Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers

  • 2

In hierdie artikel gee Lee-Ann Tong van die Universiteit Kaapstad se Departement Handelsreg ’n uiteensetting van wat elke skrywer behoort te weet voordat ’n publikasie-ooreenkoms onderteken word.

Ongeag waarom jy skryf, of dit vir kommersiële gewin is, om inligting te versprei of bloot omdat dit is wat skrywers doen, is outeursreg in die werk wat jy skep ’n gevolg van jou skrywerskap. As eienaar van die outeursreg het jy ’n aantal eksklusiewe regte in verband met die ontginning van die werk. Die mees fundamentele hiervan is die reproduksiereg. Dit behels, kortom, dat ander nie kopieë van jou werk mag maak sonder jou toestemming nie. Wanneer die tyd egter aanbreek dat jy jou voltooide werk die wêreld wil instuur, moet daar afskrifte van die werk gemaak word. As jy boonop hoop om in ruil vir jou moeite ’n mate van finansiële beloning te bekom, moet jy verseker dat die werk bemark word aan die koperspubliek. Skryfkuns is een ding – en die skrywer se vaardighede hoef nie in twyfel getrek te word nie – maar daar is weinig skrywers wat ook kundig en vaardig is oor die verwikkeldhede en praktiese aspekte van die produksie-, bemarkings- en verkoopsfase.

Dit is in hierdie stadium dat jy as skrywer ’n verhouding met ’n uitgewer smee om jou werk op die mark te kry in ’n vorm wat dit vir lesers (en kopers) aantreklik maak. Die bepalings van hierdie verhouding vorm die basis vir die publikasie-ooreenkoms. Eenvoudig gestel, is skrywers en uitgewers beide gemoeid met die omskakeling van die werk in ’n bemarkbare produk wat so wyd moontlik versprei word, op terme wat kommersieel voordelig vir beide partye sal wees.

Alhoewel publikasie-ooreenkomste kompleks is, in die sin dat dit allerlei aspekte van die kommersialiseringsproses dek, behoort kontrakte nie so ingewikkeld te wees dat een van die partye nie die implikasies van ondertekening ten volle verstaan nie. Hierdie moontlikheid ontstaan wanneer die uitgewer, soos gebruiklik, ’n generiese of standaardvormkontrak vir ondertekening aanbied wat nie aangepas is vir die skrywer se spesifieke behoeftes nie.

Die meeste publikasie-ooreenkomste dek soortgelyke bepalings, maar die feit dat jy ’n standaardvormkontrak ontvang, beteken nie dat daar geen ruimte is vir onderhandeling of vir die uitlig van bekommernisse indien jy nie heeltemal oortuig is dat die kontrak in jou beste belang is nie. As skrywer moet jy oortuig wees dat wat in die kontrak aangebied word, werklik aan jou behoeftes voldoen. Dit mag dalk ’n droom bewaarheid wees as ’n uitgewer aanbied om jou werk te publiseer, maar jy moet jou vergewis van die implikasies voordat jy die kontrak onderteken.

APACT (ANSASA-PASA Agreement on Contract Terms) is ’n nuttige hulpbron wat ’n raamwerk vir sulke besprekings uiteensit. Dit bied ’n maklike verwysingsgids om jou te help om die bepalings te ontsyfer.

Vra jouself minstens die volgende vrae af wanneer jy die kontrak deurgaan voordat jy dit teken:

Wat gee jy?

Die belangrikste kontraksterme hou verband met die outeursreg in die werk. As eienaar van kopiereg moet die skrywer die uitgewer toestemming gee om onder meer reproduksies van die werk te maak. Outeursreg is jou regstitel op die werk. Die keuse tussen ’n oordrag van die outeursreg aan die uitgewer en die toestaan van ’n lisensie aan die uitgewer sal jou toekomstige verhouding met die werk bepaal.

Met ander woorde, as jy kies om outeursreg aan die uitgewer oor te dra, doen jy effektief afstand van die eienaarskap van outeursreg in die werk. Die uitgewer word die eienaar. Dit beteken dat jy nie meer beheer oor die ontginning van die werk het nie en ook nie stappe kan instel as iemand anders die werk kopieer en die outeursreg skend nie. Terwyl outeursreg meestal vir 50 jaar vanaf die skrywer se dood voortduur, sal jy dit ook nie aan jou erfgename kan oordra nie aangesien dit nie meer deel van jou boedel sal wees nie. Jy kan ook nie aanpassings van die werk, insluitend vertalings, maak sonder die toestemming van die uitgewer nie.

