Waar sou ons wees sonder kolonialisme, Helen?

  • 23

Ek wens soms iemand wil net vir Helen Zille en Donald Trump ’n stukkie advies in aansienlik minder as 140 karakters gee: “Bly weg van Twitter! Hou jou duime tuis!” Daar’s nog heelwat spasie oor vir emoji’s ook.

’n Week of wat gelede het Zille groot ontsteltenis veroorsaak met haar gekwetter oor die voordele van kolonialisme. Meer as dit, die daaropvolgende bekgevegte tussen haar kritici en dié wat haar naam wil beskerm, het niks, zilch, sweet boggherol vir nasiebou en samehorigheid gedoen. Wat Zille ook al wou bereik, sy het net haar naam as ’n polariserende teenwoordigheid bevestig.

Daar is al heelwat geskryf oor of haar reg op vryheid van spraak getemper is deur die kritiek teen haar. My kort antwoord: nee, maar as jy wil steun op jou reg om daai vryheid uit te oefen, kan jy nie kla as ander ook hulle reg op vryheid van spraak uitoefen om jou te kritiseer nie. Dis hoe demokrasie werk, Helen.

Hierdie rubriek delf nie in die meriete van Zille se uitspraak, of die rubriek wat sy daarna geskryf het, in nie. Wat ek wil doen, is om die horlosie terug te draai na 1652, en te probeer indink hoe hierdie land anders daar sou uitsien as Jan van Riebeeck verby gehou het en iewers anders gaan land het. Met ander woorde, hoe sou Suid-Afrika gelyk het as ons nie gekoloniseer was nie?

Ek gebruik daai “ons” vrymoediglik, want ek of iemand soos ek sou nog steeds hier wees, anders as die meeste mense wat die rubriek gaan lees.

Die basiese denkfout wat Zille in haar twiets en die rubriek begaan, is om aan te neem dat kolonialisme beskawing gebring het. Sy neem aan dat Afrika, en die inheemse stamme, ’n tabula rasa was, ’n skoon lei wat net gewag het vir koloniale goedgunstigheid om ons ongevormde klompe te kom skep.

Maar wat is beskawing? As al die frilletjies afgehaal word, is dit net ’n stel reëls wat mense leer hoe om met mekaar saam te leef sonder oorlog, moord en doodslag. Daar was reëls voordat Jan en kie hier geland het. Anders as wat Europese standaarde verlang, maar beteken “anders” noodwendig “slegter”? Ek dink nie so nie.

Daar was reëls oor hoe om stamlede wat die reëls oortree, te hanteer. Lede van die groep het saam besluite geneem oor wat met oortreders sou gebeur. Dis ’n regstelsel, en ’n juriestelsel.

Daar was ’n leierskapstruktuur. Indien die leier nie in die beste belang van die stam opgetree het nie, het hy vinnig geleer dat daar gevolge is. Iemand anders sou vinnig na vore tree en sy plek inneem, met die groep se goedkeuring. Dis ’n verkiesingstelsel.

Daar was sekere persone in die groep wat geweet het watter bessies en kruie vir watter kwale werk. Dis wat aptekers nou doen. Daar was persone wat geweet het hoe om kraamgevalle te hanteer, en hoe om wonde gesond te maak en dies meer. Dis ’n mediese stelsel.

Daar was reëls wat bepaal het hoe ouer lede van die groep hanteer moes word, hoe kinderversorging werk, hoe kos en water binne die groep verdeel sou word. Dis ’n sosiale struktuur en ’n welsynstelsel.

Daar was rotstekeninge teen mure. Stamme het om die kampvuur vergader, en stories vertel, en gesing en gedans. Dis kultuur.

Daar was sekere persone wat gejag het, sommiges wat water gesoek het, ander wat bessies en wortels gesoek het, ander wat na die kinders gekyk het. Dis werksverdeling en werkverskaffing.

Daar was uitruilings van goedere tussen verskillende stamme. Dis handel.

Die hoofde van verskillende stamme het geskille probeer besleg deur te praat voordat daar tot oorlog oorgegaan is. Dis diplomasie.

