Wat Engels vir Afrikaanse mense beteken

  • 27

Waarom die absoluut gebrekkige belangstelling in die saak oor Afrikaans op Maties onder Afrikaanssprekendes? En die geringe finansiële steun vir die klaers, en die koue skouer van die party wat deur die meeste Afrikaanssprekendes ondersteun word, die Demokratiese Alliansie? Soos iemand dit gestel het: Waarom laat Afrikaanssprekendes die saak by hulle verbygaan?

Taalstryduitputting is dalk een antwoord. Die storie oor Afrikaans by Maties gaan darem al lank aan. En dis kompleks. Die Open Stellenbosch- (OS-) veldtog het dit skouspelagtig gemaak, gemoedere gaande gehad en mense gedwing om op hul voete te dink. Dis nou alles weg. Daar was nie optogte hierdie week nie, geen geslagspesifieke gestampery en gestotery nie, pers gesigte of “kill the boer”-songs nie. OS het laas in Oktober iets op sy Facebook-blad geskryf.

Hierdie uitputting het ’n ander dimensie ook. Die vermoede bestaan dat onder die vyande van Afrikaans op Maties, veral die antikoloniale betogers wat van Ikeys af ingevoer is, die besef ingetree het dat hulle gevaar loop om hulself in ’n massiewe teenstelling vas te knoop: soos die #RhodesMustFall-debat ontwikkel het, het al meer stemme opgegaan vir onderrig in plaaslike tale. En in die Kaap is Afrikaans al eeue lank plaaslik. Dan liewer die beweging aanhaak by #FeesMustFall. En noudat OS nie meer moles maak nie, voel mense dalk die stryd is verby.

Mense met wie ek hieroor praat, die meer linkses, sê ook die betrokkenheid van organisasies soos AfriForum en Solidariteit by die saak staan hulle nie aan nie – dis noordelike organisasies sonder veel steun in die Kaap, waarvan hulle hul outomaties wegkeer, of hulle nou veg vir die Palestyne of teen hondediefstal.

Hierdie faktore speel waarskynlik ’n rol, maar die indruk bly staan dat vele wit Afrikaanssprekendes anderpad kyk as dit by Afrikaans op Maties kom.

Waarom sou dit wees?

In ’n vroeëre artikel het ek geskryf van die wit Afrikaanssprekendes wat ’n mens “offeraars” kan noem, wie se leuse kom uit dieselfde patriotisme wat hulle in hul Afrikaanse laerskole geleer het: “Ons sal offer wat jy vra.” Onder hulle is daar selfs ’n diepgesetelde behoefte aan ’n offerande, in die geloof dat so iets nog nie gebeur het om 1994 te salf nie. Dit hou verband met die versugting van ’n swart redakteur destyds teenoor my dat die koms van demokrasie haar onbevredig gelaat het op ’n amper liggaamlike vlak: “I mean, there was no white blood on the floor.”

Vir diesulkes is Afrikaans op tersiêre vlak ’n goeie kandidaat – dis nou wel soos Shylock se pond vleis, maar die bloed tap nie noodwendig uit ’n wit lyk nie.

Dis nie noodwendig uit ’n wit lyk nie, want wit mense het Afrikaans nie meer nodig nie. Hul Afrikaanse Model C-opvoeding het hulle toonaangewers in die middelklas gemaak, as prokureurs, dokters, rekenmeesters, joernaliste, gewoonlik met top-reputasies wat dwarsdeur die wêreld deure oopmaak, saam met die positiewe dienspligrapport. Hulle het ryk genoeg geword om hul kinders na die beste skole te stuur, met die opdrag aan kind en onderwyser om wiskunde en Engels voorop te stel.

Die ongeluk lê by die baasraak van die Engels. Daar is twee probleme: aan die een kant wil so baie nou die rooitaal gooi dat die aanbod die aanvraag ver oorskry. Vir die base maak dit dinge maklik: kies die mense met die beste Engels. Aan die ander kant is daar die gehalte van jou Engels: dis so goed soos jou onderwyser s’n. En alte dikwels is dit glad nie goed nie, want dis ook maar haar tweede taal.

