Wat beteken die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys?

  • 3

Elda de Waal

Die oorspronklike publikasiedatum van hierdie artikel was op die 10de November 2017. Omdat die inhoud van die artikel relevant is tot die land se diskoers, word die inhoud behou. Slegs enkele nodige verledetydsaanpassings is aangebring.

’n Voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys is onlangs gepubliseer. Lees die wysigingsvoorstelle hier.

Die publiek kon tot 10 November 2017 hierop kommentaar lewer deur ’n e-pos te gestuur het aan TD Rudman: rudman.d@dbe.gov.za.

Maar wat beteken hierdie wet werklik? Wat sal die impak hiervan op kinders, ouers, onderwysers en skole wees?

Naomi Meyer het vir Elda de Waal van Edu HRight hieroor uitgevra.

Elda, die regering stel wysigings aan die Skolewet voor. In jou eie woorde, wat is die kernveranderinge waaroor dit hier gaan?

Dit wil my voorkom asof die Departement Basiese Onderwys half moedeloos is met die groot persentasie skole wat swak funksioneer, waar die beheerliggame wanfunksioneer of hulle funksies onvoldoende uitvoer en wat derderangse prestasies oplewer. Nou sien hulle skynbaar skuiwergate om sogenaamde aanpassings en voorstelle in artikels van die Skolewet te maak wat hulle dilemma minder ernstig sal laat lyk – omdat daar dan druk op die omtrent 10% skole sal wees wat goed funksioneer, waar die beheerliggame knap hulle diens verrig en wat eersterangse prestasies oplewer.

Dit hinder my dat dit vir my lyk asof kinders deur middel van die wysigings gedwing sal word om nie tuisskoolonderrig te ontvang nie (met ander woorde: kinders moet almal na ‘n “regte” skool toe gaan) – en dat dit dan vir my lyk asof die staat as ’t ware diktatoriaal sal kan bepaal hoe dit in elke skool werk (beheerrade verloor heelwat van hul seggenskap in die onderskeie skole). Verstaan ek reg?

Kom ek beantwoord jou vraag so: na my mening bestaan daar tans onduidelikheid oor die verwagtinge ten opsigte van die strukturering van tuisonderrig en daar is ouers wat in die praktyk dink dat tuisskoling beteken dat jou kind minder tyd aan die inhoud van vakke hoef te bestee as leerlinge op skoolbanke. Hoewel ek nie ʼn kenner op die gebied is nie, sou dit kon wees dat die verwagtinge wat aan tuisonderrig in die algemeen gekoppel was, nie tot dusver beantwoord is nie. Inderdaad kom dit voor asof die departement vergeet het dat die ouers van die land die Skolewet geskryf het – nie skoolhoofde of beheerliggame nie. Die voorstelle skep die indruk dat skole nou in staatskole verander sal word, wat in beginsel beteken dat die staat en Departement van Basiese Onderwys feitlik volledige beheer sal uitoefen.

Daar is geweldige ongelykheid tussen skole. Dink jy dat enige van die wysigings ’n positiewe effek kan hê om te help om ten minste sekere van die ongelykhede uit te wis?

Dalk sou ʼn klein gedeelte van die droom om ongelykhede uit te wis bereik kon word met die voorstelle wat in die wysigingswetsontwerp vervat word. Dit is juis die aanhef van die Skolewet wat dit so aandui. Maar ek sukkel om te begryp hoe groter druk op skole wat reeds op hulself druk plaas om suksesvol te wees op groot skaal sou kon bydra tot die uitwis van ongelykhede wat by die grootste getal skole, onder andere, tans bestaan. Die wetsontwerp misken die gebrek aan genoeg skoolgeboue, genoeg leermateriaal, relevante en gehalte-opleiding van beheerliggame en die rol wat ouers móét speel by die skool waar hulle kind in die klaskamer sit.

Wat stel jy voor kan ouers doen? En gaan dit hoegenaamd help om hierdie briewe vir die Departement van Basiese Onderwys te skryf?

Stuur goedgeargumenteerde besware dringend in. Teken die petisie van ʼn organisasie wat billike kommentaar lewer – dié wat aanvallende teenstand bied kan geen aanspraak op positiewe gevolge maak nie. En: daar is baie minute en heelwat ure tyd tot middernag vandag! - Vraag en antwoord net relevant tot en met die 10de November 2017 [Red]

As die wysigings aanvaar word, wat sal dit prakties beteken, dink jy? En hoe sal dit deurgevoer word? Klaar asseblief die onduidelikheid op?

In die spreekwoordelike kristalbal sien of lees ek nie die volle antwoord nie, maar die perspektief word gewek dat onnies wat "swak opgelei" is deur die stelsel misken word asof hulle noodwendig gekies het vir minderwaardige opleiding. Nee, op die oomblik is ek nie bekommerd dat die swak Amerikaanse voorbeeld gevolg sal word om leerlinge met busse na ander skole te begin vervoer of om hulle voetstoots na ander oor te plaas nie. Tog is so ʼn moontlikheid beslis nie 100% uitgesluit nie.

Lees ook:

#StopSkoleKaping: ’n Lelike dag wanneer openbare skole weer staatskole word

Jaco Deacon
SA Skoleseminaar | Schools Seminar

"Gedink jy as ouer het die reg om te besluit oor jou kind se onderrig? Nie as die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n werklikheid word nie. Jaco Deacon, onderwysregspesialis en adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê as gewone Suid-Afrikaners nou hul demokratiese plig versuim, pak donker wolke saam op die horison."


Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys en hoe om nuwe denke rondom skole te bou

Jerome Joorst
SA Skoleseminaar | Schools Seminar

"Die kernpunt is dat ons almal by die mikrovlak van die samelewing (die ouerhuis) begin om ons kinders toe te rus met ’n taal van hoe om ’n diverse samelewing te navigeer, ’n doelbewuste alternatiewe narratief as die een wat sentreer rondom ras, en op so ’n wyse ’n ander diskoers in die land meebring."


  • 3

Kommentaar

  • Martin olivier

    Waar skole swak presteer moet leiding gegee word. Dis beter as die ouerkomitees outonoom fungeer en trots kweek by die skool waar hulle betrokke is en nie voorskriftelik beheer word nie. Elke skool is geplaas in 'n eie kultuur.

  • Jerome Joorst

    Baie interessante onderwerp wat definitief weer ter sprake sou kom nadat die stof van die destydse Kodesa-ooreenkomste gaan lê het. Maar hoe nou gemaak as die meerderheid mense in die land voel dat 'n groep wat toegelaat was om hul bevoorregting te behou, nie die gees van transformasie en gelykheidstelling in die post-apartheid era eerbiedig het nie? Wat word dan van sosiale kohesie as mense (nou volgens ander sosiale merkers, bv klas), voortgaan om apart te leef en te leer en 'n nuwe vorm van eksklusiwiteit bevorder?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top