Wanneer wolke sing by die Vrystaat Kunstefees: ’n onderhoud

  • 2

Wanneer wolke sing is ’n familiedrama wat handel oor verlange, geheue en vervreemding. Die toneelstuk word by die Vrystaat Kunstefees op die planke gebring en die geselskap bestaan uit Elzabé Zietsman, Charlenè Brouwer, David Johnson en François Maree. Naomi Meyer gesels met François Maree, wat verantwoordelik was vir die oorspronklike teks, ontwerp en regie.

Hallo François. Nie net vorm jy deel van die toneelstuk se geselskap nie, maar jy was ook verantwoordelik vir baie werk agter die skerms. Vertel ons asseblief van jou agtergrond.

Ek het in 2015 my honneursgraad in die Drama-departement by Stellenbosch-universiteit gekry, en kort daarna saam met Peter Crafford die produksiemaatskappy THOC – The House of Creatives begin, wat onafhanklike beginpunte vir verskeie produksieprosesse in teater, film, televisie, digkuns en musiek wil wees. Ons het begin met my eenmanvertoning, Bacchus in Hillbrow, wat laas jaar by Aardklop en by die US Woordfees 2017 aangebied is, en ook by die Vrystaat Kunstefees 2017 se vrynge gesien kan word. Ons het nog baie stories wat ons onder dié produksiemaatskappy wil ontwikkel. Ek verhuis New York toe in Augustus om met my MFA in Cinema Arts (Screenwriting) by die gesogte Feirstein Graduate School of Cinema in Brooklyn te begin, waar ek beslis onder THOC – The House of Creatives verskeie Suid-Afrikaanse stories wil vertel.

Wat is die agtergrond van die toneelstuk?

Wanneer wolke sing vertel die verhaal van Marianne (Elzabé Zietsman), ’n byderwetse Afrikanervrou wat al vir nege jaar ’n intieme kabaretteater, La Petite Zèbre, in Parys, Frankryk bestuur, maar onverwags Kalahari toe moet kom ná haar vervreemde pa se dood. Die boedelbelasting is hoog, en daar moet gewerk word. Te midde van duine en bosse bou sy ’n pragtige huis, met ’n lugverkoeler, spesiaal vir haar kinders. Hulle kom kuier uiteindelik na twee jaar van afwesigheid. Daar is Johan jr (François Maree), ’n filmstudent by NYU Tisch School of the Arts in New York, en Lea (Charlenè Brouwer), ’n vurige advokaat by Webber & Wenzel in Kaapstad. Haar mislukte huwelik met ’n Ierse rokjagter, Daniel, lei tot ’n veel sagter verhouding met haar veel jonger assistent, Graig (David Johnson). Ongelukkig is die Kalahari-duine nie hoog genoeg om al die grafte met hulle geheime toe te waai nie. Ek is natuurlik baie gelukkig dat hierdie span talentvolle akteurs ja gesê het om in die produksie te wees!

Hoekom het jy die stuk geskryf?

Ek het op ’n plaas in die warm Noordwes grootgeword, en my oupa en ouma het ver in die ou Kalahari gewoon. Ons het gewoonlik van ons eindlose vlaktes na hulle eindlose vlaktes gereis – sonder om te veel Charles Jacobie aan te haal – en dit was wonderskoon, maar ook uiters depressief. Die sandduine en kameeldoringbome wat amper bloeddorstig onder die warm Afrika-son eers teen middernag begin afkoel. Mens kon net melk, ’n twee week oue Huisgenoot en lusern op die naaste Noord-Kaap dorp, Van Zylsrus, koop. Die meeste stedelinge het ’n fanatiese smagting na die innerlike Indiana Jones en dune-bashing. Ek is lief vir die plaas, maar dit het soms gevoel dat dit al is wat ek ken. Ek het in Potchefstroom skoolgegaan en in Stellenbosch gaan studeer, so daardie balans van die verskillende wêrelde is darem nog aanduidend in my lewe. Ek wou nog altyd hierdie twee wêrelde, die onaangeraakte teenoor die ontwikkelde, binne ’n teater plaas. Ek is bevoorreg om uiters liberale ouers te hê. Hulle sieninge oor menseregte, drome en hulle liefde vir die stad is so onmiskenbaar dat mens nie kan glo dat albei boer nie. Daar is baie biografiese elemente wat natuurlik hulle verskyning in Wanneer wolke sing maak, maar die omgewing en situasie is meer van ’n geraamte, waar die konflik (innerlik, uiterlik, buitensporig) suiwer fiksie, en vleis, is. Ek is so bevoorreg dat die Vrystaat Kunstefees hierdie platform vir my storie bied. Die uitdaging om befondsing te kry was natuurlik moeilik, maar die HGG Finansiële Groep het besluit om die produksie te finansier, en hulle bydrae om dit moontlik te maak word ongelooflik baie waardeer.