Die gevolg is ’n neo-apartheid. As jou Engels onder ’n sekere vlak is, kan jy maar vergeet. Al is jy ’n wiskundige-genie, sal die posisie gaan aan die meisie wat ’n genie in wiskunde en ook in Engels is. Hierdie taalapartheid kan jy amper nommerpas op die ou groepsgebiede afdruk: in die suburbs en die mansions in die townships bly die mense wat van so 10 uit 20 af aanteken in die Reader’s Digest se woordeskatvasvra. In die plakkerskampe bly diegene, onder wie ook honderde duisende armblankes, wie se Engels nie so hot is nie.

Hierdie neo-apartheid het selfs sy eie tuislandkonstellasie. Met regerings wat rondom Suid-Afrika in duie gestort het, of dreig om in duie te stort, sommige met kragmanne en diktators aan bewind wat herinner aan die Mangope’s, Buthelezi’s en Matanzimas van die verlede, is daar oral reservoirs van goedkoop, gehoorsame arbeid, veral in Zimbabwe, Mosambiek en die Kongo. Mits julle mekaar kan verstaan, in Engels.

’n Algemene argument van die offeraars is dat invloedryke Afrikaanssprekendes – die prokureurs, dokters en joernaliste wat verengels – sal voortgaan om Afrikaans te praat – by die huis. Ek weet nie so mooi nie, nie wanneer ek sommige debatte op sosiale media lees nie: onder baie van hulle is daar ’n renons in Afrikaans wat nie minder werklik is omdat dit so aangeplak lyk nie. Dit het al etlike kere met my gebeur dat iemand met ’n Afrikaanse aksent en naam my gemaak-vriendelik versoek om nie “that language” in sy/haar teenwoordigheid te gebruik nie.

Iemand het onlangs gesê Afrikaans is ’n politieke projek, en omdat die politiek verander het, moet die taal verander. Dit is waar in die sin dat alle moderne tale op die een of ander manier politieke projekte was, en is – Duits, Noorweegs, Italiaans, Mandaryns. Maar geen taal het sulke wydverspreide koloniaal-politieke dryfvere as Engels nie, dryfvere wat hom die empire gemaak het waaroor die son nie sak nie. Vandag is hy die tweede mees gebruikte taal, en verreweg die mees gebruikte tweede taal.

Daar is die empire se “Macaulay Minute” van 1834, wat die belangrikheid van taal as imperiale instrument van beheer uitgestippel het en verklaar het dat plaaslike tale almal as minderwaardig teenoor Engels gesien moet word. En Mark Sanders se wonderlike boek Learning Zulu wys spesifiek hoe Engels homself ingeburger het as eksklusiewe taal in Suid-Afrika. Hy beskryf hoe sir Theophilus Shepstone as goewerneur van Natal die geloof gevestig het dat Engels, en inheemse swart tale, te moeilik is om te leer. Ter wille van beter kommunikasie tussen baas en werker is Fanagalo aangemoedig, ’n verwronge brousel van bevels-Engels en nagemaakte woorde uit inheemse tale. Fanagolo-handleidings het deur die jare in talle uitgawes verkoop en was van die gewildste boeke in koloniale Suid-Afrika, tot die Afrikanerregering dit nekomgedraai het. Die rede was dat die vernedering waaraan dit swart mense onderwerp het, gebots het met tuislandamptenare se doelwit om ’n trots in hul eie taal en kultuur te ontwikkel.

Afrikaans het natuurlik goed gedien as die taal van die sweep. As die taal van die ekonomiese onderdrukker, saam met Engels, het dit baie Afrikaners gehelp om die rykdom op te bou waarop hul kinders en kleinkinders nou so goed leef. Maar met die huidige eeu se instroming van werkers wat net in Engels kan kommunikeer, het Afrikaans oorbodig geword, ’n blote las.

