Waanwêreld

  • 6

Sy oë is gelerig wanneer hy vredeliewend is. Indien onthuts of kwaad, kom daar ’n rooi verglansing in. Maar gelukkig gebeur dit nie veel nie. Die oë waarvan ek praat, volg my altyd. Agter my een skouer, soms in die dynserige verte voor my, in uitsonderlike gevalle selfs reg langs my sy. Wanneer mens iets of iemand so gewoond raak asof dit ’n ledemaat van jou is – ’n ekstra arm wat langs jou swaai – vind jy dit nie vreemd nie. Vreesinboesemend is dit nie. Lankal nie meer nie. Dit wás toe ek jonger was. Maar die spook het my vriend geword. ’n Engel wat my vergesel. ’n Teddiebeer op wie ek kan vertrou. ’n Teddie wat ’n beer kan word as hy moet.

Die snaaksste is, hy het nie ’n herkenbare gesig nie. Die omlyning onder die oë raak vaag. Geen mond of ken of neus is te bespeure nie. Wel twee ore agterlangs. Soos groterige antennas wat met radar werk. Maar die oë. Die oë is te opvallend om te ignoreer. Soms skuil daar deernis in. Ander kere flits daar ’n skerpe kwaaiheid agter die rooi. Soos priemende klein ligstraaltjies wat deur jou sny. Met die woedende staar manifesteer daar twee kohlswart strepies in die ruimte bokant sy laseroë. Asof twee wenkbroue wil deurslaan. Ek knip my oë en kyk dan weer. Al soveel keer is my gewaarwordinge as blote verbeelding afgemaak. Maar ek weet. Hy is daar. Altyd daar. Volgend soos ’n skaduwee. My alter ego. Soos die ander helfte van ’n siamese tweeling wat afgesny is, maar nie wil verdwyn nie.

“Thor, vandag hou jy jou skaars. Ek het werk om te doen,” mompel ek as ek besig is. Ek noem hom Thor, want hy is so sterk soos donderweer. ’n Ysere wil en teenwoordigheid. Ek weet hy gehoorsaam as sy oë versag. Dis soos om te knik as jy saamstem met iets. Ek moet soms baie ferm met hom optree. Hy sê wel af en toe iets, maar sy stem is sonder klank. Ek is deeglik bewus van wat hy beduie. Met sy kopligte wat my vergesel.

Die saal is vol mense vandag. Dis ’n gemaal en gedreun van stemme. Ou Ryk de Waal dink weer hy is president. Staan grootdoenerig op die eetkamerstoel. Beduie soos ’n ergerlike predikant met sy hande. Al rammelend ’n onverstaanbare toespraak daarmee saam. Sy wit jas glim manjifiek soos die kleed van ’n voorste dirigent. Foeitog, hy het seker weer sy pille verloor. Kort-kort is daar moeilikheid en moet die wagte hom weer gryp en gaan vasmaak op die bed. Ek het al vantevore ingeloer en gesien hoe hy spartel om los te kom. Heen en weer ruk sy kop met ’n vreesaanjaende blik op sy gesig . Dik are bultend in sy nek. Onaardse geluide uit sy gesperde mond. Werklik nie ’n mooi prentjie om te sien nie. Gelukkig kan ek my uit die voete maak en gaan toesig hou in die saal of op die stoep, waar ander in mindere of meerdere mate hulself as andere wesens verbeel.

Die vet weet. Nie ’n maklike joppie om te doen nie, maar as jy opgelei en geselekteer is om iets te doen, dan maak jy maar so.

’n Tumult kom van die tamaaie grasperk af. Denver Denzel baljaar poedelnakend deur die sproeiers. Met sy arms na bo gegooi en die spierwit maer kniekoppe wat soos skedelkoppe blink in die son. Hy lag dat die trane loop. Denver lag feitlik altyd. Behalwe Kersfees. Hy kry ook nooit besoek nie. Arme drommel. Glo sy ouers op ’n Kersdag verloor.

