Wat is navorsing en hoekom bestaan daar soveel teenstrydige opmerkings hieroor?

  • 0

I[1]

Nou onlangs merk die Afrikaanse skrywer, en my kollega, Etienne van Heerden, teenoor my op dat kreatiewe skrywers navorsing skép. Hierdie opmerking – gemaak binne die konteks van ’n soveelste vorm wat ons moes invul om navorsingsuitsette te tel en evalueer volgens ’n “grid” vir sogenaamde Rate for Job aan die UK – skep elke jaar ’n onrustigheid by navorsers aan universiteite.

Ten ene male is die dae verby van die professor wat ná aftrede rustig skryf aan sy lewensverhaal of ’n groot studie. Of van ’n De Saussure wie se oorywerige studente ’n boek kon saamstel van lesingnotas wat tot in der ewigheid debat sal aanspoor. Deesdae moet die akademikus presteer – as openbare intellektueel met resensies; as navorser met Sapse-artikels. En dan is daar die NRF se stelsel wat bepaal wie die A-kandidate is. Hieroor is daar dikwels uiterse polemiek – omdat die kreatiewe persoon nie deur hierdie sisteem erken word nie. Aan die UK, met ’n bloeiende Kreatiewe Skryfskool, word romans en digbundels wél as navorsing beskou.

 

II

In Stilet XVIII:2 van September 2006 verskyn daar ’n artikel van HP van Coller en Bernard Odendaal onder die titel "Voorgelegde artikels by Stilet vanaf 2000 tot 2005: Waarnemings en gevolgtrekkings deur die Redakteurs”. Hierdie artikel open besonder belangrike kwessies rondom navorsing binne die Afrikaanse letterkunde. Trouens, ’n mens is die skrywers dankbaar vir so ’n polemiese essay – en een wat ’n mens tot verdere navorsing stimuleer. Die UK betaal nie ’n persentasie aan navorsers vir geakkrediteerde artikels nie, maar dit tel wel in jou guns wanneer jy jaarliks aansoek doen om navorsingsgelde of ’n reisbeurs. (Terloops, daar verskyn heel dikwels koproduksies van Van Coller in Stilet en my eerste kritiese kanttekening was: Waarom alweer ’n koproduksie? By jaarlikse ad hominem-promosie-vergaderings bly dit altyd ’n tameletjie om te probeer bepaal wie die eerste outeur van die essay/boek/artikel is. Maar dit daar gelaat.)

Dit sou onnodig wees om op elke aspek van die outeurs se argumentasie te let. Daarvoor is die artikel voorhande en beskikbaar. Ek gaan gewoon net let op sekere aspekte wat my as navorser, skrywer, digter en resensent opgeval het. Dit wat vir my ’n klip in die skoen is, of wat my plesier verskaf het. Hopelik sal dit ’n verdere debat stimuleer by ons kollegas binne die vakgebied, met studentegetalle wat verminder, eise en druk van die universiteitswese én die moeilike doseeromstandighede waarmee Afrikaanse dosente te kampe het aan Engelstalige universiteite.

 

III

Ek is al vir bykans drie dekades werksaam binne die vakgebied Afrikaans en Nederlands. Ek het modes sien kom en gaan. Hoogte- en laagtepunte meegemaak. Die geboorte van dekonstruksie-kritiek, postmodernisme, feminisme(s), die gay-skrywer, vendettas, polemieke rondom pryse beleef. Ek was/is keurder vir uitgewers. Ek skryf en publiseer (vir die pers en vir vaktydskrifte). En deur die jare was en bly my mantra: Doen wat jy kan doen so goed as wat jy dit kan doen.

Aantygings en koppesnellers was daar. Dit is deel van die bedryf. Jy is soms tussen hemel en aarde. Tussen lof en verguising. Net jou binne-radar kan jou help om te oorleef teen die oordrewe lof én aanvalle. Die jin/jang-bestaan van die kritikus cum skrywer.