Nou bly net Engels oor. En die koloniale projek gaan voort, deur ook Afrikaans as te moeilik te verklaar. En Stellenbosch, met sy allure van die wit enklave, sy duur akkommodasie, nostalgiese argitektuur en cuisine, is die ideale nuwe Buitepos van die Empire vir ryk Engelse kinders. Die kans dat genoeg swart studente sal opdaag om dalk iets soos Xhosa-onderrig te vereis, is maar skraal. Talle dosente op Stellenbosch weier nou al om selfs die Afrikaanse inleiding en opsommings te verskaf wat Wim de Villiers se nuwe taalbeleid vereis, want hulle kan nie die taal bemeester nie.

Die koloniale projek gaan, soos altyd in die geskiedenis van die mensdom, om ekonomiese ontginning, die voorsiening van die sentrum se behoeftes. In die robotiserende Eerstewêreldlande gaan daar ’n groeiende vraag na ingenieurs en tegnici wees, by die gewone vraag na dokters en verpleegmense en so meer. Gesien dat Suid-Afrika se myne nou uitgewerk is en te veel gaan kos aan ekologiese herstelwerk, gaan sy grootste uitvoerproduk menslike hulpbronne wees wat wiskunde in Engels kan doen.

In sy jongste anti-Afrikaanse stuk sê Jonathan Jansen dat Afrikaans altyd ’n simbool van rassisme sal wees. Hy is waarskynlik reg, maar begryp nie dat dit die dekmantel verskaf vir Engels as die instrument waarmee wit Afrikaanssprekendes die mag kan behou wat apartheid aan hulle oor die mense rondom hulle gegee het nie. Terselfdertyd bied dit ’n uitvlug aan hul kinders, sou dit nodig word as mense in die regering te veel sukkel met hul Engels en begin baklei.

’n Aandrang op Afrikaans krap net hierdie kaarte deurmekaar, ruk die dekmantel af en versteur die status quo.

Lees ook:

14 Augustus 2017: Gelyke kanse vs die Universiteit Stellenbosch

Izak de Vries
Universiteitseminaar | University Seminar

"Vir Heunis is dit duidelik dat die nuwe beleid, wat Engels onomwonde as die voertaal van die universiteit stel, daargestel is om Open Stellenbosch te plesier." Izak de Vries lewer verslag oor die eerste dag van die hofaansoek oor die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch wat in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.

Foto van Hans Pienaar: René Bohnen

  • 27

Kommentaar

  • Rainer Kussler

    Dis een van die mees insiggewende bydraes oor die problematiek wat ek nog gelees het (en ek het baie gelees). Ek hoop dit kry die aandag wat dit verdien.

  • Johannes Comestor

    "Wit mense het Afrikaans nie meer nodig nie." Afrikaans het "oorbodig geword, 'n blote las." Hierdie stellings is geformuleer en vir publikasie aangebied deur 'n Afrikaanssprekende blanke. Dui sulke stellings op 'n oorwoë standpunt?

    • Beslis nie Johannes; die verskynsel is te INGEWIKKELD EN verg baie meer BEGRIP en ondersoek; as so 'n oorvereenvoudigde probleemstelling en sosio-ekonomiese verklaring daarvoor:)

  • Dank Vader vir 'n man wat sonder oogklappe na die werklike toedrag van sake kyk en die "establishment " sy fyn voetwerk ontbloot vir die universiteitskaping wat dit is. Ek is bevrees ons taal op Stellenbosch is reeds Fataal verwond. Die enigste vraag is, hoe lank gaan dit vat om haarself dood te bloei. Omtrent al die verdagtes met bloed aan hul hande, is tragies juis in hierdie "minderwaardige ,onderdrukkende en uitsluitende taal" opgelei. Die meeste Afrikaanssprekendes was so hard besig om aan Mammon te offer dat die werklike tragedie wat homself voor hul oë afgespeel het ongesiens by hul verbygegaan het. Hul verskoning gaan seker wees dat die wol wat oor hul oë getrek is net te snoesig was. Wanneer hul wakkerskrik sal hul hoor, hul het die bus na 'n beter lewe gemis, omdat hul Engels nie op standaard was nie. Gaan hul 'n Engelse skouer vind om op te huil ? "I tweifel."