Sekere lede van die stam het opgetree as die groep se segsmanne om by die gode aan te klop vir reën, of beter jaggeleenthede of beter beskutting. Dis godsdiens.

Daar was lede wat geweet het hoe om beskuttings te maak. Dis argitektuur.

Ander lede het geweet hoe om velle te brei sodat die stam hulself kon aantrek en teen die elemente beskerm kon wees. Dis klere-ontwerp.

Kinders word geleer hoe om te jag, hoe om in die groep op te tree, hoe om spoor te sny en dies meer. Dis uitkomsgebaseerde, relevante opvoeding.

Verskillende groepe het met mekaar gekommunikeer deur ’n stelsel van klippe, tekeninge en dies meer. Daar was tromme wat boodskappe oor afstande versend het. Daar is rookseine gestuur. Dis ’n kommunikasiestelsel.

Daar was groepe wat nomadies was, terwyl ander verkies het om op een plek te bly en wortel te skiet. Dis diversifisering van kundigheid.

Daar was uitgebreidegesinstrukture. Daar was reëls vir hofmakery, en reëls vir die huwelik. Daar was meestal monogamie. Daar was ’n sosiale struktuur.

Zille maak dus ’n fout as sy dink daar was niks voor die gawe van kolonialisme op ons afgedwing was nie. En dit wás afgedwing.

En wat het kolonialisme ons gebring?

Paaie, wat ons nie sou nodig hê sonder die voertuie wat kolonialisme ons gegee het nie. Antibiotika, wat ons nie sou moes gebruik sonder die siektes wat die koloniale moondhede saamgebring het nie.

’n Regstelsel, wat ons nog steeds onderdruk en die kolonialiste die voordeel gee. ’n Politieke bestel, wat ons apartheid en funksionele diktators gegee het. Welsyn, wat ons na Esidimeni lei. Die verval van gemeenskapslewe, wat lei tot ouetehuise en weeshuise.

Drankverslawing, een gevolg van die dopstelsel, ’n koloniale geskenk aan ons. Tik, kokaïen, heroïne en ander dwelms, die gevolg van farmakologie.

Besoedeling van die omgewing, die gevolg van industrialisasie en fabrieke.

Die uitsterf van vele dierespesies, die direkte gevolg van koloniale hebsug. Hoeveel visspesies is tot uitwissing gevis sodat dit uitgevoer kan word? Hoeveel renosters en olifante is gedood vir hul horings en ivoor?

Slawerny, want die goud en diamante wat die kolonialiste gesteel het, moet deur iemand uit die grond gehaal word.

Gevegte rondom grondbesit, want die kolonialiste het geleer gemeenskaplike grondbesit is ’n slegte idee. Roof en moord, want ons was geleer dat wat ons het, nie goed genoeg is nie, daar is meer om na te strewe. ’n Opvoedingstelsel wat kinders totaal onvoorbereid vir die werklike lewe en hul rol daarin laat.

Hartsiekte, diabetes, cholesterol en dies meer, want ons was geleer ons natuurlike dieet is primitief, en ons manier van oefening doen is primitief.

Plaasmoorde sou nie bestaan nie. Struwelinge rondom taal sou nie bestaan nie. Ons sou nie nodig gehad het om onderwerp te word aan die Zilles en Trumps van hierdie wêreld nie.

Die beskawing waarin ons sou lewe, sou anders daar uitgesien het. Anders, nie beter of slegter nie. Dis waar Zille die fout maak. Sy neem aan “anders” is “slegter”. Sy impliseer koloniale meerderwaardigheid.

Dis hoekom haar twiets problematies is.

Sedert hierdie rubriek geskryf is, het die DA besluit om Helen Zille dissiplinêr te verhoor  ̶  LitNet

  • 23

Kommentaar

  • Die fout: die Europeër dink dat almal wat nie dink en leef soos hy nie, verarm en armsalig is. Transformeer hulle en plaas hulle in die mag van die illuminati. Daarom het stamme verdwyn. Wat is fout daarmee om tradisioneel te leef en om van dag tot dag van die aarde te neem ... net genoeg om van te leef?