En juis hierom is een van die aspekte waarop die outeurs let, naamlik dat navorsers kosbare tyd verkwis wanneer hulle resensies skryf, ’n opmerking wat kommentaar behoef.

Indien niemand van intellektuele statuur, of ’n gerekende dosent, bereid sou wees om te resenseer nie, sou die bedryf tot stilstand kom. Resensente skep dikwels paradigmas waarbinne navorsing kan geskied. Die resepsie van ’n teks – en hier was NALN en Erika Terblanche nog altyd van onskatbare hulp gewees – help die navorser om ’n tydvak beter te verstaan.

Die outeurs skryf: "Ons leef in die era van massamedia: TV, tydskrifte, koerante, die internet. Meer ‘prikkelende’ en ‘toeganklike’ literêr-kritiese verslaggewing, byvoorbeeld resensies en skryfstukke van essayïstiese aard, oorheers in dergelike media. Dit verteenwoordig werk wat basies interpretatief en evaluatief van aard is, en sulke werk sluk heelwat van Afrikaanse literatore se beskikbare navorsingstyd in” (p 136).

Maar kom ons kyk na die volledige prentjie. Die slotopmerking is waarmee hierdie polemiek wil begin: “Afrikaanse literatore, ook die outeurs van hierdie verslag, is almal in ’n mindere of meerdere mate skuldig aan die manifestering van bogenoemde tendense in hulle navorsingswerk.”

Skuldig?

Daar behoort altyd plek te wees vir die skrywer/navorser wat sy of haar eie ding wil doen. Ek onthou skielik – ja, en skielik is dit aand! – hoe ons in die tagtigerjare gebombardeer is met skrywes uit die ou RGN oor die onderwerpe waaroor navorsing gedoen behoort te word. Sensal. Charles Malan. Kyk maar vandag na ’n NRF-navorsingsvraelys en jy wens ons had ’n David Lodge om te wys op die absurditeite van hoe die geesteswetenskappe probeer om die natuurwetenskappe na te boots.

Die outeurs kom tot die gevolgtrekking dat daar “moontlike redes” bestaan vir die gehalteprobleme (pp 135–6), ofskoon hulle op bladsy 128 bely dat Elize Botha, JC Kannemeyer en JC Steyn volgens die huidige graderingskriteria van die NRF nie hoër as ’n C3 geag sal word nie.

Die bevindinge dan:

1. Insentiewe vir navorsing bevorder die “publish or perish”-kultuur.

2. Entrepreneuriese navorsing het ’n naarstigheid van publikasies tot gevolg.
Die harde, deeglike literatuurwetenskaplike navorsing bestaan nie meer nie.
Hier meen die uwe is die uitgewersbedryf dalk mede-aandadig. En dalk, ironies genoeg, is dit waarom kreatiewe persone binne die Akademie eerder romans en digbundels publiseer?

3. Dan word daar verwys na die “boertjie-het-wêreldburger-geword”-sindroom en die deelname aan internasionale kongresse na ons jarelange isolasie.

Elke reis buitelands – na kongresse en gewoon met vakansie – het nog altyd ’n besonder kreatiewe uitwerking gehad op my navorsing. Vide my stuk oor die Polana Hotel.[2]

1. Rasionalisasie van poste het minder navorsingstyd tot gevolg. Hierdie stelling word egter verkeerd bewys deur die stroom skitterende essays wat te midde van die groot druk steeds gelewer word. Afrikaanse literatore kla onder andere oor die feit dat daar minder boeke verskyn: myns insiens is die Afrikaanse letterkunde steeds kragtig en woekerend.

2. Met Van Coller en Odendaal se siening oor die druk wat die NRF stel, kan ’n mens wel akkoord gaan. ’n Mens moet wel die outeurs daarop wys dat ’n sekere soort navorsing die NRF behaag, naamlik dié van die navorser wat binne een spesialiteitsafdeling werk. Die navorser wat op verskeie gebiede werk, word deur hierdie stelsel gepenaliseer en die kreatiewe persoon is nie eens op hul radar nie.