    • Marius, ek vir een dink dat hierdie hele rompslomp en narratief rondom Afrikaanse Hoër Onderwys, slegs gaan dien om ons en ons pragtige taal die nodige "skop onder die watsenaam" te gee sodat groei weer plaasvind, nuwe deure oopgaan, en hernieude ontwikkelingsplanne gesmee word om dit te laat groei, en verdere onwikkeling te verseker asook dit topfiks te hou. Vernaam die Afrikaanse privaat universitêre sektor!

      • Presies. Hierdie skielike afskaffing van alles Afrikaans in alle sektore het baie mense, ek inkluis, erg laat skrik.

        Ek het self my skripsie op Stellenbosch in Engels gedoen in 2011, nie omdat ek nie van Afrikaans hou nie, ek't immers al my klasse in Afrikaans bygewoon, maar omdat meeste van ons handboeke in Engels was en die inligting eenvoudig makliker verkrygbaar was. Nou is ek besig met my M en ek doen my tesis in Afrikaans omdat ek 'n nuwe herlewing en respek vir my moedertaal gekry het, en ek dink baie van ons voel so.

        • Wonderlik Reinhardt, HOU SO AAN, dankie!
          Jy kan vir 'n volledige studiebeurs ook aansoek doen by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; die enigste voorwaarde daarvan is dat jou meesters- of doktorsverhandeling in Afrikaans moet wees:)

  • Pieter Haasbroek

    Nou toe nou! Ek het nooit kon dink dat ons Engels kan gebruik om 'n dominante posisie in ons samelewing te behou nie. Hulle wie broken Iengliesh praat, sal mos nooit daaraan dink om die elite se Engelse magsbasisse storm te loop nie. Arme goed, hulle is gedoem tot onderdanigheid. En ons akkulturasie is maar 'n geringe prys om vir al ons eksklusiewe voorregte te betaal.

  • Daar is geen ander organisasie by Gelyke Kanse (GK) se saak teen die Universiteit van Stellenbosch betrokke nie. AfriForum het reeds in middel 2016 onttrek van GK se geding ten einde al sy aandag en fondse op die noordelike universiteite se taalhofsake te fokus. Daar is skynbaar die siening dat die US-saak verlore is omdat die 2016 beleid so uiters 'slim' saamgestel is. Universiteit Stellenbosch het die deur oop gelos vir Afrikaans terwyl Engels dan die verstektaal word vir onderrig en administrasie - asook vir kollektiewe sosiale verkeer op die kampus en in koshuise. Afgesien daarvan dat Engels-onderrig reeds dominant is op die US-kampus is daar ook US se aanstellingsbeleid en inname-beleid wat die ondersteunende omstandighede skep vir verengelsing - met ander woorde, waardeur die suurstof vir Afrikaans op US stelselmatig verminder word. As’t ware word Afrikaans met verdrag doodgesmoor by US, wat dan later ondersteuning sal voorsien vir die argument dat Afrikaans op die Stellenbosse kampus weens 'natuurlike oorsake' dood is . Dit is werklik ’n baie slim beleid!

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie artikel beskryf die kern van die probleem. Die Universiteit van Stellenbosch het inderdaad 'n koloniale "Outpost" geword soos wat Hans Pienaar dit korrek beskryf. Dis ook absoluut waar dat Engels ryk Afrikaanssprekendes (wat destyds deur Afrikaans bemagtig is) se magsposisie vestig. Daar is egter twee punte wat 'n mens kan byvoeg. Die eerste punt is goed deur Philip Spies verduidelik (GK het niks met AfriForum te doen nie). Die tweede punt is dat een van die redes vir die min fondse is dat baie mense wat juis omgee vir Afrikaans aan die US nie welvarend is nie.
    My slotsom: die meeste Afrikaanssprekendes sien Afrikaans nie as ekonomiese las nie, maar het self so baie ekonomiese laste dat hulle nie geld het om by te dra nie, maar nogtans Gelyke Kanse se hofsaak emosioneel ondersteun!

