Ware mense deur Bart de Graaff: ’n resensie

  • 0

Ware mense
Bart de Graaff

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307808

Geskiedskrywing oor mense wat aan “die agterspeen suig”, mense wat as die eerste mense inheems tot die land, Suid-Afrika en Suidwes-Afrika (Namibië) beskou word, mense vir wie die “Nederlanders, as vaderland van die boere” behoort te vergoed vir hul verlies aan grond. ’n Boek oor mense wat hul verlies aan eiewaarde, identiteit en erfenis juis met ’n  Nederlandse joernalis en skrywer deel.

Die verskillende emosies wat ek ervaar het tydens die lees van die boek, is moeilik om te verwoord. Dis eerstens nie die soort boek wat ek sommer vir pure ontspanning sou optel en lees nie. My eerste reaksie was: wou die skrywer maar net staaf wat almal alreeds weet of het hy werklik gehoop om ’n nuwe perspektief te bring op die manier waarop die mens-mense (Khoi-Khoin) gemarginaliseer is? En dan: hoekom is daar so weinig aandag aan die ontstaan en geskiedenis en erfenis van die Khoi-Khoin geskenk in skoolleerplanne? Hoekom het ons grootouers daarna gestreef om kinders eerder in Afrikaans op te voed en is daar neergesien op die gebruik van inheemse tale en kulture?

Die ooreenkomste tussen die Nederlandse vanne en die van die bruin kapteins wat De Graaff aanvanklik dieper laat delf het, het my egter oortuig om met ’n oop gemoed die boek te begin lees. Groot was die verrassing toe ek sommer heel in die begin mense in die boek identifiseer wat ek goed ken: onder andere Hendrik Bott van Philandersbron en Jan Kok van Campbell.

De Graaff het die reis begin omdat hy wou vasstel hoe hierdie mense, as nasate van Khoi-Khoin verbaster deur die Nederlanders en die Duitsers, nou daaraan toe is.  Sou hulle na die val van Apartheid erkenning kry vir hul taal en kultuur, sou hulle trots wees op hul herkoms en hul erfenis en hulself kon uitleef in die nuwe vrye land waarin hulle hulself tans bevind? Onder die ANC-regering in Suid-Afrika en die SWAPO-regering in Namibië?

Die hoofstukke waarin die geskiedenis van die koloniale beset van die Khoi-Khoin se verskeie stamme waaronder die Namas, die Korannas en die Griekwas se grondgebied beskryf word, is juis die hoofstukke wat emosies kan laat opvlam.  Het die inheemse stamme enigsins ’n kans gestaan teen die Nederlanders met hul  “meerderwaardige” wapens?  Sou dit kon help met die sosio-politieke probleme wat hulle vandag nog ervaar as hulle teen 1652 ’n verenigde front kon vorm teen die versetting? Wat is hul kanse om hul grond terug te kry as die huidige grondhervormingswet slegs  grond-onteiening sedert 1913 in ag neem? Was hierdie die soort vrae wat De Graaff wou beantwoord met sy reis deur Suid-Afrika en Namibië?

Vanaf die eerste onderhoud wat die skrywer met die leiersfigure in die verskillende gemeenskappe voer, word dieselfde deuntjie gesing. Niemand luister na hul griewe nie, die regering is nie toegewyd tot die opheffing van die Baster-, Nama- en bruin gemeenskappe nie. Tydens sy onderhoud met Barend Vilander en heelparty ander onderhoude, maak die simpatieke luisteraar wat die gespreksvoerders in De Graaff soek, plek vir ’n kritiese binnestem. Sou hy die raad om met Suid-Afrikaanse joernaliste oor hul griewe te praat en dit aan die groot klok te laat hang aan die leiersfigure gegee het, of was die idee met die optekening van hul klagtes nie om hulp aan te bied nie? Trek hy Colin April, die raadgewer van Rehoboth se kaptein, se vermoë om politieke advies te gee in twyfel? Is die skrywer werklik subjektief en gaan Nederlandse lesers uit sy reeks onderhoude tot ander/dieper insigte kom?

Op ’n positiewe noot is die jonger gespreksgenote heel trots op wie hulle is. "Basters en Kleurlinge." (Die herhaalde gebruik van hierdie uitgediende, degraderende rasseterme is nogal steurend.) Die verskil tussen hulle is selfs vir die draer van hierdie groepnaam nie duidelik nie, behalwe dat "Basters" tradisionele kleredrag het en hul tradisies vier. "Kleurlinge" het blykbaar geen tradisies nie. Verskil in verkleur en taal word nie as aanduiding van die een of die ander gesien nie.

Aan die begin van die 20ste eeu was daar in Suid-Afrika geen suiwer Khoi-Khoin stam meer oor nie. Die Khoi-Khoin moet hul sokkies optrek, die Khoi-Khoin moet leer om ’n verenigde front te vorm  teen die regerende party in die volgende verkiesing.

Met die beeld van die Griekwa-gemeenskap in Campbell maak ek die boek toe en wens De Graaff wil nog ’n boek skryf vir die mens-mense: een met daadwerklike riglyne oor hoe jy so ’n verpletterde groep mense herenig, oprig en ’n stem gee wat werklik ’n impak sal maak ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top