Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

  • 0

Hoe werk vererwing van outeursreg? Wat is belangrik om te weet? In die tweede artikel van PEN Afrikaans se “Wat elke skrywer moet weet”-artikelreeks skryf Kim Pietersen en Eben van Wyk (beide van Spoor & Fisher) oor oordrag van outeursreg deur vererwing.

Eenvoudig gestel is outeursreg ’n bondel regte wat ’n eienaar geniet ten opsigte van werke waarvan hy die outeursreg besit. Hierdie regte, sowel as die eienaarskap en afdwinging daarvan, wissel van werk tot werk.

’n Kunstenaar, veral ’n sogenaamde “sukkelende kunstenaar", behoort die beskerming van outeursreg hoog op die prioriteitslys te plaas – outeursreg is ’n noodsaaklike deel van enige kreatiewe beroep.

Verskeie aspekte soos die bestaan, eienaarskap en oordrag van outeursreg in Suid-Afrika word deur die Wet op Outeursreg 98 van 1978 (“die Wet”) gereguleer. Hierdie artikel fokus op die vervreemding van outeursreg, en spesifiek die vererwing daarvan.

Daar is verskillende maniere om outeursreg oor te dra.

Op dieselfde manier as wat eienaarskap van ’n skrywer se kosbare Moleskine-joernaal oorgedra kan word deur (i) ’n verkoopsooreenkoms tussen hom/haar en ’n getroue bewonderaar, (ii) testamentêre beskikking en (iii) regswerking, kan eienaarskap van die outeursreg in die skryfwerk vervat in daardie joernaal op al drie hierdie maniere vervreem word. Die Wet maak voorsiening vir die vervreemding van outeursreg as roerende eiendom deur middel van oordrag van regte, testamentêre beskikking of regswerking.

Indien outeursreg aan ’n ander party oorgedra word, vereis die Wet dat die oordrag op skrif gestel word en deur of namens die oordraer onderteken word. Alhoewel die oordrag van outeursreg gereeld gebeur, maak outeursregeienaars dikwels nie spesifiek voorsiening vir die oordrag van hul outeursreg deur testamentêre beskikking nie, en vervreemding deur regswerking gebeur dikwels net nie.

Waar outeursreg spesifiek in ’n testament bemaak word, is die oordrag van eienaarskap gewoonlik redelik eenvoudig – dit word volgens die bepalings van die testament gedoen. Dieselfde kan egter nie gesê word waar die oorledene nie ’n testament opgestel het nie; waar die testamentêre beskikking nie ten opsigte van die volledige outeursreg in ’n werk is nie; of waar daar nie spesifieke voorsiening vir die oordrag van outeursreg in die testament gemaak is nie.

Indien die eienaarskap van die outeursreg in ’n werk nie gedurende die outeur se leeftyd oorgedra óf in ’n testament bemaak is nie, sal sodanige eienaarskap deur sogenaamde regswerking oorgedra word – in hierdie geval deur die beginsels van die intestate erfreg. In Suid-Afrika reguleer die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 hierdie regsgebied en dit bepaal eenvoudig dat die oorledene se eggenoot en/of naaste bloedverwant sy bates, wat outeursreg insluit, sal erf.

Omdat outeursreg nie fisiese eiendom is nie, word dit maklik oor die hoof gesien wanneer ’n boedel beredder word en dit lei dikwels daartoe dat die kommersialisering en afdwinging van daardie outeursreg gestaak word.

Ter wille van regsekerheid, is dit raadsaam om outeursreg spesifiek in ’n testament te bemaak

Om regsekerheid te verseker moet skrywers toesien dat die oordrag van outeursreg duidelik in hul testamente uiteengesit word en ’n erfgenaam aangewys word.

Vir alle praktiese doeleindes neem die erfgenaam die rol van die oorledene oor en mag dan dieselfde regte ten opsigte van die werk (hetsy ’n letterkundige, artistieke of ander outeursregwerk) uitoefen as wat die oorledene sou kon indien hy/sy lewend was. Net so word die erfgenaam ook belas met al die verpligtinge waarmee die oorledene belas sou word indien hy/sy lewend was.

Tensy die testament anders vermeld, sal ’n erfgenaam ook in ’n posisie wees om tantième ten opsigte van ’n werk te eis, op dieselfde wyse as wat die oorledene daarop geregtig sou wees indien hy/sy lewend was.