  • Claude Möller

    Daar's min wreder blootleggings van die "self", as die eie blootleggings van die eie subjektiewe aannames.
    Betinna, met jou aannames oor Helen se aannames, het jy mooi in die moeras van die blootlegging van jou eie, argaïse aannames versink.
    Ek skat jou egter steeds hoër as die laagtes van hierdie on-intellektuele, afwaartse spiraal van jou eie on-denke.

  • Ou pel ek wonder as ek na Afrika kyk. Wat doen ons aan onsself? Waar lewe jy dat jy nie die ongekleurde barbare sien wat ons land vernietig nie. Dis nie ’n Zille- of Zuma-ding nie. Dis wat jy toelaat. So hoe lief is jy vir die land?

  • Braam de Vries

    Suid-Afrika was nooit deur Jan van Riebeeck se mense, die Hollanders gekoloniseer nie, Bettina.

    • Hans Richardt

      Braam, dankie dat jy saamstem dat Nederland nooit die Kaap gekolonialiseer het nie. Mense moet blatant disleksies wees om openbare maatskappy te lees en dit dan net sonder meer Nederland te maak. Hul vertel jou van die direksie, Here 17, maar maak dit nog steeds Nederland se regering!
      Propaganda en vals nuus maak vir oorlog, soos ons nou met Trump sien.
      Ras is deel van ons Grondwet en realiteit. Nêrens is daar kleurlose samelewings op hierdie aarde nie. Selfs die VN gee erkenning aan ras in hul Handves van Inheemse bevolkings.
      Feit is, as jy ongelukkig is met jou eie vel, is jy ongelukkig in jouself. Dit het bokkerol met kolonialisme te make nie.
      Tot 1902 was daar nie nasionale paaie nie in die twee Boererepublieke nie. Wit armoede was aangespreek met wit arbeiders, wat paaie gebou het, onder Britse koloniale regering.
      Tyd om geskiedenis FEITLIK te hou.

  • Hans Richardt

    Wel Bettina, my familie (my eie oumas) het ABO oorlog as jong vrouens beleef, in hul stryd teen Britse kolonialisme. Nederlandse kolonialisme is ANC-propaganda, want Nederland kom eers in 1838 tot stand, dus saak van feitlik onmoontlikheid! In hierdie opsig gee ek nie duit om vir propaganda nie. My ouers was minder betaal as wit boere, juis omdat hul boere was, as hul Engelse eweknieë. Hul was ook hande-arbeiders vir kolonialisme deur met pik en graaf infrastruktuur bv paaie en damme te bou. My ma was 'n pakker in sigaretfabriek, UTC. Tog het hul nie "kolonialisme" as verskoning bly gebruik om hul sukses of onvermoë te regverdig nie. As ou man vandag, dink ek my ouers het met eelte op hande 'n toekoms gebou, nie met emosionele plakkery nie. Ek kan eerlik hier sê dat ek jongste van gesin van 12 is, op pad na 60. Ons was baie arm, ek het ook emmertoilette en longdrops beleef in my lewe. Ek moes ook tydens skool loop van die onderdorp na bo-dorp, die staatstandarts besoek of in lang tou sit by staatshospitaal as ek siek was. Nie alle wittes was net ryk nie, soos nou beweer word nie!
    Ek het as jong seun gewonder hoekom ek as Afrikaanse seun as sosiaal minder geag was teenoor arm Engels sprekende seuns ... Dan, my grootste skande was toe ek in standerd 5 huis toe gestuur was deur prinsipaal, omdat ek nie onderbroek gehad het nie ... Ek moes toe met my broer se oues skool toe.
    Ja, ons geslag is die "boeties wat die bliksem in bly"! Ons was en is bedonner deur die sisteme, eers omdat ons ouers nie Broederbonders was nie en tydens demonkrasie, bloot op my velkleur, ek is wit en Afrikaans.

    • Die Republiek van die Sewe Verenigde Provinsies (Nederland) is in 1581 gevorm toe hierdie provinsies hulle losgemaak het van Spaanse beheer. Van toe af bestaan Nederland as staat.