Waar kom die inspirasie vir jou skryfwerk vandaan?

Die wêrelde waarin ek grootgeword het, inspireer my. Ek het hierdie stuk in November van 2016 op my ma se plaas geskryf, en ek het verskillende huise met verskillende stories gesien. Wanneer wolke sing handel oor verlies en verlange, nostalgie wat eerder by die voorstoep gelos moet word, sowel as vervreemding, selfs binne die konteks van liefde en familie. Ek is ’n groot aanhanger van Eugene O’Neill en Edward Albee se werke; hulle is beslis my gunstelingdramaturge. Die manier waarop hulle die menslike kondisie binne families vasvang, maak mens senuweeagtig, en ek wil graag hierdie mallemeule van ’n familie met al sy geluk en pyn op die verhoog vasvang.

Vir wie het jy die stuk geskryf?

Ek het hierdie stuk hoofsaaklik vir my ma, Gerda Pienaar, geskryf, omdat sy in die Kalahari moes grootword, en omdat ek so ongelooflik lief is vir haar, en vir haar ’n toneelstuk wou skryf. Die stuk is wel nie my ma se storie nie. Dit is die storie van die Afrikaner, dus het ek dit vir die Afrikaner geskryf. Die stuk is ’n studie van ’n warrelwind. Daar is baie plattelandse materialisme in hierdie storie, en dit is nie genoeg om al die geraamtes te fnuik nie. Daar word gelag oor ou stories, gedroom oor pynlose visies en gekla oor die hitte. Daar word geworstel met ’n groot siekte en onkonvensionele verhoudings. Die hitte is die verbryselde eerlikheid van die platteland. Sy wrokkige bedoelings laat die sweet aftap en die tonge praat. Dis asof jou breins in ’n pan gegooi word. Eerlikheid in ’n familie is nodig, maar dit maak ook seer. Elke karakter worstel met ’n innerlike debat. Die Afrikaner-identiteit in die konteks van ras, seksualiteit en geloof word ondersoek in natuurlike dialoog. Dit is gesprekke tussen mense wat worstel. Individue wie in verskeie fasette die grootste oorlog van alle tye moet aandurf: die oorlog teen jouself.


 

Wanneer wolke sing

Geselskap

Elzabé Zietsman as Marianne
Charlenè Brouwer as Lea
David Johnson as Graig
François Maree as Johan Jr.

Kreatiewe span

Regie, ontwerp en oorspronklike teks: François Maree
Plakkaatontwerp, musiek en fotografie: The Helix Kid
Assistentregie: Peter Crafford
Verhoogbestuur: Catherine van der Hoven.

Moontlik gemaak deur die HGG Finansiële Groep en THOC – The House of Creatives.

Vertonings

19 Julie 2017, 20:00
20 Julie 2017, 10:00
22 Julie 2017, 10:30

André Huguenet-teater, Bloemfontein.

Ander inligting

Kaartjies kan by Computicket bespreek word: tiny.cc/wanneerwolkesing
Prys: R125
Tydsduur: 80 minute

Lokprent: https://www.facebook.com/THOCTheHouseOfCreatives/videos/vb.1785602025056930/1953582338258897/?type=2&theater

  • 2

Kommentaar

  • China de Plooy
    China de Plooy

    "Fringe"! Nie "vrynge" nie - of staan dit vir Vrystaat-Engels? Soos ooit gehoor op UV-kampus: "He travelled all around the bulb"?

    • François Maree

      Hallo China, vrynge is die Vrystaat-kunstefees se weergawe van die tradisionele fringe-feeste. Groete, François

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top