Die gebruiklike alternatief tot ’n volledige oordrag van regte is om aan die uitgewer ’n eksklusiewe lisensie te gee. Die gevolg hiervan is dat jy nie vir die duur van daardie lisensie enige ander persoon mag magtig om die werk te publiseer of kopieë daarvan te maak nie. Dikwels word eksklusiewe lisensies so wyd geformuleer dat hul effek grootliks dieselfde is as wanneer die outeursreg in die werk gesedeer of oorgedra is, byvoorbeeld wanneer die lisensie vir die volle duur van die outeursreg geld.

As skrywer wil jy die uitgewer voldoende toestemming gee om die werk te kan vervaardig, bevorder en ook beskerm. Probeer egter ook om toekomstige ontwikkelinge en scenarios te voorsien. ’n Voorbeeld sou ’n roman wees wat later die basis vir ’n film kan vorm. As jy die outeursreg ten volle aan die uitgewer oorgedra het, sal jy nie die filmprojek kan aanpak sonder om eers toestemming te verkry van die uitgewer wat die nuwe outeursregeienaar is nie. Wees redelik oor wat die uitgewer nodig het om suksesvol te wees, maar ooweeg ook of die uitgewer in ’n posisie is om ander projekte aan te pak wat op die werk gebaseer is.

Ongeag of die outeursreg oorgedra is of ’n lisensie toegestaan is, behou jy as skrywer die reg om as sodanig erken te word en oor die algemeen beswaar te maak teen enige handelinge wat die integriteit van jou werk sal beïnvloed. Uitgewers kan vereis dat jy van hierdie regte afstand doen, maar dit kan nie oorgedra word nie.

Wat kry jy?

Wanneer die uitgewer die nodige skrywersmagtiging het, sluit hul taak die produksie van die finale vorm van die produk in en natuurlik die uitgee daarvan sodat inkomste uit die verkope van die werk gegenereer kan word.

Die kontrak sal ’n aantal bepalings bevat wat handel oor wat die skrywer in ruil kan verwag. Die voor die hand liggendste hiervan is ’n tantièmebetaling op eksemplare wat verkoop is. Die bedrag wat ’n skrywer verdien word gewoonlik gekoppel aan ’n persentasie van die uitgewer se inkomste ná aftrekkings soos BTW en handelskorting. Daar is nie een spesifieke formule hier nie, en dit kan wissel afhangende van die omstandighede en die tipe publikasie. In sommige gevalle kan ’n eenmalige betaling byvoorbeeld dalk beter wees as deurlopende tantième. Oor hierdie aspek kan onderhandel word. 

Die ooreenkoms sal ook aandui hoeveel outeurseksemplare die skrywer sal kry, en moontlik ook die voorwaardes waaronder die skrywer geregtig sal wees om enige onverkoopte eksemplare van die werk oor te koop (gewoonlik wanneer die vraag daarna afgeneem het).

Wat is jou verpligtinge?

Hoe die produksieproses inmekaarsteek, word uiteengesit in die take wat die partye verplig sal wees om te vervul. Die uitgewer se verpligtinge sluit gewoonlik in om die werk redaksioneel te versorg, te bemark, die publikasiedatums te stel, besluite te neem oor die aantal eksemplare wat gedruk gaan word, en dikwels ook oor die omslagontwerp.

Van die skrywer se verpligtinge kan koste-implikasies hê, byvoorbeeld waar die skrywer die koste van indeksering dra en die verkryging van toestemming om ander mense se materiaal in die werk te gebruik.

Daar is tipies ook klousules waarin outeurs instem tot opdatering van die werk indien nodig, die uitgewer vrywaar van skade wat hul mag ly as daar regstappe oor die werk ingestel word, onderneem om nie ’n mededingende werk uit te gee nie, en aan die uitgewer eerste weieringsreg gee vir toekomstige werke wat deur die skrywer geskryf sal word.

In ’n neutedop:

Jy het soveel daarin belê om die werk te skryf, moenie huiwer om na te dink voordat jy teken nie. As jou werk die publikasie werd is, sal dit die uitgewer se moeite werd wees om te wag terwyl jy die kontrak eers lees!

Lees ook:

Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

  • 2

Kommentaar

  • Robert Sadler

    Dit is 'n goeie oorsigtelike opsomming, maar bevat ook verskeie aannames rakende die uitgewersbedryf wat nie noodwendig vanselfsprekend is nie.

  • Anna S Ahllers

    Outeursreg is belangrik, maar hoeveel tyd moet 'n skrywer 'n uitgewer gee voordat daar uitsluitsel verwag kan word of die roman (of wat ook al) aanvaar is vir publikasie? Is 18 maande 'n redelike tydperk om 'n antwoord te verwag nadat ontvangs van die manuskrip deur die uitgewer erken is?
    Dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top