“Sy familie is dood. Almal het verongeluk in ’n frats busongeluk. Net Denver het oorgebly,” het suster Angela eenkeer gebieg. Maar sy swyg soos die graf as mens haar verder wil uitvra. En dit maak my briesend. Ons personeel is veronderstel om mekaar te onderskraag en by te staan. Ons vorm ’n span. Ek sit sommer vir Thor op haar. Net een bliksemslag en sy en haar hele groot agterstewe is moer toe en na die maan. As sy nie altyd so vriendelik met my was en vir my ekstra nagereg inskep nie, het ek dit sweerlik gedoen. Maar hier moet ’n mens jou dinge mooi uitwerk. Dit help nie om jouself in die voet te skiet nie.

“Claire, kom sit by my,” vra sy my. Haar grys bolla is besig om los te kom en sy buk vooroor om die haarknippies terug te druk.

“Wag, ek help jou. Gee hier,” beveel ek haar en knyp die stywe knippie se punte tussen my tande oop. “So ja, nou lyk jy weer spiekeries.” Ek knik tevrede en sien Thor se goedkeurende blik agter haar.

“Hoe gaan dit met jou kunswerke deesdae? Ek het jou lanklaas gesien teken.” sê sy en vou haar arms voor haar bors. Die rooi balkie op haar uniform vang ’n straaltjie son en skyn in my oog. Ek koes en weer die verblinding af. Soos ek my kop wegruk, voel ek Thor se asem teen my nek. Hy is weer kwaai besig met my vandag. Ek beduie hy moet net rustig wees. Maak sagte waaibeweginkies met my regterhand na hom. Sy oë versag. Hy stem in. Ek is nie lus vir drama nie. Plaas hy vir Denver buite gaan join en sommer lekker afkoel in die proses.

“Dit gaan aan. Ek het mos ’n hele portefeulje opgestel vir my uitstalling eerskomende maand in die Humphrey-galery. Hulle bel my knaend oor al die bestellings. Soos die mense van my in die streekskoerante lees, sit hulle solank orders in, jy sal my nie glo nie.” Suster Angela luister aandagtig, knik en glimlag vir my.

“Ek wil ook graag vir my seun ’n selfportret bestel vir ’n verjaarsdaggeskenk, maar jy is ’n bietjie duur,” protesteer sy en staan eenkant toe. Koes uit die pad toe die verpleër vir Denver verby ons jaag. Kamer toe. Hy gil uitbundig van die pret. Dis egter nie nodig om hom vas te pen soos vir Ryk nie. Hy kalmeer altyd gou. Maar vir die wis en onwis hol nog ’n verpleër agterna. Dit word ’n plesierige speletjie. Ek is ook maar dankbaar ek en suster Angela is van die vroulike geslag. Jy moet fiks wees om hierdie klomp in toom te hou. Jaagwerk is manswerk.

“Ek is hoeka besig met ’n portret van Thor. Dis ’n tydrowende werk, want hy is vol detail. Sodra ek klaar is, laat ek jou weet.” Ek sug. Die bestellings maak my klaar.

“Wat se detail? Ek dog dan Thor bestaan net uit oë?” vra sy my. Verbeel ek my of is daar ’n effense besorgdheid in haar stem. Sy trek twee stoele nader en ons gaan sit. Haar voete plant sy wyd uitmekaar. Haar knieë ’n myl van mekaar. Sommige beweer sy is ’n mannetjiesvrou. Ek sal nie weet nie. Solank ek ekstra poeding kry.

“Dis waar ja, maar alles wat bokant sy oë aangaan, is ’n vlegwerk van duisende draadjies kennis en insig. Soos ’n rekenaar, net baie meer kompleks. Jy sal dit nie glo nie. En om elke strepie en hoekie te skets, is nie ’n man se maat nie.” Ek soek na die regte woorde. Dis moeilik om so iets aan ander oor te dra. Nie almal is ewe intelligent nie en suster Angela het maar agterig in die tou gestaan.

“Ek verstaan,” sug sy, maar ek wonder of sy doen. Sy probeer haar een been oor die ander kruis. Maar dis te dik en gly weer af. Sy probeer weer en gryp haar voet met mening vas. Hou dit daar. Ek glimlag vriendelik vir haar. Thor se teenwoordigheid grom agterlangs. Hy hou nie van dikgeit nie. Frommel immer sy oë van ontevredenheid as ek ’n tweede porsie poeding neem. Hoewel hy my al goed laat verstaan het poeding is beter as wilde seks.

