Waarheen met Afrikaans?

  • 2

Terwyl die taaldebat oor Afrikaans steeds stormagtig voortwoed met ’n hangende hofsaak op die horison oor Afrikaans as akademiese taal aan die Universiteit Stellenbosch, wonder baie mense waarheen met Afrikaans? Jean Oosthuizen het met die hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Conrad Steenkamp, gesels oor die status en toekoms van Afrikaans. 

Dit lyk al hoe meer of Afrikaans se dae as akademiese taal aan universiteite getel is. Baie mense is al keelvol vir die taaldebat. Jy het self onlangs gesê die debat oor Afrikaans aan Stellenbosch-universiteit is verby. Wat bedoel jy daarmee en waar laat dit ons met Afrikaans as onderrigtaal?

Die dubbelsinnigheid van die taalbeleid en ondeursigtigheid van die debat self het sinvolle deelname vir enigiemand moeilik gemaak. Die sogenaamde taaldebat is in wese ’n uitgerekte uitputtingsoorlog, ’n gepolariseerde binnegeveg waarin buitestanders se menings en gemeenskapsbelang moeilik traksie kry.

Daarby is daar eenvoudig net nie reguit gepraat oor wat met die nuwe taalbeleid beoog word nie. Kritiek is as onwaar afgemaak en negatiewe stereotipes is gebruik om ganse belangegroepe se legitimiteit te ondergrawe. ’n “Debat” wat so gevoer word, laat min ruimte vir redelike gesprek en dis baie maklik om te verstaan hoekom mense keelvol is.

Die debat is dan ook verby in dié sin dat bitter min waarnemers nog vertroue het in die US se waarborge dat Afrikaans “nêrens heen gaan nie”. Dit maak derhalwe nou meer sin om aandag te skenk aan die waarskynlike impak van die beleid.

Wat kan mens doen om die ongetwyfelde impak op Afrikaans as akademiese taal teë te werk?

Wat van die taalkundige, kulturele en sosio-ekonomiese gevolge wat die beleid vir duisende families uit arm gemeenskappe inhou? Die moontlike gevolge van die beleid is nie, soos wat internasionale beste praktyk vereis, behoorlik ondersoek nie. Dit behoort nou gedoen te word.

Die US hou vol hulle sal nie teen Afrikaanse studente diskrimineer nie en dat dit oor meertaligheid gaan. Is dit nie ’n billike standpunt nie?

Die US se “meertaligheid” is ’n flouswoordjie waarmee Afrikaans verskraal word tot ’n hulptaaltjie vir eerstejaarstudente terwyl die lesings eintlik, en toenemend, in Engels sal geskied.

Die US diskrimineer in ieder geval lankal al teen Afrikaanse studente, veral diegene uit die platteland en sosio-ekonomies kwesbare gemeenskappe. Hierdie segment is massief onderverteenwoordig aan die US – ’n vorm van strukturele diskriminasie wat nou sekerlik sal verskerp eerder as dat dit sal afneem.

Wat het geword van die droom dat die US ’n plek vir die kinders van die boere én die plaaswerkers kan wees? Hoe kan dit billik wees om duisende se hoop op ’n toekoms te vernietig? Werklike meertaligheid by die US is die billike oplossing, maar is nooit indringend bespreek nie.

Ek neem aan jy verwys onder andere na bruin Afrikaanssprekendes. Gebruik die voorstanders van Afrikaans as universiteitstaal nie dalk die bruin stem om maar net hulle eie belange te beskerm nie? Dink jy die bruin gemeenskap is regtig so besorgd oor Afrikaans as mens in ag neem hoeveel Afrikaanse bruin ouers hulle kinders na Engelse skole stuur?

Veralgemenings oor hoe besorgd dié of daai groep oor Afrikaans voel, is beide misleidend en vervelig. Onlangs nog bieg ’n wit Afrikaanssprekende byvoorbeeld teenoor my dat hy sy kind Engels grootmaak, want hy “wou nog altyd Engels gewees het”. Terselfdertyd is daar baie swart, Indiër-, bruin en wit Afrikaanssprekendes wat baie sterk oor die taal voel. Dis normaal dat mense verskillende idees oor taal het.

Die US se nuwe taalbeleid gaan binnekort ’n nasleep in die hof hê. Hoe voel jy oor die komende hofsaak en wat sal die invloed daarvan op die nimmereindigende taaldebat wees?