  • Hans Richardt

    Nee Hans Pienaar, ons het reeds belê in Afrikaans, ver weg van Victoria-kollege in Stellenbosch.
    Waarvoor ons gatvol is, is politieke korrektes se verskuilde agenda met ons taal, vir hul eie persoonlike welvaart.
    Ons het nou houding van "swem Hans, swem"! Jul het mos probleme met slimgeit geskep.

  • Hans Richardt

    Hans, sal jy "offer wat Afrikaans vra"? Sal jy en ander as pioniers gaan na Orania om Akademia te help bou? Pioniers offer altyd as hul opreg glo vir saak waarvoor hul staan.
    Geen politieke korrektheid ideologie asb.

    • Akademia is reeds LANDSWYD (Hans, ek glo nie dat daar 'n Akademia-sentrum/tak in Orania is nie, maar mettertyd sal daar seker 'n sentrum aldaar gestig word soos wat Orania onvermydelik - want daar is baie steun vir die groep Afrikaners se prysenswaardige poging tot volle onafhanklikheid - mettertyd van krag to krag gaan en groei). Van hier af kan Akademia net uitgebou word, want die fondament is nou mooi uitgelê. MY pleidooi is dat daar 'n beweging onder leiding van 'n gesiene wêreldpersoonlikheid en prominente Afrikaanse mense (wat almal hul liefde en toewyding teenoor Afriikaans reeds betuig het bwv hul handelinge en denke) ontstaan, in gevolge waarvan 'n tweede (in teorie ook landswye) AFRIKAANSE PRIVAAT universiteit tot stand gebring word. Indien Solidariteit, die Afrikaanse Protestantse Kerk, en Aros dit kon doen, en sukses behaal, is daar GEEN rede waarom die pogings nie met grootse welslae herhaal kan word nie!

  • Hans Pietersen

    Die godsdiens-in-skole debat het dit duidelik na vore gebring dat organisasies soos FEDSAS, SAOU en AfriForum steeds ’n verskuilde agenda van baasskap het, versteek onder die dekmantel van kultuur en godsdiens. Die meeste Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap noem hulleself nie eers Afrikaners nie. Ekself is spyt dat ek nie my kinders laat verengels het nie. Afrikaans is die taal van die onderdrukker, sy nagebootste kultuur (luister maar na sy musiek) die kultuur van die onderdrukker en sy Afrikaner-Calvinisme die godsdiens van die onderdrukker. Wat hy bereik het was ten koste van ander, en sy hekwagte gebruik steeds onkunde en godsvrees om te oorheers.
    Laat die taal maar weer ’n kombuistaal word; lingua franca vir die onkundige en godbhepte. Diegene wat op universiteitsvlak nog nie Engels magtig is nie, hoort nie daar nie.

    • Johannes Comestor

      Hans, ek het ('n mate van) simpatie met jou oor die opdringing van godsdiens in skole. Ek is gekant teen gedwonge ideologiese verslawing. Ek het 'n weersin in propaganda. Baie min mense is afdoende toegerus om propaganda bv krities en sinvol te hanteer. Kinders is seker gewoonlik selfs minder daartoe in staat as volwassenes. Daarom vervul die manier waarop geskiedenis en selfs ander vakke deesdae op skool aangebied word my met weersin. Dieselfde geld die vertrapping van akademiese vryheid aan al ons universiteite. Die evangelie van politieke byderwetsheid word op al die kampusse gepredik en enige poging wat nie hierby inpas nie, word gesmoor. Jou veldtog behoort dus wyer as godsdiens te strek, maar uit jou skrywe is dit duidelik dat jy nie daarvoor te vinde is nie. Jy kon jou van fundamentalistiese godsdiens gedistansieer het sonder om Afrikaans ook tot sonderbok te verklaar. Jou vertolking van wat Afrikaans is, is hoogs eensydig.

    • Wilhelm Fourie

      Dis net 'n lys ongegronde en belaglike argumente. Ek is ook nie 'n AfriForum-ondersteuner nie, maar glo nie dat hulle 'n verskuilde agenda het nie.

      Ek is 'n Bolander, 'n Afrikaner met drie grade en jonger as 40.

