Wanneer ek my oë sluit

  • 16

Mense wat weet, blyk te vertel dat ons as geestelike wesens twee keer per dag vir ’n paar minute moet stil raak, dat ons ons oë moet sluit en aan niks of aan die goeie of aan gebed of aan God moet dink.

Mense wat weet, wíl blykbaar vertel wat die stil-word aan hul gees en liggaam byvoeg; wil getuig van die waarde en die waarheid wat agter die sluiting van die oë skuil …

Half-sewe op ’n weeksdag-oggend sit ek en staar oor die nagemaakte houtvloer in ons slaapkamer, op na die gebakte kleikruis teen die geteëlde muur aan die oorkant bokant die bad. Die kruis, wat ook ’n kersblaker kan wees, is diep rooibruin warm aan die buitekant, maar die eens smaragagtige geglasuurde binnekant is donker, die getuienis van ’n aantal lang kersbrand-aande.

Die kleikruis lyk nie meer nuut nie.

Terwyl die klanke uit die res van die huis en ’n duif se wakkerword hier vlak naby die venster skielik skril klink, maak ek my oë toe om stilte te gaan soek; om stilte te gaan versoek. Op die pad na stilwees word ek bewus van die kromheid van my geboë skouers en Moeder se woorde wat orent spring …“jy moet regop sit”. Ek trek my asem in, trek my maagspiere op en kruis my bene voor my op die vloer en my hande op my skoot. Ek sit regop en haal diep asem, maar meeste van die nuwe lug val saam met ’n sug terug na die atmosfeer; meermale en sonder keer.

Net so, spontaan sonder enige aarseling in die gemoed, vind ’n klompie gebedsgedagtes hul pad na my mond en begin ek praat met Hom; hier en daar en oral rond. Ek sit verstom wanneer ’n “stem” my voortvarende versoeke demp en die woorde van vra en gee min raak op die weg na stilte; stilte sodat ek moet luister. Eers na niks en dan na meer.

“My gedagtes is vir jou genoeg, My genade is vir jou gegee; gaan leef vandag daarmee.”

‘n Frons kom sit diep bokant my oogkas weens die martelende angs vir nood en tekorte wat weereens kom kuier. Die stilte, luister en verwagting vir, van en uit Sy Woord word daardeur verbreek en my gemoed draai, my binneste word bevange en ek klem my hande en my bene wanneer ek aan vriende en kennisse in hul timmertyd dink: “Here wees asseblief met D… en  F… en  F… en K … en T… en S… en … asseblief Here, gee uitkoms en rigting en vrede.”

Ek dink aan die son wat netnou uit die ooste oor die Bolandse berge gaan skyn en die skokfeit dat ek, soos in ou geloofsgebruike, reeds baie jare sonder beplanning of rede my oë tog na die ooste sluit; dat ek nie aan Daniël in sy bo-kamer of aan ’n gebedsmatjie in ’n tempel of moskee of sinagoge op daardie oomblikke dink nie, maar dit net doen. 

 Die woordlose beredenering van die reg of verkeerd daarin word egter beëindig deur denke aan ons seuns: “Here wees asseblief met Wessel en Hendri; wees met Wes by die werk en mag Hendri sy dag geniet; pas hulle op Here en asseblief … bring ons vanaand weer saam tuis.”

“Waarmee kan ek jou skoonheid vergelyk – jou sagte vel en fyn plooitjies agter jou ore en …” en so met die soet reuk van my lieflike wederhelf wat nog vars om en by my hang, waar ek op die rand van die bed sit, dink ek met ’n glimlag aan haar.

Die warm gedagtes word egter skor vervreem deur beelde van voos straatvrouens wat hardhandig voor ’n dwelmhuis onder in Parow van ’n voertuig af weggestamp word! Die staar van hul lewelose oë en die spierwit grynslag van hul buitelandse meesters, wat soos vlooie op ’n siek hond teen die motors leun, ontspoor die dankbaarheid wat  my hier veilig laat voel het. Ek dink daaraan dat ek nie meer elke dag lus het om empatie met stukkende tandelose mense te hê nie, dat die vuilheid van die wêreld te veel raak en dat ek sommer elke wettelose bestuurder en motorfietsryer wil …

“Here…, dankie dat ek vanoggend weer my oë voor U kan sluit.”

Deur die donkerte van my sig
sien ek U troon en die gerib en die Lig
en soos ’n Jakob van ouds,
staan ek aan die voet van U leer
voor die wydgespande vlerke van goud,
met gewapende engele wat my keer,
engele, wat U vereer …          

 

  • 16

Kommentaar

  • Hennie baie dankie vir jou bydrae. Dit is voorwaar verblydend om te besef ek is nie alleen nie.

  • Eish, Ja! Dan is katte, honde, primate ens ens, ook nie geestelike wesens nie, want geestelike wesens het nie geraamte, vlees en bloed nie.