Dié wat krities is oor die hofsaak moet aanvaar dat dit ’n geldige strategie is en dat die hofgangers besig is om hulle demokratiese regte binne die raamwerk van die Grondwet uit te oefen.

Indien hulle die saak sou wen, sou dit moontlik wees om die taalbeleid te heronderhandel, pleks daarvan dat mens die kop oor ’n fait accompli moet breek. So ’n oorwinning sou egter ook tot hernude spanning oor Afrikaans op kampus lei, iets wat goeie leierskap en veral visie aan die kant van die universiteit sal verg om te hanteer.

Na die UV se onlangse sukses in die appèlhof ten opsigte van hulle taalbeleid, lyk dit nietemin asof regters taalregte eerder op ’n beperkende en politiese manier interpreteer. Mens moet dus in ag neem dat die hofsaak teen die US ook verloor kan word. Selfs al sou die US slegs op tegniese gronde wen, sou dit hulle taalbeleid baie meer legitimiteit gee as wat dit nou het, selfs al druis dit regstreeks in teen die beginsels van meertaligheid.

Wen of verloor, dit gaan belangrik wees dat Afrikaanssprekendes aktief aanspraak maak op hulle taal en kapsie maak teen uitsluiting deur Engels. Om hierdie rede fokus die Taalraad by voorkeur op wye mobilisering van Afrikaanssprekendes vir Afrikaans by Stellenbosch en elders.

Terselfdertyd is ons terdeë bewus van die ware olifant in die vertrek, naamlik die regering se taalbeleid en die toenemend moeilike nasionale politiek. Ons weet ook dat die samehang tussen studentepolitiek en nasionale politiek die lewe vir Afrikaans in die nabye toekoms nog baie moeilik gaan maak.

Wat is jou raad aan Afrikaanssprekendes wat verkies om steeds in Afrikaans onderrig te word in ’n omgewing waar Engels al hoe meer as die taal van die akademie aanvaar word?

Dis maklik om van buite af advies te gee, maar as dit moet, dan sou dit die volgende wees: Probeer om inklusief en wyd te mobiliseer. Vermy die heethoofde. Dink en tree geduldig, strategies en nadenkend op.

Gaan ondersoek die taalbeleid van meertalige universiteite elders in die wêreld en nooi hulle vir gesprekke uit. Bestudeer die posisies van geloofwaardige internasionale instellings soos Unesco oor moedertaalonderrig en skep debatte daaroor. Fokus op meertaligheid, skep ruimte vir die belange van anderstaliges – dis nie opportunisties nie, maar goeie akademiese beleid.

Laastens, moenie skaam wees om ruimtes te skep waarin nét Afrikaans gebruik word nie, maar doen dit op ’n vriendelike manier en reik terselfdertyd na ander uit. Dis veral nou tyd om brûe te bou – met die volle bewussyn dat die politiek oor die volgende paar jaar nog baie rowwer gaan word. Hanteer persepsies doelbewus – dit gaan hier grotendeels om persepsiepolitiek.

Maar is dit enigsins haalbaar om nog aan te dring op Afrikaans by universiteite terwyl soveel Afrikaanse studente self verkies om in Engels te studeer? Gaan dit nie maar oor vraag en aanbod nie? Is daar nog regtig ’n genoegsame vraag na Afrikaanse universiteitsopleiding?

Die kwessie van aanvraag is nie so eenvoudig as wat sommige dit uitmaak nie. Die afname van aanvraag vir Afrikaans is byvoorbeeld nie ’n “natuurlike” ding nie, maar tot ’n groot mate ook ’n produk van universiteite se eie taal- en toelatingsbeleide. Indien hulle tot die universiteit toegelaat word, word studente se keuses ook beïnvloed deur die taal-onvriendelike atmosfeer en die marginalisering van Afrikaans in lesingsale.

Daarby lewer die Wes-Kaap alleen jaarliks duisende Afrikaanse matrikulante en is waarskynlik die enigste provinsie in die land waarin Afrikaans op universiteitsvlak demografies werklik lewensvatbaar is. Hoe kan mens dan beweer daar is geen aanvraag nie?

Die eintlike vraag is hoekom die US bereid is om rasteikens te stel, maar geen taalteikens nie. Daarsonder is die handhawing van Afrikaans moeilik voorstelbaar en sal niks gebeur om die bestaande strukturele diskriminasie teen bruin Afrikaanssprekendes af te takel nie.

Maar wat van die negatiewe persepsies oor Afrikaans wat wel bestaan en die argument dat die bruin stem misbruik word om wit Afrikanerbelange te dien?

