Wat gaan op universiteitskampusse gebeur?

  • 0

Julius Malema (foto: YouTube)

’n Mens mag ’n baret dra wat min of meer na dieselfde kant as jou kamerade s’n stulp, en jou rooi oorpak mag vir jou soos ’n militêre uniform voel, maar ai, as die stormtroepe net wil luister. Of die maarskalk net minder uit die heup wil skiet.

In meer objektiewe omstandighede sou die oproep van die Economic Freedom Fighters se leier, Julius Malema, aan studente om die kampusse te bestorm as ’n klaaglike mislukking beskou word, maar so verdraagsaam is die owerhede en dele van die akademie teenoor sy Student Command en so sterk is die geheime versugting na revolusie – al is dit net die skyn daarvan – dat die angs oor en die hoop op chaos aan die land se universiteite nog hoog loop.

Ten einde die studentewoelinge na waarde te skat is die regte vraag nie wat gaan in die nuwe jaar aan op kampusse nie, maar waarom was 2017 so ’n feitlik doodstil jaar vergeleke met 2015 en 2016? Waar dinge wel oorvleuel, is in die antwoord: dat dit sal afhang van die EFF – en hierdie willewragtigs van die Suid-Afrikaanse politiek is nie bekend vir hul rasionaliteit, voorspelbaarheid of ekonomiese insig nie.

Vroeg verlede jaar het ek die mening gewaag in ’n resensie van FeesMustFall, student revolt, decolonisation and governance in South Africa, met Susan Booysen as redakteur, dat dit verreweg nog die beste bron oor die studente-opstande is, en dat die munisipale verkiesing met sy veel groter aanspraak op ’n revolusionêre getuigskrif as die studente-opstand daartoe sal lei dat die situasie op kampusse drasties sal kalmeer.

Politieke voorspellings is maar verwant aan dobbelspel in Suid-Afrika, maar as my prognose korrek is, sal die situasie in 2018 op ons kampusse afhang van die mate waarin die Demokratiese Alliansie daarin kon slaag om ’n houvas op die EFF te kry.

My argument – gebaseer op die uitstekende bydraes in Booysen se boek – was dat die studente-opstande ontstaan het weens die ineenstorting van ’n informele verstandhouding tussen universiteitsowerhede, lede van die ANC-establishment en studente-instellings oor protes. Ingevolge die ooreenkoms is ’n geringe mate van geweld en ontwrigting op kampusse toegelaat in ruil vir ’n gewilligheid deur studenteleiers om hulself te vergewis van die administratiewe uitdagings vir universiteite.

In 2015, net na die stigting van die EFF, en in ’n tyd waarin ’n al groter generasiegaping tussen ANC-lede en hul kinders ontwikkel het, het die EFF se woede oor die ANC ’n nuwe verstandhouding onmoontlik gemaak, en met Chumani Maxwele se ontlastingaanslag op die Rhodes-monument in Kaapstad as vonk, is die betreklike beheerstheid tydens protesaksies van die verlede oorboord gegooi. Daar is kommentators wat die opstand graag wou sien as ’n dieper misnoeë oor enigiets van neoliberalisme en hardnekkige wit rassisme tot genderstrydlustigheid en ’n papwiel-anti-apartheidsrevolusie, en daarom ontken het dat die EFF die leeue-aandeel gehad het. Maar hulle is juis in die eerste week van 2018 verkeerd bewys deur die feit dat universiteite EFF-strukture gepaai het met afsonderlike onderhandelinge buite dié met studenterade – nie juis ’n pluimpie vir verteenwoordigende demokrasie nie.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Wat sou die EFF se strategie dan wees? Was Malema se oproep maar net nog een van sy wilde populistiese pogings tot opstokery?

Daar is genoeg breinkrag in die EFF om aan te neem dat die groot prys van 2019 die party se strategiese doelwit moet wees. En om te besef dat onder Cyril Ramaphosa die ANC ’n perd van ’n ander kleur gaan wees – ’n besef wat dalk reeds gedemonstreer is deur Malema se minagtende verwysings na die nuwe ANC-leier die week.

Ramaphosa het verskeie mense onkant gevang met sy sterk aandrang op grondonteiening sonder vergoeding. Sommiges sou kon hoop dat Ramaphosa net besig is met taktiese skuiwe, en ten minste sal sorg dat daar groter rasionaliteit en produktiwiteit in die proses sal kom, maar wat ook al sy motivering, dit sal gewis ’n goeie deel van die wind uit die EFF se seile neem.

Grond is die een groot versugting onder die bevolking, volgens Kgalema Motlanthe se landswye indabas; die ander is werk. As die EFF nie meer so sterk kan hamer op die grondtrom nie, sal hy na vore moet kom met beter idees oor werkverskaffing as wat hy tans het – of nie het nie. En as hy in so ’n konteks dan chaos op kampusse wil skep, waar studente veronderstel is om te leer oor dinge soos werkverskaffing, oorhandig die party ’n stok aan Ramaphosa om hom mee te slaan.

Die verkiesing van Ramaphosa, en dié se sterk “linkse” retoriek het die EFF se kanse om sterk vooruitgang te maak in 2019 ’n groot knou gegee. Soos in 2017, sal hy aangewese wees op die DA om moontlik in koalisie mee te tree. Dit beteken die groot aandag wat die EFF in 2017 aan die daaglikse prosesse van regering gegee het ten einde homself as ’n moontlike regeerder te bewys, sal moet voortduur. Tyd vir die organisering van ’n landswye studenteveldtog, ook in die aangesig van beter-voorbereide owerhede, sal daar nie wees nie. Dalk sal die DA dalk eendag geoordeel word aan een guns wat hy die land bewys het: dat hy die EFF touwys gemaak het in die vreugdes van doeltreffende regering.

Maar soos gesê, is rasionaliteit nie die EFF se sterkpunt nie, en dissipline ook nie eintlik nie – dis glad nie duidelik watter beheer hy oor sy Student Command het nie. Studente is nou maar eenmaal oorwegend onvolwasse, selfgesentreerd en lus vir pret, en sporadiese voorvalle wat tot iets meer standhoudend groei, kan nie uitgesluit word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top