3. Ek het reeds na die outeurs se opmerking oor die massamedia en resensies verwys en dat dit kwansuis waardevolle navorsingstyd sou opslurp.

4. Die "demokratiese" tydsgees diktéér “toeganklikheid”; “koester selfs ’n wantroue in wetenskap as ‘elitêre’ onderneming". Ek dink die goeie navorser behoort toeganklik en “oop” te skryf – daardie soort essays wat net deur ’n paar “ingeligtes” begryp kan word wat die jargon verorber het, is nie beter navorsers as oa ’n Opperman of Van Wyk Louw nie.

5. Die wantroue van die postmodernisme in “groot diskoerse” word ook genoem. Uiteraard. Ook die outeurs erken hier hul aandadigheid aan die fragmentariese "kanttekening"![3]

 

IV

Die oorsig oor navorsing werp ’n belangrike en tersaaklike lig op die administrasie rondom navorsing. Die belangrikste punt vir hierdie kanttekening is nommer 5 (“Die ervaring by Stilet sedert 2000"). Wie, wonder ’n mens, sou weer bereid wees om ’n gasredakteur te wees na hierdie artikel, wat ’n enigsins hovaardige aanslag het?

Terloops: Waarom kan ’n artikel wat aangevra is deur ’n redakteur, nie afgekeur word nie? Dit is mos belaglik om te dink dat as die gasredakteur iemand vra vir ’n bydrae, dit noodwendig net so aanvaar sal word. Ek het nou onlangs vir Ensovoort ’n artikel wat aangevra is, gekeur en aanbevelings gemaak dat ’n bepaalde bydrae verbeter moet word.

Is Stilet werklik ’n “oop forum” as die eindredaksie die beslissende woord spreek? Word polemiek dan nie juis beheer nie? Oor sekere kwessies sal daar nooit eenparigheid bereik word nie – veral nie in ’n postmodernistiese tydvak nie – en hierdie skrywers/redakteurs se siening van die “beslissende woord” klink ’n bietjie skools vir my gevoel.

Die opmerking op bladsy 132 oor die praktyk dat akademici met studente publiseer, mag ontaard daarin dat dosente hulle geakkrediteerde-artikel-uitsette kunsmatig probeer verhoog, is ’n kritiek wat al in die wandelgange teen etlike gereelde bydraers uitgespreek is.

En as outeurs vergelykend werk en dit wat hulle skryf, nie teoreties diepsinnig begrond nie, en dit is maar “willekeurig” en “oppervlakkig”, mag so ’n essay verdere navaorsing stimuleer.

Om kollegas aan te spreek vir luiheid en arrogansie met betrekking tot navorsing, klink nie vir my hier in orde nie. Wie besluit hieroor?

En terloops, harde teorie word in TLW/JLS gepubliseer deur teoretiese navorsers. Literator, Tydskrif vir Letterkunde en Stilet moet ruimte skep vir die minder teoretiese benadering. Overgeset synde: daar is plek vir almal en alles.
Waarskynlik besef hierdie outeurs nie dat die toon wat hulle aanslaan, nie almal sal aanstaan nie.

Ek doen my navorsing op my eie manier, probeer studente so goed as moontlik oplei. Waaraan sou ek skuldig wees? Dat ek hierdie eiesoortige navorsing geniet?
Mea culpa, mea maxima culpa![4]

 

Bronne (Verwysings en Verswygings)

[1] Ek hou van bronne. Al is hierdie nie ’n geakkrediteerde tydskrif nie, verkies ek dat daar verwysings by elke teks verskyn sodat dit die speurende leser kan help om verder te soek. Soek en jy sal vind. En my lewensmotto is: "Ek hou van ’n bron wat sy bron kan staan."

[2] Oor die Polana Hotel kan u gerus verder lees hier.

[3] Gaan hierdie artikel van Van Coller en Odendaal as ’n navorsingsuitset beskou word? Of is dit net ’n nawoord?

[4] Sawends lees ek maar “Die hond van God”.

Eimerik,
die helder man van God, kan skoon beskryf
die afgemete stasies van die skrik -

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top