Die argument oor die “misbruik” van bruin mense is te verwagte gegewe die geskiedenis van Afrikaans. Dis derhalwe ook belangrik dat mense uit hierdie gemeenskappe self hulle saak stel eerder as dat ander vir hulle praat. En hulle dóén dit ook, soos wat onder andere die video  Die ander kant en die wye deelname aan die taaldebat bewys. Dis net so belangrik dat ons as Afrikaanssprekendes nie toelaat dat veralgemenings soos hierdie gebruik word om ons monddood te maak nie.

Nog ’n normaliteit hier is dat negatiewe houdings onder sommige teenoor die eie taal in die konteks van ’n sogenaamde taalverskuiwing (van Afrikaans na Engels) heeltemal te verwagte is. Waar ’n taal soos Afrikaans teen ’n veel sterker taal soos Engels te staan kom, verloor die sprekers van die swakker taal dikwels vertroue in hulle eie taal en kultuur. Die gevolglike agteruitgang van sulke tale, so terloops, word dan slegs gestuit indien die sprekers daarvan begin om weerstand te bied, of so sê Unesco (2003) in hulle raamwerk vir die evaluasie van taalvitaliteit.

Jy is ’n klompie maande gelede aangestel as uitvoerende hoof van die Afrikaans Taalraad. Vertel in kort wat is die ATR, wat is die doel daarvan en of julle enige suksesse behaal?

Die stigterslede van die ATR het in 2003 met ’n lang proses begin om Afrikaanssprekendes in hulle volle diversiteit saam te snoer, ’n geval van “twee treetjies vorentoe, een treetjie agteruit”, soos Neville Alexander dit destyds beskryf het. Die uiteindelike stigting van die ATR in 2008 as ’n inklusiewe organisasie was op sigself ’n enorme sukses. Ek hoop om daarop voort te bou.

Waarop fokus julle op die oomblik?

Ons fokus sterk op moedertaalonderrig op skool- en universiteitsvlak. Ons wil graag ook help om veral jonger Afrikaanse stemme sterker te laat uitkom. Ons wil konstruktiewe gesprekke oor meertaligheid in die Engelse media aan die gang kry. Uiteindelik wil mens ten spyte van die moeilike omstandighede ’n invloed op beleid uitoefen. Waar dit nie moontlik is nie, wil ons die toedrag van sake op die grond verander. Daar is ’n hele paar interessante inisiatiewe wat kom. Die “Moedertaalinisiatief” word byvoorbeeld binnekort in vennootskap met Fedsas (Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame) en Afrikaans.com geloods. Julle sal binnekort meer hieroor te wete bekom.

Daar is reeds meer as 40 organisasies wat hulle op een of ander manier vir Afrikaans beywer, van die Afrikanerbond regdeur tot die FAK, die ATKV, Solidariteit en vele meer. Is daar nie reeds te veel sulke organisasies nie en wat maak julle anders?

Die ATR is ’n sogenaamde artikel 185-organisasie en is geregistreer by die “Langnaamkommissie” (CLR – Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Taalgemeenskappe). Een van ons funksies is om as die inklusiewe spreekbuis van die Afrikaanse taalgemeenskap teenoor die staat en die regering op te tree.

Ons is ook ’n konfederale lidmaatskapsorganisasie, iets wat ons anders as die meeste ander Afrikaanse organisasies maak. Ons taak is om samewerking en sinergie tussen die lidorganisasies te bevorder, leemtes in die taallandskap te identifiseer, en om die versoeningsprosesse waarop Afrikaans staat maak, verder te vat. Die ATR het dus ’n unieke rol.

Sedert die stigting van die ATR in 2008 was daar nog altyd ’n deeltydse hoof, maar jy is nou heeltydse hoof. Wat beteken dit vir jou?

Deelname aan die ATR was vir sommige mense ’n “geloofsdaad”, soos my ondervoorsitter, Hendrik Theys, dit onlangs beskryf het. Hierdie geloof in gesprek, haakplekke en al, en die samewerking vir Afrikaans, maak van die ATR ’n besonderse organisasie. Dis vir my ’n geweldige voorreg om na al die harde werk van so baie mense as die eerste voltydse hoof aangestel te word. Ons betree daarmee inderdaad ’n nuwe en moeilike ontwikkelingsfase. Die pad vorentoe is vol klippe, maar dis baie interessant.

