Wanneer perdedrolle vir vye verkoop word

  • 2

Kwaksalwers en pseudowetenskap het die uitlaatgasse van die moderne samelewing geword. Perdedrolle wat deur groot maatskappye vir vye aan die publiek verkwansel word is besig om die mensdom te vergiftig en te verdom.

Die gevare van hierdie fopprodukte wat ten duurste onder ’n mediese dekmantel aan die publiek verkwansel word, het die afgelope week onder die soeklig gekom tydens die eerste internasionale konferensie oor kwaksalwery en pseudowetenskap. Wetenskaplikes en joernaliste van regoor die wêreld het deelgeneem aan die konferensie wat op 20 tot 21 November by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) in Stellenbosch aangebied is.

Die slagoffers van kwaksalwers en pseudowetenskap is dikwels goedgelowige mense wat desperaat is om van een of ander siekte of kwaal genees te wil word. Pseudowetenskaplikes en glanspersone speel ’n groot rol om hierdie produkte teen buitensporige pryse aan die publiek te verkwansel en as geloofwaardig voor te stel. Die media laat hulle dikwels self met ’n slap riem vang en doen nie genoeg om dit te ontmasker nie.

Die konferensie het ten doel gehad om wetenskaplikes en joernaliste saam te snoer om gesamentlik verantwoordelikheid te aanvaar om die publiek beter daaroor in te lig en teen skadelike praktyke en produkte te waarsku.

Ontstellende feite het tydens die konferensie aan die lig gekom. Daar is letterlik duisende produkte op die mark wat as medisyne verkoop word, maar hoegenaamd geen medisinale waarde het nie. Bekende glanspersoonlikhede soos sangers en ander vermaaklikheid- of sportsterre doen lustig mee om hierdie bedenklike produkte teen betaling oor die radio en in die gedrukte media te adverteer.

Mediese kenners en navorsers wat aan die konferensie deelgeneem het, het verskeie voorbeelde genoem van sulke produkte wat geen medisinale waarde het nie. Meer as 100 000 verskillende soorte medisyne wat nooit behoorlik getoets is nie kan vrylik by apteke en sogenaamde gesondheidswinkels oor die toonbank gekoop word.

Aktiviste wat hard werk om die bedrogspul aan die kaak te stel veg ’n opdraande stryd teen die misleidende advertensies wat die publiek uitlok om hierdie produkte te koop.

Die gevolg is ’n “post-waarheid” waar feite nie meer tel nie en mense verkies om te glo wat hulle pas.

Die kwaksalwers wat hierby betrokke is, slaag daarin om die inligtingsera waarin ons leef tot hulle eie voordeel te misbruik deur middel van fopnuus en vals inligting om die publiek te mislei.

Prof Scarlett Cornelissen van die Departement Politieke Wetenskap by die US sê die wan-inligting is besig om so sterk te raak dat dit ook ’n invloed op verskeie ander terreine kan hê.

Jacques Rousseau, mede-outeur van die boek Critical Thinking and Pseudoscience – Why We Can’t Trust our Brains en lektor in kritiese denke en besigheidsetiek aan die Universiteit van Kaapstad sê dit help nie om aan diegene wat in die slaggate van kwaksalwers en pseudowetenskap trap te vertel hulle is dom nie. Dit maak dit net erger. Dit veroorsaak dat sulke mense al hoe meer daarvan oortuig raak hulle is reg omdat niemand wil hoor hy of sy is dom nie. Daar moet slimmer te werk gegaan word om sulke mense van die waarheid te oortuig.

Hy sê alle mense is gelyk maar nie alle menings dra dieselfde gewig nie. Dit is belangrik hoe mens jou opinie aan ander oordra om hulle van die feite te oortuig.

Die wetenskapjoernalis George Claassen sê mense se goedgelowigheid ken geen perke wanneer hulle in kwaksalwers se strik trap nie. Radio- en tydskrif-advertensies word deur roekelose en gewetenlose bemarkers van kwasi-wetenskaplike gesondheidsprodukte misbruik om die publiek te mislei.

Dit word aangeblaas deur glanspersoonlikhede wat hierdie produkte ophemel en sodoende die vervaardigers se wan-informasie verder legitimeer en versprei. Dikwels het dit rampspoedige gevolge vir die gebruikers van hierdie produkte se gesondheid.