Wanneer ’n fisiese voorwerp bemaak word waarvan die eienaar ook die outeursreg besit, soos ’n boek wat hy/sy geskryf het, bepaal die Wet dat die veronderstelling geld dat die erflating betrekking het op die eienaarskap van die boek én die outeursreg daarin, tensy anders bepaal.

Ter wille van regsekerheid is dit raadsaam om outeursreg spesifiek in ’n testament te bemaak indien jy die eienaar van outeursreg in ’n werk is, of indien jy in die toekoms die eienaar van outeursreg in ’n werk sal wees.

’n Immateriële reg wat as roerende eiendom oorgedra word – geen wonder dat eksekuteurs dikwels daarvan vergeet nie!

Indien ’n boedel beredder is sonder dat outeursreg oorgedra is, is dit soms moontlik om die boedel later te heropen om die outeursreg dan te vervreem.

In die baanbrekersaak Griesel N.O. v Walt Disney Enterprises Inc., is die outeursreg in die lied Mbube, wat later verwerk is tot wat baie mense ken as The Lion Sleeps Tonight, nie oorgedra toe die boedel van die skrywer daarvan, wyle Solomon Linda, beredder is nie. Toe hierdie versuim aan die lig kom, is Linda se boedel heropen om die eksekuteur in staat te stel om namens die begunstigdes van die boedel aanspraak te maak op die regte vir die lied, en ook op vergoeding wat uit die verwerking daarvan spruit. Die partye het uiteindelik tot ’n vergelyk gekom met ’n skikkingsooreenkoms wat die Linda-erfgename in staat gestel het om tantième vir die gebruik van die gewilde The Lion Sleeps Tonight-liedjie te ontvang.

Terwyl dit dus raadsaam is om tydens jou leeftyd voorsiening te maak vir die oordrag van outeursreg in jou testament, sal alles hopelik nie verlore wees indien jy versuim om dit te doen nie.

Daar is ’n paar dinge wat goed is om te weet waar dit by oordrag van outeursreg kom:

  1. ’n Oordrag van outeursreg of ’n testamentêre beskikking van outeursreg kan beperk word tot slegs (i) sommige van die handelinge waarvoor die eienaar van die outeursreg die uitsluitlike reg het, (ii) ’n deel van die termyn van die outeursreg, of (iii) ’n gespesifiseerde land of ander geografiese gebied.
  2. Selfs waar eienaarskap van die outeursreg in ’n werk oorgedra is, het ’n skrywer steeds die reg om aanspraak op outeurskap in die werk te maak en om teen enige verdraaiing of skending van, of ander verandering aan, die werk beswaar te maak waar sodanige optrede vir die eer of goeie naam van die outeur nadelig is of sal wees.
  3. Terwyl outeursreg deur middel van testamentêre beskikking oorgedra kan word, word morele regte as nie-vervreembare regte beskou. Dit kan dus nie aan ’n ander persoon oorgedra word nie.
  4. ’n Oordrag, lisensie of testamentêre beskikking kan verleen of gedoen word ten opsigte van die outeursreg in ’n toekomstige werk, of die outeursreg in ’n bestaande werk waarin outeursreg nie bestaan nie maar in die toekoms tot stand sal kom, en die toekomstige outeursreg in so ’n werk kan as roerende goed oorgaan.
  5. Indien die materiaal waarop ’n werk vir die eerste keer geskryf of op ’n ander manier aangeteken is, soos ’n notaboek met ’n eerste weergawe van ’n manuskrip, bemaak word, behoort daardie bemaking geïnterpreteer te word om enige outeursreg of toekomstige outeursreg vir die werk wat in die outeur gesetel het ten tye van sy dood in te sluit. Dit sal die posisie wees in die afwesigheid van testamentêre bepalings wat die teendeel bewys.
  6. Indien ’n outeursregeienaar tydens sy leeftyd ’n lisensie ten opsigte van sy outeursreg toegestaan het, sal die begunstigde van daardie lisensie ook na sy dood gebind wees daartoe.
  7. Indien ’n reg op tantième aan ’n regsopvolger of erfgenaam toegeken is, hetsy deur kontraktuele ooreenkoms, regswerking of testamentêre beskikking, sal daardie begunstigde geregtig wees om die reg op tantième af te dwing.

Kim Pietersen is ’n prokureur by die handelsmerk-afdeling van Spoor & Fisher, Kaapstad. Die artikel is geskryf onder leiding van Eben van Wyk, ’n vennoot aan dieselfde firma en afdeling.

Die doel van hierdie artikel is bloot om verslag te doen en inligting te verskaf, en nie om regsadvies te voorsien nie.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top