Is ons nie verniet bekommerd oor Afrikaans nie? Kyk maar net hoe goed verkoop Afrikaanse boeke, hoeveel nuwe Afrikaanse flieks word gemaak, die groot aantal Afrikaanse kunstefeeste en die oplewing van die Afrikaanse musiekmark die afgelope aantal jare.

Die feeste doen uitstekende werk en die publikasie van soveel boeke en films maak mens inderdaad bly vir Afrikaans. Nietemin moet mens weet dat ’n taal se oorlewing van veel meer afhang en hoe goed hy op verskeie ander gebiede vaar (die taalkundiges praat van “domeine”).

Dit sluit in domeine soos die staat en publieke ruimtes, primêre tot tersiêre onderwys, kerke, sportliggame, die besigheidswêreld, die familie, en dies meer. Om te verstaan wat met Afrikaans aangaan, moet mens dus na al hierdie domeine kyk, want alles hang uiteindelik saam. Wat is byvoorbeeld die impak op die befondsing van feeste indien Afrikaanse borge verengels? Uiteindelik, wat gebeur met die feeste indien ouers nie meer die taal aan hulle kinders oordra nie? Dié wat belangstel moet die moeite doen om na Unesco (2003) se raamwerk vir die evaluasie van taalvitaliteit te gaan kyk.

Die ATR se standpunt is dat Afrikaans gelyke status moet geniet, gelyke statutêre erkenning en gelyke beskerming van die Grondwet en die Handves van Menseregte moet kry. Maar is dit regtig haalbaar in ’n land met 11 amptelike tale? Moet ons nie maar aanvaar dat Engels die algemene spreektaal van die land is en dat dit de facto die land se amptelike taal is nie?

Daar is lande met meer tale wat suksesvolle meertalige beleide het. Gewoonlik word amptelike tale op ’n streeksbasis bepaal, soos die Wes-Kaap met Xhosa, Afrikaans en Engels. Deur meer tale in ’n streek of provinsie te gebruik, kry méér mense béter toegang tot die staat, opvoeding, politiek en die ekonomie as wat andersins die geval sou gewees het. Meertaligheid in ’n meertalige land soos Suid-Afrika is dus geen luukse nie, maar ’n voorvereiste vir ware demokrasie en inklusiewe ontwikkeling. Ons behoort almal minstens drie tale te kan praat.

Eenheid en diversiteit is een van julle kernwaardes, maar is daar genoeg diversiteit in Afrikaans? Dit is op enkele uitsonderings na hoofsaaklik wit Afrikaanssprekendes wat in Afrikaanse organisasies se bestuursposte dien. Waar is die niewit Afrikaanses, of stel hulle eenvoudig nie belang in die taalstryd nie?

Afrikaans betaal nog steeds die prys vir die sondes van die verlede. Baie mense het hul weens die vernedering van apartheid en geweld van gedwonge verskuiwings onttrek van Afrikaans. Daar heers ook nog groot ongelykhede onder Afrikaanssprekendes en, ja, daar moet nog baie gedoen word om die Afrikaanse wêreld ekonomies te integreer.

Dit sou dus verkeerd wees om voor te gee dat die Afrikaanse taalgemeenskap verenigd agter die taal staan, dat almal dieselfde oor taal dink, of dieselfde prioriteite gaan hê. Dit is normaal dat mense met mekaar gaan verskil en eerder belangrik dat mens versigtig moet wees om hieroor te veralgemeen.

Daar is ’n diepe liefde vir Afrikaans in uiteenlopende gemeenskappe regoor die land en selfs oorkant ons grense. Nee wat, Afrikaans het al lankal die beperkende stereotipes van die verlede verbygesteek en agtergelaat. Dit is wat die liefdeswerk van soveel ouers, oumas en oupas, onderwysers, skrywers, musikante en kunstenaars vir ’n mens sê.

  • 2

Kommentaar

  • Danie Eichstadt

    Die subtiele en blatante wyse waarop Afrikaans as gevestigde voertaal en kommunikasiemedium op bykans alle gebiede verdag gemaak en doelbewus uitgerangeer word, skep die indruk dat daar 'n groter mag daaragter is as slegs "hanskakie"-Afrikaners. Dit het die doel om die prominente rol van die Afrikaner te probeer neutraliseer en hom te probeer uitskakel as 'n faktor waarmee rekening gehou moet word - ongeag ander Afrikaanssprekendes wat in die proses slagoffers word. Ons moet ons daarteen verset en opnuut 'n taaltrots by ons kinders vestig as onlosmaaklike deel van hul unieke identiteit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top