  • Ek kan wrintigwaar nie verstaan hoekom Betinna se briewe onder die kategorie van "Rubrieke" resorteer nie. Geniet sy die voorreg omrede sy 'n skryfster of joernalis is, want wat sy meerendeels skryf is haar persoonlike menings wat onder SêNet hoort te resorteer.

  • leilani clarke

    Uitstekende artikel, Bettina!
    Die infrastruktuur was daar! Nie volgens westerse standaarde nie, maar volgens wat boorlinge van die land tot hulle beskikking gehad het, en dit het vir hulle gewerk.

  • n Baie vereenvoudige redenasie en teenreaksie van Zille se tweet. Weet jy ooit wat sy bedoel het? Duidelik nie.

  • Bettina val vir dieselfde propaganda teen Zille. Kry dit nou tog vir eens en altyd duidelik: Sy het gesê kolonialisme was nie NET SLEG nie. En gaan kyk dan na die wêreldwye verskynsel van kolonialisme: Die Romeine, die Wikinge, ens. Daar het - soos met die geweldige prys van die ABO ter plaatse - OOK GOEIE dinge mee saamgekom.

  • Lees ook Prof Danie Goosen se rubriek oor die onderwerp om perspektief te kry. Dit was gister op Netwerk24.

  • Bettina, ek is ook blank en Afrikaans en dit blyk dat min van my kultuurgenote enigsins 'n begrip van geskiedenis, van die standhoudende negatiewe impak van kolonialisme of sélfs van hul eie kultuur- en politieke geskiedenis het. Hou gerus aan om hulle te ignoreer, want jou verhaal is gesaghebbend en juis. Groete van 'n Afrikaan.

  • Barrie Vermeulen

    Wat natuurlik nêrens genoem word nie is die bloeddorstige wyse hoe sogenaamde inheemse stamme mekaar wreed uitgemoor het. Shaka Zulu word as 'n romantiese dapper leier uitgebeeld maar wrede neerdrukkende gebruike word nie genoem nie. Hy het die land rooi geverf met andere se bloed en sy opvolger wat hom lafhartig vermoor het was nog erger. Dan kom daar die verandering en prestasies wat hierdie sogenaamde kolonialiste gebring het. Een daarvan is dat die eerste hartoorplanting in die wêreld suksesvol hier gedoen is. Gesondheid en medici WAS van die beste in die wêreld. 'n Siekteplaag sou almal uitgewis het. Die Sangoma sou saam onder die kluite beland het. Ek sien juis jy dra 'n moderne bril, het seker jou skrywe op 'n moderne rekenaar gedoen en dra 'n lekker warm sagte trui.

  • Gustaf Claassens

    As Bettina se bedoeling was om 'n antropologiese bydrae te maak oor die leefwyse van inheemse groepe in vorige eeue, het sy dit goed en op ‘n interessante manier gedoen. Om Helen Zille se "kolonialisme"-uitspraak aan die negatiewe weergawe daarvan ALLEEN te koppel, is bietjie moedswillig. Zille sal nie 'n jota of tittel verskil met Bettina se historiese oorsig en interpetasie oor hoe hierdie inheemse groepe hul lewe georden het nie. Dit laat my wonder of Bettina nie maar net 'n ander agenda gehad het met die skryf van die rubriek nie? (Kom ek vat 'n kans en sê; "jy's nie juis mal oor Zille nie”, né Bettina?")

    Die moedswilligheid waarvan ek praat, is Bettina se verwysing na die nadele van kolonialisme en waar sy by implikasie te kenne gee dat Zille skynbaar ook nie 'n probleem daarmee sou hê nie. Verkeerd Bettina. Nêrens het Zille die stelsel van kolonialisme per se probeer goedpraat nie. Haar twiet het niks meer of minder bedoel as wat sy gesê het nie en waar die korrektheid daarvan, per slot van rekening nie betwis kan word nie.

    Politieke opportuniste het egter 'n gaping gesien en meer daarin gelees ... want hulle wou. Politici het agendas en dien eie-belang en in retro-perspektief sal Zille waarskynlik toegee dat sy haar ken effens te groot oopgemaak het met die "onskuldige" twiet – “dingetjies soos hierdie bly mos maar sensitief in ons Rommelstatus landjie.” Die reaksie wat ons sien is dat party dit sien vir wat dit was terwyl ander verwoed opstoppers na haar mik, figuurlik gesproke natuurlik.

