. Soms kom die oplossing nie soos ek gedink het nie en glad nie in die tyd-faktor wat ek voor gewens het nie, maar ek bly vas staan in my geloof, al verstaan ek nie op daardie spesifieke oomblik nie en ALTYD maar ALTYD, kom die antwoord. Dan as ek terugkyk, was dit die beste oplossing/verloop van sake!
    Ons moet onthou dat God nie aan tyd verbonde is nie. Daar bestaan nie iets soos tyd by Hom nie. Dis iets wat Hy vir ons hier op aarde geskep het om mee te funksioneer. Hy is oraloor ... by die begin ... by die einde, as ek dit so kan stel. Hy sien oral deur alles. Dis ook waarom daar in Sy Woord staan: "Nou sien ons soos in 'n raaisel, maar eendag sal on ten volle ken." God sê ook dat ons slegs deur geloof gered sal word en sy koninkryk sal binnegaan en verstaan. Vra God, Jesus, die Heilige Gees en Hy sal vir jou wys.
    My ervaring en getuienis. Ek bid dat almal dit sal begin verstaan!

  • Anna S Ahllers

    Hoe meer oor die Bybel en die Christendom geskryf word, hoe duideliker blyk dit dat daar slegs gepoog word om die mens te verwar. Geloof SOOS 'N KIND bly die beste opsie - en hoekom probeer om mense anders te oortuig? Ek is ook nie meer gelukkig in die kerk nie, maar diep gelukkig in wat en hoe ek glo. Hou op om ons van die teenoorgestelde te probeer oortuig - julle is 2017 jaar te laat!

    • lourens kriel

      Ek stem saam Anna, ek is kinderlik gelowig. Ek het in NG grootgeword maar het gesien hoe lieg D's, ek het hulle aangevat! Ek het skriftelik bedank. Die Woord sê, "gaan uit haar uit my volk dat julle nie van haar ongeregtighede ontvang!"

  • Wie is die beste verkoopsman? Volgens die Heilige Skrifte, Satan en dit is van die begin van die Wêreld in Genesis en wat het hy verkoop? Die leuen en waar is die bemarkingsvelde? Die internet, boeke, fb ens. God die Vader die seun Jesus Christis en Heilige Gees is almagtig en verkoop nie leuens nie, maar die waarheid.

  • Rian Nieuowudt

    Atheists claim to stand only with facts and science. But the question is: how does one scientifically proof that there is no God ? What parameter base is necessary to solve this complex mathematical quest ? We do not even know the end of the universe, if space ends at all. Thus there is a space where humanity has no knowledge or scientific facts about, and to proof the absence of God, one first needs to be able to claim to have complete knowledge of the total universe. Thus it seems as if atheism is just another faith-framework, leaving everything to chance. Being totally scientific and with mathematical approach, there is a very high chance that the function you need to do as a proof, is incomplete and also to be solved incorrectly if some parameters are missing. This can cause one to end up somewhere that you did not believe exist, if your assumptions were wrong.

  • My wiskundedosent het eenkeer baie jare gelede in die klas gesê: "Hulle wat niks van wiskunde af weet nie speel die Lotto." Daarby wil ek byvoeg: "... en glo in evolusie."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top