Vyftig is om die draai

  • 0

In ’n vae teenstelling met die uitgangspunte en skryfgoeters wat in die verlede al uit my gedagtes gevloei het, is daar die afgelope dae of wat ’n drukking op my gemoed wat by tye angswekkend en soms tog komies na vore sukkel … die middeljare … wat reeds amper verby is.

Indien ek tot die rype ouderdom van, sê, tagtig gespaar mag bly, dan is dit ’n wiskundige feit dat wanneer my 50ste verjaarsdag teen die einde van hierdie jaar opdaag, 62,5% van my aardse asem opgebruik sal wees!

 Net gister was daar 'n klomp kiekies van ’n skoolkennis se 50ste verjaarsdagviering wat op die sosiale blad gelaai was. Die meer bekende mense by die samesyn het verlede week of dalk ’n maand gelede nog vir my soos hul skooldae-foto’s gelyk, maar skielik en met ’n wrede ontsteltenis, so amper asof daar ’n paar “jongmens-lense” van my oë verwyder is, het die ou bekendes tog ook vyftig begin lyk!

 Hier waar ek in my kantoor sit, met die mis dik oor die Skiereiland en die vliegtuie wat luid en laag straat-af  tot by die lughawe daal, kan ek vir ’n paar oomblikke my oë net laat staar of selfs sluit, om te dink aan die kommer wat ek behoort te voel oor die min of meer 30-jaar wat mag voorlê en die oneindige opdiep van ongemaklike herinneringe van die 50-jaar wat binnekort ten einde sal loop. Hierdie ontydige gedagtes, vandag, is nogal selfkastydend en pynigend, maar op ’n bevrydende wyse tog meer as sinvol …

 Ek onthou die enkele pak slae wat my pa my gegee het en die verbale gestoei met Moeder; ek onthou die besoeke aan die familie oorkant die Vaalrivier, die rondstap in Hillbrow en hoe Johannes Kerkorrel se lied jare later soos ’n bekende landskapskets gevoel het ... “En ken ek vir Jesus? vra 'n man op die stoep, tussen Hillbrow Records en Estoril Books…” en ek onthou hoe ons by die Wimpy Bar of Fontana broodjies gekoop het en vandag steeds nie eersgenoemde se ontbyt kan weerstaan nie!

Ek onthou … al die redes hoekom ek jare terug gediggies en rubrieke begin skryf het en ek onthou die antwoorde wat die delwery en skroppery in my gemoed oopgestoot  het en die insig wat soms soos manna en kwartels as sielsvoeding net opgedaag het; soos wonderwerkies wat altyd daar was en deur my, net ek, ontdek, ontgin en verlig moes word!

Ek onthou die gunsteling rolprente wat van my in ’n ondersteuner van die romantieke laat ontwikkel het, of eerder steeds doen en ek onthou die woorde  “Welcome to Hollywood! What's your dream? Everybody comes here; this is Hollywood, land of dreams. Some dreams come true, some don't; but keep on dreamin - this is Hollywood. Always time to dream, so keep on dreamin”  en die jammerte dat die snertwaarde wat daarin skuil, so baie van ons mensies hartseer verlore laat.

En, ek onthou hoe ek daagliks in die melodie en woorde van musiek weggevoer kan raak en hoe ek met ’n skrik soms die afwesigheid daarvan agterkom en dan wil oor-kompenseer; hoe ek Jan Blohm vir ’n week lank afskeep en dan ’n volle Vrydagaand na hom wil luister! 

 Ek dink aan Noupoort, die begin van baie en vir baie ’n begin; en, was dit skynbaar ook so op die een wulpse dag aan die begin van 1967, wyl ’n jong getroude paartjie Noupoort gaan besoek het. Hierdie uitgegroeide middeljarige seun van vandag, het destyds saam met sy bronstige vader die dorp binnegery, net om later, saam met sy niksvermoedende verwagtende moeder, huis toe te vertrek!

Dit bly ’n hartewens van my om weer ’n keer in Noupoort ’n vyf-gang ontbyt te  gaan geniet, al sal dit moet wag tot êrens anderkant die begin van die volgende dekade van my bestaan.     

 Ek dink aan die aanpassings by meer as net die tegnologiese veranderings, hoe ons elkeen op ’n manier aan die vrees vir die breek van ons mensgemaakte gemaksones uitgelewer was en mag word. Ongeag van die aard en die omvang daarvan, moes ons die duwweltjiepad stap om sekerheid te kry dat geesteseise ’n realiteit is.

Almal van ons het die breinmondering om dit raak te sien, te ontleed en te bestuur, maar net sekere van ons het egter die vermoë om die vrese sonder sigbare spanning te bowe te kom. Ander van ons sukkel nog om ons mondering te verstaan, “nevermind” die aanspreek en bestuur van die onsekerheid wat hierdie lewenseise meebring.

Daarom bid ons, daarom lees ons Bybel en hou-my-op-my-voete boeke, daarom mediteer ons, daarom gaan spreek ons pastorale kenners, daarom sit ons sielsberaders se spreekkamers vol en sluk ons die skedule 5 pilletjies wat die brein-chemie laat werk.

Daarom kan die koffiehuise en haarkapplekke se deure oop bly.      

 Met die nostalgie en die sente-berading en filosofie op die agtergrond geskuif, is daar tog rede en rym wat as’t ware in my oop plooibare gedagtes opborrel, want ek  het 37,5% van my “tyd” nog tot my beskikking om iets, of nog baie, daarmee te doen!

 Gemeet aan dit wat ek al vantevore vir myself vertel het, mag  selfs ’n dag of ’n maand of ’n jaar ook genoeg wees om ’n nuttelose bestaan tussen vandag en my tagtigste verjaarsdag, doer anderkant in die verskiet  te verhoed met die enkele vraag …

“Wat maak jy hier?”
©Hennie Fritz

Ek hoor, luister, dink en doen
om te soek na niks, te besin,
om gister se dinge vandag te versoen,
en betekenis te vind,
in wat ek nooit verloor het nie.
Om binne myself,
saam met my God te leef,
sonder somber slimmighede
te wees en te sterf, eenvoudig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top