Wat gaan aan met ons mense? (Nie vir atiëste/ongelowiges/antichriste nie)

  • 14

Ek probeer om 'n gebalanseerde pragmaties en nugter uitkyk op die lewe te hê. Ek skaar my nie by enige politiekery of ondergrawery nie. Het my kwota vriende kennisse en subkennisse wat nogal gereeld skakeling behou of handhaaf.

Wat my dwars in die krop steek in die "sosiale media" is die aksies en reaksies van sogenaamde wel opgevoede lede van die samelewing. Ek is 'n kranige flukse "whatsApper" met die wat op my kennislys is.

Die afgelope tyd word daar vir my videos, foto's audio-opnames en wat ook al aangestuur wat my teen die bors stuit. As dit nie 'n boer in 'n bakkie is of 'n man op 'n stoel of 'n sit en slingerende ou is wat almal tot aksie oproep nie, is dit "kennisgewings" om van 'n sekere datum ekstra paraat te wees. Wees bedag op die datum, maak voorsorg en slaap oopoë.

Ek vra die persoon gewoonlik van waar kom sy informasie vandaan en hoe seker is die persoon van sy saak. Dit is gewoonlik van 'n onbekende ongevalueerde bron wat iewers in die onderwêreld en doolhowe van verdoeming beweeg.

Wat ek wil weet, wie en wat het die verspreider van sulke snert die reg of mandaat gegee om sulke snert te versprei of te propageer. Nie net dat dit onrus, wantroue en in sekere gevalle vrees aanjaag nie, is dit vir my 'n duidelike bewys van die wantroue wat ons in ons Hemelse Vader en Skepper stel. Ons as Christelike land skiet onsself in die voet. Ons bid en smeek vir vergifnis, genade en leiding, maar is besig om onsself bang te praat en op te ruk oor situasies wat nog nie eers gebeur het nie.

Waarom wanneer daar krisisse oorkant die horison rondhang skielik massa gebedsaksies van stapel wil  stuur. Dit is elke dag se werk om jou te verootmoedig en te bid, nie net in tye van moontlike krisisse nie.
Niks is gewoonlik so erg as wat jy wil hê dit moet wees nie. Vertroue, gebed en volharding sal ons deur die "krisisse" sien.

Reusedwerg

  • 14

Kommentaar

  • Hallo Reusedwerg
    Ek staan ook half ongeërg teenoor die massabiddae vir vrede, antiterrorisme en voorspoed (veral as dit nog in Engels ook is). Ek het niks daarteen nie, bid vir leiding en krag is goed. Daar is egter 'n ou spreekwoord wat sê dat, as jy jou gebede verhoor wil hê, staan op van jou knieë af - niks gaan na jou kant toe kom as jy handjies gevou sit en nie jou moue oprol nie.
    Wat die donker Whatsapps betref - ook nie veel fout daarmee nie, veral in die lig van die hoeveelheid en tempo van aanvalle op burgerlikes; liewer paraat-Jan as teiken-Jan.
    Groetnis

  • Ons dominee het juis onlangs aangevra dat die sekuriteit by die pastorie opgegradeer moet word. Diefwerings en sekuriteitshekke moet vervang word, die alarmstelsel moet 'n radioverbinding hê, daar moet veiligheidstrale om die huis opgestel word, sodat die alarm afgaan indien 'n indringer dit sou kon vermag om by die elektriese heining verby te kom. Kameras is oral alreeds geïnstalleer sodat die werf op 'n skerm bespied kan word.

    • Maggies Angus!

      Waar is dan die lidmate se geloof dat God sy perseel gaan beskerm? Die glansend wit beskermengele moet eerder ontslaan en vervang word met rooi engele met horings op die voorkop, vlermuis tipe vlerke, en stert met 'n giftige pyl. Hulle doen miskien 'n beter job.

  • Angus
    Jy verkeer soos baie ander ander onder 'n wanindruk oor die beskerming van God.
    In Mat 6 vers 19 sê Jesus onder meer: 'Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan.'
    Jesus hou dus deeglik rekening met die werklikhede van sy en ons tyd. Ons weet bv dat van Jesus se volgelinge gewapen was, want in Mat 26 by Jesus se gevangeneming staan daar in vers 51: "een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit.Net daar kap hy 'n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het se oor morsaf.'
    In Lukas lees ons dat die ander dissipels toe hul agterkom dat Judas Jesus verraai het, tot Jesus se beskerming wou kom en sê in Lukas 22 vers 49: "Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm," sê hulle vir Jesus.
    Hieruit kan ons aflei dat meer as een dissipel gewapen was, Jesus het dus nie hulle beveel om hul wapens by die huis te los voordat hul Hom kon volg nie. Hulle moes net hul gewone werksaamhede los.
    Daarom is daar ook niks verkeerd dat Christene hulself beskerm in die huidige misdadige samelewing, want ons word nie slagoffers terwille van ons geloof nie, maar wel om ons besittings, solank die verweer nie die bedreiging oorskry nie.
    Lekker dag.

  • As julle twee knape nie die opskrif gelees het nie, is dit nie my skuld nie. Soos jy sê mnr Fourie, as jy nie van iets hou nie, druk die knoppie en vee dit af. In elk geval Angus wat soek jy nog in die Kerk, aangesien jy praat van hul dominee. Dit is in elk geval niemand se skuld dat jy 'n ongelowige is, behalwe jou eie nie.

    • Reusedwerg.
      Mnr Fourie nogal! Ek het jou opskrif gelees, maar soos die ou gewoonte; sê vir iemand hy mag iets nie doen of aan deelneem nie, is dit eintlik 'n uitnodiging, uitdaging om dit wel te doen of aan deel te neem. Ek het nie gesê ek geniet nie wat jy geskryf het nie, dus het ek nie nodig om die knoppie dood te druk nie, maar daar is wel sekere onderwerpe wat ek geensins in belangstel nie, en wat ek dus nie lees nie. So dit is nie asof ek nooit die knoppie gebruik nie.

  • Beste FC Boot,
    Dan help dit mos nie om te bid dat God sy beskermende hand oor ons almal uitgestrek moet hou nie? Die ou is dan self ook magteloos.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    As jy nou die moeite gedoen het en een van jou 23 Bybels oopgemaak het sou jy ook kon gelees het: Mat.26 vers 53.

    "Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help. "

  • Beste FC, ek het al met die tyd saam geleer om stil te bly is ook 'n antwoord. Daar is niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor of iemand so blind wat nie wil sien nie. Die spotters en koggelaars sal mens altyd raakloop of jou pad kruis. Ek verwerdig my nie meer met diesulkes nie en hou liefs verby, die lewe is te kort om my aan snert te steur. Die ongelowiges is bekommerd. Hier kom 'n ding en hulle is bang vir die spoke en geeste.

    • Het ons in spoke en geeste geglo soos julle, sou ons beslis soos julle vir hulle bang wees.

  • Beste FC Boot,
    Ek kan jou verseker, dit maak nie saak tot watter god jy bid nie, God van die Bybel, Allah, enige van die duisende gode van barbare, of selfs vir oorle Zeus nie. Die resultaat is dieselfde: óf jou gebed word verhoor, óf jou gebed word nie verhoor nie. Waar is daardie kamtige twaalf legioene engele wanneer plaasboere so vermoor word?
    Groete,
    Angus

  • Mnr Fourie, dit is mos meneer? Dit is juis die ongelowiges wat vir die spoke en geeste bang is. Ek as gelowige vrees niks nie want ek hoef nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top