Wat kies jy as die huis brand?

Dis toe ons besig is om water met emmers uit my buurman se swembad te skep om op sy brandende grasperk te gooi dat die vraag my kop inkom.

Wat sou jy red?

Die stryd teen die verwoestende brand wat Somerset-Wes verlede week getref het, het toe reeds in ’n guerrilla-oorlog ontaard. As hy geblus is by Boskloof en Dennegeur agter ons koppie, steek die wind, wat 70 km/h waai, hom weer hier by ons koppie aan. Die lug is so geel soos die gras, die dik rook brand oë en keel en laat die neus loop soos wanneer traangas jou tref. Die termometer het die oggend gesê 34 grade Celsius. Die brand maak dit nog warmer.

Twee rolprente ding mee in my kop. Die helikopters met waterbomme teen die geelrooi agtergrond bring tonele uit Francis Ford Coppola se rolprent Apocalypse now na vore. Dan, wanneer ek huiswaarts kyk, die aanhaling van Robert de Niro in Heat: “Don’t let yourself get attached to anything you are not willing to walk out on in 30 seconds flat if you feel the heat is around the corner.”

Nou is dit egter nie meer ’n teoretiese vraag of ’n rolprent nie. Ons is in ’n oorlogsone en die gevaar is werklik. Die bure se honde is reeds in ons huis omdat Ronél en Rebecca dadelik gesien het hoe verward hulle is en skuiling aangebied het. Die heining is natgespuit en die hoë waterrekening wat wag, lyk beuselagtig.

Om konteks te gee: ek is ’n ywerige versamelaar van kuns – veral skilderye en keramiek. En dan het ek oor jare ’n versameling bonsai opgebou wat vir my baie beteken. Boeke neem die huis oor en musiek speel ’n groot rol in ons lewens. Ons huis is op drie vlakke en is die laaste een bo teen die koppie. Die erf val steil af tot onder by die swembad en dan is daar nog ’n terras waar my bonsaituin is. Ons is lief vir tuinmaak en stel ons tuin jaarliks oop vir die publiek om geld vir hospies in te samel.

Wat red ons en hoe besluit mens?

Ek is ’n groot aanhanger van Thinking, fast and slow deur Daniel Kahneman. Hy het die Nobelprys vir ekonomie gewen, hoewel hy ’n sielkundige is. Sy studie van hoe mense dink en keuses maak het die wêreld omgekeer.

As ek sy teorie inspan en die deel van my brein gebruik wat vinnig dink, artisties is, nie bang is vir risiko’s nie en ook progressief dink, is die antwoorde reeds daar.

Vrou, kind en honde is in die motor, hulle het skootrekenaars en selfone, het gegryp wat hulle wou en nou staan ek voor die deur en moet gryp.

Die probleem met daardie deel van die brein is dat hy nie geneig is om te meet nie. Die keuses wat hy maak, gaan ook nie noodwendig prakties wees nie. Boonop gaan hy nie stilstaan om te bepaal hoeveel minute ons oor het voor die brand toeslaan nie.

Daardie deel van my brein sê dadelik gryp die skildery wat Willem Boshoff vir my gegee het. Ek het hom gehelp om fondse te kry om sy monumentale Blinde alfabet van die grond af te kry en hy het op ’n dag jare daarna spontaan met ’n bakkie opgedaag en dit kom aflewer. Sentimenteel miskien, maar hy praat baie met my. Oeps. Hy is te groot en sal nie inpas nie.

Tweede is die ikoniese skildery van Braam Kruger waarvoor hy destyds die Vita-prys gewen het, Venus with vibrator. Dis een waarna ek ure kan kyk en my telkens emosioneel en intellektueel uitdaag. Oeps. Ook hy is te groot vir een man.

Nou moet die besluit tog vinnig kom, want die vlamme is hier. Verby die foto van my motorbom, verby die beelde wat ek en Johann Symington in Venda opgespoor het. (Leef Noria Mabasa nog?) Die geskilderde das van die Bloomsbury-kring uit Londen se dae?

OK, moenie meer dink nie. Vat dit wat jy kan dra. Gryp eenvoudig net Walter Meyer se olie van Alexanderbaai, Pieter Hugo se ikoniese foto van die hiëna-mense van Nigerië, en Anton Bosch se olie van ’n boomlandskap met wind (’n verjaarsdagpresent). Hopelik het Ronél reeds vir Uys Krige ingelaai en ek weet Rebecca sal nie sonder een van Piet Grobler se skilderye uitloop nie.

Nou is dit af met die trappe. Daar is nog net tyd vir twee pogings as my asem en bene hou en die rook my nie oorval nie.

Byna 200 boompies in verskillende stadiums van ontwikkeling begroet my. Die skilderye het my reeds geleer dat die groot goed maar moet bly. Maar hoe kies jy?

Eerste my acacia galpinii in die Pierneef-styl wat my soveel vreugde gee. OK, ek kan net hom opdra. Dan terug vir wyle Louis Nel se buddleja saligna (wit olien). ’n Uitsonderlike boom wat die familie met sy dood aan my geskenk het en al in oorsese tydskrifte verskyn het. ’n Bonsai wat ’n mens ’n hartsboom sal noem. Saam met hom die Japannese rooi den in die Literati-styl. ’n Boom wat met jou kop praat terwyl hy jou hart roer. Wat van Hennie se huilboerboon? Freddie se windverwaaide geskenk van ’n plaas naby Bloemfontein? Wat van? Wat van? Wat van?

As die drie bo in die motor is, skop die ander deel van die brein in wat Kahneman beskryf as die deel wat stadiger dink, berekenend is, konserwatief en geprogrammeer is volgens vorige ervarings.

Hy vra of die eerste brein die regte besluit geneem het. Wat is die prys en waarde van dit wat jy gered het? Sou dit nie beter gewees het om bome en skilderye te kies op grond van waarvoor hulle verkoop sou kon word nie? Waarom die keramiek los? Is dit omdat jy outomaties gedink het hulle sou die hitte kan weerstaan?

En dan skiet drie prentjies in die kop in. Die een is van ’n vrou wat by die Waarheidskommissie getuig het hoe sy haar baba oor die muur vir haar buurvrou gegooi het toe die soldate die deur begin afskop het en dat sy net gehoop het sy vang raak.

Die tweede een is van daardie mense met 9/11 wat besluit het om uit die Twin Towers te spring eerder as om te verbrand.

En dan is die laaste een van daardie wonderlike bonsai wat nou in Washington staan wat Hirosjima oorleef het en waarvan Jack nou die dag nog vir my ’n foto gestuur het.

Dan sê die tweede brein dat al die besluite wat jy geneem het, irrasioneel was en geen sin in die praktyk maak nie.

En dan, net wanneer hy jou oortuig het van jou eie domheid, skop die ander een in.

Hy is verkeerd, sê hy.

Jy het die storie van jou lewe probeer red.

Kommentaar

  • Ek is skoon uitasem soos ek saam met Willem deur die huis gaan en besluit wat om te vat en wat om te los. Mooi geskryf dankie.

  • Gogo de Bruin

    Goeie hemel, ek hoop jy het ook ten minste net een maal op jou uitasem geskarrel deur die-storie-van-my-uiters-suksesvolle-lewe gewonder wat neem daardie mense saam wie se besittings 'n prent skilder van 'n basiese lewe wat waarskynlik ook nie deur versekering weer herstel kan word nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top