“Wanneer gaan jy my nou in jou vertroue neem en vertel hoe dit is dat jy hier … e … kom werk het?” Sy wag vir my antwoord, maar ek aarsel eers. Ek hou nie van openlike nuuskierigheid nie. Sy is ’n haastige een om goeters van jou persoonlike lewe in lêers in die kantoor te gaan opteken. Nes ’n klikkiebek.

“Oukei, net as vergunning, vir jy weet wat.” Ek gee ’n skalkse knik na haar kant toe. “Kyk, ek was gewild en mans was mal oor my.” Verbeel ek my, of huiwer daar ’n glimlag om haar mond? Ek ignoreer dit en vervolg: “Na skool het ek vir ’n baas as tikster gaan werk. Hy wou baie gunsies van my hê. Mos toe loop vertel dat ek die snelste tikker in die land is. En hy het nie van dwelms gepraat nie, jy weet. Ewenwel, hy het my malls toe gevat. Ek kon koop, net wat ek wou.”

“Net wat jy wou, regtigwaar?” Suster Angela se oë is groot. Ek sien ek het haar gefloor. Sy het my totaal onderskat.

“Dis wat ek gesê het, ja. Aan die begin was dit lekker. Sy kaart het overtime gewerk en groot gepraat. Ontwerpersklere, parfuum, stiletto’s, die duurste makeup, die hele lot. Maar weet jy wat, ek het versadig geraak van te veel. Die oordaad het my ondergekry. Dit was net koop koop koop. Pomp pomp pomp. Eindelik moes iets skietgee.” Suster Angela lek haar lippe af en wag vir nog. Sy hoef nie lank te wag nie. Ek is op ’n roll.

“Die oordaad het my naand verwurg. Dit het soos ’n lawastroom van dik taai stroop in al my gate ingeloop. Ek was verswelg. So erg dat ek desperaat gesoek het na asem. Verstikking is nie lekker nie. Ek onthou die wellus. Sy dik are kloppend teen my lyf, terwyl sy begeerte ’n slaaf van hom gemaak het. Hy was pateties, soos ’n seuntjie wat smeek om ekstra lekkergoed. Die laaste aand het ek het my vingers spelerig oor sy sneller laat huiwer. Maar die vlees het staal geword, ek sweer. Dit het verander na ’n vuurwapen se sneller. En Thor het bly skree. Soos ’n bleddie maer vark bly skree. My ore het getril van die lemme van sy stem.” As ek nog nooit suster Angela se aandag gehad het nie, het ek dit nou. Sy staar gefassineerd na my.

“Thor het my heeltyd aangepor. Sy oë was dik belope en hy het geskree ek moet skiet. Die bloed was dik-dik dik soos die stroop in my. Soet en dik en oraloor. Te veel, te veel. Ek wou weg, maar hulle het my op my knieë gekry.” Ek hyg na my asem en praat vinnig verder: “Lang storie, man. Het ek jou dit nog nooit vantevore vertel nie?” Ek kyk of sy orraait is. Ek sal nie verbaas wees as sy my nie verstaan nie. Soos ek gesê het, sy is nie die skerpste potlood wat daar is nie.

Ek du my hand teen die polsing in my kruis waar my bobene mekaar ontmoet. Ek ruik my supersoet parfuum.

“Thor sê my siel is ’n gat wat nooit wil volkom nie. Hy kan soms soveel nonsens praat. Die hof het hierdie werk vir my gekry. Hier by Waanwêreld in die Kaap. Ek weet nie hoe jy met so min pay klaarkom nie. Hoekom dink jy moet ek portrette teken vir ekstra geld?” My mond is droog. Ek het te veel gepraat. Ek sluk van die droog en lek my lippe stadig af. Ek wil water hê. En dan ’n ietsie soet. Ek sterf van die lus vir die smaak van soet.

  • 6

Kommentaar

  • Dankie julle. My gebreide teddiebeer het die storie getrigger en 'n deel het ek gedroom (onderbewussyn).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top