Claassen sê koerante, die internet, sosiale media en radiostasies wemel van twyfelagtige aansprake deur kwakke wat geldmaak uit hulle slagoffers omdat hulle onkundig of te naïef is om ’n onderskeid te tref tussen die waarheid en leuens.

Lizette Rabe

Die kwaksalwers is nie slegs tot farmaseutiese middels beperk nie. Lizette Rabe, hoof van die Departement Joernalistiek aan die US, het gewys op die fopnuus wat ook op ander gebiede aan die orde van die dag is. Sy sê die fopnuus en verbale diarree wat mense soos Donald Trump die wêreld instuur kan maklik beteken vandag se fopnuus more se fopgeskiedenis word. “Ons word almal vir die gek gehou en dit is uiters noodsaaklik vir die media om wawyd wakker te wees daarvoor.” Sy sê dit is noodsaaklik om alles te bevraagteken voordat mens dit glo.

Verskeie sprekers het gewys op die noodsaaklikheid dat mense hulle  onsinverklikkers te alle tyde aangeskakel hou sodat hulle kan onderskei tussen waarheid en versinsel. Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die US sê bullshit wat as sekerheid opgedis word is ’n groter gevaar vir die waarheid as leuens. Hy sê ons moet gewoond raak daaraan om in onsekerheid te leef en besef die waarheid korrigeer homself. Daarom is die wetenskap te midde van al sy foute die betroubaarste bron wat ons het, want die wetenskap korrigeer homself voortdurend.

Toetse deur erkende navorsers op middels soos Paxil of Paroxetine het getoon dit kan in sommige gevalle help vir depressie maar dit vergroot ook die risiko vir selfdood sewevoudig in sommige gevalle. Daarom is dit uiters noodsaaklik om nie medikasie te gebruik wat nie behoorlik deur betroubare bronne getoets is nie.

Heinz Modler

Nog een van die kwakkerye is tydens die simposium aan die kaak gestel deur die narkotiseur Heinz Modler. Hy sê dit is ’n fabel dat dit gesond is vir ’n ma om die plasenta te eet of in enige ander vorm in te neem nadat sy geboorte geskenk het. Heinz het ’n plasenta ter illustrasie saamgeneem na die konferensie en sy punt duidelik gemaak toe hy na die tyd wou weet of iemand in die gehoor daarvoor kans sien om die plasenta te eet. Hy het verduidelik hoe hierdie gier wat ook onder sommige glanspersoonlikhede in die buiteland posgevat het geen voordele vir die ma inhou nie en selfs skadelike gevolge vir ma en kind kan hê.

Homopatiese middels het ook skerp onder kritiek deurgeloop tydens die konferensie. Claassen het gesê een van die eerste waarskuwingstekens is om jouself af te vra of dit nie dalk te goed klink om waar te wees nie. Een van die grootste karaktereienskappe van middels wat deur kwaksalwers aan die publiek afgesmeer word, is die buitensporige verwagtings wat dit skep. As dit te goed klink om waar te wees soos byvoorbeeld dat mens in ’n japtrap gewig kan verloor of wanneer dit gepaard gaan met buitensporige flambojante advertensieveldtogte wat deur glanspersoonlikhede gedryf word behoort die onsinverklikkers reeds te gons.

Die wetenskaplikes het nie skotvry daarvan afgekom nie. Hulle slaag dikwels nie daarin om sinvolle persverklarings uit te reik nie, kom nie altyd menslik genoeg oor nie en is te bang om sosiale media sinvol te gebruik om die regte feite aan die publiek bekend te stel. Daar is gelukkig ook heelwat wetenskaplikes wat besef hulle het die media nodig om die publiek in te lig en wat vennootskappe met die media opbou om hulle vakgebied meer toeganklik te maak vir Jan Alleman.

Die publiek is gemaan om meermale die regte vrae te vra, aan te dring op betroubare wetenskaplike bewyse wanneer produkte adverteer word en seker te maak die wetenskaplike studies wat die produkte rugsteun, is betroubaar.

  • 2

Kommentaar

  • Wat 'n insiggewende artikel. En 'n pluimpie vir Jean Oosthuizen! So mooi geskryf! Die mooi taalgebruik in die artikel het my hart warm laat klop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top