  • Eish Ja Angus ,dit is seker waarom dit gesê word, dat die gees gewillig is maar die vlees swak is. Dit is dus die geestelike van die mens wat dit onderskei van al die ander wesens, In die 1983 vertaling sal jy dan lees in 1 Tes 5-23."Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! "
    1 Thessalonians 5:23 King James Version (KJV)
    “And the very God of peace sanctify you wholly; and I pray God your whole spirit and soul and body be preserved blameless unto the coming of our Lord Jesus Christ.”
    Mense is dus inderdaad meer as net “wesens van geraamte, vlees en bloed”.
    Lekker dag

  • Eish, FC Boot, geestelike wesens is goed soos spoke, engele, gode, en die duiwel. Algar skepping van die menslike verbeelding. Alles wat in bybels geskryf staan, kom ook uit die menslike verbeelding.

    Van die os op die jas: ek sien jy haal KJV aan; dus sal jy dalk vir my kan sê waarom die skryfstyl daarvan so baie na Shakespeare s'n is.

  • Angus, Shakespeare kon in die laaste paar jaar voor sy dood 'n vertalingsbydrae tot die KJV gelewer het, maar selfs dit, indien dit waar sou wees, sou steeds nie afbreuk aan die waarde van die inhoud van die Skrif doen nie.

  • Inteendeel, indien dit bewys kan word dat Shakespeare die vertaling van die KJV gedoen het, sou dit die waarde daarvan vertienvoudig het.

  • Beste Angus
    Vir ateïste en ander ongelowiges bestaan daar net een wêreld en dit is die wêreld
    wat 'n verganklike orgaan nl die mens se brein daaraan kan openbaar. Nou is dit so dat selfs in Boeddhisme as die vraag beantwoord word van: “Is there an Eternal Soul?” dit kortweg beantwoord word met: “Belief in an eternal soul is a misconception of the human consciousness.” Jy behoort dus in die geloof het tuis te voel.
    Oor Fariseërs en Sadduseërs – het Adrio König die volgende geskryf in sy siening van die twee groepe:
    "Die Fariseërs en die Sadduseërs het heelwat verskil oor gods¬dienstige sake. Die Sadduseërs het net “die wet van Moses”, dit is die eerste vyf boeke van die Ou Testament, aanvaar. Daar¬teen¬oor het die Fariseërs ook “die profete” en “die geskrifte” aan¬vaar, wat so ongeveer ons hele Ou Testament insluit. (*Kanon, *Sep¬tua¬gint) Dit beteken dat die Sadduseërs nie aanvaar het dat daar ’n opstanding uit die dood sal wees nie (Mark 12:18 ev). Daar staan niks daarvan in die eerste vyf boeke nie. Hulle het ook nie aanvaar dat daar geestelike wesens soos engele is nie, wat vreemd is omdat daar heelwat verwysing daarna in Genesis is. Ons het egter reeds opgemerk dat dit vir hulle nie in die eerste plek om die godsdiens gegaan het nie, maar om die politiek. Hulle het dus selfs die eerste vyf boeke nie so ernstig opgeneem nie."
    Jy sou dus heel gemaklik by die Sadduseërs kon ingeskakel het.
    Dit is egter anders in die Christelike geloof wat wentel om Christus,d ie Christus wat jy steeds volhardend ontken bestaan het.
    In Johannes 14 kan jy lees (1983-vertaling):
    Vers 1 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.
    2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.
    3 En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
    4 En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
    5 Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”
    6 Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
    7 As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
    8 Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
    9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?
    10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.
    11 Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self."
    Lekker dag

  • Beste FC Boot,
    Ek staan maar skepties teenoor alles wat staat maak op geloof. Selfs al sou die Christen glo dat daar nie so iets is as 'n onsterflike siel nie, sou ek nog nie 'n Christen wees nie. Geloof is wensdenkery, en niks anders nie.
    Soos ek al baie keer aan jou verduidelik het: die Bybel is fiksie, 'n baie mooi storie, maar om daaruit aan te haal is net so goed as om uit Wolf-en-Jakkalsstories te kwoteer.

    Dan is die vraag ook nog of Boeddhisme 'n geloof is, en dan skram jy weg van die feit dat die mens nie 'n geestelike wese kan wees nie. Net spoke en engele is geestelike wesens geskep deur die menslike brein.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Nee ek skram nie weg van die feit nie - inteendeel dit is jy wat wegskram, want jy bly vasgekluister in 'n wêreld wat 'n verganklike orgaan, nl die mens se brein aan jou bekend maak.
      Jy bly deurgaans die kern van die Christelike geloof ontken, nl die bestaan van Christus, sy geboorte, sterwe en opstanding. Net soos jy nie 'n inwoner van Suid-Afrika kan wees as Suid-Afrika nie bestaan het nie, net so kan daar geen Christen wees, as Christus nie bestaan het nie.
      So kom dus tot die punt, het Christus werklik bestaan of is dit 'n skepping van die menslike brein?
      Lekker dag

  • I will go with the wonderful millions of spirits in the sky and live again on a far-off planet with my loved ones. My soul will become one with the universe and will live on. To bow down before evil autocratic gods that condemn gays and demand that you suffer and then worship them ... in streets of gold ... not my karma, but for some it still gives comfort to do that and I respect that. But of late I had this dream of a view of heaven where this godot one by one crucifies his beloved worshippers, but of course, that is just an awful dream. Still, it is true to become still in yourself and talk to someone up there, is a huge comfort, so in that way I understand the reflection. With metta. Namaste

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top