      Indien Afrikaans 'n nagebootste kultuur het, sal ek graag wil weet watter kultuur die Engelssprekende deel van Suid-Afrika het wat nie direk uit die Verenigde Koninkryk kom nie? Watter Engelstalige volksliedjies het in Suid-Afrika ontstaan? Watter Engelse idiome het hier ontstaan? Dis nie 'n aanval op ons Engelssprekende landsburgers nie. Baie van hulle voel ook sterk oor Afrikaans juis omdat Afrikaans uniek is.

    • Noem vir my één kultuur wat nie iets bereik het ten koste van ander nie. Almal het iemand onderdruk op een of ander stadium, ons was net die gelukkige wenners wat dit laaste gedoen het. Nou dra ek die skuld vir die gemors wat julle aangevang het.

      As jy Engels wil wees, doen dit. Jy's vry om te doen wat jy wil, maar moenie vir ander voorskryf wat om te doen nie. Ek glo jy besef natuurlik ook die ironie van verengelsing ... het jy al gesien hoe die Britse mag op hul piek gelyk het?

  • Hans Richardt

    JC, daar is reeds 'n Akademia-kampus en kampusprojek. Verder, word SETA-kursusse vir tegniese opleiding reeds aangebied.
    Ek is trots lid by Orania en glo dat politieke korrektheid ideologie wanpersepsies in media, meeste wittes weghou. Verder voel vele Dakar-sendelinge dalk hul sal hul ideaal verloën? Wel, ek vra dikwels, was God ook aan Judas Iskariot se kant?

    • Dankie Hans, ek is ook 'n trotse lid van Orania en dra by tot EPOG se projek om 'n borsbeeld van (my held van alle tye!) Genl Christiaan de Wet te verwesenlik. Ek dra ook by tot die Helpsaam-fonds. Orania = my geestelike tuiste. Dit gee my die grootste plesier! Sterkte, en voorspoed met alles! Jou kop is in die regte plek:) Politiese korrektheid = die diktatuur van die liberalis (om te bespeur hoe onderdrukkend dit werklik kan wees - kyk net na wat tans aangaan in die VSA).

  • Kom laat ons en ons Bruin broers en susters die derde Afrikaanse Taalbeweging van stapel stuur! Afrikaans/Kaaps leef!

  • Wat van die Eugene Marais Privaat Universiteit?
    Opgewonde oor die nuwe moontlikhede vir privaat Afrikaanse universitere onderrig ... 🙂

  • Hans Richardt

    JC, ek dink dis tyd om weg te kom van alle Wes-Kapenaars se name en idees. Wat van Koos de la Rey privaat universiteit? So bietjie van oksimoron, want Koos was goeie boer en Boer, wat doodgeskiet was deur politieke korrektes in 1914 omdat hy politieke korrektheid- ideologie in destydse unie teengestaan het.
    Ons soek Doeners en nie Saampraters nie.
    R40 ledegeld is te min, gee 10x meer.

  • Hans is hier reg: Daar is min belangstelling onder Afrikaners vir Afrikaans. En dit spreek boekdele: Die Afrikaanse taalstryders het dus nie die demokratiese meerderheid Afrikaners se steun nie. Afrikaners met een breinsel besef dat daar nie 'n toekoms vir witmense in Afrika is nie en maak hulle kinders groot om die land te verlaat. Al kan hull self nie.

  • Vuur&Vlam Vlakvark Ph.D., D.Sc., D.Phil., D.Theol., D.Ed., D.Ing., D.Ensovoorts

    Hierdie lewe is so kortstondig en dan hou ons onsself besig met allerhande kef, strooi en snert. Waarom nie uitreik na kreatiwiteit, selfaktualisering, waardetoevoeging, konstruktiewe opbou en naasteliefde vir 'n beter toekoms vir ons nageslagte en die omgewing?

    Volke en nasies kom en gaan, tale kom en gaan, leiers kom en gaan, politieke partye en ideologië kom en gaan.

    So, wat is dus die werklik nie-onderhandelbares in ons kortstondige lewentjies?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top