Wat is LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2015?

  • 10

woord2015.650

LitNet het pas sy Afrikaanse woord van die jaar 2015 aangekondig.

Dis 'n ongewone en verrassende keuse, maar volgens LitNet se redakteur, Etienne van Heerden, is dit 'n woord wat die tydsgees stip vasvat.

Die wenwoord is #. Dis gekies uit woorde wat direk aan LitNet gestuur is, asook woorde ontvang van LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2015-ondersteuners (die ATKV, die HAT, Taalkommissie, WAT en Netwerk24).

Maar is dit 'n woord?

Ernst Kotzé, emeritus professor in Taalkunde aan die  NMMU-universiteit verduidelik:

emoticon'n Mens kan die hutsteken (#) as 'n logografiese woord beskryf wat, soos enige alfabetiese woord, in Afrikaans uitgespreek kan word, op watter wyse dan ook. Dit volg ook 'n nuwe tradisie van woordtipes wat deur die gebruik van elektroniese teks ontstaan het, onder andere piktogramme, soos die emoji  ("gesiggie met trane van vreugde"), wat deur Oxford Dictionaries in die VK as hulle woord van 2015 gekies is.

lydiakleurDie voorsteller van # as LitNet se woord van die jaar 2015 is Lydia Potgieter. Sy wen R1 000 kontant.

# is gekies uit 15 woorde op LitNet se kortlys. Hierdie woorde is:

  • Studente-opstande – Helize van Vuuren
  • # – Lydia Potgieter
  • Zunami – Dominique Botha
  • Vlugteling – Dayne E en Yolandé Strauss
  • SlimWim – Joan Hambidge, Sheritha Ramparsad David en die ATKV
  • Droogte – R van Zyl en Chris Rossouw
  • Beurtwater – Christo Viljoen en die WAT
  • Terreur – Anneke Barnard en die WAT
  • Gaydebat – Henriette Coetzer
  • Afrikaans – Ingrid Erlank, Cornelia de Kock, Elsabé Brits, Pieter-Dirk Uys
  • Kakiebosch – Breyten Breytenbach
  • Ekkie – Darryl David
  • Poenankies – Anzil Kulsen
  • Witgeit – Frederik de Jager
  • Hommeltuig – Marike van der Watt, Chanette Paul, Org Potgieter en die Taalkommissie

Van Heerden het Afrikaanssprekendes gevra om hul reg te hou vir LitNet se "Afrikaanse woord van die jaar 2016"-kompetisie. "Wie weet wat lê vir ons voor, en watter woord die 2016-tydsgees gaan vasvang?" het hy gesê.

  • 10

Kommentaar

  • Baie geluk aan Lydia Potgieter met haar oorspronklikheid. Dis sowaar die mees gepaste "woord" van die jaar.

  • Ek hoor mense kla # issie he woortie. Ek sê dit is he woort, ja. Die woort is hêsj. Dis amper he woort sôs eisj, maar dissie heelenmaal eisj nie. Mar dit lat baie mense net so koud. Ek sê maar net ...

  • Hier in Duitsland is die jeugwoord 2015 'smombie' (smartphone + zombie) vir iemand wat sy/haar slimfoon onophoudelik aanstaar en en gevolglik soos 'n zombie
    rondloop.

  • Cilliers van Niekerk

    Wat my meer interesseer is die herkoms van die kernwoordjie "huts".

    Kom dit van die Nederlandse "hutselen" wat deurmekaargooi of skud beteken, en met die bekende "onthuts" en "hutspot" verband hou (en wat dan lieflike woordspeling en so reg in die tydsgees sou wees)?

    Of is dit 'n nuutskepping om "hash" (self in dié sin vanaf "hatch", weer self vanaf die Middel-Franse "hacher" (opkap)) meer Afrikaans te laat klink?

    Indien die eerste, is "hutsteken" maar 'n flouerige vertaling van "hash tag", wat op 'n hoogs besondere handeling dui.

    Dan sou ek eerder "hutshaak" (of "hutshakie" as jy rêrig moet!) aan die hand wou doen, wat die handeling uit 'n ander hoek eintlik selfs beter as die Engels weergee: Jy bied mos juis 'n haak vir uitlatings aan, of haak jou eie aan 'n bestaande een!

    "Hutsteken" kan dan in vrede die simbooltjie self aandui, hoewel ek reken dat "huts", kort en klaar, dit dan ook beter sou doen!

  • Lydia Potgieter

    Het al baie negatiewe kommentaar gesien oor die #. Die wêreld beweeg aan en ons moet almal probeer byhou.

  • Helize van Vuuren

    as die hutsteken 'n woord is,
    is ek nou behoorlik onthuts
    want 'n taal aanmekaar geklits van tekens
    is klaar in die kis
    Mene, mene, tekel, upharsin
    aan die muur staan die skrif ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top