    Die "opstopper brigade" weer het kolonialisme gelees, apartheid bygesit, al die negatiewe bagasie bygetrek en dit toe as 'n totale pakket op hulleself omgetrek, gevolg deur 'n groot selfopgelegde treurmare - soos Simson met die pilare gedoen het. En wanneer sulke verpolitiseerde begrippe skeefgetrek en aan die groot klok gehang word, kry dit gou momentum. Politieke leiers raak senuagtig en voel dat daar ingetree moet word (die idee van leierskap - en Maimane is 'n knaap wat nogal hou van die idee) en wanneer hierdie groep in getalle groter word, raak die uitsprake meer aanvallend en direk. Dit weer, skep 'n gevoel van mag en mag gaan oor in aksie weet ons.

    Diegene wat op die draad sit, sien hoe die wind waai en weet waar hulle die beste af sal wees en siedaar, 'n rondomtaliebeweging en volle steun word gegee aan die groep in wie se hande die mag is (sien ook die huidige Zuma gebeure en kaskenades – same thing, different parties). So, dis seker nie moeilik om te voorspel dat Helen Zille se sonsondergangklousule besig is om vir haar te wink nie ...

    Prosesmatig het 'n gebeurtenis soos die dus sy loop geneem. Of werklik tot die kruks van die gesprek hieroor deurgedring is, is te betwyfel. Wat my betref is daar 'n meer dieperliggende ding ter sprake: "FYNGEVOELIGHEID", 'n normale menslike emosie en iets wat te alle tye sag en met wind handskoene hanteer moet word.

    Hierdie fyngevoeligheid (baie sal sê, kompleks van minderwaardigheid) is die resultaat van Suid-Afrika se geskiedenis waar dinge soos apartheid verseker 'n groot rol gespeel het. Niemand kan ontken dat die toepassing van apartheid, die menswaardigheid van individue en groepe op 'n groot skaal aangetas het nie. Maar dis 23 jaar later en ons is veronderstel om aan te beweeg.

    Maar het ons aanbeweeg? En dis presies op hierdie punt waar Bettina se probleem (met meriete) gesetel is. Daar is steeds hordes mense wat dink en glo hulle is beter as ander. Dit manifesteer op 'n rasse, etniese, klasse, sosiale, opvoedkundige en ander grondslae. Al hierdie manifestasies is inherent verkeerd omdat die bedoeling daarvan diskriminerend van aard is; om te krenk of seer te maak. Om aan die ontvangkant daarvan te wees is vernederend en nooit lekker nie. Dit skep 'n ingeboude woede en selfs haat (onwillekeurig so) en gee dikwels aanleiding tot vorme van verset en selfs geweld. Bettina is egter 'n intelligente persoon met goeie vermoëns en behoort haar nie by die Jan Salies te skaar nie. My gevoel is dat sy nie so dun van nerf moet wees oor Zille se twiet nie. Dis nie gemik op vandag se tyd en mense nie en dis verseker nie 'n poging om negatief op iemand soos Bettina te reflekteer nie.

    Afrikaners is erg deur Britse kolonialiste onderdruk maar regtig waar, Zille se twiet het my nie in die minste gepla nie. Ek het daardie idee; die jeuk van dwinglandy, verdukking en knegskap doelbewus uit gedagtes verban en myself bevry ... Dit sal jammer wees as kleur inderdaad die bril sou wees wanneer na uitsprake soos die gekyk word en dit lyk my, dis dalk moontlik en wel die geval.

    Die anti-Zille groep poog om haar uitspraak te koppel aan al die denkbare negatiewe dinge. Uiters kwaadwillig sou ek sê. Zille is net so min 'n rassis as wat Zuma 'n demokraat is. Zille is vir my niks meer of minder as bloot 'n politikus nie. Maar, sy het tot op hede alles gedoen wat sy kon vir die saak waarin sy geglo het. Deur haar toedoen het die DA gegroei en ontwikkel tot die mees inklusiewe poltieke party in ons land. Maar, soos wat dit maar in Afrika-politiek gaan, sy het gedoen wat sy kon en wat die nuwe leierskap betref, is haar tyd en rol waarskynlik nou uitgedien. Haar tyd het aangebreek ...

