Wat jy moet weet van wetenskapfiksie

  • 1

 

 

Wil jy 'n wetenskapfiksie-kortverhaal vir LitNet Akademies Kuberklas se kompetisie skryf, maar weet nie hoe om te begin nie? Hier is Fanie Viljoen se wenke.

 

Ek het voor tienuur die oggend ’n hele blok donkersjokolade in, en dis dalk die perfekte manier om jou kop aan die gang te kry en te dink aan die bittersoet verleiding van ruimtewesens en Vreemde Vlieënde Vaartuie.

 

Wetenskapfiksie is nogal ’n afgeskeepte genre in Afrikaans, maar iets wat ek nou weer met my Nova-reeks laat probeer herleef.

Wat volg, is ’n paar idees en vrae wat jou aan die dink sal sit (met of sonder sjokolade) wanneer jy jou wetenskapfiksie-verhaal beplan en skryf, eerder as ’n klinkklare dis-hoe-jy-dit-doen-resep.

 

 

  • Die belangrikste is dat jy steeds ‘n storie moet vertel en nie net ’n klomp lukrake vreemde konsepte op die tafel gooi onder die dekmantel van wetenskapfiksie nie. Daar moet ’n besliste begin, middel en einde wees aan jou verhaal.
  • Jou karakters moet steeds volrond wees. Maak hulle interessant of misterieus genoeg dat die leser in hulle sal belangstel.
  • Besluit of jy regtig die karakters aardsvreemde name, soos Hjitf of iets dergeliks, moet gee. ’n Karakter word nie ’n ruimtewese omdat hy ’n vreemde naam het nie. Moet hy enigsins ’n naam hê? My Nova-boeke trek al by boek drie en steeds het die ruimtewesens nie name nie, buiten dalk een, maar gaan kyk hoe pas dit by die verhaal in.
  • Probeer die regte balans tussen die vreemde en die bekende handhaaf. Dit gee jou verhaal ’n mate van ’n realistiese gevoel. Die Nova-reeks is bloot boeke oor tieners wie se paaie met dié van ruimtewesens kruis. Ja, daar kom later duidelikheid oor hoekom dit gebeur, maar hulle is eerstens tieners wat aan sport deelneem, skoolgaan en saamkuier.
  • Hoe gaan jou ruimtewesens kommunikeer? Sal hulle Afrikaans praat? Hoe sou hulle dit geleer het? Praat hulle dalk ’n ander taal? Praat hulle inderdaad óóit, of gebruik hulle lyftaal of handbewegings om te kommunikeer?
  • Moet jou verhaal op die aarde afspeel of in die ruimte? Wat ook al die geval is, jy moet die omgewing nie so vreemd maak dat jy jou leser vervreem nie.
  • Onthou dat Star Wars en Star Trek reeds geskryf is. Moenie verwys na hierdie reekse of konsepte in die reeks nie. “May the force be with you” is alreeds gebruik; dit hoort nie in jou verhaal nie.
  • Maak seker daar bly ’n aspek van wonder in jou verhaal. Jy het seker The X-files gesien? Jy het selde presiese antwoorde op vreemde verskynsels gekry, maar die reeks het kykers steeds genoeg gegee om telkens ’n volgende episode te kyk.
  • Gepraat van The X-files – skryf jou verhaal saam met musiek. Mark Snow se temamusiek vir hierdie reeks sit my altyd in die regte bui om verder aan Nova te werk.
  • Doen navorsing as jou verhaal dit vereis.
  • Dink lateraal. Moet jou verhaal ’n blote storie op papier wees, of kan jy YouTube, Facebook of illustrasies inspan om dit te vertel?

 

May the force be with you! terwyl jy skryf.

Nog inligting oor LitNet Akademies Kuberklas se wetenskapfiksie-skryfkompetisie vir 2015.

  • 1

Kommentaar

  • Gerhardus Thompson

    Beslis iets om oor na te dink. Baie dankie Fanie en sterkte met die NOVA reeks. Sterkte aan al ons WF en F skrywers, lesers en kunstenaars! Dankie aan mense soos Fanie wat dit wel waag in die onbekende en die opwindende ruimte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top