    Die DA se fokus, soos Maimane self te kenne gegee het is om groter steun te wen. Hulle teikenmark is dus die groot poel swart kiesers want om 'n verkiesing te wen moet hulle vertroue gewen word en daarna hul steun en stemme. Die blanke kieser se getalle is te min en aandag aan hul behoeftes sal tweede viool bly speel. Dinge soos die “Stem” gedeelte in die Volkslied, Afrikaans as taal en eintlik enige iets wat hiermee te doen het sal uit die mandjie gehaal word. Op daardie moment sal die politieke landskap in terme van partysteun weer verander. Om die waarheid te sê ek verwag reeds 'n uittog van blanke kiesers uit die DA na hierdie episode. Die effek hiervan op die Wes-Kaap sal die hardste gevoel word.

  • Bettina, op watter wyse sou SA "by gekom het" om in die 21ste eeu in pas met ander moderne lande te kon lewe? En watter wêrelddeel het nog nooit met koloniale moondhede of vyandige strooptogte en slawerny te doen gehad nie. Hier aan die suidpunt van Afrika het die verskillende volke ook maar mekaar aangeval en mekaar se goed en grond gevat. Hier het selfs volksmoorde plaasgevind, vgl Mfecane. Dit sou so voortgegaan het as koloniale moondhede nie 'n mate van orde kom skep het nie. Dis onrealisties om te dink alles sou so wonderlik gewees het as hier nie vreemde koloniale moondhede hier betrokke geraak het nie.

  • Iemand Anders

    Regtig? Is dit hoekom daar orals in elke dorp in Mpumalanga potholes is, en die teerpaaie nou grondpad is? Is dit julle argitektuur? Wow. Dis so Afrika. Jy is reg.

  • Jy is in die kol, Bettina. Beskawing, soos dit nou geken word, sou verby gevaar het, en Afrika sou nou nog 400 jaar verder agter gewees het. Maar, ek veronderstel dat dit nie 'n probleem sou wees nie, aangesien Afrika dit nie sou weet nie. Ek lees graag jou essays- dit gee my oneindig baie komiese verligting.

  • Malaria, slaapkoors van die tsetsevlieg is iets wat sonder die kolonialiste sou keer dat groot dele van Afrika, en helaas ook Suid-Afrika, nooit ooit bewoon en bewerk sou word.
    Werk dit nou bietjie uit. Mieliepap, brood en botter, perskes, druiwe, appelkose, appels, en so kan ek aangaan, sou ook nie hier voorgekom het nie. Die kos was te min om volke te laat groei na miljoene mense.

  • Bettina, 'n uitstekend artikel! Dankie. Dit vra 'n subtiele oog om die waarheid daarin te sien. Ek stem saam met Ferdie, my landgenote het 'n lacune in hulle kennis van geskiedenis. Ek wens die program van sewe dele wat op die oomblik hier in Nederland draai, ook in SA gesien kon word. En dan is daar die huidige tentoonstelling in die Rijksmuseum "Goede Hoop - Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600". Veel om oor na te dink ... Van nog 'n Afrikaan.

  • Ek sien nie dat enige van die nuwe huidige bevoorregtes wat die vrugte van "Apartheid" of "Kolonialisme" aangedui het dat hulle nie belangstel daarin nie. En omstrede dankie te sê is hulle ondankbaar. Hoor ook nie een van die huidige bevoordeeldes dink dat sokker, rugby en al die ander sportsoorte van die vorige verdrukkers moet plek maak vir wat se sport ook al beoefen was deur hulle voorsate nie. Of dat die Engelse taal moet verdwyn uit ons samelewing nie. En nee geen slawe was gebruik op die myne nie, mense was betaal vir hulle dienste. En nee drank was nie ingestel deur die kolonies nie, dit het al bestaan in Afrika voor die koms van die verdrukker, maar dis lekker om die vrugte te geniet van die verdrukker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top